'n Uur van lig. Nina Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nina Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315861
Скачать книгу
Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. – Genesis 1:1, 31

      God skep die wêreld en alles daarop uit niks. In Genesis 1 word daar sewe maal gesê dat dié dinge wat God gemaak het, goed was. Hoe meer ons na die skepping kyk en die skoonheid daarvan raaksien, hoe meer redes kry ons om God te loof. Laat God toe om met jou te praat deur die wind deur jou hare, die warmte van die son op jou vel, die reuk van kanferfoelie en katjiepiering, die kleure van blomme en die aanraking van die reën. God is in álle skoonheid teenwoordig, en jy mag nooit daaraan gewoond raak nie, maar moet Hom daglank daarvoor loof.

      Lees Genesis 1 aandagtig deur en loof God dan vir alles wat Hy elke skeppingsdag gemaak het. Loof Hom vir die lig, vir die see en die plantegroei. Loof Hom vir die blomme en die bome, vir die son, maan en die sterre. Loof Hom vir die visse en die voëls, vir die wilde en mak diere. Leer om elke ding wat God gemaak het, raak te sien en jou daaroor te verwonder. Die psalmdigter skryf tereg dat die hemel van die mag van God getuig; dat die uitspansel die werk van sy hande bekend maak. (vgl Psalm 19:2–3).

      Here God, vandag kom loof ek U vir die skoonheid van u skepping. Vir die berge en die see, vir die wolkkleure met sonsondergang en die herfswin-gerde. Vir blomme en bome en sterre. U het die wêreld wondermooi gemaak – gee dat ek nooit aan dié skoonheid gewoond sal raak nie. Amen.

      5 Februarie – Loof God dat Hy jóú gemaak het

      5 FEBRUARIE

      Lees: Genesis 1:27–31

      Loof God dat Hy jóú gemaak het

      God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. – Genesis 1:27

      Wanneer God die mens skep, maak Hy vir Hom ’n verteenwoordiger op die wêreld. Hy skep die mens na sy beeld. Dit beteken dat Hy van sy eienskappe in elke mens plant. Anders as diere kan mense dink en liefhê, hulle kan praat en hul emosies verwoord. Hulle kan omgee vir mekaar, mekaar vergewe en met God in ’n verhouding staan. Hulle kan tussen reg en verkeerd onderskei. Hulle kan besluite neem en dit uitvoer. Hulle kan God se kinders wees en Hom aanbid.

      “Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is,” skryf Jakobus tereg (Jakobus 1:18, Nuwe Lewende Vertaling). Elke mens is uniek en elke mens is vir God waardevol. Loof God dat Hy jou so wonderlik gemaak het!

      Hemelse Vader, ek loof U dat ek die keur van u skepping is. Dat U my na u beeld geskep het en vir my van u eienskappe gegee het, sodat ek kan dink en droom en U kan liefhê. Maak my elke dag méér soos U. Amen.

      6 Februarie – Loof God dat Hy jou Vader is

      6 FEBRUARIE

      Lees: Johannes 1:9–18

      Loof God dat Hy jou Vader is

      Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore. – Johannes 1:12–13

      Dat die magtige Skeppergod terselfdertyd vir ons ’n Vader wil wees, is ongelooflik. Wanneer jy in Jesus glo, gee God vir jou die rég om sy kind te wees. Vir mense wat ’n swak verhouding met hul aardse pa het, is dit moeilik om God te loof as hul hemelse Vader, omdat hulle nie regtig weet wat die eienskappe van ’n goeie pa is nie. In sy Ons Vader-gebed leer Jesus sy dissipels dat God vir elkeen van sy kinders ’n Vader wil wees; ’n Vader wat hulle liefhet en vir hulle sorg; ’n Vader wat vir hulle alles sal gee wat hulle nodig het; ’n Vader wat hulle deur en deur ken en hulle nogtans, ten spyte van hul foute, liefhet.

      Maar vaders het nie net hul kinders lief nie – juis ómdat hulle ons liefhet, dissiplineer hulle ons ook. Soms laat God jou swaar kry omdat Hy jou in liefde dissiplineer om jou aan Hom gehoorsaam te maak.

      Ervaar jy al dat God jou Vader is? Dan weet jy dat Hy vir jou sal onderneem; dat Hy presies wéét wat jy nodig het en hierdie dinge vir jou sal gee; dat Hy áltyd daar sal wees vir jou. Loof Hom sommer nou vir sy Vaderliefde vir jou!

      Hemelse Vader, ek loof U dat U vir my ’n Vader is; dat ek u kind mag wees en U mag vertrou om vir my te sorg en in elkeen van my behoeftes te voorsien. Amen.

      7 Februarie – Loof God dat jy deel van sy gesin is

      7 FEBRUARIE

      Lees: Romeine 8:14–17

      Loof God dat jy deel van sy gesin is

      Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. – Romeine 8:16–17

      Kinders in ’n gesinsopset het baie voorregte wat kinders wat nie aan ’n gesin behoort nie, moet ontbeer. In ’n gesin is die kinders aan die ontvangkant van hul ouers se liefde; die ouers sorg in die meeste gevalle vir ’n dak oor hul koppe, vir kos en klere en ’n opvoeding. En hulle kan ook aanspraak maak dat hulle eendag in die erfenis wat hul ouers nalaat, sal deel.

      Jy is Gód se kind. Die Persoon wat jou hiervan verseker, is die Heilige Gees wat in jou woon. Jy hoef dus nooit aan jou kindskap te twyfel nie. Omdat God jou Vader is, het jy dus nóg ’n baie goeie rede waarom jy Hom behoort te loof: omdat jy sy kind is, is sy liefde joune, onderneem Hy om vir jou te sorg en is jy terselfdertyd ook sy erfgenaam! Jy deel saam met Jesus in God se goedheid en jy het die versekering dat jy eendag vir altyd sal lewe en in sy heerlikheid sal deel. Dink net: jóú hemelse Vader is die Skepper van die wêreld, die Koning van die konings, die Heerser van die heersers. Die feit dat jy deel van God se gesin is, maak van jou ’n Koningskind.

      Vader God, ek loof U dat ek deel van u gesin mag wees. Dankie dat ek nie net u kind is nie, maar ook u erfgenaam wat eendag die hemel in ontvangs sal kan neem. Amen.

      8 Februarie – Loof God dat Jesus vir jou gesterf het

      8 FEBRUARIE

      Lees: Romeine 5:1–11

      Loof God dat Jesus vir jou gesterf het

      Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. – Romeine 5:8–9

      Alle mense is sondig en verdien dus God se straf op sonde – die dood-straf. Maar Jesus het ons so lief dat Hy gewillig was om hierdie straf in ons plek te dra. Al wat ons hoef te doen om die straf vry te spring, is om in Hom te glo en ons sonde te bely. Mense is geneig om die detail van Jesus se lyding aan die kruis weg te dink. Self kon ek Mel Gibson se fliek oor Jesus se kruisiging nie klaar kyk nie – dit was vir my net te erg dat Hy om mý ontwil so swaar moes kry.

      Maar Jesus se lyding aan die kruis is ’n werklikheid. Hy het God se straf op sonde vrywillig in jou plek gedra sodat jý by God kan uitkom. Hy het die skuldbewys met sy eise teen jou tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem, skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (vgl Kolossense 2:14).

      Jesus het nie net vir jou gesterf nie, maar Hy tree op die oomblik vir jou in by God. Hy het die mag van die dood en hel vir altyd aan die kruis oorwin. In Jesus is jy nou meer as ’n oorwinnaar! Loof God daarvoor!

      Here