Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Herman Charles Bosman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Herman Charles Bosman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798164474
Скачать книгу
soen, en sommige huil. Maar Koos Steyn se vrou huil nie. Ons probeer met Koos redeneer, maar hy sê hy’t klaar besluit om deur die Kalahari te trek en hy gaan nie vir enige nonsens terugdraai nie.

      “Maar, man,” sê Gerhardus Grobbelaar, “jy’t niks water om te drink nie.”

      “Dan sal ek koffie drink,” antwoord Koos Steyn en lag soos altyd, en tel die sweep op en stap aan langs die wa. En Webber is saam met hom weg, en waarskynlik net omdat Koos Steyn vir hom goed was, dink ek. Dis hoekom ek gesê het Engelsmanne is vreemde goed. Webber moes geweet het dat, as Koos nie inderdaad van lotjie getik was nie, was sy optrede waansinnig, en tóg het hy by hom gestaan.

      Ons paaie skei. Ons waens begin stadig in die rigting van Malopolole terugbeweeg. Koos Steyn se wa beweeg dieper die woestyn in. My wa vertrek laaste. Ek kyk terug na die Steyns. Op daardie oomblik kyk Webber ook om. Hy sien my en wuif. Dit herinner my aan die dag tydens die Boereoorlog toe daardie ander Engelsman, wie se vriend ek geskiet het, ook omgedraai en gewuif het.

      Uiteindelik bereik ons Malopolole met twee waens en ’n klompie vee. Ons het die ander waens agtergelaat. Vreeslike dinge het in daardie woestyn gebeur. ’n Paar kinders is dood. Gerhardus Grobbelaar se wa was reg voor myne. Op ’n keer sien ek ’n bondel deur die kant van die wakap val. Ek weet wat dit is. Gerhardus sou nie die moeite doen om sy kind te begrawe nie, en sy vrou lê in die tent, te swak om te beweeg. Daarom klim ek van my wa af en skraap ’n hopie sand oor die bondeltjie. Al wat ek van die res van die tog na Malopolole onthou, is die son en die sand. En die dors. Hoewel ons in ’n stadium dink ons het verdwaal, maak dit nie eintlik vir ons saak nie. Ons is verby die punt waar ons enigiets voel. Ons kan nie bid of vloek nie, ons droë tonge kleef aan ons verhemeltes vas.

      Tot vandag toe is ek nie seker hoeveel dae ons terugtog geduur het nie, tensy ek gaan sit en dit uitwerk, en dan voel ek steeds ek is verkeerd. Ons was terug by Malopolole en water. Ons het gesê ons sou nooit weer daarvandaan weggaan nie. Ek dink nie eens die ouers wat kinders verloor het, het oor hulle getreur nie. Hulle was afgestomp deur wat hulle deurgemaak het. Maar ek het geweet dat alles later sou terugkom. Dan sou hulle onthou van vlak grafte in die sand, en Gerhardus Grobbelaar en sy vrou sou aan ’n bondeltjie dink wat iewers in die Kalahari lê. En ek het geweet hoe hulle sou voel.

      Later rus ons ’n wa toe met vars osse; ons vat ’n ruim voorraad water saam en gaan terug woestyn toe om die Steyn-gesin te gaan soek. Met die hulp van Setsjoeana-kaffers wat spore kan sien wat ons nie kan sien nie, kry ons die wa. Die osse is uitgespan; ’n paar lê dood langs die wa. Die kaffers wys voetspore in die sand uit wat aandui in watter rigting die twee mans en die vrou geloop het.

      Uiteindelik kry ons hulle.

      Koos Steyn en sy vrou lê langs mekaar in die sand; die vrou se kop rus op die man se skouer; haar lang hare het losgekom en waai liggies in die wind. ’n Groot hoeveelheid fyn sand het oor hulle liggame neergesif. Naby hulle lê die Engelsman, gesig na onder. Ons het nooit die baba, Jemima, gekry nie. Sy moes iewers langs die pad gesterf het en Koos Steyn moes haar begrawe het. Maar ons stem saam dat die Engelsman, Webber, verskriklike dinge moes deurgemaak het; hy kon nie enige begrip meer gehad het van wat die Steyns met hulle baba gedoen het nie. Hy het waarskynlik, tot die oomblik van sy dood, gedink dat hy die kind dra. Want toe ons sy liggaam oplig, kry ons, steeds in sy dooie en stokstywe arms vasgeklem, ’n paar ou flenters lap en die klere van ’n kind.

      Dit het vir ons gevoel asof die wind wat altyd in die Kalahari waai daardie oggend baie stil en sag waai.

      Ja, die wind het baie sagkens gewaai.

      NOOI VAN DIE VELD

      EK WEET WAT DIT BETEKEN – sê oom Schalk Lourens – as jy so oor die veld praat. Ek ken mense wat nes jy oor die veld sit en droom, en vreemde goed kwytraak, en begin glo in wat hulle die siel van die veld noem, tot die veld uiteindelik iets anders vir hulle as vir my beteken.

