“Dis die see,” het hy half verskrik uitgekry. Al die voetseer, al die lyfseer, alles het skielik tot stilstand in hom gekom; net sy oë het na die wonder wat hy deur die yl Bos uitgestrek sien lê het, bly gryp.
“Gesê jy gaat ’n ding sien. Jy wou mos altyd die see sien. Daar is hy nou.”
Duskant die gat in die koppe en Boskant van die Knysna het die huise van die dorpie soos klein wit blokkies gestaan, en oor alles het die son rooi deur ’n blou bank wolke in die ooste gebreek en sy warm gloed oor die see gegooi.
Só sal die hemel lyk, het hy gedink.
“Maak toe jou mond, Saul!”
Só moet ’n voël voel as hy hoog oor die Bos sweef; só sien die son die aarde en só sien God dit ook …
“Kyk nou klaar en kom, Saul!”
Eendag, eendag sal hy op ’n skip klim en daar waar die Knysna deur die gat skuim, sal hy deurvaar die oop see in en vry wees soos ’n voël!
“Wat is anderkant die see, oom?”
“Seker Engeland?”
“En anderkant Engeland?”
“Hoe moet ek weet? Kom nou!”
“Waar lê die Kaap dan?”
“Sononder se kant toe. Hulle sê die see loop met ’n draai tot daar. Kom nou, mens!”
“Ek het nie geweet die see is só groot nie.”
“Moenie dink hy lê aldag só hondmak nie! Wag maar lat die oostewind opstaan en hom kom deurmekaar krap, dan sal jy ’n ander ding sien … Gaat jy nou kom of gaat jy nou nie kom nie?!”
“Nee.”
“Wat?”
Eendag sal hy nie meer woon waar dit altyd skemer is nie, hy sal soos ander mense in die son woon …
“Ek sê, jy moet nou kom!” het oom Anneries begin kwaad word. “Ek sê dit nie weer nie!”
“Ek bly hier, oom kan alleen dorp toe gaan.”
“Wat?”
“Oom kan die goodfor vir MacDonald loop vra en die goed kry. Ek bly net hier.”
“Jy sal laat ék jou vandag bykom! Waar kan jy soos ’n Veltmaspad-muil staan vassteek en sê jy gaat nie verder nie? Het jy nou bejosie geraak?”
“Ek bly net hier.”
“Dit lyk my jou pa het jou nie goed genoeg bygekom nie! As ek vandag vir jou gat ’n spar vat, sal jy spyt wees! Jy’t gekom tot hier en jy sal gaat tot daar al moet ek jou hier afsléép!”
Saul het geweet hy het die meeste uitstel uit die ou man getart en sonder ’n verdere woord begin aanstap. Dit het gevoel of sy lyf in rieme vasgewoel was en alles in hom wou uitbreek. Dieselfde magtelose koppigheid as die dag toe hy die byl teen die kalander moes lig, het in hom opgestaan en aan die rieme geruk.
Toe hulle kort voor kwartdag in die stil stofstraat afstap, het hy probeer om so te loop dat sy tone nie voor by sy skoene uitpeul nie.
“Het jy nou mank geword?” het oom Anneries, nog steeds vies, gevra.
“Nee.”
En toe sy toon nie wou binne bly nie, het hy gemaak soos Jozef maak en nie opgekyk uit die stof nie.
Op MacDonald se werf het die dwarslêers hooggestapel gelê en twee waens was besig om nog af te laai. Hy het saam met oom Anneries by die hek gestaan sodat hy kon moed kry om oor die oopte na die skuur te loop.
“Hy kan jou tog nie opvreet nie!” het die ou hom later ’n stamp gegee. “En moenie vergeet lat hy twak ook moet opskryf nie.”
“Kom saam, oom, asseblief.”
“Is jy simpel? Netnou praat die man Engels met my. Toe loop nou!”
