“Ek het niks met mister Page te doen nie! Die Goewerment wil dwarslêers hê! Die spoorlyn Kimberley toe moet klaarkom en julle kom hier aan met waenhout! Het julle bosmense dan nie verstand nie?”
“Dan verstaan ek dit nou glad nie,” het sy pa verslae gesê.
“En ek sien hier staan nog skuld op die boek vir ’n doodskis ook?”
“Die sterfte het onverwags oor my huis gekom, mister MacDonald, daar was twee op die boek, een is afgebetaal.”
Die man het sy kop geskud en iets in die groot boek geskryf, toe iets in die kleiner een, die blad uitgeskeur en vir sy pa gegee.
“Saul!” roep sy pa toe die man wegstap. “Kom lees hier.” Maar hy had moeite met die lees. “Ek verstaan nie wat hier staan nie, Pa. Iets van tree pennies.”
“Dis Engels,” het oom Anneries oor sy skouer kom help. “Lees soos dit staan, ek sal weet wat jy lees.”
“Tree pennies s … u … g … a … r. Tree pennies c … o … f … f … e … e. Five shillings off on c … o … f … f … i … n.”
“Kôffen,” sê oom Anneries. “Dis die kis.”
Tiekie se suiker, tiekie se koffie en vyf sjielings af op die kis? Al die kap, al die saag, die kalanderblok se uitsleep, al die regkap, al die oplaai, al die werk, dag na dag, week na week; alles vir ’n tiekie se suiker en ’n tiekie se koffie en vyf sjielings af op die kis? En sy pa stáán net daar?
En die man kom halfpad teruggestap en skree oor die oopte: “Kry julle wa uit die pad! Ek verwag waens met dwarslêers!”
“Meneer!” het sy pa skielik tot lewe gekom en met sy hoed voor sy bors tot by die man gestap. “Meneer, ons weet nou nie hoe nie. Ons moet meel hê en die suiker en die koffie sal nie uitkom nie. Dis twee waens se hout daardie, meneer, ons kry gewoonlik een pond vyf vir een.”
“Laai op julle vrot hout!” snou die man skielik woedend en die bloed vlam rooi in sy nek. “Vat dit weg van my werf af en loop verkoop dit op ’n ander plek! Maar voor jy oplaai, betaal jy eers jou winkelskuld, want die winkel behoort nou ook aan my!”
Saul het geweet hulle is vas. Die man het dit ook geweet.
“Ons sal gaan dwarslêers werk, meneer,” het sy pa mooigepraat. “As mister MacDonald dan net vooruit kan help met ’n groter goodfor vir meel en suiker en koffie en …’n bietjie twak tog, asseblief. Ek belowe meneer ons sal gaan dwarslêers werk.”
Saul was nooit weer kind ná daardie dag nie. Iets breek in jou as jou pa, groot sterk Joram Barnard, wat ’n byl kon swaai soos geen ander man in die Bos nie, wat ’n treksaag lynreg deur die dikste kalanderblok kon laat skree, wat met die krag van ’n os kon hout uitsleep, as jy hóm soos ’n hond sien vra om kos en twak.
Teen skemer is hy bo in die Knysnarivier se klowe en hy is moeg. Die hele dag geloop en nie ’n teken van Oupoot nie. Deur ’n oopte in die blaredak kleur die son ’n streep windwolke rooi.
Agter ’n ou stinkhoutstomp, uitgehol aan die agterkant en skurf van die mos, roep hy sy dag ten einde. Hy is honger. Daar is ’n geniepsigheid in die luggie en hy trek sy baadjie om hom styf. Die vorige nag was dit bedompig. Daar is spinnedrade oor sy gesig en toe hy hulle wegvee, voel hy die tweedagstoppels onder sy hand.
En die slaap wil nie kom nie. Die spoke van gister wil nie tot ruste kom nie. Hy wou die waenhout net tot by MacDonald uitgesleep het, nie die res nie!
Nie Kate nie.
Hoe gaan hy haar leer haat?
Hulle is weer met die wa terug tot in die eerste straat. Terwyl sy pa en oom Anneries met die goodfor by die sink-winkeltjie in is, het hy op die wa bly sit en Jozef het voor by die osse gestaan.