      Ek weet net die veld kan gebruik word om mielies te verbou, en dis ook nie baie geskik daarvoor nie. En dit beteken baie harde werk vir my, om mielies te verbou. Daar’s die ploeëry, byvoorbeeld. Ek het altyd rug- en skouerpyne gekry van die ganse dag lank op ’n klip aan die rand van die veld sit, terwyl ek kyk hoe die kaffers en die osse en die ploeg op en af beweeg, en vore maak. Hans Coetzee, hy was ’n Boere-krygsgevangene op St. Helena, het my vertel hoe siek hy op see geraak het van kyk hoe die skip op en af, op en af gaan, die hele tyd.

      En dis dieselfde met ploeg. Die enigste kuur vir hierdie ploegsiekte is om stil op ’n riempiesbank op die stoep te sit, met jou bene effens gelig, en koffie te drink tot die ploegseisoen verby is. Die meeste van die boere in die Marico-bosveld glo aan hierdie kuur, soos jy ongetwyfeld teen dié tyd al agtergekom het.

      Maar daar is die veld. En dis nie goed om te veel daaraan te dink nie. Want dit kan jou op vreemde paaie lei. En soms – soms wanneer die veld jou baie ver weggelei het – kom daar ’n uitdrukking in jou oë wat God nie daar gesit het nie.

      Dit was vroegsomer, kort ná die reën, toe ek John de Swardt die eerste keer raakloop. Hy sit langs ’n tent wat hy agter die maroelas aan die onderkant van my grond opgeslaan het, waar dit aansluit by Frans Welman se landerye. Hy was al drie dae daar sonder dat ek daarvan geweet het, want ek het toe dikwels op my stoep gesit, oor die ploeëry, soos ek reeds aan jou verduidelik het.

      Hy was ’n jong kêrel met lang swart hare. Toe ek nader kom, sien ek waarmee hy besig is. Hy het ’n stuk wit bokseil voor hom op ’n esel en hy is besig om my plaas te skilder. Dit lyk asof hy al die nuttelose goed vir sy prent uitgekies het – ’n krans en ’n paar klippe en ’n paar polle kakiebos.

      “Jongman,” sê ek vir hom, nadat ons ons aan mekaar voorgestel het, “wanneer die mense in Johannesburg daardie prent sien, gaan hulle lag en sê Schalk Lourens bly op ’n bar stuk rots, soos ’n akkedis. Waarom skilder jy nie liewer die vrugbare dele nie? Kyk na die vlei daar, en die dam. En sit daardie nuwe beesdip ook in wat ek nou die dag van gewapende beton gebou het. As Piet Grobler of generaal Kemp dan die prent sien, sal hulle dadelik weet Schalk Lourens het verbeteringe op sy plaas aangebring.”

      Die jong skilder skud sy kop.

      “Nee,” sê hy, “Ek wil net die veld skilder. Ek haat die idee om boorgate en beesdippe en huise en beton te skilder – veral beton. Ek wil net die veld hê. Sy eensaamheid. Sy misterie. As hierdie skildery klaar is, sal ek trots wees om my naam daarby te sit.”

      “O, wel, dis anders,” antwoord ek, “solank jy nie mý naam daarby sit nie. Nog beter,” sê ek, “sit Frans Welman se naam daarby. Skryf onderaan dit is Frans Welman se plaas.”

      Ek sê dit omdat ek nog onthou hoe Frans Welman by die laaste verkiesing van die Drogekop-skoolkomitee teen my gestem het.

      John de Swardt neem my toe by sy tent in en wys my ’n paar ander prente wat hy op verskillende plekke al langs die Dwarsberg af geskilder het. Hulle is almal dieselfde soort prent, dor en klipperig. Ek dag toe dit sal ’n goeie idee wees as die Goewerment ’n klomp sulke prente langs die Kalahari-grenslyn opsit vir die sprinkane om te sien. Want dit sal die sprinkane uit die Marico hou.

      Toe wys John de Swardt my ’n ander prent wat hy geskilder het en toe ek dit sien, kry ek ’n heel ander siening van hierdie ding wat hy Kuns noem. Ek kyk van De Swardt na die prent en toe terug na De Swardt.

      “Ek sou dit nooit van jou gedink het nie,” sê ek, “jy lyk dan na so ’n stil tipe.”

      “Ek noem dit ‘Nooi van die veld’,” sê John de Swardt.

      “As die predikant dit sien, sal hy dit ’n paar ander name noem,” antwoord ek. “Maar ek is ’n vrydenkende man. Ek was een keer in die kroeg op Zeerust en twee keer in die bioskoop toe ek eintlik by die Nagmaal moes wees. Daarom hou ek dit nie teen ’n jongman as hy sulke gedagtes koester nie. Maar jy moenie dat enigiemand hier rond hierdie nooi van die veld sien nie, tensy jy vir haar ’n paar stukkies klere gaan byverf.”

      “Ek kan nie,” antwoord De Swardt, “dis maar hoe ek haar sien. Dis hoe ek oor haar droom. Dis nou al ’n klompie jare wat sy so in my drome na my toe kom.”

      “Met