Soois verteer die nuus ’n oomblik lank, wend hom dan weer na die weidse toneel voor hom voor hy praat: “Wie’t hom geplant?”
“Hulle weet nog nie.” Die nuus het Mart meer omgekrap as wat haar gelaat verklap. “Soois …” begin sy uiteindelik.
“Mmm?”
“Dink jy dat ek en jy … in ons lewe … die beste van hierdie land gehad het?”
“My vrou, as ek t’rugkyk oor die eeue heen, dan lyk dit vir my dat g’n land in die wêreld ’n beste tyd of ’n slegste tyd het nie. Hy’t net sy tyd, met die beste en die slegste saam gebrei soos meel en water in ’n brood.”
Mart versink weer minute lank in stilte. “Dit spyt my dat Andries nie vir Henk gaan ondersteun het nie,” sê sy uiteindelik. “Frik is daar vir FG.”
“Andries is bang.”
“Ons is almal bang.”
“Ja, maar die Afrikaners wat nou in die staatsdiens werk, is die bangste. Dis die eerste werk wat ’n nuwe regering vir sy ondersteuners gee. Dis wat ons ná die verkiesing in ’48 gedoen het.” Hy raak weer in sy gedagtes weg, ou herinneringe wat hulle aanmeld. “Hoe laat moet ons daar wees?”
“Sy’t gesê so teen sesuur. Frik moet ná die wedstryd nog ’n draai by sy kantoor maak. Hy en Albert het glo heeloggend vergader. Sy weet nie waaroor nie.”
“Het sy al ooit?”
“My man, Sophia is Sophia en Mariana is Mariana, en ons laat dit daar.” Mart glo in onvoorwaardelike liefde. “Ek het klaar ons goedjies ingepak vir die aand. Ek gaan vir ons ’n toebroodjie maak vir die pad, dan kan ons ry.”
Sy stap die huis binne.
Soois bly agter. Hy dink aan sy dogters en hoe een appelboom sulke uiteenlopende vrugte kan dra.
’n Ander verkiesing doem in Sophia se gedagtes op, of sy dit nou wil of nie. Die rugby is agter die rug, en so ook ’n heerlike lang lê in ’n warm bad met genoeg badsout en dinge om ’n mens jou hele lewe lank welgeluksalig te hou, en nou trek sy en Frik aan vir vanaand se ete. Haar grimering is afgehandel en sy neem Frik onder hande. Dit hinder haar al die hele dag dat hy hom so laat voorsê deur Albert. Hemel, die man is net sy ouditeur!
“Jy is ’n entrepreneur en Albert is nie. So eenvoudig soos dit. Waar Albert ’n probleem sien, sien jy ’n geleentheid. Dit was nog altyd so. Ek weet nie hoekom jy nóú toelaat dat Albert se probleem jou pla nie. Jy sê mos altyd, hoe groter die probleem, hoe groter die geleentheid.”
Met soveel stelligheid gesê, hoe kan Frik nog twyfel? Hy kom aangestap uit sy verklee-hoekie, knoop sy hemp so in die stap vas. “Ja, maar dis die eerste keer in jare dat hy my projeksies so sterk bevraagteken, en ek vertrou sy oordeel meer as dié van enige iemand anders in my maatskappy.”
Sophia staan op. Sy is gereed vir die gaste. “En ek vertrou jou. Jy’t in die verlede uitgewerk wat om te doen, en jy sal dit in die toekoms ook doen.” Sy gee hom ’n soen en wil uitstap, maar Frik keer haar.
“Sophia, jy besef dat ná hierdie verkiesing als gaan verander.”
“Dis wat hulle vier jaar gelede gesê het toe Mandela vrygelaat is, en hier is ons almal nog steeds. Die politici gaan hulle werk verloor, maar jy kan nie, want jy is die baas van jou eie besigheid, een wat hierdie land altyd gaan nodig hê.”
Sy laat hom agter om na te dink oor haar insig. Frik wonder of sy verder gedink het as net die politici wat hul werk sal verloor.
In die kombuis begin Netta met Sophia gesels, tussen die seker maak dat alles gereed en gedoen is deur. Die een oomblik is hulle nog by die lamsboud wat nie moet droogkook nie, die volgende by die verkiesing.
“Mies,” begin Netta vol respek, “ek wil net seker maak. Die dag van die verkiesing. Ek dink daar gaan baie lang queues wees … ek sal moet af wees die hele dag.”
“Ek het so verwag, ja. Die hele land gaan tot stilstand kom. Jy’s seker opgewonde, nè?”
“Nie vir my nie. Vir my kinders.”
