Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Herman Charles Bosman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Herman Charles Bosman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798164474
Скачать книгу
Kruger nie.

      Toe, op ’n dag, lees Manie Kruger ’n artikel in die Kerkbode oor ’n musikant wat gesê het hy weet meer van musiek af as Napoleon. Daarna – nadat hy eers ’n ander artikel gelees het om uit te vind wie Napoleon was – is Manie Kruger ’n ander mens. Hy kan oor niks anders praat as sy plek in die geskiedenis en sy musikale loopbaan nie.

      Natuurlik het almal geweet dat as dit kom by konsertina speel, daar in die Marico niemand was wat Manie Kruger se gelyke was nie.

      Geen Bosvelddans was volledig sonder Manie Kruger se konsertina nie. Wanneer hy ’n vastrap speel, kon jy jou voete nie stilhou nie. Maar nadat hy besluit het om die soort musikant te word waaroor daar in geskiedenisboeke geskryf word, was dit vreemd hoe Manie Kruger verander het. Om maar een ding te noem, hy het gesê hy speel nooit weer by ’n dans nie. Ons het almal afgehaal gevoel. Dit was nie maklik om aan toekomstige Bosvelddanse te dink nie. Daar sou mampoer in die kombuis wees; in die voorkamer sou die dansers se voete deur die passies van die seties en die polka en die wals en die masurka gaan, maar op die riempiesbank in die hoek, waar die musikante sit, sou daar geen Manie Kruger wees nie. En hulle sou “Die vaal hare en die blou oge” en “Vat jou goed en trek, Ferreira” speel, maar dit sou iemand anders se vingers wees wat oor die konsertina se knoppies gly. En wanneer, met die dansery en die mampoer saam, die jongkêrels “Dagbreek toe!” uitroep, sou dit nie Manie Kruger se kop wees wat sak om die applous te ontvang nie.

      Dit was hartseer om aan al hierdie dinge te dink.

      So lank was Manie Kruger altyd die hoofmusikant by die Bosveld­danse.

      En van almal wat die verandering betreur het wat oor Manie gekom het, kon ons sien dat niemand meer bedroef was as Letta Steyn nie.

      En Manie het partykeer sulke aardige goed gesê. Op ’n keer het hy gesê, wat hy sal moet doen om in die geskiedenisboeke te kom, is om in die arms van ’n prinses aan tering te sterf, soos ’n ander musikant van wie hy gelees het. Maar ongelukkig is dit moeilik om tering op te doen in die Marico, want die klimaat is so gesond.

      Hoewel Manie opgehou het om sy konsertina by danse te speel, het hy wel dikwels by ander geleenthede gespeel. Hy het begin om uitvoerings te gee, soos hy dit genoem het. Ek het ’n hele paar van hulle bygewoon. Hulle was baie indrukwekkend.

      By die eerste uitvoering wat ek bywoon, is Manie se voorkamer van hoek tot kant volgepak met rye banke en stoele wat hy by van sy bure geleen het wat nie omgee om hulle etes van kersbokse en omgekeerde emmers te nuttig nie. Aan die ander kant van die voorkamer is ’n breë groen gordyn oor ’n stuk tou gespan. Toe ek daar aankom, is die plek stampvol. Ek druk my op ’n bank in, tussen Jan Terreblanche en ’n jong meisie met ’n blou kappie. Jan Terreblanche probeer die nooi se hand vashou.

      Manie Kruger sit agter die groen gordyn. Hy is reeds daar toe ek opdaag. Ek ken hom uit aan sy velskoene wat onder die groen gordyn uitsteek. Letta Steyn sit voor my. Nou en dan, wanneer sy omkyk, sien ek daar is ’n blos op haar wange en ’n uitdrukking van donker opwinding in haar oë.

      Uiteindelik is alles gereed, en Joel, die plaaskaffer aan wie Manie dié taak toevertrou het, trek die groen gordyn stadig opsy. ’n Paar van die jonger kêrels roep “Middag, ou Manie,” en Jan Terreblanche wil weet of dit nie baie benoud en bedompig is om so agter die groen gordyn te sit nie.

      Toe begin Manie speel.

      En ons weet almal dat dit die wonderlikste konsertinamusiek is waarna ons nog ooit geluister het. Dis Manie Kruger op sy allerbeste. Hy het baie lank vir daardie uitvoering geoefen; sy vingers vlieg oor die knoppies; die klanke van die konsertina stroom in ons harte in; Manie Kruger se musiek voer ons uit daardie voorkamer weg na ’n vreemde en ryk en glansende wêreld.

      Dit is meesterlik.

      Die applous is strykdeur oorverdowend. Aan die einde van elke stuk trek die kaffer die gordyn voor Manie toe, en ons sit vir ’n paar minute en wag totdat die gordyn weer opsy getrek word. Maar ná daardie eerste keer word daar nie weer oor die prosedure gelag nie. Die uitvoering duur omtrent ’n uur en ’n half, en die applous aan die einde is selfs harder as aan die begin. Manie verlaat in daardie negentig minute net een keer sy stoel, toe daar probleme met die gordyn is en hy opstaan om die kaffer ’n skop te gee.