Dit het soos myle tot by die skuur gevoel; hoe nader die skuur kom, hoe harder het sy hart geklop. Agter ’n leë wa langs die skuur het hy eers ’n oomblik gaan skuil om sy woorde bymekaar te maak.
“En toe, wat soek jy?” het ’n man skielik agter hom gevra en hom verskrik laat omspring. Dit was MacDonald.
“Ek is Joram Barnard se seun, oom. Ons kos is amper op, oom. My pa sê …”
“Mister MacDonald! Jy’s nie nou in die Bos nie en jy praat ook nie met ’n boswerker nie. Wat is jou pa se naam?” Nie botaf nie. Ongeskik.
“Joram Barnard, mister. Ons het laas waenhout gebring. Dis ons wat nog op die kis geskuld het,” het hy verskrik afgerammel en die eintlike woorde wat hy uitgedink het, vergeet. “Toe sê mister ons moet gaan dwarslêers werk en ons werk dwarslêers en Pa het gesê ek moet vir mister sê ons bring ’n vol vrag uit. Voor die end van die maand.”
“Joram Barnard, sê jy?”
“Ja, mister. As mister ons net met ’n goodfor kan help tot dan toe. Pa het gesê …” Maar sy asem wou nie verder nie; agter MacDonald, met ’n voetpad wat deur die lang gras oopgetrap was bo van die groot huis af, het twee meisiekinders aangestap gekom en die voorste een was die een wat soos ’n engel lyk en wat by die wa gestaan het … As hy net ’n hoed had om voor sy gesig te druk …
“Hallo, Daddy!” roep die meisiekind toe hulle deur die hekkie kom, en waai vir MacDonald.
“Go home, Kate! Take Mary home and stay there!” het MacDonald met hulle geraas en by die skuur ingeloop. Hy het nie gesien dat die meisiekinders nie vir hom luister nie en reguit na hóm toe aankom nie!
“Hallo!” kom sê sy sonder skroom en reg voor hom. “Was dit dan nie jy wat die ander dag op die wa gesit het nie?”
As hy net ’n hoed had!
“Ek het gewonder wanneer julle weer kom hout aflaai. Het jy al ’n olifant gesien?”
Sy keel was aan die toewurg en hy het dit oorweeg om onder die wa in te spring, tussen die agterwiele deur te kruip en te hol. Maar hy moes die goodfor hê! Waarom kom MacDonald nie uit en verwilder hulle nie? Vir wat het sy hom so gestaan en aanstaar?
“Ons het verlede Sondag in die Bos gaan piekniek hou, maar my pa wou nie dat ons ’n bietjie dieper in loop nie en toe het ons nie olifante gesien nie.”
Sy het so anders gepraat. So mooi. Of haar woorde spierwit skoenlappertjies is wat uit haar mond kom en oral gaan sit. Hy het sy oë voor hom op die grond gehou en gebid dat MacDonald moes gou maak!
“Ek wil só graag ’n olifant sien,” het sy aangehou. “Sien jy dikwels olifante?”
Hy het sy kop geknik en gehoop sy sou tevrede wees en haar loop kry. Maar nee!
“Grotes?”
“Ja,” het hy onderlangs gesê; dalk loop sy dan as sy weet wat sy wil weet.
“Hóé groot?”
“Baie groot.” Hy het nie opgekyk nie.
“My pa het baie olifanttande. Hulle laai die tande op die skepe, maar hy sê hulle maak nie die olifante dood om die tande te kry nie, hulle vang hulle net, en trek hul tande uit.”
“Dis ’n lieg!” Hy het ’n oomblik van sy penarie vergeet en dit reguit in haar gesig gesê. “Waar sal ’n olifant hom vir ’n tandetrekkery laat staan vang? Klink vir my na ’n regte bloubokkie-se-gal-storie.”
“Ekskuus?”
“Niks.”
“Hoe oud is jy?”
“Veertien.” Vir wat wou sy dit weet?
“Ek is tien. My naam is Kate en dis my sussie, Mary. Wat is jou naam?”
“Saul.”