“Al wat ek sien, is ’n pa wat nie meer vir sy kind kan borgstaan nie.”
“Maar ten minste nog sy trots het! Of tel dit nie?” Andries skree nou harder as vantevore.
Mariana raak stil.
“Hulle kan my land vat,” storm Andries voort, “hulle kan my werk vat, maar my trots vat hulle nie! En daar is nie genoeg geld in die reserwebank om dit ooit by my af te koop nie. Is dit wat jy wil hê? ’n Man sonder sy siel!”
Mariana kyk hom aan, haar gemoed skiet vol, daar is hartseer in haar oë.
Andries is stil, kyk sy vrou vir ’n ruk met glasige oë aan. Dan begin hy weer praat, sy stem pleitend, kinderlik. “Het jy dit bedoel?”
Sy kyk hom met onbegrip aan, weet nie wat op aarde hy bedoel nie.
“Dat jy my vertrou.”
“Ja,” antwoord sy sag.
Hy begin hewig huil. Sy borskas snak na asem en sy keel slaan toe. Hy skuifel na haar en neem haar snikkend in sy arms.
Hulle staan daar, in die middel van die garage, in mekaar se arms, omring deur bokse blikkieskos.
Die seun van Alberton het ’n lang pad gekom tot hier, en nou wens hy dat hy terug is op Alberton, dat hy nog tiener is en dat hy ander besluite kan neem. Dat alles weer kan wees soos dit eens was.
Mariana haas haar na Henk se kamer wanneer Andries tot bedaring gekom en kop in die hande in sy groot stoel teruggesink het. Sy vind haar seun op sy bed, sy onsiende oë starend na die plafon. Wanneer sy instap, kom hy orent. Sy gaan sit aan die voetenent van die bed.
“My seun … ek is jammer. Jammer oor jou beurs, jammer dat ons jou nie sal kan help nie.”
Henk sug diep. Glimlag vir sy ma, gee haar ’n drukkie. “Toe ek klein was,” sê hy, “was my gunstelingstorie toe Pa vertel het van hoe die Voortrekkers hulle ossewaens oor die Drakensberg gekry het. En ek weet mense maak deesdae grappies daaroor – ‘kaalvoet oor die berge’ en alles – maar iets van daardie storie het my nog altyd bygebly … hoe daar iets in ons mense is wat nie vir ’n berg terugstaan nie … al is hy hoe hoog. En die een ding wat ek van ’n berg weet, is as die pad wat jy oor hom gekies het onmoontlik raak, dan soek jy ’n ander een … want daar’s altyd ’n pad oor ’n berg. Jy moet net die krag vind om aan te hou soek.”
Mariana knik haar kop bekommerd.
Henk en Wilmien hou die wolke dop. Miskien bring die skuiwende wit banke toevlug vir Henk se sinkende gemoed. Hy kan nie glo dat hy die hele Kersseisoen rustig onder ’n wanindruk was dat sy pad na die universiteit oop is nie. Vanoggend se terugslag was ’n harde een, en hy het net ’n oomblik nodig om sy gedagtes weer bymekaar te kry. En watter beter manier is daar om dit te doen as op die gras in sy gunstelingpark, Wilmien aan sy sy, met haar kop wat rustig op sy maag rus? Dis die teorie, maar albei is erg bedruk, en op die oomblik is daar eintlik niks waaraan hy dink nie, net Wilmien se hare tussen sy vingers terwyl hy daarmee speel.
Eenkant, met sy rug teen ’n boom gestut, sit en kyk FG na Henk en Wilmien.
“Ek dink jy sal ’n universiteitslening kan losslaan,” sê Wilmien, “as jy onderwys swot met iets soos wiskunde as jou hoofvak. Daar’s ’n tekort aan wiskundeonderwysers en dis nie te laat nie, die kwartaal het skaars begin.”
“Ek sê jou wat,” werp FG sy stuiwer, “jy gaan in my plek klas toe en kry ons graad vir ons en dan word ek die voorsitter en jy die MD.” FG se gedagtes spring tussen Henk se dilemma en die nuwe BCom-handboeke waardeur hy blaai. “Check al hierdie bleddie somme wat ek gaan moet maak.”
“Ek wil nie onderwyser wees nie,” sê Henk.
“Sy’t ’n punt, Henk,” antwoord FG. “Dink aan die voordele: Jy en Wilmien loop saam klas, en dis maklik. Wat wil jy meer hê?”
