“Maar van den boom der kennisse des goets ende de quaets,” het oom Anneries oorgeneem en met erns en vermaning aangehaal, “daer vanen sult gy niet eten: want ten dage als gy daer van eet sult gy den doot sterven.”
Só het sy ma ook gesê. Saul het selfs geweet watter boom die boom van goed en van kwaad is: die geelhoutboom. Tot die olifante weet dit. Dis die enigste boom in die hele Bos waarvan hulle nie ’n blaartjie sal vreet nie, nie ’n stukkie bas van sal afskeur nie. Nie van ’n upright nie, nie van ’n kalander nie.
Nou sê hulle dis nie Adam en Eva se bos nie? Sy kop was skielik baie deurmekaar. Die bloubokkie se gal sit nie in sy kop nie, die geelhoutboom is nie die boom van goed en van kwaad nie …
Hy het opgestaan om die water te begin aandra vuur toe; Sondag was die dag waarop hulle hulle gewas het.
Die Maandagoggend het hulle die skerm sleeppad toe verskuif. Drie keer op ’n dag skerm toe stap van daar bo af om te kom eet en rook, was nou te ver en ’n mors van tyd. Die hout moes klaar en op die dorp kom. Die kos was nou so min dat Saul die dae vooruit moes bereken en daarvolgens deel. Sy pa en oom Anneries was op halfpyp stop.
Hulle had die skerm net mooi klaar toe die skote Gouna se kant toe klap. So naby dat hulle die takke kon hoor breek.
“Hol! Hulle breek hierdie kant toe!” het sy pa geskree. En hy en Jozef kies dieselfde witpeer, maar Jozef sukkel om op te kom en Saul moes verbyhardloop. Toe die volgende skoot klap, het dit vir hom gevoel dis agter sy hakskene vas, en toe die olifant blaas dat die wêreld dreun, was hy bo in ’n boom. Die olifante het suid van hulle verbygebreek, Vlierdraai se kant toe; sy pa het geskree hulle moet sit waar hulle sit, daar kan een gekwes wees en skuil.
Dit was halfdag verby toe hulle weer op die grond kom. En oom Anneries sê hy het op die dorp gehoor dis ’n Marais wat skiet. Hy gaan glo honderd skiet.
“Honderd? Hoekom honderd?” Saul kon dit nie begryp nie.
“Seker vir die tande. Dis mos makliker as houtkap.”
“Hoeveel grootvoete is hier dan in die Bos?”
“Ek weet nie, seker ’n klomp honderde. Miskien duisend. Jy hoor dan jou pa sê die Goewerment wil hulle laat tel. Gmf! Hulle dink seker dis hoenders wat jy kan staan kiep-kiep. Wat weet ’n Goewerment van grootvoete af?”
Hy moes oom Anneries die dag by die vellingmote help: elke witpeermoot moes kantig en presies sewe-en-twintig duim lank kom. Oom Anneries het met die regsbyl kantig gemaak en Saul het gemeet en gesaag.
“Honderd grootvoete is baie, oom.” Saul het honderd dooie olifante in sy verbeelding probeer hoopsleep.
“Ja. En sover dit my aangaan, kan hulle die laaste boggher skiet, hulle moet net nie my staan saamskiet nie!” het oom Anneries ergerlik gesê en die bloklyn gevra. “Plant ek mos een jaar mielies lat die wêreld sal kan saameet. Daardie jare had ek huisgemaak anderkant Ysternek en ek en oorle Petrus Barkhuyzen maak vir ons ’n lekker groot stuk aarde skoon … Jy moet die bloklyn ordentlik deur die as trek voorlat jy hom vir my aangee! Ek wil nie soek waar ek my merke maak nie … En oorle Petrus plant patats en ek plant mielies. Daardie jare kap ek in jou oupa Barnard se span. En toe die mielies opskiet, sit ek nog ewe sewe flenterpoppe vir die bosbokke op en ek sê vir jou oupa die bosbokke dink dis sewe Barnards, want hulle kom tot op die rand van die Bos, gee die poppe net een kyk en spring terug … Laat werk daardie saag se tande, Saul! Jy’t nie jou hande nodig vir jou ore nie … En die reën val daardie jaar of hy georder is en ek bring die mielies halflyfhoogte en skuif die poppe uit solat die bokke hulle beter kan sien.” Kap, kap, kap.
“En toe, oom?”
