Albei skree, die hele huis kan hulle hoor.
“Wat gaan Ma sê as ek die hele tyd met haar kar rondry, of gaan Pa my van die oggend tot die aand klas toe en rugby toe rondkarwei?”
Frik weet FG het reg. Dit is ’n groot probleem wat ’n pragmatiese oplossing verg.
“En ook: Hoekom het Pa tot vanoggend gewag voor Pa my vertel?” FG skree nou so op sy pa dat sy are teen sy voorkop en nek bult. “Varsity begin hierdie week en ek het op Pa se belofte gebargain.”
“Daar is altyd twee kante aan ’n bargain, FG, en jy’t nie jou kant gebring nie.”
FG bedaar, praat skielik sagter. “Pa vergeet wat Riaan se dood aan my gedoen het. Ek het gesukkel om op die eksamens te konsentreer.”
“Ek vergeet dit nie … maar jy moet verstaan, my seun, die lewe word nie makliker soos jy ouer word nie … dit word moeiliker … en hoe moeiliker dit word, hoe meer moet ’n man kophou.”
FG raak stil.
“Maar gaaf, ons sal kyk na ’n tweedehandse kar.”
FG wil-wil weer driftig raak. “Pa sê mos altyd: goedkoop koop is duur koop.”
“Dis waar. Maar dis ook waar dat as jy bo wil uitkom, jy onder moet begin. Kry jou goed, ek wil binnekort ry.”
FG stap dikbek by die kamer uit.
Nadat FG by die vertrek uit is, het Frik weer afgekyk na sy dokument. Die dag het absoluut goor begin: Termination of Municipal Contracts. Voor hy ry, moet hy net een oproep maak. Na meneer Sithole, die nuwe kêrel belas met die toekenning van munisipale kontrakte – in die plek van Thys Oosthuysen, met wie Frik die afgelope agttien jaar ’n baie goeie verstandhouding en vriendskap opgebou het, maar wat nou ongelukkig ’n pakket geneem het.
Sithole is reeds op kantoor, en verduidelik geduldig aan Frik dat die munisipaliteit opnuut na alle kontrakte kyk en dat daar nou ander kriteria is wat by die hersiening in ag geneem moet word. Frik kan dit nie begryp nie. Hoe sê die ou spreekwoord? Possession is nine points of the law.
“Verstaan een ding baie goed,” sê Frik ontsteld op Engels, “my maatskappy het nog altyd goeie diens aan die munisipaliteit gelewer. Ons samewerking strek oor agttien jaar terug …”
Sithole vra of Frik gehoor het wat hy pas verduidelik het.
“Ja, ek luister …”
Sithole herhaal sy betoog.
“Meneer Sithole, ek het gehoop dat die munisipaliteit ná agttien jaar my ten minste sou bel om die saak te bespreek voordat my kontrak gekanselleer word.”
Daar is geen reaksie aan die ander kant nie. Sithole het reeds afgelui.
Wanneer Frik uiteindelik by sy kantoor aankom, is dit met gemengde gevoelens dat hy sy maatskappy se naambord sien: Maximus Omheinings.
Frik het kwalik sy tee gedrink of Albert is daar om Frik moed in te praat. Frik stap op en af in die kantoor terwyl Albert op die besoekstoel voor die lessenaar sit.
“My twee grootste kontrakte, Albert … net so,” Frik klap met sy vingers om te beduie hoe die kontrakte in die niet verdwyn het, “weg. Dis ’n helse stuk van Maximus se jaarlikse omset. Daar is net een oplossing: Ek moet die kontrakte terugkry.”
“Dis waarvoor ek bang was, Frik, die ou deure maak toe. Ons gaan nuwe markte moet soek.”
“Jy weet net so goed soos ek dat niks naby my regeringskontrakte kom nie. Ek het vir jare net die beste diens verskaf, ek verdien daardie werk.”
“Verdien? Ek dink nie ons moet die woord ‘verdien’ in hierdie dae gebruik nie. Die nuwe …” hy soek die juiste woord, “… die nuwe Suid-Afrika het nuwe vereistes en ons velkleur voldoen nie daaraan nie.”
“Ja, en nou vat hulle die brood uit hul eie mense se mond uit: drie-en-tagtig swart families is afhanklik van Maximus vir ’n inkomste, Albert, besef hulle dit nie?”
