Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Tryna du Toit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798157674
Скачать книгу
of nog nie begeer het nie, moet hy kry. Maar Paul is ook al wat sy het. Daar moes nog ’n paar seuns soos Paul gewees het en ’n paar dogters ook. Dit sou vir hulle almal beter gewees het. En wat ’n vreugde sou so ’n huis vol uitbundige seuns en dogters nie gewees het nie! Maar dit kon nie en dit help nie om weer ou spoke op te jaag nie. Hulle is dankbaar vir wat hulle het.

      Hoe verskillend is Paul se lewe nie van syne nie. Hy moes hard werk vir alles wat hy in die lewe wou hê en vir Paul kom alles vanself. Kyk maar na die mooi groen motor hier buite. Eers nadat hy drie jaar lank gepraktiseer het, kon hy ’n motor bekostig. Paul is universiteit toe met sy eie motor. Maar dit was Tina se werk, daardie eerste motortjie, nie syne nie.

      “Gee hom nou die motor,” het sy gepleit toe Paul Pretoria toe moes gaan. “Laat hom nou die lewe geniet. Waarom moet hy wag tot ons die dag dood is?”

      Hy wou nie. Vir hom was dit nie reg dat ’n eerstejaarstudent sy eie motor het nie. Maar soos gewoonlik het Tina gewen. As hy moeg en bekommerd en oorwerk is, kan hy eenvoudig nie nog by die huis Tina se sagte dog gedetermineerde argumente weerstaan nie. Dit was soveel makliker om maar toe te gee, veral waar hy besef dat hy haar in die jare wat verby is maar ’n bietjie verwaarloos het, nie genoeg tyd gehad het vir haar nie. Maar nie ’n nuwe motor nie. Daar het hy sy voet neergesit.

      ’n Jaar of twee het dit goed gegaan, was die ou motortjie heeltemal voldoende, en hy het self ook ingesien dat Paul en sy maats baie plesier daarvan gehad het. En dit het hom geen kwaad gedoen nie. Maar toe Paul een en twintig word, moes hy ’n nuwe motor kry, en Tina het weer gewen.

      Ja, die kinders van vandag het dit maklik, dink die dokter terwyl hy die koppie langs hom op die tafeltjie neersit. Te veel gemak en te min swaarkry. Hy hoop maar die loopbaan wat Paul gekies het, sal hom brei en ’n man van hom maak. Dis ook maar goed dat Paul daardie paar ekstra jare studeer. Hy sal ryper wees as hy die dag klaarmaak.

      Hy neem die brief wat Paul gebring het en bestudeer die handskrif. Dis van ’n onbekende. Seker maar een van sy pasiënte. Dis nogal merkwaardig hoeveel van hulle uit dankbaarheid vir hulp wat hy kon verleen, af en toe van hulle laat hoor. Hy skeur die brief oop en begin lees.

      Toe Paul ’n paar oomblikke later buite kom, sit hy nog met die oop brief voor hom.

      “Kom, Vader, sit weg die liefdesbrief,” roep Paul met gedwonge opgeruimdheid.

      Die dokter kyk na sy seun, sy begaafde seun met die gevoelige doktershande. Sy liefde, sy trots. Maar dis maar net die uiterlike daardie. Van binne is hy sleg en saf en eerloos, dink hy met afkeer en teleurstelling. Dit is wat hy gedoen het met die kanse wat hy gehad het, met die wonderlike talente wat God hom gegee het. So het hy sy dae aan die universiteit geslyt . . . en uiteindelik ’n jong meisie in die moeilikheid laat beland.

      Die glimlag sterf weg uit Paul se oë. Verskrik staan hy voor sy pa. Dis of sy pa se oë hom deurboor.

      “Wat is dit, Vader?” vra hy huiwerig.

      Woordeloos oorhandig die dokter die brief aan hom. Aandrus. Pieter Malan. Dis nie nodig om verder te lees nie. Hy weet nou. Maar hy lees die kort, bitter briefie nogtans tot die einde toe deur. Hy durf nie opkyk nie. Voor daardie koue, vernietigende, teleurgestelde blik staan hy klein en beskaamd en vernederd.

      “Wel, Paul?”

      Die woorde is soos sweepslae. Paul kan nie antwoord nie.

      “Is dit waar?”

      Paul, wit tot aan sy lippe, is nog stom.

      “Jy lyk skuldig genoeg. Dis dus in elk geval moontlik dat dit waar kan wees?”

      Paul se mond is droog. Hy kan sy pa nie in die oë kyk nie. “Ja, Vader,” kom dit uit. “Ek . . . ek . . . wou juis . . . vanmiddag met Vader daaroor praat.”

      Daar is ’n bitter, verwronge trek op die dokter se gesig. “Vanmiddag!”

      Dit is die eerste maal in sy lewe dat Paul hierdie veragtende, bytende sarkasme in sy pa se stem hoor. Stil en bleek staan hy daar, maar hy kyk nou vas in sy pa se oë en die dokter lees die angs, die skaamte en selfverwyt in sy kind se oë. Dis ’n jong seun wat hom so aankyk, sý seun . . . Maar weer wel die emosie in hom op.