“Toe kom die grootvoete. Dit was ’n Sondagnag. En wat hulle nie opgevreet het nie, het hulle vertrap en verniel tot in die aarde in solat daar ligdag nie ’n stoel gestaan het wat kon stronk nie.” Kap, kap, kap. “Ek hoop die hele lot van hulle is onder die honderd wat Marais gaan skiet!”
Halfdag die Saterdag was die hout klaar. Die wete dat die dorp toe gaan naby was, het beurte op Saul se maag gemaak tussen bang en bly. Hy sou op veertien vir die eerste keer die dorp sien.
Sy pa is nog dieselfde middag weg om vir Magdalena en Izak te gaan kuier, en die Maandagoggend sou hy op pad terug sommer by die wa, wat duskant Diepwalle gestaan net, langs kom en die wa ghries. Hy en Jozef sou voordag die osse by Loeriebos-se-Eiland gaan aanhaal. Oom Anneries had nog ’n paar speke om klaar te maak.
Dinsdagmiddag had hulle die hout met die osse uitgesleep tot by die wa, opgelaai en ingespan, en skemer het hulle by Witfontein uitgespan vir die nag.
Saul het die laaste koffie en patats gedeel sodat daar vir voordag iets oor was; sy pa en oom Anneries het die laaste twakkrummels gedeel.
“Is die see ver van die dorp af?” vra hy vir Jozef in die hoop dat dié hom die vorige keer misgis het.
“Ver,” sê Jozef.
“Hoe ver?”
“Halfuur se draf tot agter.”
“Sal jy saam met my gaan?”
“Nee. Pa sal nie wag nie.”
“Ons kan die wa maklik weer inhol,” was hy bereid om selfs te soebat.
“Ek bly by die wa.” Klaar.
Jozef het nooit gehou van dorp toe gaan nie. Niemand hou skynbaar van die dorp nie. Net oom Anneries. Of van die see nie. Die helfte van die vooruitsig om te sien hoe lyk die dorp, is om te sien hoe lyk die see.
“Bloue water so ver as wat jou oë kan sien,” het sy ma probeer verduidelik toe hy klein was. Hy wou altyd weet van die see. “Plat soos jou hand as jy ver van hom af is en as jy by hom kom, sien jy hy het branders met witskuim-toppe.”
“Hóé wit?”
“Soos ’n vlier as hy blom.”
Hy het eenkeer die see by Diepwalle gehoor. Hulle het by sy ma se mense gekuier en die snaakse gesuis was teen die aand in die lug. Aanhoudend, nes die skreetor in die somer, net sagter en die hele lug vol. Hy het bang geword toe dit donker word en die gesuis in die lug bly hang.
“Dis die see, Saul,” het sy oupa gelag. “As hy só by Noetzie stamp lat jy hom tot hier kan hoor, kan jy jou klaarmaak vir reën.
Die volgende dag is hulle in die reën terug huis toe.
Hy het geweet hoe die see ruik. Altyd, wanneer die suidoos die mis van die see se kant af die Bos injaag, het die souterige reuk saam met die bosreuk om alles kom lê. Dan het die mis die hele wêreld omgetoor. Alles stiller gemaak. Nader. Kleiner. Banger. Die bome het donker spoke in ’n dik, wit muur geword en saam met die onderbos vlak voor jou verdwyn. As jy probeer vinnig loop, lyk dit of die bome uit die mis uit na jóú toe aankom, en die bang op jou maag was ’n lekker bang. As jy nie geweet het waar jy is nie, sou jy nie geweet het wáár jy is nie! Toe hulle klein was, was sy ma altyd bang hulle verdwaal as die mis deur die Bos kom. Soos die Terblans-kind wat hulle nooit weer gekry het nie …
Hulle het voordag ingespan; sy pa wou vroeg op die dorp wees. En Saul kon nie besluit of hy voor by Jozef, wat moes lei, wou loop, of agter by oom Anneries by die briek nie.
“Hoeveel grootvoete dink oom het Marais al geskiet?” het hy agter by oom Anneries gevra.
“Sal nie kan raai nie.”
“Hoeveel osse gaan in honderd grootvoete in?” gaan vra hy voor vir Jozef.
“Wat?”
“As daar tien osse in een groot grootvoet is, hoeveel osse is daar in honderd grootvoete?”
“Seker baie.”
“Hoeveel baie?”
“Dis nie ’n wonder oom Anneries sê jou kop sit bo in die takke nie.”
“Hoekom sê hy so?”
“Jy