Kringe in 'n bos: Skooluitgawe. Dalene Matthee. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dalene Matthee
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068556
Скачать книгу
eers ’n slag dorp toe nie, maak ek dit nie.”

      “Hoeveel speke kort jy?”

      “Een en ’n half. Ek is gedaan, Joram, maar as ek nou uitval, maak ek hulle klaar en val ek môre voordag in die pad.”

      “Saul sal saam met jou moet gaan,” het sy pa onverwags gesê. “Ons twak gaan nie hou nie, die koffie en die suiker ook nie.”

      Saul se mond het oopgeval om te sê hy gaan nooit weer dorp toe nie. Maar hy sien die waarskuwing in sy pa se oë kom en hy byt die woorde terug.

      “Waarmee gaan ek dit koop?” vra hy verslae.

      “Jy loop sê vir mister MacDonald ek het jou gestuur. Sê vir hom ons bring ’n vol vrag dwarslêers uit en hy moet vir ons die goed op ’n goodfor gee.”

      “Sal dit nie beter wees as Pa liewers self gaan nie? Ek en Jozef kan hier aangaan … Wie sê hy gee dit vir my?”

      “Maar ek sê mos jy moet sê jy is Joram Barnard se seun!” het sy pa hom kortgevat. “Hy kan mos in sy boeke opkyk hoeveel jare lat ek al hout bring!”

      Voordag, die Donderdag, was oom Anneries se speke in die sak. Gouna deur was dit meer as ’n dag se stap dorp toe.

      “Vra by Gouna se mense plek vir die nag,” het sy pa oom Anneries vermaan. “Moenie in die donker in die Bos staan infoeter nie, die grootvoete gaan julle trap!”

      Maar toe dit donker word die aand en oom Anneries die hoeveelste diepkloof met hulle deur, vra Saul later hoe ver hulle dan nog van Gouna af is? Hy kon nie meer nie. Die hele dag het die ou met so ’n haas in hom geloop dat jy teen die afdraande net moes vastrap om nie te rol nie. Elke blaaskans het hy omgekriewel en aangejaag. En hy het klowe en dikbos gekies wat Saul nie geweet het bestaan nie; voetpaaie, sleeppaaie, ure napad, totdat hy begin twyfel het of hulle ooit weer in ’n pad sal uitkom.

      “Ek vra hoe ver ons van Gouna af is, oom? Dit word donker.”

      “Ek ken geniemand by Gouna nie. Lê nie by vreemdes nie.”

      “Oom wil tog nie … Ek loop nie in die donker nie, oom! Ek sê oom dit nou!”

      “Dis volmaan. Ons loop.”

      “Ek is moeg, oom!”

      “Ek wil nie môreaand op die dorp staan aankom nie, dan kon ek maar gebly het waar ek was.”

      “My voete kan nie meer nie, oom!” Hy was die duiwel in vir die ou man. Sy pa het uitdruklik gesê hulle moet by Gouna slaap. “Ek sê, my voete kan nie meer nie!”

      “Myne ook nie.”

      “Die grootvoete gaan ons trap, oom!”

      “Daarvoor het ons oë en ore. Kom! Ek los jou as jy agter raak. Ons kan slaap as die dorp na genoeg na my sin is.”

      Dit was ’n nagmerrie. Elke tree agter oom Anneries aan was dit lyf reghou vir hol of klim, want al wat jy kon sien, was ’n skynsel van die maan deur die pikswart ruigtes en die ou se swart gestalte nes ’n regop bobbejaan voor jou uit. En hy moes naby hom bly, agter aan sy baadjie pluk as ’n tak kraak, want hy was bang die ou hoor dit nie.

      “Hoor oom dit?”

      “Ja. Bosbok.”

      “As die grootvoete ons vannag jaag, hoop ek hulle trap oom goed fyn! Oom wil nie luister nie!”

      “Die grootvoete is hoër op.”

      “Hoe weet oom dit?”

      “Marais skiet nog heelweek daaikant toe.”

