Die vrou in die vuur. Riana Scheepers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Riana Scheepers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798158336
Скачать книгу
klein holtetjie tussen die sinkplate en die lae muur, wat met die bouery van die stroois gekom het. Die holtetjie is sy ma se spesiale bêreplek. Vir die metsjies.

      Sy vingers vat die plat boksie vas wat in die holte ingedruk is. Hy skuif vinnig die twee helftes van mekaar af. Daar is genoeg metsjies in om vuur te maak.

      Sy pa het al vir hom gewys hoe jy maak as jy ’n wildsbok uit die gras wil jaag. Jy steek die vlakte aan die brand, en die bok sal uitkom, maak nie saak wáár hy weggekruip het nie. Hy kom uit met die vuur.

      Dan wag jy hom in met jou assegaai of met ’n imbemba, en jy hét jou bok. En agterna, die volgende dag, as al die boere van die plase klaar vuurgeslaan het, loop jy tussen die swart polle veld in om te soek vir skilpaaie wat sommer klaar met hulle soet vleis reggekook is in die dop. Dit is die lekkerste vleis van die afgebrande veld, dié van die skilpaaie wat nie kan wegkom nie.

      Hy weet dat die baas elke keer as daar ’n vuur was, raas en skree en dreig dat die polieste sal kom om die mense wat vuurmaak tronk toe te vat, maar hulle weet almal dat niemand kan sê waar die vuur vandaan kom nie.

      As dit winter is, kom die vuur vanself uit die rooigras uit. Of die weerlig slaan die vuur in die gras in.

      Maar nou moet die vuur die sleutel uit die gras haal.

      Hy hou die boksie met die metsjies in sy hand terwyl hy na die miershoop toe hol. Die droë gras skuur teen sy bene.

      Die kinders is nog daar. Hulle sit stil met hulle rûe teen die miershoop. Hulle huil nie meer nie. Hulle wag vir hom om die sleutel se plan te kom maak.

      Die oudste seun jaag hulle ongeduldig onder sy voete uit en sak op sy knieë neer. Hy breek ’n handvol grashalms nek-af en maak dit staan in ’n losserige gerfie. Die gras is lank en droog en buig effens onder die gewig van die stywe, ryp saadknoppe. Hier en daar tussen die rooigras is ’n paar groenerige weeluisgrasse. Die weeluise kom los en klou aan die kinders se klere vas.

      Hy trek die eerste vuurhoutjie en druk dit tussen die grasse in. Die vuurhoutjie maak ’n vlammetjie en skroei die naaste halms, maar vrek na ’n paar sekondes sonder om die hopie aan die brand te steek. Hy trek ’n tweede vuurhoutjie. Die vlammetjie vrek dadelik. ’n Skielike windvlaag tussen die grasse het dit doodgewaai. Die seun sê die kinders aan om om hom te kom staan, hulle moet kom keer teen die wind. Hy trek weer ’n vuurhoutjie en hulle hurk almal om die desperate vlammetjie.

      “Iphepha!” sê die vorige dag se inkosi.

      Een van die kleintjies spring weg. Sy swart kroeshaartjies wip skaars bokant die gras uit. Die ander kinders begin solank gras bymekaarmaak om die vuur te stook as dit eers gevat het. Hulle sukkel om die polle uit te trek. Dit klou te vas aan die grond, maar die gras is kurkdroog en bros. Hulle kry dit maklik reg om die halms te knak en af te breek.

      Die kleintjie kom terug met ’n groot stuk verflenterde koerantpapier wat hy teen die doringdraad gekry het, daar waar dit deur die wind vasgewaai is.

      Die kinders pak die vuur met papier en gras aan. Die oudste seun vat drie vuurhoutjies en steek dit saam aan. Dit maak ’n harde krasgeluid teen die sykant van die dosie en vlam skielik sissend op. Hy druk die vuurhoutjies onder die gefrommelde koerantpapier in. Die papier begin rook, word swart verkool, en slaan dan in helderrooi vlamme uit. Die vuur brand met ’n helder en vinnige papiervlam. Hulle sleutelvuur brand.

      Die kinders dra die los grasse aan. So vinnig as wat hulle dit oppak, word die halms verteer en word die vuur groter. Die kinders buig die lang grashalms wat naby die vuur staan, om. As dit rokerig vlamvat, los hulle sodat die brandende halms weer regop spring en op hulle eie brand. Die vuur begin knetter. Hulle hoor hoe die droë sade skietend oopbars. Hulle ruik die gras se brand. Hulle voel die hitte wat uit die gras kom.

      Die kinders begin lag, hulle vuur brand. Dit word ’n vreugdevuur. Hulle bokspring om die vlamme. Hulle sal netnou die sleutel kry. As die grond eers oopgebrand is, kan hulle maklik soek.

