“Praat die beskuldigde Engels? Hoekom antwoord sy nie?” roep die rooi man uit, die man met die rooi omboorsel.
“Ja, Edelagbare. Sy verstaan u.”
“Pleit, Ma,” hoor ek ’n stem wat klink soos Sanusha s’n. Sanusha onder die water waarin ek verdrink.
“Onskuldig,” sê ek. Ek dink ek klink ferm, bestendig, maar toe sê die groot man, Meneer Geregtigheid: “Kan jy dit herhaal, asseblief?”
“Harder,” sê Sanusha.
“Stilte, Juffrou, dis ’n hof dié. Ek sal nie tussenwerpsels van toeskouers duld nie.”
Toe knyp ek my lippe opmekaar, soos Joe altyd gemaak het wanneer hy nie wou jok nie, maar ook nie die waarheid wou praat nie.
“Nie jy nie,” sê Tom, en nou herken ek sy stem.
“O, daar’s jy, Tom,” sê ek.
“Ja,” sê hy, sy oë soos staal. “Hoe pleit jy, asseblief, Thea?”
“Onskuldig,” sê ek weer.
Die prokureurs en aanklaers en polisiemanne en regter wip almal. Hierdie keer het hulle my gehoor, en ek lag.
Sissies.
Kort daarna, terwyl die polisiemanne my by die trap aflei, sien ek vir Clay.
My mooi Clay se gesig lyk grys.
Hy kyk na my en skud sy kop, maar sy oë is deurentyd op my, asof hy nie kan glo dat dit ek hier voor hom is nie. Ek waai. Blaas soentjies.
Nou kan ek eindelik weer gaan slaap.
Deel een
Prekonsepsies
Sanusha (5): Belangrike familiedinge
Ek is 5 en ek weet 3 dinge van my mamma:
1. Haar oë is nie dieselfde kleur nie.
2. Dis vir haar moeilik om gelukkig te wees.
3. Sy hou nie van Asmita Ayaa nie. (Mamma sê sy hou van haar, maar ek is nie dom nie.)
Ek weet 3 dinge van Appa, my pappa:
1. Hy is nie altyd by die universiteit wanneer hy sê hy is daar nie.
2. Hy skeer 2 keer op ’n dag, want hy is superharig.
3. Hy het tannievriendinne, en dis ons geheim.
Ek weet 3 dinge van myself:
1. Ek is nie mooi soos my mamma nie.
2. Ek hou die meeste van syfers.
3. Ek haat geheime.
3 + 3 + 3 = 9 belangrike familiedinge.
As jy 9 vat en jy maak 3 hopies, dan is daar 3 in elke hopie.
’n Veelhoek met 9 sye en 9 hoeke is ’n negehoek. Sien jy?
Daar is 9 planete in die sonnestelsel: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus, en Pluto, plus nog die son ook, wat eintlik ’n brandende bol gas is. Pluto is die verste van die son. Mercurius is die naaste.
Katte het 9 lewens. (Ons kat, Marmite, het net 7 oor. Appa het eenkeer oor hom gery en ’n ander keer het hy in die swembad geval, toe sit sy kop onder die net vas.) Beethoven het 9 simfonieë geskryf, maar dit traak my nie. Ek haat klassieke musiek, maar ek is mal oor Abba, veral “Money, Money, Money”, want dis oor optelsomme.
9 klink ’n bietjie soos “nuut”. Mamma het vir my gesê 9 is “neuf” in Frans, “nueve” en “nuevo” in Spaans en “neun” in Duits.
Ek hou van 9.
Dit vat 9 maande vir ’n baba om te groei. Dit beteken wanneer ek tot by 9 tel, is dit ’n nuwe begin. Ek sal van ’n nuwe begin hou.
Mamma huil baie. Ons is nog altyd in hierdie godverlate tuinwoonstel met te min plek om ’n kat rond te swaai (maar Mamma sê ek moenie vir Marmite rondswaai nie).
O, daar is nog iets wat ek van Mamma weet.
3 + 1 = 4.