“Hulle besef dit, Frik, maar hulle verwag dat jy swart mense ook op direkteursvlak aanstel.”
“Ek laat my nie vertel wie ek in my raad moet aanstel nie.”
“As jy regeringskontrakte wil hê …”
Frik snap wat Albert bedoel. Hy moet toegewings maak.
“En tot dan,” hervat Albert, “sal jy dalk moet begin deur jou eie salaris te verklein.”
Frik skud net sy kop. “Nonsens. Praat met die bank … leen nog ’n miljoen of twee. Nuwe kontrakte sal kom.”
“Die bank gaan vra vir inkomsteprojeksies en kontrakte om dit te staaf.”
Frik stap na die venster, die venster waar hy altyd staan en sy hoofbrekens besweer. Hy weet Albert het reg. Frik slaan hard met sy vuis teen die ruit, laat dit daar teen die glas bly. “Niemand sal my onderkry nie, niemand sal Maximus onderkry nie. Ek sweer dit. Hierdie besigheid is ék, ek het dit gebou … ek sal nie gaan lê nie.”
Frik neem sy baadjie en maak reg om te loop.
“Ek sê nie jy moet gaan lê nie,” sê Albert. “Ek sê net ’n paar dinge sal moet verander.”
“Verander? Nee, Albert, ek gaan nie verander nie. Weet jy wat gaan ek nou doen? Ek gaan nou vir my seun ’n kar koop. Ons was nog nooit armblankes nie en ek gaan nie nou soos een begin dink nie. Ek bel jou môre.”
Nadat Frik sy kantoordeur agter hom toegemaak het, bly Albert ’n hele ruk bekommerd sit.
Voordat die nuus van Henk hulle bereik het, het Sophia ’n wonderlike belewenis gehad. Een van daardie belewenisse wat ’n mens só goed laat voel – wat Sophia laat voel sy is reeds deel van die nuwe Suid-Afrika. Sy het dit eintlik op ’n manier beplan omdat sy gereeld terugdink aan die gesprek wat sy met Netta gehad het voor verlede jaar se verkiesing.
Sy wag tot Netta besig is om die vensters te was naby aan waar Sophia luilekker op die stoep lê en tydskrifte lees ná haar inkopiesessie van die oggend.
“Weet jy, Netta, ek kan nie glo wat dinge deesdae kos nie. Hoe verwag hulle ’n mens moet oorleef?”
Netta kyk om na Sophia wat tussen al haar aankopies sit. Sy gaan voort met die vensters, antwoord nie.
Sophia haal ’n pragtige duur serp uit ’n pakkie en draai dit om haar nek. “Wat dink jy hiervan, Netta?”
“Sjoe, dis mooi, mies.”
“Dit is, nè? En moenie dink ek het net myself bederf nie. Ek het vir jou ook iets gekoop.” Sophia soek na ’n pakkie tussen die ander pakkies, kry dit, en hou dit na Netta uit.
“Toe, maak oop,” sê Sophia.
Netta maak die pakkie oop. Sy haal ’n nuwe huiswerkersuniform te voorskyn, hou dit oop teen haar lyf. “Haai dankie, mies.” Sy glimlag dankbaar.
“My plesier. Nou kan ons albei weer ’n bietjie nuwe klere dra.”
Dit is FG wat vir Frik gebel het met die nuus van Henk se beurs. Kort ná etenstyd was Frik by die huis, en hy en Sophia is saam na Andries en Mariana.
Frik kan sien dat Andries baie gespanne is en dat Mariana gehuil het. Maar hulle probeer om die spanning weg te steek, nie altyd met sukses nie. Wanneer Frik die tjek aan Andries gee, reageer Andries glad nie soos hy verwag het sy swaer sou nie. Pleks van dankbaar is hy bleek en lyk op ’n manier, wel, vernederd.
“Dis die eerste helfte van die universiteitsgelde,” sê Sophia. “As julle nie die res teen halfjaar het nie, sal ons weer betaal.”
Mariana kyk na Andries. Hierdie gesprek is vir hom een lang vernedering, maar hy probeer om dit nie te wys nie.
“Ek was by die handelaar besig om ’n gek prys vir ’n splinternuwe motor te oorweeg,” vertel Frik, “toe