      “Here, Paul. Hoe kon jy dit gedoen het? Is dit waarvoor ons jou grootgemaak het? Dat ek vandag hierdie brief moet kry? Dat ek deur ’n vreemdeling gevra moet word om te sorg dat my seun sy dogter se naam in ere moet herstel? Dat ek op hierdie manier moet hoor dat jy so met jong meisies omgegaan het?”

      Hy het Paul tot in sy siel geraak.

      “Nee, Vader. Wag. Dit was nie so nie.”

      “Nie?”

      Die ondraaglike spanning tussen hulle word verbreek toe Tina voor die hek haar motor se toeter druk.

      “Gaan klim in die motor,” sê hy kortaf, bitter. “Ons sal later vir jou ma sê.”

      Paul gehoorsaam. Hy kan nie onthou dat sy pa al ooit so met hom gepraat het nie en Tina “sy ma” genoem het nie. So ken hy nie sy pa nie. Is dit wat hy van hom dink?

      Die tuinman draf om vir Tina die hek oop te maak. Met die verbyry waai sy vrolik. “Julle moet gou kom,” roep sy. “Ek het ’n heerlike aandete!” Paul hoor skaars wat sy sê. Die oomblik het aangebreek. Die oomblik wat ek so gevrees het, het aangebreek, dink hy. En dit is veel erger as wat hy verwag het. Hy het daarop gereken dat hy eers met sy pa sou kon praat. Waarom het Debbie dit so gou uitgelap? O, Debbie, Debbie, waarom het jy my nie eerder gesê nie? Maar dis nie Debbie se skuld nie. Dis syne. Hy kon lankal met sy pa gepraat het. En nou? En nou?

      Die dokter kom vinnig na die motor toe aangestap en klim langs Paul in. Hulle ry dadelik weg.

      Gewoonlik geniet Paul die ritte saam met sy pa baie. Vandag is dit ’n wroeging. Gewoonlik gesels hulle lekker oor die pasiënte wat hulle besoek, oor die dokter se werk, oor Paul se toekoms, oor die dag dat hulle as pa en seun saam in die mooi, nuwe hospitaal sal kan werk. Sy pa is so besig dat daar nooit ander kans vir hulle was om te gesels nie en hulle het altyd baie uitgesien na die plaasbesoeke. Maar vandag sit hulle gespanne, vyandig. Paul is bly hy bestuur. Maar langs hom sit sy pa.

      “Wel, Paul?”

      Verbeel hy hom dit of is sy pa se stem sagter?

      “Ek is so jammer dat Vader so uitgevind het. Ek . . . ek wou al lankal met Vader gepraat het. Ek is bitter jammer ek het nie, maar ek was onseker en . . . bang. En ek het self nie voor eergister geweet nie.” En so, stukkie vir stukkie, vertel Paul vir hom sy en Debbie se hele ongelukkige geskiedenis wat so onskuldig en mooi begin het en so ongelukkig en vernederend geëindig het. Net een maal, toe hy verleë van daardie noodlottige aand by die Fonteine vertel, onderbreek sy pa hom.

      “Paul, ek kan dit byna nie van jou glo nie,” is al wat hy sê en Paul voel of hy inmekaarkrimp.

      En toe is hulle by hulle bestemming.

      Vandag vra sy pa hom nie soos gewoonlik om saam in te kom terwyl hy die pasiënt ondersoek nie.

      En hy is dankbaar dat hy alleen kan wees. Hy kan nou niemand in die oë kyk nie. O, hoe groot is die skande wat hom getref het! Maar sy verligting is net so groot. Sy pa sal begryp. Sy pa sal hulle help. Hy is net so jammer dat hy nie lankal teenoor sy pa gebieg het nie. Hy dink weer aan Debbie se brief, wat hy nog nie eens beantwoord het nie. Aan die wanhoop wat hy daarin gelees het. Was dit vir haar ook so swaar om vir haar ouers te sê? Maar waarom het sy nie net ’n bietjie langer gewag nie? Wat gaan nou van hulle word? Een enkele onbesonne daad en hulle hele toekoms is daarmee heen? Wat word nou van sy toekoms as dokter? Moet hy dit nou prysgee? Sal dit die prys wees wat hy sal moet betaal? Wat sal sy pa doen?

      Sy pa verskyn op die huis se voorstoep en wink hom om nader te kom. Die pasiënt moet seker dorp toe geneem word. Hy volg sy pa na binne. Die huisie is klein en armoedig. Op ’n ysterbedjie in ’n kamer wat uit die woonvertrek loop, lê ’n jong man van Paul se ouderdom. Sy gesig is bleek en daar lê donker skaduwees onder sy oë. Paul herken hom as ’n ou klasmaat. Hy herken Paul nie. Sy oë is blink van koors.

      “Help