Kruispad. Deon Opperman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Opperman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624071433
Скачать книгу
Netta, Sophia en FG – net so veel as Frik en Albert in die studeerkamer tot stilstand.

      “Wat was dit?” vra Frik.

      “Weet nie,” antwoord Albert. “Miskien die myne.”

      “Klink nie so nie.”

      Op die patio swaai FG om, roep na sy ma: “Het Ma dit gehoor?”

      “Ja, waarskynlik Eugène Terre’Blanche wat weer van sy perd afgeval het.”

      In hul kombuis aan die ander kant van die stad eggo Izel Landman FG se vraag: “Wat was dit, Pa?”

      Andries kyk na sy vrou. “Vra vir jou ma.”

      “Ma?”

      “Ek weet nie.”

      Henk weet. “Dit het geklink soos …”

      “ ’n Bom,” sê sy pa. “ ’n Groot bom.”

      “Wie sou ’n bom wou plant?” vra Izel.

      “Ek kan dink aan ’n paar,” antwoord Andries.

      “Andries, moenie die kinders bang praat nie.”

      “Julle lag vir my omdat ek die garage vol blikkieskos en kerse en water pak, maar ek sê vir julle daar kom ’n groot donkerte oor hierdie land.”

      “Andries! Asseblief. Ons weet nie vir seker dat dit ’n bom was nie.”

      “Glo my, dit was. En dis maar net die begin.” Hy staan op en stap uit.

      Iets bly vir Izel kwel. “Dink Ma tannie Sophia en oom Frik het dit gehoor?”

      Daar is net een manier om uit te vind, en Mariana bel haar suster. Dis ’n oproep wat Mariana dadelik ’n erge gevoel van vervreemding laat beleef. Sophia gee haar nie kans om te vra oor die bom nie. Wanneer sy Mariana se stem hoor, begin sy dadelik vertel van ’n wonderlike nuwe winkel wat sy in Menlyn ontdek het en dat sy dadelik vir haar ’n ingevoerde Franse uitrusting bestel het. Maar geleidelik raak die dinge waaroor sy kan spog minder en kry Mariana kans om uit te vra oor die bom. Sophia weier onmiddellik om dit te glo – sy moet dit eers oor die TV-nuus hoor. As ’n mens jou ore vir allerhande stories uitleen, sit jy later met geen sosiale lewe nie en is jy ’n vreemdeling in die malls.

      Toe Mariana die foon neersit, staan Izel vir haar en wag. “Gaan daar ’n oorlog wees, Ma?”

      “Nee, my kind.” Mariana wens sy kan dit met meer oortuiging sê. “Daar is te veel mense met goeie harte in hierdie land om ’n oorlog te kan hê.”

      Die dag van die bom het iets opgelewer wat Soois van Rooyen diep ontroer het toe hy ’n paar dae later daarvan te hore kom. Hy was nie self by om dit te beleef nie, maar agterna, ná die rugbywedstryd, het almal daaroor gepraat en só het die storie sy ore bereik.

      Dit was eintlik ’n tipiese kleedkamertoneel, hy kon hom dit só goed voorstel, die seuns in die kleedkamer, voor die wedstryd. Besig om die ergste senuwees met ’n geklets onder beheer te kry. FG, Henk en Riaan aan die praat terwyl hulle veters vasbind en die kuite en bobene met Deep Heat insmeer.

      “Ek sê julle, die oomblik toe ek dit hoor, toe weet ek!” FG is op ’n stasie vir die wedstryd. “My ma wou dit nie glo nie, maar toe hoor ons dit op die nuus op pad hiernatoe. ’n Moerse bom, in die middestad, klomp mense beseer. Toe tune ek haar: ‘Sien jy, sien jy, ek was reg!’ Dis jammer daar’s nie meer army nie, ek ken ’n bom as ek een hoor.”

      “Miskien kry jy nog jou kans.” Henk is altyd die besadigde ene. “My pa sê ons gaan ’n burgeroorlog hê.”

      Riaan kan net beaam; sy pa praat ook van oorlog. “Hy versamel al die laaste twee jaar Krugerrande. Julle moet dit sien, net so ’n stapel van die goed. Hy noem dit sy versekering.”

      “My pa versamel blikkies tuna,” kom dit amper lakonies van Henk. Hy praat nie baie oor Andries met sy maats nie. Dis ook nie nodig nie. Almal weet dat Andries ekstra werk oor naweke doen om dit te kan bekostig om Henk in dieselfde skool as FG te hê. ’n Mens skinder nie oor so ’n mens nie.