Dit het gevoel of die hele wêreld hom bejok het, of sy lyf in ’n deurmekaarbos beland het en nie weer kon loskom nie. Sy kop wou nie dink nie. Agter hulle het die Veltmaspaaiers se lendelam wa met hulle goodfor stilgehou …
’n Entjie laer af in die straat, in ’n groot, groen oopte, het ’n klein geboutjie met ’n spits dakkie gestaan. Die twee woorde bokant die deur was met ’n boog geskryf. Nie Hollands nie. P … U … B … L … I … C … S … C … H … O … O … L. School? Hy was nog aan die sukkel om dit uit te maak, toe die deur oopgaan en die kinders begin uitbondel. Dorpnaar-kinders. Ander soort kinders. Met ander soort klere en skoene en pakkies boeke in lang leerbande vasgegespe. Party van die kinders het in die straat af geloop en ’n paar het na die wa se kant toe oor die straat gekom en na die osse en Jozef gaan staan en kyk. Jozef het nie opgekyk nie. Saul het vinnig begin bid dat hulle tog net asseblief hóm moes miskyk! Maar vier van hulle het aan die onderkant langs die wa af gekom en net toe hy wou platval, sien hy hulle sien hom en hy weet hy gaan aan die straatkant afspring en hol! Maar die voet waarmee hy wou spring, bly oor die kant van die wa hang, want ’n meisiekind staan waar hy wil land en sy staar hom aan asof hy wonderbaarlik is.
“Do you come from the bush?” vra sy en agter hom lag die ander.
“They speak kitchen Dutch,” sê een, en Saul het geweet hy sou nie omgee om net daar dood te raak nie.
“Is daar regtig olifante in die bos?” vra die meisiekind half dringend en sy staan waar sy staan. Sy lyk soos ’n engel moet lyk, haar hare soos heuning as die son daarop skyn en haar oë net so donker soos ’n ou kershout se bas. Haar rok is van die fynste lap wat hy nog ooit gesien het en dit lyk of daar nog nooit stof aan haar was nie. En hy sien sy eie vuil tone deur sy skoen se punt steek en ruk sy been terug op die wa.
“Come on, Kate!” Die ander het begin haastig word. “They’re wild, these woodcutters’ children.”
“Het jy al ’n olifant gesien?” bodder sy weer oor die olifante en bly hom aanstaar. Toe vra sy met die grootste ongeduld: “Kan jy praat?”
Hy het sy kop laat sak en nie weer opgekyk nie. Toe sy saam met die ander wegstap, het hy hulle hoor lag en geweet hulle lag vir hom.
Donker was hulle terug in die Bos. Dit was soos die toevou van ’n dik kombers om sy lyf.
“Pa,” het hy gevra toe die vuur brand, “is ons witmense, Pa?”
4
Die Donderdagmôre, kort ná sonop, kry hy Oupoot se spoor. Ongeveer ’n myl noord in die Knysna op van waar hy die vorige nag geslaap het, en die olifant is van wes na oos deur die rivier. Teen die voordag, want die spoor is nog klam waar hy aan die Oorkant uit is … Hoe ver is Oupoot voor? ’n Uur? ’n Oomblik wil angs en twyfel hom beetvat, maar hy druk dit van hom weg. Hy het twee dae lank deur die Bos geloop om hierdie spoor te kry en sentiment gaan nie Freek Terblans se hand stuit nie! Klaar.
Dis die ander ding wat in hom torring wat hy nie gekeer kry nie: hy is minder as ’n halfuur van Groot Eiland af en as hy nie sy voete keer nie, gaan hulle met hom noord draai en met hom daarheen loop. Om wat te gaan maak? vra hy hom af, en volg Oupoot se spoor deur die klam onderbos. Al wat op Groot Eiland oor is, is grafte: sy ma, Sara, sy pa. Maar hy moet kos in die hande kry, miskien het ander daar gaan huismaak, stry die ander ding. Noudat hy weet waar Oupoot se spoor is, kan hy maklik Groot Eiland toe gaan, terugkom, die spoor weer kry en volg en lank voor donker klaarmaak wat hy gekom het om te doen.
’n Halfuur later draai hy noord.
Toe hy die geweer gaan haal het, het Maska gesê ou Anneries het duskant Kaffirskop huisgemaak; diep in die tagtig en kap nie meer nie, maar maak darem nog gereeld sy speke en neem hulle dorp toe.
Had húlle reg en hy verkeerd? wonder hy skielik. Is slaaf wees, hond wees, niks wees, blind wees nie tog maar die maklikste nie? Wat maak dit nou eintlik saak waar die bloubokkie se gal sit? Of waar jy glo dit sit?
Nee – om ’n lieg te