Die huis staan nog. Vaal, uitgedorde plankmure soos dooihout in die Bos, en die dak het eenkant gesak; voor die voorste venster hang nog ’n stuk flentergordyn.
Oorkant die diepsloot is lewe: ’n yl sliert rook trek uit ’n skoorsteen en ’n vark staan eenkant op lyn en vreet. Waar tant Martjie-hulle vroeër huisgemaak het, het die fynruigte die aarde teruggevat en net ’n stuk van die buitekaggel staan nog en steek soos ’n grafsteen uit die ruigte … Jy had min tyd vir kind wees in die Bos. Jy moes jou speel by die diepsloot gou speel, want as jou hande eers die kleinbyl kon vashou om vuurhout te kap of water te haal, moes jy Bos toe om hande vir die kap te spaar.
Hy weet skielik dat daar iemand in hulle ou huis is. Dit voel onmoontlik, maar hy kan sweer daar was ’n roersel by die toiinggordyn, en hy loop nader. Hy klop en wag. Miskien was dit sy verbeelding of die wind. Hy klop weer … Daar is iemand in die huis, hierdie keer het hy iets gehoor. Net toe hy wil omdraai om agter te gaan kyk, kraak die deur op ’n skrefie oop.
“Goeiemôre,” groet hy en kan nie uitmaak wie agter die skrefie skuil nie.
“Môre.” Dis soos ’n knor. Maar hy het die stem tevore gehoor. Is dit moontlik? Sy maak die deur ’n bietjie wyer oop; dit ís sy. Ou Sanna. “Meneer is seker geverdwaal,” sê sy en dis nie meer ’n knor nie maar ’n waakhond se blaf.
“Ek soek eintlik kos, ek is vir ’n paar dae terug in die Bos.” Hy sien haar oë nouer trek om beter te kan sien. Toe herkenning in hulle opvlam, ruk sy die deur heeltemal oop.
“Jirre? Is dit dan nie … Siet my oë nou goete?”
“Dag, Sanna.”
“Is dit jý, Saul?”
“Ja.”
“My Jirretjie! Kom in, Saul!” Toe hy oor die drumpel tree, kom die bygeloof van jare se boslewe darem in haar op en vra sy skrikkerig: “Is jy in die vlees of in die gees?”
“In die vlees, Sanna.”
Die huis ruik sleg. Die houtkatel se een poot is af en die katel staan skeef gestut op ’n houtstomp. In die middel van die vertrek staan dieselfde tafel nog. Verwaarloos. Twee van die stoele is nog oor. Dit was oorspronklik ’n stinkhouttafel en vier stoele wat sy oupa Steyn vir sy ma as trouskat gemaak het. Nie een van die twee stoele wat oor is, het ’n heel sitplek nie; die rieme staan soos hare op ’n siek hond se rug.
“Lat dit nou regtig jý is, Saul?”
“Ja, Sanna, dit is ek.”
“Jy’t geverander,” sê sy verwonder en kruip onseker nader aan die kaggel waar ou as vaal lê. “Jozef het gesê ek kan hier bly!” Daar is skielik weer agterdog in haar.
“Dis reg so, Sanna. Dis goed dat jy hier bly.”
“Oupoot het Jozef se Joram geskep. Morsdood!” rammel sy die nuus verskrik af.
“Maska het my dit gesê.”
“Freek Treblans kom hom skiet.” Grys toutjies hare hang onder ’n swart kopdoek uit. “Sommer sy harspan inmekaar skiet, sê ek! Nogal Jozef se oudste.”
“Hoe gaan dit met Jozef, Sanna?”
“Sien hom selde. Maandag by die begrafnis darem gesien. Hy’t mos by Diepwalle huisgemaak en ek loop nie meer so ver nie … Jy’t ’n mooie man geword, Saul. Nooit sê jy’s van onse mense nie. Kyk jou klere, nè?”
“Het jy kos in die huis, Sanna?”
“Askoek en suurmelk.”
“Ek sal jou betaal vir iets om te eet.”
