Ná daardie eerste keer dat hy saam dorp toe was, het hulle ’n paar dae by die huis gaan rus om reg te maak vir die volgende kap. Die beste en swaarste slypgoed het altyd by die huis gebly; sy pa en oom Anneries het die sae en die byle geslyp tot daar nie ’n stoets kolletjie op ’n blad of tussen twee tande oorgebly het nie. Hy en Jozef het self die naald gevat en gelap waar dit nodig was. Ou Sanna het elke keer wanneer hulle ’n winkelhaak in ’n broek of ’n hemp kom wys, weggeskram en met drif in die tuin gaan spit.
Die Sondagaand het sy pa die aankondiging gedoen:
“As hy nog staan, staan hy duskant Hottentotskloof met sy voete as ’t ware in die water van die Homtini. Die mooiste kalander wat my twee oë gesien het. As MacDonald en die Goewerment dwarslêers wil hê, sal hulle dwarslêers kry. Ons sal môre donkervoordag opstaan en regmaak vir die gaan.”
Dit was ’n volle dag se harde stap. Kloof af en kloof uit. Kloof af. Kloof uit. Soms ure napad deur die digste bos met alles wat moes saam tussen die vier rûe gedeel.
“Hoe gaan ons die hout hier uitkry, Pa?” het Saul halfpad benoud gevra.
“Wys my ’n hout wat Joram Barnard nie uit hierdie bos kan kry nie en ek wys jou ’n hout wat nie bestaan nie.”
In sy hart het Saul gehoop die kalander staan nie meer nie.
Kort ná kwartdag het die skote Kwê-se-Draai se kant toe geklap.
“Mis!” lag oom Anneries. “Die telling bly op dertig.”
Volgens gerugte het Marais toe al dertig geskiet.
Teen latenstyd was hulle hoog bo langs die Homtini en het hulle gelykte gesoek om af te pak. Die loeries was al in die bome om te kom slaap; die stilte tussen die dag- en naggeluide het oor die Bos gelê en nie ’n tak het in die ruigtes geroer nie. Waar die bruin water van die Homtini oor honderde jare heen ’n elmboogdraai deur Eilandbos gekalwer het, het hulle gelykte vir die skerm gekry. Maar daar was nie krag in hulle oor om skerm te maak nie, net vir vuurhout kap en koffie maak en omrol om onder die donker blaredak die genade van slaap te soek.
Voordag het hulle die kalander skaars honderd tree noord van hulle af gekry. Soos ’n koning het hy tussen die wit-els en die bergsaffraan, stinkhout, assegaai en hardepeer om hom verrys. So asof God hom baie, baie lank voor die ander daar moes geplant het. Sy wortels het hom soos reuse-arms in die grond geanker en bo, waar sy lyf meer son gekry het, het die vaal bas in droë repe van hom afgehang. Deur die yslike dwarstakke, hoër as hoog, het ’n laaste ster teen die voordagblou van die hemel geblink.
“Maak toe jou mond, Saul!” het iemand gesê. Die oumansbaard in sy takke het soos yl groen hare spookagtig in die wind gewaai. Dit was ’n ontsaglike groot boom; waar hy uit die bosvloer opgestyg het, was sy lyf so dik soos vyf osse s’n saamgebondel.
“Waar gaan hy val, Pa?”
“Ons sal nou sien.” Sy pa het deur die dounat onderbos om die kalander geloop.
Val hy suid, kan hy boggelrug in ’n ou stinkhout val, het Saul sy eie berekeninge gemaak. Laat val hulle hom oos, val hy ’n pad deur goeie hout, en noord lê ewe sleg.
“Ons sal hom effens suidoos neerlê!” besluit sy pa nadat hy ’n tweede keer omgeloop het. “Wat dink jy, Anneries?”
“Ek sien hom ook so lê, Joram.”
Die skerm moes eers klaarkom. Sy pa en oom Anneries het ’n goeie skerm tussen ’n ysterhout en ’n witpeer gemaak; hy en Jozef moes rondom skoonkap tot op die grond.
Halfdag was die eerste patats in die as en die katotjies het eenkant oor die kleinvuur gesing. Die skerm was klaar.
