Die vrou in die vuur. Riana Scheepers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Riana Scheepers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798158336
Скачать книгу
gebeur.

      Die titel van die bundel is vir my gegee deur André le Roux, wat die verhale in manuskripvorm gelees het.

      Die boek het die ATKV-prosaprys (1990) en die FAK-ontspanningsprys (1991) verower.

      Ruil

      Die winkelier hoor die stowwerige geskuifel van voete by die oop winkeldeur. Hy los die boekwerk waarmee hy besig is, en kom uit die klein kantoorvertrekkie agter in die winkel. Hy gaan agter die toonbank staan, en leun met sy elmboë op die verweerde houtblad wat oor die hele breedte van die winkel strek.

      Twee vroue kom uit die skerp sonlig die winkel binne. Elkeen het ’n ukhamba op die kop en hulle buig met stywe ruggrate en nekke, van die heupe en die knieë af ondertoe, om nie hulle kleipotte teen die sinkemmers en die fietswiele wat van die dak af hang te stamp nie. Binne staan hulle stil teen die muur om gewoond te raak aan die skielike skemer van die winkel.

      Die winkelier wag.

      Die vroue staan soos donker beelde wat uit hout gekerf is. Hulle praat nie. Hulle staan stil om die reuke van die winkel te ruik. Bale hooi wat tot teen die dak gestapel is, rolle sis en uitgebraaide vet en die sweet van Afrika wat in die skemer hitte onder die winkel se sinkdak gebak word. Hulle sien die winkelier agter die toonbank. Hulle lig hul donker arms om te voel of die kleipotte nog reg sit, maar haal dit nie af nie.

      Die winkelier kyk.

      Albei vroue dra wye, bont rompe, hul bolywe kaal in die tradisie en hitte van hierdie land. Soos al die vroue het hulle kopdoeke om hul koppe gedrapeer. Die armbande om hul boarms en nekke is van gras gevleg, met helder kraletjies en rooi sade daarin geweef.

      Die winkelier leun nie meer op die toonbank nie. Hy staan by die kasregister met sy duime in sy lyfband gehaak. Die hitte damp die reuk van sy liggaam uit. Sy hemp is halfpad oopgeknoop en sy groot maag druk die los pante van die hemp weg. Sy blonde borshare is sweterig, sy vel blink.

      Die winkelier kyk na die twee vroue.

      Hy is ’n Skotse immigrant wat na die donker misterie van Afrika kom soek het nadat sy maer, sieklike vrou in Engeland dood is. Met sy rammelrige bakkie het hy die land se grondpaaie platgery, maar toe hy sien hoe sorgeloos naak en kopspelend met die borste die swart vroue hier loop, het hy besluit om in die swoel hitte van die Zoeloelandse heuwellandskap te kom winkel maak. Hy maak ’n bestaan uit tee en suiker wat hy afmeet en in 10c- en 20c-kardoesies skep. Hy weeg sy koffiebone in ’n skaal met ystergewiggies af. ’n Piramide van kleinerwordende gewiggies staan langs die skaal op die toonbank. As die skaalarms nie haaks hang nie, byt hy ’n koffieboon se helfte af.

      Die winkelier ruil ook sy ware vir wat die swart mense uit die opbrengste van die land na hom bring: vet en groenmielies en eiers, vir suiker en sislap en brokke gespikkelde blouseep.

      “Ufunani!” vra die winkelier. Hy praat fanagalo-Zoeloe met ’n swaar, wilde aksent, maar sy klante verstaan die rituele van winkelkoop.

      “Sizothenga.” Hulle wil koop.

      Die winkelier wink hulle nader aan die toonbank. Die vroue buig hul knieë en haal die potte versigtig van hul koppe af sonder om hul nekke te kantel. Saam met die arms se optel en die kleipotte se afhaal, lig hulle ronde borste op. Die winkelier kyk. Hy vat met sy flets oë aan die swaar volheid van die bruin borste met die groot tepels. Hy kyk na hul arms in die gevlegte bande met die helder krale. Hy streel die moddertekstuur van die vel waar die maag in die sye voue maak. Hy proe die sweet van hul oksels. Sy mond is effens oop.

      Die vroue sit die kleipotte voor hom op die toonbank neer. Hy buk vooroor, sy oë nog steeds op die wiegende borste en arms hier naby hom. Hy kyk af. Die donker holtes van die koel kleipotte is uitgevoer met droë gras. In die beskutting van die gras lê ’n klompie eiers, ovaal en bruingespikkeld, soos in ’n nes. Die winkelier tel ’n eier op en weeg dit in sy hand. Die eier is koel teen sy warm vel. Hy maak dit heeltemal toe in sy hand.

      Versigtig tel hy die eiers uit hul neste en sit dit in ’n mandjie. Daar is altesaam agtien. Die vroue wil suiker hê vir die waarde van die eiers. En tee. En seep, as daar nog ruil in die eiers oor is. Die winkelier pak die afgeweegde kardoesies op die toonbank voor die vroue uit. En ’n klein stukkie spikkelseep. Die vroue kibbel nie. Hulle pak hulle ware sorgvuldig in die kleipotte, druk die seep tussen die kardoesies en die sagte gras in.

