“Kaffer,” sê Stephanus uiteindelik, “jy het geen reg om hier by ’n wit man se uitspanplek te wees nie. Ons het gekom om jou hier uit te boender. Ek gaan jou skop, kaffer. Ek gaan jou nóú skop. Dat jy kan voel hoe ’n wit man se skoen skop.”
Mosiko beweeg nie. Dit lyk nie asof hy enigiets hoor wat Stephanus vir hom sê nie. Dit lyk asof hy aan iets anders dink – iets wat baie oud is, en baie ver weg.
Toe gee Stephanus ’n tree vorentoe. Hy weifel ’n oomblik. Ons kyk almal af.
Frans Steyn is die eerste een om te begin lag. Dis aanvanklik vreemd en onnatuurlik om Frans Steyn se gelag te hoor. Tot op daardie oomblik was alles so spannend en selfs vreesaanjaend. Maar onmiddellik daarna bars ons almal kliphard uit van die lag. Ons lag hard en luidrugtig. Jy sou ons anderkant die bult kon hoor.
Ek het jou vertel van Stephanus Erasmus se velskoene en dat hulle bo-op stukkend was. Wel, op hierdie oomblik, ná die staptog na die uitspanplek toe, breek die laaste riem los, en daar staan Stephanus Erasmus toe met sy regtervoet gelig en ’n stukkende skoen wat van sy voet se brug bengel.
Stephanus het Mosiko toe nooit geskop nie. Toe ons klaar gelag het, praat ons hom om om terug huis toe te stap. Stephanus loop baie stadig, met die stukkende skoen in sy hand, op die uitkyk vir sagte plekkies om te trap, waar die gebrande gras nie in sy kaal voet sal steek nie.
Stephanus Erasmus het sy mag verloor.
Maar ek het geweet, al het sy skoen nie gebreek nie, sou Stephanus nooit vir Mosiko geskop het nie. Aan die uitdrukking in sy oë toe hy die tree vorentoe gee en Mosiko nie beweeg nie, kon ek sien dat Stephanus vir goed verslaan is.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.