Kruispad. Deon Opperman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Opperman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624071433
Скачать книгу
ek het nie gesê ek gaan ophou leef nie.”

      Hulle skud hand, ’n mengsel van bladskud en ’n vingerspeletjie wat hulle Dan Aykroyd die vorige jaar in Coneheads sien doen het.

      “Cool. Wel, daar’s een goeie ding wat nou gaan gebeur … Noudat jy nie meer in die span is nie … is al die glory myne.” FG buk af in sy kas, kom met twee blikkies bier te voorskyn.

      Henk kraai van verbasing en afwagting. Sy hande maak ’n gebaar wat vra: Hoe toor FG sulke dinge uit?

      FG gee vir Henk een. “By my pa gesteel,” sê hy laggend terwyl Henk die kamerdeur toemaak, ’n groot, vrolike glimlag op sy gesig.

      Sophia en Frik onthaal hul gaste volgens ’n patroon wat sy in ’n ou Britse tydskrif afgekyk het, vroeg in hul huwelik al. Dit werk soos klokslag om die tonge los te kry van mans wat nie graag aan tafel praat nie, en dan gee dit ook die volmaakte oorgang tot die afsluiting en die “verdaging”, soos Frik dit altyd spottenderwys genoem het en in hul jonger dae die voorspel was tot groot bedbetuiging tussen hulle twee. Met die politiek wat alles so oorheers, is daar selde nog groot jovialiteit ter sprake einde se kant toe, maar Sophia hou by haar patroon.

      Met die kinders uit die pad, dek Netta af en laat ’n fles brandewyn en drie bolglase agter vir die mans. Die vrouens keer terug na die sitkamer, maar die mans sit aan by die tafel vir ’n bietjie gesels. Frik spot altyd dat Netta die eetkamer in ’n oogwenk omskep in ’n cigar lounge. Sophia trek, soos sommige mans gou agtergekom het, net dáár die streep – geen sigare in haar huis nie, dankie.

      Frik, Andries en Soois sit nou by die tafel aan, elkeen met ’n glas brandewyn in die hand. Andries het tydens die maaltyd twee glasies wyn geniet, maar hy kry nou eers rigting. “Die rede hoekom hulle dit nog nie gedoen het nie is omdat hulle nog nie die mag het nie, maar sodra hulle die mag het – en ná die verkiesing gaan hulle dit hê – gaan hulle al die grotes een vir een nasionaliseer – die goud, die diamante, de lot.”

      “Ek hoor wat jy sê, Andries,” antwoord Frik, heelwat minder opgewen as sy swaer, “maar ek moet jou sê ek stem nie saam nie. As jy kyk …”

      Sophia het in die gang gehoor dat Andries weer spoke sien en kom onderbreek die gesprek. “Frik, die dames sal dit waardeer as julle ’n bietjie by ons kom gesels voor die aand verby is.”

      “Ons is nou daar.”

      Wanneer sy vrou buite sig is, gaan Frik meer driftig voort: “As jy kyk na wat oor die hele Suid-Amerika, die Oos-Europese lande en in die Ooste gebeur het – hulle het nie genasionaliseer nie. Hulle het al hulle groot industrieë geprivatiseer. As die nuwe regering enige sosialistiese nonsens probeer, sal die wêreldmarkte en die Wêreldbank hulle so hard straf, hulle sal net daar van plan verander. Mandela was nie eers ’n jaar uit die tronk nie, toe praat hy nie meer van nasionalisering nie.”

      “En jy dink ons regering gaan hulle aan die wêreldmarkte steur?” vra Soois.

      “Hulle sal nie ’n keuse hê nie, Pa, want as hulle dit nie doen nie, sal die land binne ’n jaar of twee bankrot wees en sal hulle oor ’n hoop stof en as regeer. Jy kan nie met internasionale kapitaal stry nie.”

      “Nou ja toe, bulletjies …” Soois staan op. “Laat môre bring wat môre bring. As ons daardie vrouens langer verwaarloos, hoor ek tot sonop nie die einde daarvan nie.”

      Hulle tref die vrouens met koffiekoppies in die hande aan.

      “Waar’s die kinders?” vra Frik gekwel.

      “FG en Henk is bo en Izel is in die TV-kamer,” sê Sophia.

      Vir die eerste keer die aand wend Frik hom direk tot sy skoonma: “En hoe gaan dit met Ma? Hoe gaan dit met Ma se quilting-klasse?”

      Mart kyk hom met ’n vonkeling in die oog aan. “Frik, ek lewe al lank genoeg om te weet wanneer ’n man opdrag gegee is om ditjies en datjies met die vrouens te kom gesels. Dit gaan goed met die quilting. Dankie dat jy vra.”