      Aan die einde van die uitvoering kom Manie nie, soos ons verwag, uit om met ons hand te skud nie. In stede daarvan glip hy agter die groen gordyn by die kombuis in en laat weet dat ons hom by die agterdeur kan kom sien. Aanvanklik vind ons dit vreemd, maar Letta Steyn sê dis korrek so. Sy verduidelik dat in ander lande die groot musikante en verhoogspelers almal hulle bewonderaars aan die agterkant van die teater ontvang. Jan Terreblanche sê as daardie akteurs hulle kombuise gebruik om hulle besoekers te onthaal, wonder hy waar hulle kook.

      Hoe ook al, die meeste van ons gaan agter om na die kombuis toe, en ons geniet dit baie om Manie Kruger geluk te wens en sy hand te skud; en Manie wy uit oor sy musikale toekoms en oor die segetogte wat in die groot stede van die wêreld op hom wag, wanneer hy voor die gordyn sal staan en buig vir die applous.

      Manie gee nog ’n aantal uitvoerings ná daardie een. Hulle is almal ewe wonderlik. Die probleem is dat hy aaneen moet oefen en nie veel aandag aan sy boerdery kan gee nie, met die gevolg dat sy plaas tot niet gaan en hy in die skuld gedompel word. Die balju’s kom en lê op die helfte van sy vee beslag terwyl hy besig is om vir sy vierde uitvoering te oefen. En hy is besig om vir sy sewende uitvoering te oefen toe hulle sy ossewa en muilkar vat.

      Uiteindelik, toe Manie Kruger se musikale loopbaan die punt be­reik waar hulle sy ploeg en die laaste van sy osse vat, verkoop hy die res van sy aardse besittings en verlaat die Bosveld, onderweg na daardie groot stede waaroor hy so dikwels gepraat het. Die afskeid wat die Marico hom gee, is spoggerig. Die predikant en die Volksraadslid steek albei toesprake af oor hoe trots die Transvaal op sy seun is. Toe kom Manie se antwoord. In plaas daarvan dat hy sy gehoor bedank, begin hy ons links en regs beledig, noem ons ’n bende skorriemorries en siellose filistyne, en sê hoe hy ons verag.

      Ons is uiteraard uit die veld geslaan deur hierdie uitbarsting, aangesien ons altyd goed vir Manie Kruger was en hom aangemoedig het soveel ons kon. Maar Letta Steyn verduidelik dat Manie nie regtig die gemene goed bedoel wat hy sê nie. Sy sê dis maar net dat dit van elke groot kunstenaar verwag word om so te praat van die plek waar hy vandaan kom.

      Toe verstaan ons dat dit in orde is, en hoe meer beledigend die dinge wat Manie oor ons kwytraak, hoe harder skree ons: “Hoor, hoor vir Manie.” Daar is dawerende toejuiging toe hy sê ons weet omtrent soveel van kuns af as ’n boomslang. Sy taal is driftiger as enigiets wat ek al ooit gehoor het – op een geleentheid na. En dit was toe De Wet gesê het wat hy dink van Cronjé se oorgawe aan die Engelse by Paardeberg. Ons kan hoor dat Manie se toespraak die ware jakob is. Ons juig ons behoorlik hees daardie dag.

      En so is Manie Kruger vort. Ons kry een brief om te sê dat hy Pretoria bereik het. Maar daarna hoor ons nie weer van hom nie.

      Tóg, telkens wanneer Letta Steyn oor Manie praat, is dit soos wanneer ’n kind oor ’n droom praat, en altyd, met die stem van ’n verlangende kind, vertel sy my eendag, eendag sal hy terugkeer. En dikwels, teen skemer, sou ek haar op die stoep sien sit terwyl sy oor die veld die aand in tuur, wagtend op die minnaar wat nie na haar sou terugkeer nie.

      ’n Lang tyd verloop voor ek Manie Kruger weer sien. En dit is in Pretoria. Ek is daar om ’n onderhoud met die Volksraadslid oor ’n verkiesingsbelofte te voer. Dis blote toeval dat ek Manie sien. En hy is besig om die konsertina te speel – beter as ooit, na my mening. Ek maak my vinnig uit die voete. Maar wat my onkant vang, is die vinnige kyk wat ek kry van die groen gordyn van die kroeg waarvoor Manie Kruger sit en speel.

      DIE PAD NA MAFEKING

      AS MENSE MY VRA – soos dikwels gebeur – hoe ek dit regkry om die beste stories van almal in die Transvaal te vertel (sê oom Schalk Lourens beskeie), dan verduidelik ek vir hulle dat ek leer bloot deur te kyk hoe die lewe met mans en vroue omgaan. Wanneer ek dit sê, knik hulle hulle koppe en sê hulle verstaan, en dan knik ek my kop ook, en dit lyk of hulle tevrede is met die verduideliking. Maar wat ek hulle vertel, is natuurlik ’n leuen.

      Want