'n Uur van lig. Nina Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nina Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315861
Скачать книгу
jong ouderdom oorlede is, het Sandy steeds na die vuurtoring omgesien. Van die vuurtoring af kon sy haar man se graf teen ’n berg-helling daar naby sien. Sy het elke oggend deur die patryspoort van die vuurtoring na sy graf gekyk. In ’n gesprek met ’n verslaggewer getuig sy dat sy só elke keer persoonlike inspirasie kry. Daarsonder sou sy nie so alleen met haar lewe kon aangaan nie.

      Die psalmdigter getuig in vandag se kernteks dat sy oë altyd op die Here gerig is. Ook die skrywer van die Hebreërbrief skryf: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Hebreërs 12:3). As ons ons oë op God gerig hou, na die ware Lig kyk wanneer daar ’n traumatiese gebeurtenis in ons lewe is, sal Hy ook vir ons elke keer die krag gee om uit te hou en aan te hou. Dis baie goeie raad om te volg as daar ’n traumatiese gebeurtenis in jou eie lewe is. Kyk na God, hou jou oë op Jesus. Hy sal vir jou die nodige krag gee om elke krisis in jou lewe te kan hanteer; saam met Hom is jy altyd méér as ’n oorwinnaar, met sy krag is jy tot alles in staat.

      Here, dankie dat ek na U mag kyk wanneer daar krisisse in my eie lewe opduik met die wete dat U vir my die krag sal voorsien wat ek nodig het. Amen.

      8 Maart – Soek jou hulp by die Here

      8 MAART

      Lees: 2 Kronieke 16:1–10

      Soek jou hulp by die Here

      Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê. – 2 Kronieke 16:9

      Koning Asa begin sy regeringstyd in Juda net reg: hy moedig die hele volk aan om op die Here te vertrou en verwyder die heidense altare. Die Here seën hom en gee hom die oorwinning oor sy vyande. Maar Asa vergeet van God se ingryping in die verlede. As koning Baesa van Israel ’n veldtog teen Juda begin, gaan soek Asa hulp by Ben-Hadad, die koning van Aram. Dit dra glad nie God se goedkeuring weg nie, en die siener Ganani dra God se boodskap onomwonde aan Asa oor: “Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die Here jou God, het jy die kans verbeur om die leer van koning Aram te verwoes … Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kronieke 16:7, 9, Nuwe Lewende Vertaling).

      Hierna word Asa ernstig siek en sowaar, hy raadpleeg wéér nie vir God nie, maar wel die dokters (vgl 2 Kronieke 16:12). Koning Asa het goed begin, maar toe dinge vir hom te moeilik raak, vergeet hy van God. Wanneer dit met jóú swaar gaan, onthou God se trou van die verlede; soek jou hulp by Hóm. Hy is altyd gereed om jou te help, mits jy nie jou hulp op verkeerde plekke gaan soek nie, maar onwrikbaar op Hom bly vertrou.

      Here, ek is jammer dat ek ook soms my hulp op allerhande ander plekke soek. Leer my net weer dat U altyd slaggereed is om my te help. Amen.

      9 Maart – In tye van aanvegting

      9 MAART

      Lees: 2 Kronieke 20:12–26

      In tye van aanvegting

      Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig. – 2 Kronieke 20:12

      Koning Josafat van Juda, die seun van Asa, is ’n godvresende ko-ning, soos sy pa voor hom. As hy te staan kom teen die gesamentlike leërs van Ammon, Moab en Edom, besef hy maar te goed dat hy geen kans het om as oorwinnaar uit die stryd te tree nie. Anders as sy pa vóór hom, doen hy egter die regte ding: hy vra Gód om hulp: “Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig,” bid hy. En dan kry hy die boodskap van God: “Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n” (2 Kronieke 20:15, Nuwe Lewende Vertaling). Al wat Juda hierna te doen staan, is om toe te kyk hoe God die vyandige leërs teen mekaar laat draai en mekáár laat uitwis, totdat daar nie eers een van hul manskappe oorgebly het nie.