“Nou ja, Joram,” het oom Anneries gesê en sy pyp uitgekap, “lat ons dan maar gaan inblits.”
Daar was ’n vreemde gevoel van verskriktheid in Saul toe hulle met die regsbyle nader stap. Hy en Jozef is agterna. Sy pa het met houtkapperskennis ’n laaste keer gemeet waar hy die reus wou laat val, die laagste punt teen die vaalgroen, mosbedekte stam uitgesoek en vastrapplek vir sy voete tussen die wortels gekry. Toe hy oorhaal en die eerste hou van die valkeep inbyl, het dit dwarsdeur Saul geruk.
“Ek dink hy voel dit,” het hy hardop gesê.
“Wat?” vra Jozef langs hom.
“Ek dink die boom voel dit.”
“Is jy nou simpel geword?”
Agter die kalander, lynreg met die valkeep en ’n entjie hoër op teen die stam, het oom Anneries se byl ingeval: stadig en ritmies saam met die voorste een.
Hulle het sewe dae gekap voordat hy geval het.
Die eerste dag het Saul en Jozef met die grawe van die putkuil begin; die mote sou te swaar wees om met min hande op ’n staankuil te kry vir die opsaag. En die kuil moes ’n raps oor die ses voet diep gegraaf word sodat Joram Barnard regop sou kon staan wanneer die kraansaag getrek word.
Swerms loeries het bokant hulle in die bome vergader en by tye het selfs die kap van die byle onder die aanhoudende kok-kok-kok weggeraak.
“Wat gaan met die loeries aan?” wou Saul van Jozef weet.
“Seker grootvoete naby. Ek sê jou nou al, daardie wit-els daar anderkant is myne as daar geklim moet word.”
Die volgende môre, toe dit lig was, het die spore om die skerm gelê.
“Joram!” het oom Anneries benoud geroep. “Kom kyk bietjie hier buite! Dit lyk my ek siet vanmôre goete.”
Hy en Jozef is saam met sy pa by die skerm uit. En Joram Barnard het die spore net een kyk gegee, orent geskrik en om hulle in die skemer bos ingespied. “Dis Oupoot.”
“Ek wou mos sê.” Oom Anneries het ’n yslike stomp op die vuur gegooi. “En kyk net hoe suutjies het die derduiwel geloop, nie ’n blik of ’n katotjie omgeskop nie.”
“Die mis is nog lou!” het ’n bevreesde Jozef agter die skerm uit geskree.
“So ’n boggher, natuurlik staan kyk hoelat ons slaap en sy mind staan en opmaak of hy ons sal trap of nie.” Sy pa se stem was vol onrus. “En wat staan jy soos ’n klip, Saul?”
“Hy’t die patatskille opgevreet, Pa.”
“Ou laai van hulle. Maar ek hou nie van dié ding nie. As ’n grootvoet eers alleen beginne loop en suutjies daarby, moet jy lig loop vir hom. As ons dalk in sy looppad skerm gemaak het, sal ons moet skuif. Of hy gaat ons trap.”
Die rillings het die een na die ander deur Saul se lyf getrek. Om te dink dat Oupoot spoegver van hulle af was en hulle het dit nie geweet nie! Miskien het hy sy skurwe slurp by die skerm ingesteek en aan hul lywe geruik …
’n Halfuur later het die skoot agter by Brandrug geklap.
“Mog dit vandag Oupoot wees,” het oom Anneries gehoop.
En die loeries het weer kom kok-kok-kok en gorrel en sis, en rooivlerk van tak tot tak deur die spatsels son gesweef. Asof daar onrus onder hulle was.
Dit was amper halfdag toe die hond skielik vlak by hulle in die Bos blaf en die byle en die grawe in hul hande stuit. Selfs die loeries het hulle ’n oomblik stil geskrik.
Toe die vreemdeling suid van hulle uit die ruigtes kom met die hond kort op sy hakke, het Saul sy pa se oë vooruit sien kwaad word.
“Mostert,” sê die man en stap na sy pa toe.
“Joram Barnard.”
“Hoeveel man in jou span?” vra die man kortaf.
“Vier.”
“Osse?”
“Twaalf.”
“Liksens?”
“In