“Een.”
“En FG?”
“Ook een.”
Andries het geen reaksie getoon nie. “Kyk gou in daardie boks,” het hy beveel, “en sê vir my hoeveel bottels water daar is.”
Henk het na ’n boks gestap waarin ’n klomp ou tweeliter-Coke-bottels met water in gestaan het. Hy het getel. “Agt.”
Andries het ’n aantekening gemaak.
Henk het nader gestap en op ’n krat gaan sit. “Hoe seker is Pa dit gaan so erg wees?”
“In hierdie wêreld, my seun, is niks seker nie.”
“Hoekom dan ’n hele garage vol blikkieskos en water?”
“Omdat ek eerder verkeerd sal wees en ’n garage vol blikkieskos en water sal oorhê as wat ek verkeerd is en my gesin van die honger omkom.”
“FG sê oom Frik is seker dat alles gaan uitwerk.”
“En op grond waarvan is hy so seker?”
“Ek weet nie. Dis wat FG sê.”
Min dinge irriteer Andries so intens as sy swaer wat altyd beter weet as hy – en dat sy eie kinders graag na hul oom luister.
“Ek lees nou die dag ’n interessante ding in ’n tydskrif: Vir honderde jare het mense vas geglo, was hulle doodseker, dat daar net wit swane in die wêreld is, totdat hulle eendag ’n skip gebou en in Australië aangekom het – en ewe skielik, toe’s daar ook swart swane. Die wêreld neem nie altyd jare om te verander nie, soms gebeur dit in ’n dag.”
“Het dit saak gemaak?”
“Het wat saak gemaak?”
“Dat daar skielik swart swane in die wêreld is.”
“Dit hét … aan die wit swane.”
“Hoekom?”
“Want toe was hulle nie meer spesiaal nie. Al wat mense toe op hulle damme wou hê, was een van daardie gesogte swart swane.” Andries het hom ’n rukkie aangekyk. “Jy moet maar hard leer vir jou matriekeksamen, want die enigste manier hoe jy in die toekoms enigsins spesiaal kan bly, is as jy ’n goeie kwalifikasie het. En selfs dan sal jy nie kan seker wees of hulle jou in hierdie dam gaan wil hê of nie.”
Dit was Henk se beurt om na sy pa te staar.
Hulle het Mariana na Henk hoor roep en albei het geweet dat Wilmien aangekom het.
“Sal Pa my verskoon?”
Andries waai met die arm asof hy ’n toegewing maak.
“Amper vergeet ek,” onthou Henk skielik. “Ma het gesê ek moet Pa herinner dat ons sesuur by oom Frik-hulle moet wees.”
Hy het omgedraai en begin stap.
En toe eers gaan Andries se hart oop. “Ek’s trots op jou.”
Henk het teruggedraai, ’n trotse glimlag wat wou deurbreek.
“Oor die drie wat jy gedruk het.”
Wilmien het op die bed lê en boek lees toe hy die kamer binnestap. Wilmien, die bondel energie en vreugde wat sy hart gesteel het.
“Weet jou ma jy’s hier?” terg hy, ewe cool teen die kosyn aangeleun.
“Wat traak ’it jou?” Daardie glimlaggie van haar wat iets anders sê as die woorde op haar lippe.
“Jy weet mos wat sê hulle van meisies wat by ’n ou in sy kamer kuier.”
“Niks meer as wat hulle van die ou sê nie, en ja, my ma weet ek’s hier. Jou ma ook.”
Henk het hom ernstig gehou, wetende dat hulle besig is met ’n spel. Terwyl hy nie gou genoeg uit sy vuil klere kan kom en stort nie – en dán vir haar wys hoe ’n rugbyspeler die beste kan druk.
“Ek’s jammer, ek kan nie lank kuier nie. Ons gaan by my oom-hulle eet en ek moet nog stort.”
“Dis great, ek’s skaars hier en jy jaag my al weg.”
Hy het speels aan haar gevat. “Dis nie wat ek bedoel nie en jy weet dit.”
“Bewys dit.”
Wat hy toe ook gedoen het, al het ’n ander gedagte hom toe begin pla.
Toe hulle klaar gesoen het, het sy eerste gepraat: “Veels geluk met jou drie. Dit was baie mooier as FG s’n.”
“Dankie, maar soos meneer Roux altyd sê: Geen man druk ’n drie alleen nie, die span druk saam.”
Dit is half ’n verpligting om dit te sê, hy wil nie windgat klink nie, maar eintlik glo hy dit ook.
“Dis nie wat FG sou sê nie.”
“Dan’s dit waar ek en my neef verskil.”
Die gedagte het teruggekeer om hom te pla.
“Wat dink jy?” het sy gevra. Hulle is skoliere, nuwelinge op die terrein van minnaarstaal.
“Ag, sommer niks.”
“Mens dink nie so hard aan niks nie.”
“Ek dink oor swane.” Hy was eerlik met haar.
Wilmien frons. “Soos in voëls op die water?”
“As jy nou rêrig die verskil tussen my en FG wil weet – sy Pa kan bekostig om vir hom te betaal om volgende jaar varsity toe te gaan en myne nie.”
“Oukei …? Swane … varsity …?”
“As ek ’n goeie kwalifikasie wil hê, sal ek ’n beurs moet kry. En om ’n beurs te kry, gaan ek ’n klomp onderskeidings moet kry. En om dit te doen, gaan ek harder moet swot as ooit tevore. En dit beteken dat ons mekaar nie meer sal kan sien nie.”
Wilmien se mond hang geskok oop.
“Het jou!” het hy skielik gekraai. “Ek maak net ’n grappie, man.”
Sy het hom teen die skouer geklap.
“Maar wat dit wel beteken, is dat ek vir die res van die jaar die rugby sal moet los.”
Sy het verstaan. Maar sy het geweet wat die gevolge sou wees. “Meneer Roux gaan nie daarvan hou nie.”
“Meneer Roux was nie in matriek toe hulle die swart swane ontdek het nie.”
Sophia se hand is nog omhoog, die heildronk weerklink nog in almal se ore. “Meneer Roux was seker in sy noppies,” sê sy.
“Hy was,” antwoord FG. “In die kleedkamer ná die game het hy gesê ons gaan nou dubbel so hard oefen sodat ons hierdie seisoen onoorwonne kan wees.”
“En waar dink meneer Roux gaan julle die tyd kry om dit te doen en nog al julle ander werk ook?” Mariana kan dit nie help nie. Sy het ’n bekommerde geaardheid – ’n natuurlike gevolg vir ’n vrou wat balans moet vind tussen gesonde verstand en haar man se vrese. En Henk se toekomspad vul haar met angs.
“My kind,” sê Soois op sy bedeesde manier, “vir ’n skool soos daardie is daar rugby, en dan’s daar die res.”
Ja, daar is die slimmes, en die slimmes wat deur hul base gevang word, dink Sophia. Sy kan dit nie help nie. Sy het só gehoop die aand gaan sonder voorvalle afloop, maar daar het sy en Frik ’n helse rusie nog voor die gaste aankom. Eintlik FG se skuld, wat vol stories was toe hy laat opdaag, en Frik – wel, Frik is nie vandag se kind nie en ken self al die truuks in die boek. Dit het Frik net ’n paar vrae gekos om agter te kom dat Sophia agter sy rug vir FG geld gegee het vir die middag.
Sy het met ’n wit leuentjie probeer ontglip. “Hy’t my nie kom vra nie, ek het ná die wedstryd vir hom ’n paar rand in die hand gestop – prysgeld vir die drie wat hy gedruk het.”
“Dis