'n Uur van lig. Nina Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nina Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315861
Скачать книгу

      “… God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie,” skryf Johannes tereg (1 Johannes 1:5). Wanneer ons omstandighede by tye maak dat ons in geestelike donkerte verkeer, sal God steeds vir ons ’n lig wees. As Johannes van God se nuwe wêreld vertel, skryf hy dat die nuwe Jerusalem nie die son en die maan as ligte nodig sal hê nie, want die heerlikheid van God sal dit verlig (vgl Openbaring 21:23).

      Omdat God lig is, roep Hy sy kinders uit die sondedonkerte van die wêreld na sy lig. Meer nog, Hy maak van ons óók ligte. Ligte vir die wêreld, sodat ons so sal kan leef dat ander mense uit ons dade ons lig sal kan sien en Hom sal verheerlik. Kan mense wat na jou leefwyse kyk al sien dat jý ’n lig vir die wêreld is en God vir jou loof? In sy Bergrede sê Jesus dat ons goeie werke vir almal sigbaar behoort te wees. Ligmense gee om vir ander, ligmense help waar hulle kan; ligmense moet ook naby die Ligbron bly, want óns lig is maar net ’n weerkaatsing van God se lig. Lewe só dat jy op hierdie wêreld ’n lig vir God sal wees en loof Hom elke dag dat Hy jou lig is.

      Hemelse Vader, ek loof U dat U vir my ’n lig in donker tye is. Maak my ’n lig vir U, sodat mense wat na my lewe kyk, vir U kan verheerlik. Amen.

      19 Februarie – Loof God omdat Hy jou positief laat dink

      19 FEBRUARIE

      Lees: Filippense 4:1–9

      Loof God omdat Hy jou positief laat dink

      Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. – Filippense 4:8 (Die Boodskap)

      Ek betrap myself dikwels dat ek negatiewe dinge dink nadat ek die dag se koerant deurgelees het en my vergewis het van al die misdaad en skelmstreke wat deesdae so volop is. Boonop hou ek hierdie negatiewe gedagtes nie vir myself nie, maar deel hulle met almal wat wil luister! Maar ek besef óók dat dit presies is wat die duiwel wil hê. Negatiewe gedagtes en gesindhede het groot krag; dit kan ’n mens se hele lewe negatief beïnvloed. Die enigste manier hoe ons van hierdie negatiewe gedagtes ontslae kan raak, is om God te vra om ons te verander, om ons nuut te leer dink, sodat ons van nou af nuut kan leef.

      Moenie langer jou tyd mors om negatief te wees oor die toekoms of deur jou oor allerhande dinge te bekommer nie. Bespreek jou bekommernisse eerder met God en vra Hom om jou negatiewe gevoelens deur positiewes te vervang. Dink aan dié dinge wat vir Hom saak maak, waarvan Hy sal hou, wat vir Hom goed is. Dan sal Filippense 4:9 in jou lewe waar word sodat jy veilig en gelukkig by God sal voel.

      Here God, ek loof U dat U dit vir my moontlik maak om positief te dink en U vir die toekoms te vertrou. Ek weet dat mense wat op U vertrou, nooit teleurgestel sal word nie. Amen.

      20 Februarie – Loof God omdat Hy vrede bring

      20 FEBRUARIE

      Lees: Filippense 4:1–9

      Loof God omdat Hy vrede bring

      Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. – Filippense 4:6–7

      Daar is baie dinge om ons wat ons bang maak. As hierdie vrese te lank aanhou, verander hulle in angstigheid, en volgehoue angstigheid maak ’n mens mettertyd moedeloos en depressief. Die Bybel vertel ons egter baie duidelik wat ons met ons bekommernisse en angstigheid moet doen. As ons hulle na God neem, sal Hy hulle verruil vir sy vrede “wat alle verstand te bowe gaan,” en hierdie vrede sal oor ons harte en gedagtes die wag hou.

      Vader God, ek loof U dat U die Koning van vrede is wat my onrus en angstigheid kom verruil vir u vrede en rustigheid. Help my om ’n vredemaker te wees, sodat u vrede deur my na ander sal vloei. Amen.

      21 Februarie – Loof God vir sy vertroosting

      21 FEBRUARIE

      Lees: Psalm 94:16–23

      Loof God vir sy vertroosting

      Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. – Psalm 94:18–19

      Nadat jy deur God getroos is, gebeur daar iets met jou: dan word jy deur jou ervaring van verlies toegerus om ook ’n trooster vir ander te wees wat deur dieselfde trauma as jy gaan. Om iemand anders te troos wat hartseer is of ’n verlies gely het, is een van die belangrikste maniere waarop jy vir ander mense kan omgee. Loof God dat Hy altyd daar is om jou te troos, en loof Hom ook omdat Hy deur jou stuk verlies van jou ’n trooster gemaak het.

      Here, ek loof U dat U my Self troos elke keer as ek hartseer is. Dankie dat U my deur my eie verliese geleer het om self ’n trooster vir ander te wees. Amen.

      22 Februarie – Loof God op jou siekbed

      22 FEBRUARIE

      Lees: Psalm 30

      Loof God op jou siekbed

      Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees oor my nie. Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. – Psalm 30:2–3

      God kan alle siektes genees. Dis maklik om God vir genesing te loof, maar dit is sy wil dat ons Hom ook sal loof terwyl ons nog siek is. Toe ons seun in 2009 met kanker gediagnoseer is, het baie mense saam met ons gebid dat hy gesond moes word. En ons is baie dankbaar dat hy genees is. Maar dit gebeur nie altyd so nie.

      As jy daarin kan slaag om God te bly loof wanneer jy siek is, is jy ’n veel sterker getuie van sy almag as wanneer jy gesond is. Een van my vriendinne is in Februarie 2010 aan kanker oorlede. God het haar nie genees nie, maar die manier waarop sy haar siekte hanteer het, het ons sprakeloos gelaat. Sy het altyd geglimlag, was altyd positief, en het altyd aan haar geloof in en liefde vir God vasgehou. Sy was wel by tye hartseer en moedeloos, maar hierdie negatiewe gevoelens het nooit lank aangehou nie. Die laaste week van haar lewe was sy rustig en kalm.

      Wanneer jy siek is en nie gesond word nie, kan jy (altyd met sy krag tot jou beskikking) aanhou om God te loof omdat jy weet dat die hemel vir jou wag – en daar sal alle swaarkry en siekte vir altyd verby wees.

      Vader, ek loof U dat U alle siektes kan genees, maar ek weet dat U dit nie altyd doen nie. Maak my gewillig om