“Papsie . . . vergewe my. Ek is jammer.”
Die dokter se arm druk stywer om die skraal, jong skouers. ’n Rukkie nog staan hulle so onder die sterre, dan neem hy sy seun binnetoe. Hy skink vir hulle elkeen ’n koppie sterk swart koffie wat hy nou net gemaak het. In die kombuis om die tafel sit hulle dit en drink. Met die helderrooi-en-wit geruite gordyne lyk die kombuis gesellig en vrolik, maar die twee by die tafel is albei baie moeg.
Ná ’n rukkie sê die dokter: “Ek en jou ma sal albei saam met jou na Deborah se ouers toe gaan. Ons sal maar nie nou verder planne maak voordat ons hulle gesien het nie.”
“Dankie, Vader,” sê hy dankbaar. Dit sal goed wees om sy pa by hom te hê, om deur sy krag en kalmte ondersteun te word.
Ten spyte van die feit dat hy so vasbeslote is om na Deborah toe te gaan en haar by te staan, vrees hy die oomblik dat hy na ’n vreemde man toe moet gaan en sê: “Ek is Paul Hugo,” terwyl hy weet dat die naam Paul Hugo galbitter in die man se mond sal lê, dat hy vir hom net haat en bitterheid en veragting kan voel. Hy sal baie dankbaar wees as sy pa saamgaan. Maar daar is geen verdere planne om te maak nie. Daar is net een uitweg vir hom.
Hy wens sy ma wil liewer tuis bly. So ontsteld en emosioneel soos wat sy op die oomblik is, sal haar teenwoordigheid allesbehalwe ’n kalm uitwerking op oorspanne senuwees en oorvol gemoedere hê. Maar hy ken sy ma; sy sal saamgaan.
Hulle wil net kamer toe gaan toe die voordeurklokkie lui. So laat in die nag? Paul kyk op sy horlosie. Dis halfdrie. Die dokter is moeg ná die dag se werk en die spanning van die afgelope ure. Maar sy stem is vriendelik en kalm toe hy met die besoeker praat en Paul hoor hom sê dat hy dadelik sal kom.
“Ek is jammer, Dokter,” sê die man. “Dit lyk of jy reeds uitgeroep is. Maar haar koors is so hoog . . .”
“Ek kom dadelik,” sê die dokter gerusstellend. “Wag maar buite, jy kan sommer saam met my ry.”
“Dankie, Dokter,” hoor hy die man dankbaar sê.
Sy pa moet môreoggend halfagt twee operasies doen waarvan Paul weet, een ’n galblaasoperasie waaroor hy nogal taamlik bekommerd voel. En in stede daarvan dat hy rustig kon gaan slaap ná ’n bitter vermoeiende dag sodat hy môre met ’n helder verstand en seker hand oor die operasietafel kan buk, moes hy die kosbare ure van die nag met sy vrou en seun deurworstel en vir hulle krag en vertroosting gee.
“Gaan nou bed toe, Paul,” sê sy pa toe hy weer in die kombuis kom. Sy stem is gebiedend soos toe Paul nog ’n klein seuntjie was, en sonder ’n woord staan Paul op. “Gaan slaap, moenie vir my wag nie.”
Paul gehoorsaam. Sy keel voel dik en seer en sy oë brand. Hy is gedaan, maar gee glad nie om of hy nooit weer slaap of nooit weer wakker word nie. Dit is maar goed dat hy nie meer ’n dokter word nie. Hy het nie sy pa se innerlike krag wat so onontbeerlik vir ’n goeie dokter is nie. Hy sal nie vir mense wat siek en bang tot die dood toe is die nodige inspirasie, die moed en die hoop, kan gee om hulle te help om weer anderkant uit te kom – soos hy so dikwels al sy pa sien doen het nie. Sy pa is soos ’n eikeboom, diepgewortel. Hy het krag, nie net vir homself nie, maar ook vir die klimopplante wat so hulpeloos in die wind om hom rondslinger. En hy wat Paul is, is een van daardie klimopplante.
Toe die dokter terugkom, het hy sy motor sommer langs die huis laat staan. Hy is byna te moeg om uit te klim. In die ooste hang die blink môrester met die boodskap van ’n nuwe dag wat oor die berge aanbreek.
’n Nuwe dag, dink hy. En dan . . . my arme seun.
Paul het die volgende oggend ’n telegram vir Deborah gestuur om haar van hulle koms te verwittig. Hulle kan eers die volgende dag gaan, want die dokter wou ten minste vier en twintig uur ná die operasie by sy galblaaspasiënt bly. Dan sou hy hom maar aan ou dokter Petersen se sorg toevertrou en so gou moontlik weer terugkeer huis toe.
