En omdat ek so ’n groot voorsprong op hom gehad het, het hy allerlei soorte onregverdige taktiek uitgehaal. Soos om prinsesse in sy stories te sit. En paleise. En olifante met geel en rooi drapeersels wat opgelei is om die koning se vyande op bevel te vertrap. Terwyl die enigste olifante waaroor ek kan praat, dié is wat nie rooi drapeersels dra, of goue voetringe nie, en hulle nie sorge maak oor of jy vriend of vyand van die koning is nie: Hulle vertrap jou sommerso, en sonder enige soort opleiding.
Aanvanklik was dit onregverdig van die koelie om met sulke stories te kom. Ek kon nie meeding nie. En ek het begin dink daar steek nogal waarheid in wat sommige van die sprekers tydens verkiesingsvergaderings oor die koelieprobleem sê.
Maar toe ek dit deeglik oordink, het ek besef dit maak eintlik nie saak nie. Die koelie kon soveel stories vertel as wat hy wou oor prinsesse wat op olifante rondry. Want daar was een ding wat ek geweet het ek altyd beter as die koelie sal kan doen: In net ’n paar woorde, en sonder om ooit oor die prinses te praat, kan ek mense subtiel laat weet wat in haar hart omgaan. En dit is belangriker as die paleise en die tempels en die olifante met goue versierings aan hulle voete.
Dalk het die koelie die waarheid besef van wat ek nou sê. Ewenwel, ná ’n ruk het hy opgehou om sy klante se tyd te mors met stories oor keisers. Terwyl hy hulle terselfdertyd vertel dat die prys van skaapdip of wa-ghries weer op is. Of dalk het sy klante net moeg geraak om na hom te luister.
Maar voor dit gebeur het, het heelparty van die boere by my geskimp, op wat hulle gemeen het ’n gemoedelike, grappige manier was, dat ek meer opwinding in my stories sal moet begin sit as ek dit in aanvraag wil hou. Hulle het aan die hand gedoen dat ek op ’n manier ten minste ’n koning en ’n paar prinsesse in my stories inwerk, en sommer ook ’n string olifante met Namakwalandse diamante in hulle ore.
Ek het gesê hulle praat snert. Ek het uitgewys dat dit nie sin maak dat ek mense probeer vertel van konings en prinsesse en opgeleide olifante, en so meer, nie as ek niks van hulle weet of selfs wat hulle veronderstel is om te doen nie.
“Hulle hoef niks te doen nie,” verduidelik Frik Snyman, “jy kan net noem dat daar so ’n optog naby was, terwyl wat jy ook al aan die vertelle is, gebeur het. Jy kan hulle net in die verbygaan noem, oom Schalk, en jy hoef niks verder oor hulle te sê totdat jy so in die helfte van jou volgende storie is nie. Jy kan verduidelik dat die mense in die optog niks met die storie te make het nie en net verbybeweeg op pad êrens anders heen.”
Natuurlik sê ek dit is louter onsin. En dat, as ek dieselfde optog oor en oor sou gebruik, die mense daarin ná ’n paar stories bra gehawend daar sou uitsien. Dit sou ’n toiingrige, stowwerige optog wees.
“En die volgende keer as jy ons vertel van ’n nooi wat Nagmaal toe gaan op Zeerust, oom Schalk,” gaan Frik Snyman voort, “kan jy sê dat twee mans ’n rooi sambreel bo haar kop oopgehou het en dat sy juwele in haar hare gehad het en ’n slangdans gedoen het.”
Ek het geweet Frik Snyman sê maar net sulke onbesonne goed as gevolg van dinge wat hy in die bioskoop gesien het en wat reguit na sy kop toe is.
Nietemin, ek moes na baie onredelike aanmerkings van hierdie aard luister voordat die koelie op Ramoutsa ophou probeer het om sy klante met leë vertellings te vermaak.
Die dae stap aan, en die droogte kom, en die boere van die Marico bring baie tyd deur by die boorgate, waar hulle die swaar handvatsels op en af moet pomp. Sodat die koelie se kort tydperk van stories vertel amper vergete is. Selfs Krisjan Geel moet toegee dis moontlik om hierdie stories van prag en praal te oordoen.
“Al hierdie dinge wat hy oor tempels en so aan sê,” sê Krisjan Geel, “met wit vloere en blink rooi gesteentes daarin. En radjas. Weet jy wat ’n radja is, oom Schalk? Nee, ek weet ook nie. Mens kan te veel daarvan kry. Dit was net daardie een storie van hom wat goed was. Die een oor die prinses. Sy het edelgesteentes in haar hare gehad, en daar was pêrels aan haar rok vasgewerk. En die jongman het nooit verstaan waarom sy daar opgedaag het nie. Hy het nooit kon raai dat sy op hom verlief was nie. Maar dalk het ek nie die storie die eerste keer reg vertel nie, oom Schalk. Miskien moet ek dit weer vir jou vertel. Ek het dit al vir soveel mense vertel.”