      As jy in tye van aanvegting God se hulp verlang, soek jou hulp op die regte plek, soos Josafat gedoen het. Vertel die Here van jou bekommernisse, van die dinge waarvoor jy bang is. Vra dat Hy jou elke dag van jou lewe sal bystaan, vertrou dat Hy sál help in krisissituasies. Alhoewel jy bewus is van jou eie swakheid, kan jy dan maar soos koning Josafat net toekyk hoedat God vir jou veg en jou die oorwinning gee.

      Hemelse Vader, ek loof U dat U altyd daar is wanneer ek hulp nodig het. Help my asseblief ook met die krisis waarin ek op die oomblik verkeer. Amen.

      10 Maart – Jy mag nie hoop verloor nie

      10 MAART

      Lees: Filippense 3:12–17

      Jy mag nie hoop verloor nie

      Nee, liewe broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Jesus Christus dit vir my verdien het. – Filippense 3:13–14 (Nuwe Lewende Vertaling)

      Paulus skryf aan die gemeente in Filippi dat hy die dinge vergeet wat agter hom lê en hom uitstrek na dit wat voorlê. Hy is haastig om by die wenpaal uit te kom sodat hy die hemelse prys wat Jesus reeds vir hom verdien het, in ontvangs kan neem.

      Dis vir my pragtig om na ’n groep kleuters te kyk wat resies hardloop. Die meeste van hulle hardloop omkyk-omkyk om te sien hoe ver hul maatjies gevorder het. Dit is dié enetjie wat voluit hardloop wat altyd die wenpaal eerste bereik. Een van die belangrikste dinge wat jou laat hoop verloor, is die herinnering aan die mislukkings in jou verlede. Dit help nie om jou lewenswedloop omkyk-omkyk te hardloop en jouself gedurig aan jou vorige mislukkings te herinner nie. Hardloop jou wedloop van vandag af voluit, met elk kriesel krag tot jou beskikking, sodat jy so gou moontlik jou hemelse prys – wat Jesus reeds vir jou verdien het – in ontvangs kan neem. Want in die hemelse wedloop is daar nie net één eerste prys soos in aardse wedlope nie – vir élkeen wat die wedloop voltooi, is daar ’n prys. Hardloop só dat hierdie prys joune sal wees.

      Here, daar is so baie dinge uit my verlede wat die vlammetjie van my hoop wil uitdoof. Ek wil nou my verlede agter my laat en na die toekoms reik, sodat ek die hemelse prys kan ontvang wat U beloof het. Amen.

      11 Maart – God kan kwaad in goed verander

      11 MAART

      Lees: Genesis 50:14–21

      God kan kwaad in goed verander

      Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het. – Genesis 50:19–20

      Nadat Jakob in Egipte dood is, raak Josef se broers bekommerd dat hy hulle nou gaan bykom oor al die kwaad wat hulle hom in die verlede aangedoen het en smeek hulle hom weer eens om vergifnis vir die manier waarop hulle hom behandel het. Josef stel hulle dadelik gerus: hulle hoef nie bang te wees dat hy wraak gaan neem nie, omdat God die kwaad wat hulle hom aangedoen het, in iets goeds omgekeer het. As dit nie was dat hulle hom verkoop het nie, sou hy nie nou sy huidige hoë posisie in Egipte beklee het nie en sou sy volk ook nie van hongersnood gered kon word nie.

      Wanneer mense jou te na kom, kan God steeds dieselfde doen. Hy is almagtig en vir Hom is dit heeltemal moontlik om die negatiewe dinge wat mense jou aangedoen het, in positiewes te verander. Die psalmdigter getuig nie verniet nie: “Die Here sal vir my alles goed laat afloop” (Psalm 138:8). As jy aan God behoort, mag jy met vertroue daarop staatmaak dat God die kwaad wat ander jou aangedoen het, uiteindelik in goed sal omsit, ook al lyk dit op die oomblik vir jou heeltemal onmoontlik. Hy kan steeds die grootste enkele ramp in jou lewe omkeer sodat dit uiteindelik tot jou beswil sal wees. Vertrou Hom daarvoor!

      Here, ek weet dat U ook die kwaad in my eie lewe uiteindelik kan omkeer in iets wat vir my goed sal wees. Help my om aan hierdie belofte vas te hou. Amen.

      12 Maart – Hoekom wag op die Here?

      12 MAART

      Lees: 2 Konings 6:17–33

      Hoekom wag op die Here?

      Terwyl