      “My pa sê dit gaan alles cool uitwerk,” antwoord FG. “Die enigste oorlog wat daar gaan wees, is die een op daardie veld vandag, en jy, Henk Landman, beter ’n drie druk.”

      “Ja, Wilmien sit al weer heel voor op die paviljoen.” Riaan maak ’n geluid soos ’n hoender en “pik” Henk met sy vingers agter op sy kop om Henk se “hen-pecked” status aan te dui. Spoedig ontaard die gesprek in ’n gestoeiery.

      Só besig is die seuns met hul speletjies dat hulle eers bewus word van hul onderwyser se teenwoordigheid wanneer hy praat. “Hou dit vir die wedstryd. Kom, manne, maak ’n kring.”

      Met ’n laaste ruk en pluk, stamp en stoot, beweeg Riaan en FG uitmekaar en sluit aan by die kring spelers wat besig is om te vorm. Henk, FG en Riaan staan langs mekaar, arms om die skouer in die kring.

      “Raait manne, julle weet wat om te doen.” Die afrigter is aggressief, besig om sy troepe op te sweep vir die stryd. “Dis ons eerste wedstryd van die seisoen en dis nie net ’n wedstryd nie, dis ’n oorlog! Geen genade nie en take no prisoners. Kom ons bid.”

      Almal buig die hoofde.

      “Onse hemelse Vader,” die afrigter se stem is nou baie eerbiedig, “ons vra u seën op ons wedstryd vandag. Ons wag al lank om hierdie manne ’n les te leer vir wat hulle verlede jaar aan ons gedoen het. Bewaar ons span, maar as ’n paar beserings die prys van oorwinning is, dan aanvaar ons dit so. Ons vra dit in u Naam …”

      “Voor Meneer amen sê, Meneer,” val Henk hom onverwags in die rede, “mag ek ook iets sê?”

      “As jy wil.” Die afrigter is heeltemal onkant betrap.

      “Ons vra ook, Here,” begin Henk, “dat U ons land bewaar en met wysheid sal lei in die verkiesing wat kom en in die vreedsame oorgang tot ’n nuwe Suid-Afrika. Ons vra dit in u Naam … amen.”

      Die afrigter en seuns lig hulle kop. Vir ’n oomblik is daar stilte, niemand weet mooi wat om volgende te doen of te sê nie.

      Dan red FG die situasie. “Verkiesing of nie,” skree hy, “manne, ons het ’n wedstryd om te wen!”

      Die span juig soos een man en draf met mening na die slagveld.

      Soois van Rooyen glimlag toe een van die ander onderwysers – een van die vlagmanne gedurende die wedstryd – hom die storie vertel.

      Dis nou maar van Henk, dink Soois. Hy is ’n denker. Sien altyd die groter prentjie.

      Dié keer was dit Sophia wat haar ma gebel het. So tussen die rugby deur bel sy, want sy sukkel om lank te konsentreer op enigiets wat sy nie met die uithaal van haar kredietkaart die nekslag kan toedien nie. En nou was dit nie rugby wat vir haar die nuus was nie, maar die bom.

      Mart neem die oproep in die huis op hul landlyn – selfoonontvangs hier op die plaas is nie altyd na wense nie. Soois bly op die stoep agter, ’n kalmte oor hom wat, sal hy self erken, saam met die jare se sukses as boer gekom het. Hy hou nie van ’n vertonerigheid nie, en dit blyk ook uit die eenvoudige klere wat hy altyd dra, koöperasiekakie, en die karige meubels wat op die stoep steun vir moeë ledemate moet bied. Soois sit net en staar na die velde voor hom, na landerye wat hy met sy eie hande help vestig en in stand gehou het.

      Mart kom uitgestap, gaan sit langs haar man. Die jare saam met ’n staatmaker soos Soois het ook ’n rustigheid oor haar gebring. Hulle praat nie baie nie, maar wanneer hulle gesels, is dit oor dinge wat saak maak.

      “Dit was Sophia. Hulle’s almal by die seuns se wedstryd. Almal behalwe Andries. Hy’t by die huis gebly.”

      Soois knik sy kop stadig, staar na die landerye. Hy en Mart weet albei hoekom Andries liewer tuis bly. Naby sy skade.

      “Is dit hoekom sy gebel het?”

      “Nee.”

      Mart wei nie uit nie.