Sy rook in die tuin onder die bloekomboom wat Appa wil uithaal omdat dit uit Australië kom. Appa hou nie van Australiërs nie. Ook nie van rook nie. Hy sê Mamma ruik soos ’n asbak. Sy hou Stimorols in haar handsak om haar asem lekker te laat ruik, maar dit brand my mond en wanneer ek dit kou, begin my maag grom. Appa sê sy beter die sigarette los, of sy sal sien. Ek weet nie wat sy sal sien nie, maar ek dink Mamma weet. Sy rook nog partymaal, maar sy probeer ophou. Dis nog ’n geheim.
Mamma se longe raak swart binne-in haar lyf, maar sy sê om te rook help haar ontspan. Ontspan is goed, maar rook is nie goed nie.
Ek dink ek moet haar voete vryf, maar sy sit nie lank genoeg stil nie. Mamma loop op en af in die huis en loer by die venster uit. Ek weet nie waarvoor sy wag nie. Partykeer kom Annie in die tuinpaadjie afgestap, dan blink Mamma se oë. Wanneer Annie weggaan, lyk Mamma se oë so dof soos my stowwerige skoene.
Ek het nog ’n ouma, maar sy en Mamma is nie meer maats nie, daarom wil sy my nie ontmoet nie. Mamma sê ek mis niks, maar dit voel vir my asof sy jok. Daar is 5 goed wat ek dink ek mis:
1. Die ander ouma se mooi huis, waaroor Mamma partykeer praat.
2. Die ander ouma se kos. Wanneer Appa nie hier is nie, maak Mamma partykeer kos van resepte af. Ek hou van beesstert, dis vleis, maar Appa eet nooit vleis nie.
3. Mamma se ou speelgoed. Sy sê toe sy klein was, het sy dit versigtig in ’n groot houtkis aan die voetenent van haar bed gebêre. Mamma sê daardie ouma het dit seker lankal uitgesmyt, maar ek dink nie so nie. Hoekom sal iemand goeie speelgoed weggooi?
4. Ander foto’s van Mamma se broer, wie se naam Robbie was. Hy is dood toe sy nog klein was. Mamma het net een foto wat sy gevat het die aand toe sy by daai ouma weg is. (Appa sê Mamma is uitgeskop.) So Robbie lyk net op daardie een foto soos Robbie. Ek dink nie enigeen lyk altyd dieselfde nie, nie eens as hy dood is nie.
5. Die boomhuis wat Mamma se pa vir haar broer Robbie gemaak het. Mamma sê Ouma het dit dalk al jare gelede stukkend gekap, maar ek het dit gesien. Eendag, toe Mamma gedink het ek slaap in die kar, het sy na ’n groot, tamaai, yslike huis toe gery en gestop en baie lank na die boom gekyk. Sy het vinnig weggery toe die hek begin oopswaai. Toe sy by die huis kom, het sy my vir Asmita Ayaa gegee, en in die bad gaan klim om te huil.
Wanneer ek huil, en ek huil nie naastenby so baie soos toe ek nog 4 was nie, hou Mamma my styf vas. Sy sê sy maak my vol liefde van haar vel af na myne toe. Partykeer hou sy my te styf vas, dan kan ek nie lekker asemhaal nie, maar ek hou van hoe haar lyf voel, daarom draai ek net my gesig om ’n bietjie lug in te slurp. Appa het vir my die woord “slurp” geleer. Hy het ook vir my “veelhoek” en “negehoek” geleer. Gulsige kinders slurp hulle koeldrank. Slange slurp paddas heel in. Ek het dit op TV gesien. Ek hou van TV, maar my ouma Asmita Ayaa sê ek mag net 1 uur op ’n dag TV kyk. Dis haar TV, daarom moet ek na haar luister om ’n ster op my gehoorsaamheidskaart te kry.
1 uur is 60 minute, en daar is 60 sekondes in 1 minuut, so 60 x 60 = 360 sekondes in 1 uur.
So dis 360 sekondes se TV per dag. Dit klink langer as 1 uur.
Dis hoekom syfers beter is as woorde, maar daar is ’n paar woorde waarvan ek rêrig hou:
1. Glimlag
2. Kangaroe
3. Vliegtuig
Dit voel soos warm sjokolade in my magie.
*
Mamma is deesdae ’n bietjie snaaks. Sy is die hele tyd hartseer.