Op die stoep word daar gejuig en hande geklap. Die ys is gebreek.
Net Soois bly vasgevang in ’n mymering, iets wat hy normaalweg sou afmaak as die gewoontes van ’n ou man, maar wat nou vir hom nuwe sorge openbaar. Dit het met voorgevoel te doen. En Soois van Rooyen is deurwinter genoeg om te weet dat hy hom aan sy kropgevoel moet steur.
Dit bly nou maar ’n feit, dink hy – elke huis het sy kruis. Sy geheime. Nasies ook. Wat ’n mens of ’n nasie moet dra, kom nie vanself daar nie, dis die vrug of die las van ’n keuse by ’n kruispad … en dis dikwels by die kleinste keuses waar die grootste kruise opgeneem word.
Hoofstuk 2
1995
Andries Landman was een van die eerstes wat dit in murg en been gevoel het.
Só vreedsaam het die veranderinge ingetree wat ná 27 April 1994 oor Suid-Afrika gekom het dat die apartheidsjare se bevoorregtes nie dadelik besef het dat hulle inderdaad die oorlog verloor het nie. ’n Bloedbad was daar toe nie – net die eerste skadu’s wat daarop sou dui dat, al het dit gelyk asof alles net soos in die verlede sou aangaan, die land wel besig was om tot in sy wortels ’n nuwe rigting in te slaan.
Vir sommige mense sou dit jare duur voordat hulle die veranderinge insien en aanvaar. Ander het dit binne die eerste jaar al gevoel. Soois van Rooyen het skynbaar onbetrokke van sy plaas af elke nuwe wending gevolg. Van sommiges sou hy met ’n trek aan sy pyp en die skud van die kop aan Mart kon sê hy het dit verwag. Ander nie – en dít is wat die pyn gebring het.
En ja, Andries Landman was een van die eerstes.
Nooit baie spraaksaam oor wat met hom by die werk aan die gang is nie, is die aanslag só onverwags dat dit hom magteloos laat terugsteier.
Hannes Bekker, sy lynhoof, wil Andries na sy kantoor laat kom, maar dan bel hy, sê Andries moet wag. En toe hy weer opkyk, staan Hannes daar in die deur met sy begrafnisgesig. Andries se hart het gebokspring. Die oggend nog het hy aan Mariana vertel dat hy ’n kans op bevordering het noudat so baie van die manne die pakket geneem het. Maar hy kyk op na Hannes se gesig, en sien dat bevordering nie vandag op die agenda is nie. Bekker lyk op die beste van dae na iemand wat op die punt is om in trane uit te bars, en vanoggend hang sy skouers in simpatie met sy mismoedige gesig.
Die waarheid kom gou uit. Andries kan maar vergeet van ’n bevordering. Hy moet liewers nadink oor hul voorstel. Die pakket.
“Maar, Hannes, ons braai saam.” Andries voel hoe sy keel toetrek. “Ons is vriende.”
“Ek is jammer, Andries.” Hannes klink dit ook. Trouens, sy fut is só uit dat Andries bang is die man gaan in trane uitbars. Maar hy weerhou hom om te veel simpatie met sy bestuurder te voel. Hy is self in hul visier!
“Sestien jaar se harde werk,” sê Andries driftig. “Dag vir dag. Ek was nie een dag afwesig nie. Ek dag jy’t my ingeroep om my ’n bleddie bevordering te gee!”
Hannes val hom in die rede, staan reg teen Andries se lessenaar. “Dis nie my besluit nie Andries. Dit kom van bo af …”
Andries val hom in die rede, staan op en kom tot reg teen die lessenaar. “Van bo? Jy’s so hoog as wat dit gaan. Moenie jy probeer maak of dit nie jou besluit is nie!”
“Asseblief, Andries. Ek’t opdrag gekry dat my divisie moet herstruktureer om in te pas by die nuwe regeringsbeleid. Dis eenvoudig nie in my hande nie … ek is baie jammer …”
“Jy lyk wragtag nie jammer nie.”
Hannes laat hom nie uitlok nie. “Ons gee ’n baie goeie pakket, van die beste, ’n volle drie maande kennis en ’n enkelbedrag-uitbetaling. Kyk na hierdie syfers, Andries, dis billik. Baie ouens het dit reeds gevat.” Hy hou ’n vel uit na Andries.
Andries verseg om daarna te kyk. “Dis hulle keuse. Hierdie is my werk, wat ek goed doen. Julle kan my nie fire nie.”
“Ons fire jou nie, ons …”
“Nee, julle wil hê ek moet myself fire. Hoeveel ander is daar?”
Hannes skud sy kop.