      Die winkelier weet dat die vroue se mans almal weg is. Hy weet dat die mans op die steenkoolmyne, die goudmyne, die uraanmyne werk en dat die geld wat maandeliks aangestuur word, nie ’n volle maand se behoeftes kan dra nie. Die winkelier weet ook dat die mans se werkgeld opgebruik is as die vroue kom ruil. Hy wonder hoekom die vroue altyd met eiers kom ruilmaak, hoekom hulle dit nie self eet nie. Die winkelier weet nie dat die vroue dit nie mág eet nie. Solank ’n vrou sonder haar man slaap, alleen op die icansi in die hut lê, mag sy nie die krag van eiers vir haar eie liggaam hou nie. Sy sal dit weer eet wanneer hy terugkom. Met sy donkerbril en sy skoene met die wit punte en baie geld. Paasnaweek. En Kersfees.

      Die vroue het gekry wat nodig is, maar hulle staan nog. Die winkelier sien hoe die swart oë aan die ware op die rakke vat. Hulle kyk by hom verby, na die rolle materiaal en die flessies en die vreemde goed wat hulle nooit van naderby kan sien nie. Hulle het nie genoeg geld nie. Hy weet dit; hulle ook. Hy kyk hoe hul opgehefde oë tussen die rakke soek. Hy streel oor die vroue se kele, hulle skouers, af na die borste. Hy vat hul borste in sy hande. Hy rol die tepels tussen sy vingerpunte. Sy hande vee oor die ronding van die mae, verdwyn onder die swaar materiaal van hul rompe. Hy voel die dik dye; die vogtige voue van hul lieste. Hy draai om.

      Die winkelier haal ’n glasflessie van die rak af en sit dit op die toonbank tussen hom en die twee vroue neer. Vaseline.

      Die vroue giggel en praat vinniger in hul klinkende taal. Hy verstaan nie die betekenis van die klapklanke as hulle so vinnig praat nie. Hul hande reik uit na die flessie, hulle wil kyk, hulle wil ruik, hulle wil dit op die vel toets, maar hy vat dit weer en hou dit in sy hand. Hy kyk hulle stip aan.

      Die vroue kyk na mekaar en praat onderlangs in ’n tongval wat hy nie kan uitmaak nie. Een van die vroue lig haar ukhamba van die toonbank op en plaas dit in posisie op haar kop. Sy draai om en loop uit die winkel in die son in. Die winkelier sien haar swaaiende uitstap. Met die flessie Vaseline in sy hand loop hy na die punt van die toonbank. Hy lig die geskarnierde valdeur in die toonbank op. Die vrou wat agtergebly het, volg hom woordeloos, haar ukhamba in haar hande, deur die poort wat hy vir haar oophou en sorgvuldig agter haar toeskuif. Die winkelier maak seker dat sy rinkelende kasregister gesluit is, en gaan by sy kantoor in. Hy los die winkel met die oop deur agter hom sonder om om te kyk. Hy ken elke geluid van sy winkel; elke skuifelende binnekoms sal hy wel hoor.

      Die winkelier se kantoor is ’n warboel van ou boeke met slap hoeke, winkelvoorraad wat nog in kartondose staan en stof wat melerig oor alles lê. Die sonlig skyn deur die vuil ruite na binne en val in ’n plas op die deurmekaar lessenaar. Daar is nie ’n gordyn voor die venster nie, maar ’n stapel ou bestelboeke lê op die vensterbank. Stukke linoleum van verskillende groottes en kleure bedek die vloer sonder om inmekaar te pas. Die winkelier vat ’n ou oorpak wat oor die stoel se rugleuning lê en hang dit aan ’n spyker bokant die venster op. Die vuil lig word donkerder. Hy draai om. Die vrou is agter hom. Hy neem die kleipot uit haar hand en sit dit op die lessenaar tussen die ander goed neer. Die vrou staan stil, haar oë neergeslaan.

      Die winkelier skroef die flessie oop. Hy draai met sy twee voorvingers ’n stuk van die vetterige, dik salf los. Hy staan nader aan die vrou, begin om die salf stadig oor haar een bors te smeer. Die bors begin amberagtig, soos gepoleerde hout, gloei. Die vrou staan nog steeds stil. Terwyl sy een hand die dik velvoue onder die vrou se bors bly streel, vashou, trek die winkelier sy bakstaande gulp met die ander hand oop. Die geslag beur groot en sproeterig tussen sy bene uit. Die winkelier gryp met albei hande.

      Hy druk haar agteroor op die vloer neer.

      Met sy knieë woel hy haar romp uit sy pad.

      Die winkelier staan tru.

      Hy sien hoe die vrou eers op haar knieë van die vloer af opkom, en dan, met haar een hand teen die vloer gedruk, opstaan. Haar wye romp val oor haar heupe, oor haar bene en terug