“Watch out, FG, ek breek jou nie af nie,” sê Wilmien. “En ek weet ten minste presies wat ek wil doen met my graad. Al van standerd 8 af.”
“Cut dit, julle twee,” keer Henk. “Ek het alles probeer, al die aansoeke het verlede jaar reeds gesluit.”
FG en Wilmien kyk bekommerd na Henk.
“Wat gaan jy maak?” vra sy.
Henk kyk na die wolke. Stadig vorm ’n glimlag om sy mondhoeke. “Ek gaan vir my ’n job kry om my Ma-hulle te help tot my Pa weer regkom. En ek gaan by Unisa inskryf.”
“Komaan, Henk,” kap FG terug. “Jy hoort op varsity. Ons het skool deurgesuffer om ’n bietjie pret te hê.”
Wilmien glimlag trots en soen Henk op sy voorkop. “Nie Henk nie, FG – hierdie kop werk anders.”
FG sit self met ’n effense glimlag. “Oukei, ek mag julle nie vertel nie, maar ek dink alles gaan reg uitwerk. My Ma-hulle is by jou Ma-hulle en hulle gaan doen wat gedoen moet word.”
Wilmien en Henk kyk verward op.
“Wat bedoel jy?” Henk is onmiddellik agterdogtig oor sy neef se woordkeuse.
FG se glimlag is opreg, om sy neef se onthalwe is hy bly, maar hy sit self met ’n paar kwellings. By die huis het die dag nie lekker begin nie. Daar is dinge wat hy nog nie mooi kan kleinkry nie. Soos sy ma se reaksie toe Netta haar kom wakker maak. FG het so in die verbygaan gesien hoe Netta soos gebruiklik net ná sewe – dit is somer, alles in ag genome – by die hoofslaapkamer instap met ’n skinkbord tee. En gehoor hoe sy ma net kreun, op haar ander sy rol en verder slaap.
Hy het net genoeg gesien om ’n vinnige depro te kap. Hoekom kan sy, wat nooit enigiets anders as inkopies doen nie, tot diep in die oggend lê en slaap terwyl hy met hanekraai moet opstaan om ’n lift by sy pa te bedel?
En dít is waaraan FG dink.
Frik was in sy studeerkamer besig om na die een of ander dokument te kyk. Oukei, FG het nie na sy gesig gekyk toe hy instap nie, het nie gesien dat Frik erg bekommerd is nie. Nóú weet hy dit – Frik se das het nog ongeknoop om sy nek gehang, sy gedagtes was weer die hele wêreld vol, besef FG nou. Maar toe Frik baie saaklik antwoord, ná FG heel beleefd gevra het of Frik hom ’n lift sal gee varsity toe, het FG baie goed geweet daar’s moeilikheid: “Ek ry oor ’n halfuur, jy maak my nie laat nie.”
Wel, in vir ’n penny, soos sy oupa altyd sê. FG het sy ander groot behoefte oorgedra: “By the way, ek het twee tjeks nodig, Pa. Registrasie kos R1 800 en dan’t ek R2 200 nodig vir die eerstejaarsrugbykamp, ons vertrek oormôre.”
Sy pa het gesug, sy tjekboek uitgehaal en begin skryf daarin.
“Dit moet aan die universiteit uitgemaak word. Pa moet voel hoe move daai nuwe Golf Gti met sy 16 valves. As ek klaar geregistreer het, gaan ek hom weer test-drive.”
FG het geesdrif verwag, dit nie gekry nie. “Dis ’n duur motor.”
“Die verkoopsman sê as Pa hom nog dié week koop, gee hy ons vyf persent afslag en nog vyf persent afslag vir kontant.”
“Mm.”
“Ek wil die donkerblou metallic hê … of die charcoal, maak nie eintlik saak nie.”
En net daar draai alles skeef vir FG.
“Die kar kan wag tot ek jou eerste punte gesien het.”
Frik hou die tjeks uit na FG, maar FG vat hulle nie. “Pa het gesê ná matriek koop Pa vir my ’n kar.”
“Ek het gesê as jou matriekpunte góéd is, koop ek vir jou ’n kar …”
FG steier asof hy ’n klap in die gesig gekry het. Hy gaan sit en kyk vol ongeloof na Frik.
Frik het die heftigheid van sy seun se reaksie nie verwag nie. “Dit was die ooreenkoms,