      “Oom sê self hier’s honderde van die goed in die Bos.”

      “Kom!”

      Daar was een geringe troos: van donker af het die ou in die voetpaaie en sleeppaaie langs gebly.

      Dit moet naby middernag gewees het toe die tak kort agter hulle klap en selfs oom Anneries in sy spore vassteek.

      “Oom?”

      “Sjuut!”

      “Wat hoor oom?” Die ou had hom aan die mou beet sodat hy nie kon hol nie.

      “Sjuut!”

      Die paddas het opgehou met klik, en as die paddas stil word, kan jy jou maar klaarmaak …

      “Sien oom iets?”

      “Ek dink ons is in die donker by hulle verby. Kom!”

      Soos ’n nagdier op die vlug het oom Anneries die rigting gekies: eers oos, toe suid, weer ’n ent oos en toe in ’n diepkloof af.

      “Ons gaan ons nekke breek! Ek kan nie sien nie!” het Saul geskree, maar die ou het net takke gebreek.

      “Kom! Nog ’n klein entjie, grootvoete sal nie hier af nie!”

      ’n Paar honderd tree verder teen die skuinste af het die ou eindelik tot stilstand gekom.

      “Kry vir jou rug ’n boom. As jy hier afrol, rol jy tot onder en dis ver.”

      “Waar is ons, oom?”

      “Twee uur van die dorp af. Gee daar vir ons ’n patat, ek is klaar.”

      “Wanneer is ons dan by Gouna verby?”

      “Vergange. Môreoggend gaat ons nou net hier af tot onder, dan anderkant uit, en as die son opkom, is ons bo by Garna-se-Nek.”

      Hy het sy lyf agter ’n boom ingewoel, die sak met die patats onder sy kop gesit en aan die slaap geraak. Eers toe oom Anneries hom die volgende môre wakker skud, het hy gesien wáár die ou hulle in had. Onder hulle het ’n kloof afgehel wat jou kop laat duisel. Geen grootvoet sou dit tot daar gewaag het nie, en as sy lyf nie agter ’n boom geanker was nie …

      “Ons kon hier afgerol het, oom!”

      “Ons het nie. Kom!”

      Hulle is vasklou-vasklou daar af en oorkant hande-viervoet soos bobbejane uit.

      “Jy gaat netnou ’n ding sien,” het oom Anneries geheimsinnig belowe toe hulle amper bo was.

      “Watse ding?” Hy was nie lus vir die ou se praatjies nie; hy’t simpel geslaap en die dorp het al nader gekom.

      “’n Ding, sê ek jou … Wat blaas jy nes ’n kruppel os?”

      “Jirre, oom, oom maak ’n man klaar!”

      “Ek gaat vir jou pa sê jy vloek.”

      “Pa sou ook gevloek het.”

      “Wag maar, jy gaat ’n ding sien.”

      Ná nog ’n kwartier se klim was hulle bo in ’n sleeppad.

      “Ek sien niks.”

      “Wag tot ons bo-op die Nek is, dan gaat jy die ding sien.”

      “Ons moet rus, oom!”

      “Jy kan daar bo rus.”

      “Is dit nou die bottel Cape Smoke wat oom so aanjaag?”

      “Los grootmenssake uit, hoor jy?” het die ou verontwaardig gebrom.

      Die sleeppad maak ’n wye draai deur die ruigtes om die kop: aan die een kant is die helling, aan die ander kant die helse afgrond, en met net ’n wa se breedte klou die oopgekapte pad al teen die skuinstes langs.

      “Gaan ons die hout hiérlangs uitbring?” het hy onrustig gevra.

      “Dis nog niks, ons het Witkop-se-Hoogte met die napad uitgesny. Jou pa sal osse moet byleen. Gaan nie daai hout met daai twaalf osse uitkry nie.”

      Toe die sleeppad om die kop begin swaai, het dit geleidelik begin ligter word … Hoe verder die pad omkom, hoe yler word die Bos aan die onderkant …

      ’n Paar treë verder het hy vasgesteek.

      “Gesê