Die vrou in die vuur. Riana Scheepers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Riana Scheepers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798158336
Скачать книгу
kon nie onthou presies wáár in die veld die miershoop gestaan het nie.

      Hy het geweet dat die mis oor ’n rukkie kon oopskeur en in die klowe kon wegsak soos water. Dan sou dit weer ’n oop dag wees met drywende wolke en vlekke son op die heuwels. Of dat dit só kon bly lê en kieza vir baie dae aanmekaar. En dat die mense by die huis hom dan nie sal kom soek nie.

      Toe het hy onthou van die bees. En dat die kloof se afgrond tussen hom en die bees en die huis lê. En dat hy die bees moes oppas.

      Die skrik het in sy vleis ingekom soos ’n naarheid, en hy het stadig teen die miershoop af gehurk.

      Ubuhalalazi, izinkungu. Doodmaakmis.

      Hy het baie stil gesit om te luister of hy die bees kon hoor en in die mis ingekyk om te sien of die bees nie dalk naby hom staan nie. Dit het vir hom geklink asof hy naby hom die dowwe plofgeluide kon hoor van ’n bees wat sy stert lig, en hy het opgespring. Om hom was dit te wit om iets te sien. Hy het sy beesfluit gefluit om die bees te laat hoor dat hy daar is en dat die dier na hom toe moet loop. Hy het weer gehurk en geluister, maar kon niks verder hoor nie. Die mis was ’n waterige muur wat die geluid in sy mond teruggedruk het. As die bees daar êrens was, kon hy hom nie sien nie. Hy het opgestaan en ’n paar tree vorentoe geloop, gekyk of hy die bees se bont vel kon uitmaak.

      Sy een voet het in ’n sagtheid getrap wat onverwags warm en welriekend om sy voet gevou het.

      Die bees wás hier! Die bees is hier naby hom! Hy het met altwee voete in die sagte nat beesmis gaan staan, die beesfluit tussen sy tande deur gegee, en gevoel hoe die warmte van die mis in sy koue voete intrek. Hy het weer gefluit vir die bees wat onsigbaar naby was.

      Daar is geen teken dat die mis gaan opklaar nie. Die beesmis het sy hitte stadig verloor, sy lyf in die baadjie het kouer en kouer geword. Hy het teruggedraai en soos ’n blinde mens met sy voete begin soek na die miershoop om uit die wind se skerpkant te kom. Dit was skielik weg.

      Ná nog ’n paar tree het hy hom trompop daarin vasgeloop. Was dit dieselfde hoop grond as netnou? Die bang en die koue en die bees se spook het hom gevat en teen die grond vasgedruk.

      Die bees gaan die afgrondpad vat en by die kranse afval.

      Die Isangoma gaan hom kry en sy lyf stukkie vir stukkie opsny vir muti terwyl hy nog lewendig is.

      Hy sal doodgaan van die koue.

      Hy gaan saam met die bees die afgronde instort.

      Hy gaan verdwaal en verdwaal en by wit mense uitkom.

      Hy sal nooit weer die huis kry nie en vir altyd bly rondloop.

      Hy gaan in die veld van honger doodgaan.

      Die rooikatte gaan hom voorlê.

      Niks was erger as om sonder die bees by die doringkraal aan te kom nie.

      Hy het die miershoop gelos en in die mis ingeloop.

      Dom koei

      Die groepie mense in die takkerige skaduwee onder die doringbome het ’n lustelose gelatenheid oor hulle. Hulle sit buitekant die kliniek, enigste mediese hulpsentrum in die omgewing, en wag sonder haas hulle beurt af om by die deur in te skuifel en die suster te sien. Daar is vroue met huilende babas op die rug vasgewoel, kaal kleuters wat in die stof rondkruip, ou, blinde mans wie se dun bene onder flenterkomberse uitsteek.

      Die meeste vroue wat onder die bome wag, het gekom om blikmelk vir die babas te kom haal, om kleuters te laat inent, of om die inspuiting te kry. Die siekes kom vir salwe wat aan oopgebarste swere gesmeer moet word, verbande en pille, slukgoed wat die duiwels uit die maag moet jaag, of botteltjies oogdruppels om in smetterige oë te gooi.

      Pasiënte wat meer dramatiese siektes het, gaan na die sendinghospitaal 12 kilometer verder.

      Die siekes en die wagtendes het hulle op die grond in die effense koelte tuisgemaak, gereed vir ’n wag wat die hele dag in die Afrika-son gaan duur.

      Die student wat by die kliniek werk, staan in die buitedeur. Sy tel die mense wat alreeds onder die bome sit. Hoeveel van hulle regtig pasiënte is, kan sy nie sê nie; elke pasiënt word vergesel van sy belangrikste familielede. Deur die dag sal die getal wel nog aangroei.