      “Ek kry regmerkies by Ma se dogter.”

      “Jy sal baie harder as dit moet werk,” skerts Sophia. “En ek moet Ma sê, ek luister liewers na ditjies en datjies as wat ek na nog politiek moet luister.”

      “Deesdae het ons nie veel van ’n keuse nie,” sê Andries, sy glasie brandewyn steeds in sy hand.

      “Ek dink die meeste mense voel soos Sophia,” kom dit skielik van Mariana. “Jy kan nie links of regs kyk sonder om ’n politieke party se plakkaat te sien nie.”

      Andries laat hom nie stilmaak nie. “Die meeste mense sit soos volstruise met hulle kop in die sand. Hulle dink as hulle dit nie sien of hoor nie … of daaroor praat nie … dit nie gaan gebeur nie.”

      Mariana ruk haar op. “Dat wat nie gaan gebeur nie?”

      “Dat die wit mense van hierdie land oor tien jaar – dié van hulle wat nog oorbly – as nieswartes geklassifiseer gaan word.”

      “Ek dink dis ’n bietjie radikaal, Andries,” antwoord Frik. “Ek persoonlik ondersteun wat gebeur. Dit kon nie aangaan soos dit aangegaan het nie. Ek vertrou Mandela. Hy gaan ’n goeie president wees.”

      “En as dit beteken dat ons daarna na meer lande as net Engeland en Israel kan reis,” sê Sophia, skielik opgewek, “dan stem ek beslis ANC.”

      Andries lag nie saam nie. Sophia se ligsinnigheid irriteer hom. “Ek het besluit om nie te stem nie,” sê hy en neem ’n lang sluk brandewyn.

      Dis vir ’n oomblik stil in die sitkamer.

      “Dis dalk kortsigtig van jou, Andries,” antwoord Soois ná ’n ruk.

      “Miskien, Pa, miskien nie. Maar as daar een ding is wat ek weet, dan is dit dít: Die kruisie wat julle trek, sal die kruis wees wat julle dra.”

      Nadat hulle gaan stem het, bring die Van Rooyens, Van den Bergs en Landmans die grootste deel van 27 April 1994 voor die televisie deur. Of, in Andries se geval, nie gaan stem het nie. Vir die kinders is dit ’n vakansiedag, soos ook die 28ste word wanneer die voorheen verontregte kiesers wat nog nie op 27 April gestem gekry het nie, ’n ekstra dag kry om dit te doen.

      Die televisiebeelde vul Andries met vrees – lang toue mense, meestal swart, wat wag om hul stemme uit te bring. Daar is ’n duisend en een onderhoude, opnames by stembusse dwarsoor die land – en die klem val op hulle wat nog nooit ’n stem kon uitbring nie. Vir Frik is daar hoop en positiewe moontlikhede – terwyl hy na die vlae en plakkate kyk, sukkel hy om Albert se waarskuwings te kontekstualiseer. Hy wil glo dat daar vorentoe ’n groot bloeityd op die land wag en dat sy maatskappy sal deel in daardie nuwe gees van grenslose moontlikhede.

      En nadat die verkiesing van 1994 gekom en gegaan het met sy voorspelbare uitkoms, en Andries se voorspellings en vrese nie bewaarheid is nie, het die Van Rooyens, Van den Bergs en Landmans hul lewe voortgesit, elk met die kruis wat hulle volgens Andries nou dra.

      En soos Soois al voor die verkiesing voorspel het, was dít wat voorheen so maklik gekom het, skielik nie meer so maklik nie.

      Andries, die man met die mees gekwelde gemoed, is ook die eerste wat geraak word deur die nuwe Suid-Afrika. Hy is ’n staatsamptenaar, sy pos val in die middelbestuur, maar soos Andries graag aan Menslike Hulpbronne uitwys, beteken dit dat hy hier in een van die depots aan die buitewyke van Pretoria agter ’n groot lessenaar in ’n gebou van rooi bakstene sit, sy In- en Uit-mandjie tot barstens toe vol, want die klerke kom maak die In té gereeld vol en die Uit steier onder die spoed waarmee Andries dit weer vul.

      Die ou landsvlag hang trots aan ’n miniatuur-lamppaaltjie op die lessenaar.

      Hy is besig met die taak wat die grootste deel van sy dag vul: om ’n departementele stempel op rekenaardrukstukke van goedgekeurde tenderdokumente af te druk, bladsy vir bladsy. Aan die einde van elke tender druk hy ’n groter stempel af waarin departementele kodes verskyn. Indien enigiemand ooit navraag sou doen, sou daardie kodes die ondersoekers lei na Andries se lessenaar.

      Hy