      Ou oom Dalley het nie meer geboer nie. Hy het die grond vir sy kleinseun warm gehou tot dié uit die Landboukollege op Cedara kom. Hy het wel ’n paar skape aangehou. Eintlik het hy net op die plaas aangebly omdat hy in die dorp of in ’n ouetehuis sou doodgaan van ellende. Hy én sy ou vrou.

      Oom Dalley het op die groot voorstoep van sy plaashuis gestaan en koffie gedrink toe hy die vuur sien.

      Hy het eers die skerp reuk van grasrook geruik, en toe die rookwolk sien aankom oor die vlakte. Hy het op sy kierie omgedraai en al die buurplase in kennis gestel dat die eerste brand van die winter in die veld is. Dat die boere en hulle werkers moet kom vuurslaan. Toe het hy weer op die stoep gaan staan en gesien dat die brand na sy kampie ooie toe aankom.

      Die dorpskoerant het later berig dat die ou oom in die doringdraad van sy ooikamp vasgehaak het toe hy probeer wegkom het van die vuur af. Hy was te oud en te swak, en seker te paniekerig ook, om homself uit die doringdraad los te kry. Wat hy in die veld gesoek het, weet niemand nie. Hy kon tog nie ouman-alleen iets aan die vuur doen nie.

      Hoe die vuur begin het, kon niemand agterkom nie. As dit winter is, kom die vuur vanself uit die rooigras uit.

      Babanango

      Die kind het in die veld aan die slaap geraak.

      Hy het sy bene teen sy lyf opgetrek in die oorgroot baadjie wat hy aangehad het, en aan die sonkant van ’n rooigebakte miershoop gaan lê. Hy het opgekyk, spatsels son sien breek in die skrefies van sy oë. Die stat se bontbees wat hy moes oppas, het naby hom met sy kop in die lang wintergras geloop. Hy kon die bees nie sien nie, maar hy kon hoor hoe die gras afgepluk en gevreet word, die gemaal van die bees se herkoue.

      Die kind het aan die slaap geraak met die warm son wat in sy klere en sy vel ingetrek het. En met die geluide van die bees se maag hier naby hom.

      Toe hy wakker skrik, was dit van koue. Hy het teen die miershoop se stam wakker geword en sy oë oopgemaak. Hy kon niks sien nie.

      Terwyl hy geslaap het, het die mis uit die klowe gekom en hom toegevou soos ’n groot, klam kombers. Om hom was daar niks, net die gedempte stilte van die wit mis. Die berghang en die miershope en die rooi aalwyne wat in die son by hom was, het weggeraak.

      Dit was asof hy in ’n nag inkyk, ’n ligte nag sonder sterre.

      “Hawu, Bakithi!”

      Die kind het dronkerig opgestaan en probeer onthou wat met hom gebeur het. Die koue het hom kom haal uit die ver land waarheen ’n slapende kind gaan, en hy was nog nie wakker genoeg om te weet wat intussen met hom en met die veld gebeur het nie. Die klam lug het hom laat bewe, en hy het sy hande diep in die baadjie se sakke gedruk. Sy hande het deur die gate in die sakke gesteek; hy kon aan sy dun bobene vat. Sy oë het probeer inkyk in die mis.

      “Ubuhalalazi, izinkungu,” het hy wakker geword.

      Dit was nie die eerste keer dat die mis hom op die berg vasgekeer het nie. Hy het nie daarvoor geskrik nie. Maar die ander kere het hy die mis sien aankom. Nog altyd het hy oop-oë in die gras gesit en kon hy sien hoe die witterige wol van die lug dik word en karosse word en wolke word. Hy kon sién hoe die mis soos rook uit die stamme van die dennebome kom. En dan het hy met fluite en klippe die bees gaan aankeer en sy huisrigting reggekry. Teen die tyd dat die mis dik om hom was, was hy reeds in die vasgetrapte voetpad oor die heuwels, wat die bees geken en vanself huis toe laat loop het. Hy moes maar net agter die dier bly aanloop totdat die stat voor hom in die pad opgedoem het en hy die vure kon sien. Partykeer, as hy al naby die huis in die breë, uitgetrapte voetpad was, het hy hard geskree totdat hulle hom hoor.

      “Nango! Baba, nango!” Hier is ek! Die mense by die stat het dan teruggeroep en geskree totdat hy by hulle was en hy hulle kon sien. Soms het sy boetie gekom om hom in die donkerte van die mis te help met die bees se toemaak in die doringkraal.

      Maar nou, in sy slaap, en in die mis, het die hele wêreld omgedraai en op ander plekke gaan lê – hy kon nie sien waar die heuwelpunte en die bome en die afgronde is nie.

      Die miershoop het teen sy been gedruk. Hy het styf teen die harde hoop rooigrond bly staan. Die miershoop moes hom ’n aanduiding gee hoe om te loop.