Maar ek wys sy aanbod vinnig van die hand. Ek sê dis glad nie nodig vir hom om alles te herhaal nie, ek onthou die storie baie goed en, as dit vir hom om’t ewe is, sal ek verkies om dit nie weer te hoor nie. Hy kan dit dalk net bederf met die hervertelling.
Dis net omdat hy jonk en onervare is, sê ek, dat hy toegelaat het dat die koelie se storie hom so op loop neem. Ek vertel hom van ander jongkêrels wat ek op verskillende tye in die Marico geken het, wat ook verkeerde menings oor dinge gevorm het en my agterna daarvan kom vertel het.
“Waarom jy so in daardie storie belangstel,” sê ek, “is omdat jy jou graag wil verbeel jy is daardie jongman.”
Krisjan Geel stem met my saam dat dit die rede is waarom die koelie se storie hom so aantrek. Daardie jongman staan in elk geval nie ’n kans in die Marico nie, gaan hy voort, met al die droogtes, die diere wat miltsiekte kry, en die muskiete wat saans so gons dat jy nie geslaap kry nie.
En toe Krisjan Geel wegstap, kan ek baie duidelik sien hoeveel hy die jongman in die koelie se storie beny.
Soos ek vantevore gesê het, daar is soms iets vreemds aan stories en die mense wat na hulle luister. Ek dink weer daaraan op ’n besonder warm middag ’n paar weke later, toe ek vir Lettie Viljoen raakloop. Sy kyk in die lug op en die sonlig val op haar gesig en op haar glansende blonde hare. Sy sit op laas somer se droë gras en leun op een arm, en dit val my op wat ’n grasieuse prentjie sy maak en hoe slank haar polse is.
En omdat Lettie Viljoen nie daar opdaag op ’n olifant met oranje tooisels en goue voetringe nie, en omdat sy nie ’n string rooi steentjies om haar nek dra nie, weet Krisjan Geel natuurlik dat sy nie ’n prinses is nie.
En ek veronderstel dis waarom, tydens al die kere wat hy met haar gesels en haar daardie storie van die prinses en die put vertel, Krisjan Geel nooit kan raai wat Lettie Viljoen in die hitte van die son daar na die boorgat toe bring nie.
DIE PROFEET
NEE, EK HET SIENER VAN RENSBURG nooit teengekom nie, dis nou die man wat vir generaal Kemp vertel het dis die regte tyd om teen die Engelse te rebelleer. Soos jy weet, het generaal Kemp sy raad gevolg en hulle sê generaal Kemp glo steeds in Van Rensburg se profesieë, selfs nadat hulle albei in die Pretoriase Gevangenis opgesluit was.
Maar ek het ’n ander profeet geken. Sy naam was Erasmus. Stephanus Erasmus. Van Rensburg kon net voorspel dat sus of so gaan gebeur, en hy was boonop soms verkeerd. Maar met Stephanus Erasmus was dit anders. Erasmus kon dinge laat gebeur deur net te voorspel dat hulle gaan gebeur.
Jy kan sien wat dit beteken. En tog, op die ou end het ek oor Stephanus Erasmus ook maar gewonder.
Daar is baie mense soos Van Rensburg wat net die toekoms kan voorspel, maar as daar ’n man opdaag wat as’t ware die toekoms kan verander, dan vertel mens nie sommer grappe oor hom nie. Al die boere in Drogedal het met respek van Stephanus Erasmus gepraat. Selfs al was hy nie teenwoordig om te hoor wat van hom gesê word nie. Want daar sou altyd iemand wees wat hom gaan vertel as jy die een of ander neerhalende opmerking oor hom sou maak.
Ek weet, want eenkeer in Piet Fourie se huis het ek gesê as ek so ’n groot profeet soos Stephanus Erasmus was, sou ek vir my ’n nuwe paar velskoene voorspel, aangesien die bokant van syne stukkend was, sodat mens twee liddorings en deel van ’n ingegroeide toonnael kon sien. Daarna het dinge op my plaas ses maande lank heeltemal verkeerd geloop. Daarom weet ek dat Piet Fourie die profeet gaan vertel het wat ek gesê het. Ek het onder meer ses van my beste trekosse aan miltsiekte verloor.
Daarna, wanneer ek ook al iets onvleiends oor Stephanus Erasmus wou