Dis of die woord “betaal” koorsagtige haas in haar hande laat kom. Sy gryp ’n afoorkoppie van die tafel af en spoel dit in die drinkwaterblik uit; die blikbord wat sy van die rak afhaal, is vol stof en sy blaas dit af. Haar voete is kaal en swart en gebars. Hoe oud sou sy wees? wonder hy.
“Ek verstaan dit nie,” praat sy half met haarself. “Hulle het gesê jy sal genooit weer jou voete in die Bos sit nie en hier sit jy dan nou?”
“Ek is net vir ’n paar dae terug,” sê hy en vra: “Hoe oud is jy, Sanna?”
“My pa het gesê ek is die nag toe die eerste skip by die dorp deur die gat gekom het, gebore. Oorle Pa kap toe vir die grootman van Melkhoutkraal en hulle moes almal gaan help, want toe slaat die skip mos ’n rots in die bek van die gat en loop val sommer in die vlak water om. Al wat hande was, moes loop help red en optel. Jou oupa Steyn was ook by, hy’t nog vir jou ouma ’n mooie porseleinkommetjie weggesteek.”
Sy moet dus in die sewentig wees, reken hy uit. “Het jy ’n skryfding, Sanna? ’n Potlood of iets.”
“Hoe dan nou?”
“Ek wil iewers vir jou neerskryf hoe oud jy is, wanneer jy gebore is.”
“En hoe sal jý dan weet?” bestry sy verontwaardig die moontlikheid.
“As jy gebore is toe die eerste skip deur die gat probeer inkom het, is jy in 1817 gebore. Februarie.”
“Hoe sal jý dit weet?”
“Dis toe die eerste skip deur die gat gekom het. ’n Mens moet weet wanneer jy gebore is, Sanna.”
“Ek het nie ’n potlood nie. Kom al die jare reg sonder weet, wat sal dit nou saak maak?”
“Had jy broers en susters?”
“My ma het mos gesterwe nog voorlat ek kon loop. Ander het my gevat.”
Toe sy omdraai om die askoek te haal, vee hy die bord met sy baadjiepunt uit. “Waarvan leef jy hier, Sanna?”
“Van kos! Waarvan dan anders? Ek plant mos vir Johannes Kapp-hulle. Sy huismense maak te vrot tuin en die vrou loop pal met ’n kleintjie. Hy’t daar anderkant die diepsloot kom huismaak. Ek plant vir my ook daar en hy gee my darem so af en toe ’n bietjie melk en ’n skottel meel.”
“Kom die grootvoete nog hier?”
“Nee,” lag sy. “Vanlat Freek hulle die slag hier ingewag het, is hulle bietjie skrikkerig vir Groot Eiland. Hulle onthou mos nes mense. Freek het daardie dag ses geskiet. Ook die laaste grootvoetlewer wat oor my lippe was. Mens! ons het van die geelvet so tussenin gesit en toe oor die vuur gebraai. Martjie het sulke plat skywe van die boude uitgesny en twee dae lank gekook – so sag soos murg, sê ek jou. Die derde dag moes hulle begin begrawe, die weer was te warm.”
“En die tande?” vra hy en steek sy walging weg.
“Freek Treblans het hulle uit die kaste laat kap en toe het hy hulle laat wegsleep. Ek sal jou nie kan sê waarnatoe nie.”
Die melk steek op sy tong en hy dwing hom om verby die vullis te kyk; daar lê ’n strawwe dag voor, om ’n olifant in te haal moet jy krag in jou lyf hê. Die askoek is egter onverbeterlik; Sanna had altyd ’n hand daarvoor.
“Is jy gelukkig, Sanna?” vra hy op ’n ingewing om meer te wil weet van wat onder haar swart kopdoek aangaan.
“Hoe dan anders?”
“Hoe kry jy jou dae om? Jy is tog seker nie heeldag by die tuin nie?”
“Ek sit!” sê sy weer verontwaardig.
“Waaraan dink jy die hele dag?”
“Sommer. Voorjare en alles.”
“Was jy ooit op die dorp?”
“Mos die slag toe ons moes vlug.”
Hy weet waarna sy verwys, maar hy hou hom dom. “Wanneer was dit?”
“Met die groot vuur.”
“Hoe goed kan jý die vuur onthou, Sanna?” por hy haar aan.
“Hoe sal ek dit nie onthou nie?