“Hoe kan jy dit sê? Ná al hierdie jare het julle uiteindelik one man, one vote gekry.”
“Al die mense daar by die township, hulle dink hulle gaan ’n groot huis kry en ’n kar, maar ek weet voor ek stem, is ek ’n domestic worker en ná ek gestem het, is ek nog steeds ’n domestic worker. Die nuwe Suid-Afrika gaan nie vir mense soos ek wees nie, dis vir ons kinders.”
“Dis waar, Netta, maar ten minste sal jy ’n domestic worker wees met ’n stem. En met daardie stem kom verantwoordelikheid en baie rekeninge – water, ligte, belasting. Dis iets wat baie van jou mense dalk nie besef nie.”
Sophia hoop dat die boodskap oor verantwoordelikhede behoorlik sal insink.
Sophia se huis is ’n baken van lig in die duisternis. Die lampe wat Frik op haar versoek op strategiese plekke in die tuin en erf aangebring het, lei hul besoekers al langs die grasperk en verby die verligte swembad tot by die trap na die stoep en voordeur. Wanneer hulle eendag na hul volgende huis trek – Sophia het sinnigheid in óf Waterkloofrif óf Irene – sal sy die huis laat adverteer as ’n tipiese miljoenêrswoning.
Uiteraard ken vanaand se gaste die huis en erf asof dit hul eie is: haar ouers en sus Mariana en dié se gesin. Wanneer die clan kuier, is dit liefs by Sophia. ’n Onthaler wat met die beste in Pretoria kan saamgesels. Die aand neem sy verloop soos gebruiklik wanneer Sophia informeel onthaal: ’n ligte aptytwekker in die sitkamer, waarna Frik almal na die eetkamer neem, waar hulle aansit by die groot tafel wat Sophia spesiaal vir hierdie vertrek laat maak het. Sy is gesteld op haar tafel, en die naam wat sy opgebou het as gasvrou wat meer doen as wat nodig is.
Die familie sit aan by ’n simfonie van silwer- en porseleinware, kerse wat ’n gevoel van intimiteit en weelde help bestendig, en kamermusiek wat uit die versteekte luidsprekers van die hoëtrou-klankstel opklink sonder om ooit die heerlike atmosfeer om die tafel te versteur. FG het haar gehelp om die nuutste klankapparaat te kies – ’n multi-CD-speler waarop sy voorkeur gee aan ligte klassieke musiek, Richard Clayderman se klaviermymeringe en Andreas Vollenweider se hemelse harpmusiek.
Sophia noem haarself altyd die Herbert von Karajan van onthaal. Sy het ’n week gelede vir elkeen ’n netjiese naamkaartjie laat maak by Calligraphy Solutions in Groenkloof. Vanoggend het sy die tafelplan gefinaliseer deur dit aan Frik te wys, en toe vir Netta gegee om só te dek. Sophia en Frik aan die koppenente. Links van Sophia sit Mariana, Andries, Mart en Soois. Aan haar regterkant sit Izel, Henk en FG. In die verlede het sy kinders tussen volwassenes geplaas, en dit was omtrent ’n gemors.
Soos dit uitstekend pas, dirigeer Sophia die maaltyd met haar klokkie, waarmee sy Netta, in uniform, uit die kombuis roep om gange te bring en te verwyder. Dit is amper ’n formele ete, soos Sophia dit verkies, maar die ou familieband sorg dat die jovialiteit vinniger deurbreek – en met minder drankverbruik as wat soms met Frik se sake-etes nodig is om die ys te breek.
Frik lig sy mes en tik teen sy wynglas. Dit raak stil om die tafel, al die aandag op die hoof van die huis, die man met die grysblou oë en borselkop. Mart sê altyd vir Soois dat haar skoonseun permanent hartseer lyk met daardie oë en wenkbroue van hom; Soois brom net dat hy Frik nie daarvoor verkwalik nie.
“Jammer, dit tref my nou. Ek het skoon vergeet.” Hy lig sy glasie omhoog. “ ’n Heildronk op ons twee seuns wat so ’n uitstekende wedstryd gespeel het vandag.”
Almal klink glasies, maar die gedagtes skiet in verskillende rigtings weg. Henk dink aan sy pa se reaksie toe hy ná die wedstryd gaan verslag doen aan hom waar hy in die motorhuis besig was om die proviand te tel wat hy gereed hou vir die dae nadat anargisme die land getref het. Deur die venster kon Henk sy pa sien beweeg, sommetjies in ’n klein notaboekie maak. Sy pa is in sy eie wêreld versonke – kyk elke nou en dan op, wys met sy vinger en tel, en skryf dan neer.
Henk