“Hannes, hoeveel ander is daar?” Andries skree nou op Hannes.
“Daar’s agttien van julle.”
“Almal blankes?”
Hannes bly eers stil. Hy weet Andries weet wat die antwoord is. “Moet dit nie moeiliker maak nie.” Hy stap by die kantoor uit.
Andries beweeg blitsig agterna en gaan plant sy veertigjarige voete wyd uitmekaar in die gang. “Ons gee ons bloed en ons sweet,” skree hy agter Hannes aan, “en skielik is ons nie meer goed genoeg nie. Is dit hoe dit van nou af in hierdie land gaan werk? Hannes!”
Andries storm terug in sy kantoor in. Wat is dit wat met hom gebeur – dat die lewe nou só teen hom draai? Hy staan ontsteld langs die lessenaar, kyk na die vertikale blindings wat vaalpienk gebrand is deur die middagson. Hy kyk na die eensame plantjie in ’n verroeste blik wat bo-op sy staal-laaikabinet staan. Nie veel van ’n kantoor nie, met die groot vensters na die binnekant van die gebou wat hom deur die jare alle privaatheid ontneem het. Maar dis sy kantoor. Dit is waar hy tuis gevoel het, in beheer van sy klein deeltjie van Suid-Afrika. Teen die muur pryk ’n ou poster van Morné du Plessis daar uit 1974, toe Du Plessis nog Springbokkaptein was. En op die lessenaar ’n ou foto van Mariana en die bloedjonge kindertjies, Henk en Izel. In die vensterbank is daar ’n half verlepte potplant. Henk en Izel het elk ’n groot tekening in hul kleuterskooldae gemaak, en dié is teen die agterkant van die glasdeur geplak sodat daar darem ’n mate van privaatheid aan die plek is. En omdat hy by Waterwese werk, is daar ’n wit konstruksiehelm eenkant aan ’n spyker teen die muur opgehang, sou dit ooit vir hom nodig wees om hom van die vorms weg te skeur en ’n suiweringsaanleg te gaan besoek. Op die lessenaar is die deksels van die bokse waarin die geperforeerde drukpapier vir die tenderdrukstukke kom. Op die een staan IN geskryf, op die ander UIT. Albei lê vol dokumentasie wat pas Andries se aandag geniet het, of dit nog moet kry.
Hy staan die hele spul só en kyk, gryp dit dan in ’n vlaag van magtelose woede en smyt dit met een beweging op die grond.
Dit laat hom vir ’n oomblik goed voel, en dan sien hy dat hy met die grypslag een voorwerp op sy lessenaar gemis het. Die ou landsvlag, oranje-blanje-blou, met die Union Jack en ander vlaggies op die wit baan.
Hy hou die vlag ’n oomblik in sy hand vas, staar daarna en begryp nie hoekom dit dan nou geen gevoel by hom wek nie. Hy smyt die vlag met wrewel op die grond neer. So goed soos ’n bedanking, dink hy.
Van die ramp wat Andries getref het is Mariana salig onbewus. Sy staan voor die wasbak en skottelgoed was. Mariana het soos gewoonlik haar hare in ’n rol agter haar kop vasgebondel. Sy steur haar nie te veel aan grimering nie, maar doen net genoeg aan haar oë om die pragtige blou daarvan te beklemtoon. Sy mag ’n valerige vrou wees, maar haar oë ken geen gelyke nie.
Die huis beklem haar, maar sy kan nie haar rol in die huishouding veronagsaam nie. Andries hoort in die garage, sy in die kombuis. Sy kan dink aan ’n manier om dit te verander, maar die tyd is nie reg daarvoor nie.
Izel kom die kombuis binne en gooi haar oornagsak sonder seremonie op die vloer. Sy syg in ’n stoel neer. Tot laat gerinkink gisteraand en nie genoeg geslaap nie. “Haai Ma, ek’s honger.”
“Môre, Gogga, daar’s roereiers in die louoond. Hoe was julle pajamapartytjie toe?”
Izel kry haar bord uit die louoond, gaan sit by die tafel en gee die bord een kyk voor sy dit terugstoot. “Ag … oukei. Die eier is al blou, Ma!”
Dit is op dae soos dié, wanneer Izel se houding haar so irriteer, dat Mariana kan slange vang. Dalk is dit haar heldeverering vir Sophia wat dán die duidelikste deurslaan – sy lyk vir Mariana soos Sophia, met haar hare kort en haar lippe soos sussie s’n. Klink soos Sophia. Irriteer haar soos Sophia. Soos nou. En dan haal Mariana diep asem, tel tot tien en probeer vriendelik bly. “Jy was later as wat ek verwag het,” sê