      Die kliniekgebou en die aangrensende buitegeboue is ’n witgekalkte gehuggie op ’n oopgetrapte stuk rooigrond. Die werf is omhein met ’n doringdraad wat plek-plek so slap hang dat dit nog nooit die buurt se bokke en bontbeeste kon uithou nie. Aan die westekant van die oop stuk grond staan die doringbome, amptelike wagplek vir die pasiënte. In die een hoek van die werf is ’n buite-toilet met ’n dik stinklug en ’n sinkplaatdak wat met groot klippe vasgepak is. Die kliniekpersoneel gebruik nie dié toilet nie, dit is daar vir die mense wat onder die bome wag. Aan die sykant van die toilet, teen die muur, is ’n kraan. Die pasiënte gaan drink by die kraan as hulle dors word, hulle lippe slukkende kelke om die kraanmond. Iemand het ’n ou, uitgeduikte emalje-skottel onder die kraan se drup neergesit. Die bont hoenderkuikens wat op die werf rondskrop, kom druk hulle skerp snawels in die vlak skottel en sluk met opgeligte kele en lelle aan die louerige water.

      Suster Zinze Ngomezulu is in beheer van die kliniek. Sy regeer met matriargale dissipline. Haar personeel bestaan uit twee swart verpleegsters en ’n wit student wat navorsing vir ’n nagraadse kwalifikasie doen. Die student ondersoek die oorsake van kindersterftes en die voedingspatrone van die Zoeloes in die landelike gebiede van KwaZulu. ’n Jaar lank bly sy in ’n tweevertrekhuisie op ’n godverlate stuk platteland en doen dieetopnames en biometriese toetse by die kliniek.

      Sy tel kaal kleuters op haar heup, weeg hulle, meet die omtrek van hul koppies en die lengte van hul lyfies. Sy vee hulle neuse met papiersakdoeke af. Sy maak die vloer skoon waar hulle nat- en vuilgemaak het. Sy druk met haar hand teen opgeswelde magies en vra aan die ma’s wat daar in hulle huise is om te eet. Wat hulle die kinders gee om te eet as daar nie meer geld is vir mieliemeel en suiker nie. Sy vra hoekom hulle nie vir die babas borsmelk gee nie, en word beantwoord met groot, bruin oë wat skaam en met onbegrip vir haar teruglag. Sy vra hoekom so min van hulle die inspuiting vat, en word beantwoord met ’n onskuldige “angazi”, ek weet nie.

      Die student is ’n volkekundige, maar sy help die kliniekpersoneel om pasiënte se sere te ontsmet, om meswonde te verbind, om noodvoorraad kos aan ondervoede mense uit te deel. Sy sien wat gebeur as die mans die vroue op die mielielande los om in die myn te gaan werk. Sy sien hoe dit is as ’n mens vooroor moet buk om die tering in jou bors uit te hoes, en hoe dit lyk as ’n assegaai jou in die maag gesteek het.

      Die derde of vierde pasiënt van die dag wat haar kantoor binnekom, is nie ’n ma met ’n baba of ’n kleuter op die rug nie. Twee vroue dra ’n jong meisie tussen hulle die kantoor binne. Hulle het die meisie onder die skouerholtes vasgevat en sleep-dra haar by die deur in. Die meisie se bene hang leweloos onder haar. Haar kaal voete skuur willoos oor die linoleumvloer. Haar oë staan wyd oop en stokstyf in haar kop, die vel is styf en bleek oor haar gesig gespan. Die mond met die breë lippe is grynslaggend oopgetrek oor haar tande, maar sy maak nie ’n geluid nie. Agter die drie kom ’n ou man ook ingeskuifel, sy hoed opgefrommel in sy hande. Dit is nie ’n swanger meisie met kraamprobleme nie, kan die student in ’n enkele oogopslag sien. Die meisie se liggaam is jonk en haar maag is plat. Maar dit is duidelik dat sy ’n hoë koors het.

      Nog ’n hospitaalgeval, dink sy. Sy laat die meisie solank op die smal bedjie lê, en stap uit om die suster te gaan roep.

      By die oop deur in die gang kyk sy buitetoe en sien dat daar weer ’n bees deur die drade gekom het. Dit is ’n maer dier met kort horings en heupbene wat skerp teen die swart vel uitstaan. Die dier loop doelloos tussen die geboue rond.

      “Wat gaan hier aan?” vra suster Ngomezulu toe sy by die deur inkom en die meisie op die bed sien lê. “Dit is nie ’n hospitaal hierdie nie, ek is nie ’n dokter nie!” raas sy by voorbaat.

      Niemand antwoord nie.

      Die student gaan staan langs haar, gereed om ontsmettingsmiddel of watte aan te gee.

      Een van die vroue wys woordeloos na die meisie op die bed. Sy trek die meisie se rokke