Die dag was vir Paul ’n herhaling van die vorige nag. Hy het nog geslaap toe sy pa hospitaal toe is. Hy wou so vreeslik graag die galblaasoperasie gesien het. Die dokter het die geval in besonderhede met hom bespreek. Die man is nog taamlik jonk en het ’n groot gesin wat van hom afhanklik is, en hy was byna net so haastig soos die dokter dat dit moet verbykom, dat alles goed moet afloop. Toe sy pa by die huis uit is, het hy nog geslaap en sy pa het hom nie wakker gemaak nie. Sy pa weet hoe baie hy belang stel, hoe graag hy die operasie wou sien.
Dit is vir hom ’n wrang gedagte dat die mooi ideale waarmee hy van kleins af besiel was nou op die ashoop van die verlede lê. ’n Bitter trek lê om sy mond. Hy het sy ontbyt onaangeraak opsy gestoot en die een koppie koffie na die ander gedrink. Sy ma sit teenoor hom aan tafel. Sy lyk bleek en moeg, baie ouer as gewoonlik, maar tog mooi in ’n blou linnerok wat by haar oë pas. Laggende blou oë soos die diepblou van die see op ’n wolklose lentedag. Maar vandag lag hulle nie, hulle is hartseer en verwytend en nog effens geswel van al die baie huil.
Haar figuur is nog slank en regop. Hy was altyd so trots op haar, sy mooi jong ma. Sy was soos ’n maat vir hom. Sy het hom liefgehad en aanbid, hom alles gegee wat sy hart kon begeer. Sy het die kuns verstaan om die lewe te geniet en haar warm lewensvreugde was aansteeklik en het ander mense se lewens verryk. Maar vanoggend is die vuur in haar geblus.
“Paul,” sê sy stil toe hy uiteindelik sy koppie wegstoot. “Kom saam met my tuin toe, asseblief.”
Hy weet dit sal maar net ’n herhaling van die vorige nag se argumente wees en hy voel prikkelbaar en moeg. Maar gehoorsaam volg hy haar. In die somerhuisie, wat in een hoek van die mooi, kleurryke tuin staan, is dit koel en rustig. Niemand sal hulle daar steur nie. ’n Oomblik maak hy sy oë toe om die lafenis van die vroeë oggendstilte te geniet. In die hoë bloekombome langs die huis koer duiwe sag, weemoedig, asof hulle weet van die droefheid en teleurstelling wat in die dokter se mooi huis gekom het en die lag uit sy ma se oë verdryf het.
Hy maak sy oë oop en kyk vas in sy ma se oë, oë vol teerheid en liefde.
“Paul,” sê sy sag. “Kom ons probeer sake vanoggend koel en kalm bespreek. Ek wil jou help. Daar moet ’n ander uitweg wees.”
“Daar is niks meer om te sê nie,” sê hy byna stroef. “Daar is ook geen ander uitweg nie. Ek is jammer, Tina, bitter jammer vir julle.”
“Paul,” onderbreek sy hom driftig, haar goeie voornemens al klaar weer vergete. “Hoe kan jy so praat? Hoe kan jy vir ’n oomblik daaraan dink om met die meisie te trou?”
“Hoe kan ek aan iets anders dink?”
“Ek sal dit nie toelaat nie. Ek sal alles in my vermoë doen om die huwelik te keer. Niemand sal dit verwag nie. Dit kan net ongelukkigheid en bitterheid in die toekoms bring – vir jou en vir . . . haar. Dit sal jou hele toekoms ruïneer. Hoe kan so ’n huwelik ooit gelukkig wees?”
“Ek het dit alles net aan myself te danke.”
“En die meisie, het sy nie ook skuld daaraan nie?” Daar begin sy al weer, dink hy, moeg en oorbluf. “Paul,” vervolg sy, en hy kan sien sy probeer kalm bly. “Paul, ons is ouer en slimmer as jy. Ons weet meer van die wêreld as jy. Ons weet wat so ’n huwelik aan ’n seun soos jy kan doen. Paul, jy is so jonk en begaaf, daar wag so ’n mooi toekoms vir jou . . .”
“Maar Tina,” val hy haar opreg verbaas in die rede. “Wat anders kan ek doen? Debbie se situasie is nog erger as myne.”
“Paul,” en daar is ’n wêreld se vasberadenheid in haar stem, “ons kan nie toelaat dat jy jou lewe so verwoes nie. Ek het daaroor nagedink. Daar is ’n uitweg. Ek sal enigiets doen om jou te help, maar ek is hulpeloos. Maar jou pa kan jou help en hy moet. Hy is dit aan jou verskuldig.”
Terwyl sy praat, het haar blik syne ontwyk, maar toe hy nie antwoord nie, kyk sy op na hom. ’n Tydjie kyk hulle vas in mekaar se oë en hy sien sy is nie so seker van haar saak as wat sy voorgee nie. In ’n fluisterstem, asof sy bang is dat iemand hulle kan hoor, vervolg sy: “Jou pa moet haar help.”
“’n Onwettige operasie?” ’n Tyd lank speel hy