Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Tryna du Toit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798157674
Скачать книгу
gestaan. Haar oë het geswem in trane wat sy kort-kort met die punt van ’n bont voorskoot afgevee het.

      Paul het sy pa gehelp terwyl hy vir Kobus ’n inspuiting gee. Versigtig het hulle hom opgetel en agter in die motor neergelê. Sy asemhaling was vinnig en gejaagd en hy het verwilderd rondgekyk.

      “Toe maar, boet,” paai die dokter. “Moenie bekommerd wees nie. Alles is nou reg.” Sy hand rus gerusstellend op die seun. Aan sy ma sê hy: “Ons sal hom mooi oppas, Mevrou. Kom kuier maar gerus vir hom in die hospitaal.”

      Dis of die dokter se kalmte die pasiënt en sy ma albei rustiger maak. Hy gaan agter by Kobus sit. “Versigtig ry, Paul. Die pad is maar sleg, maar doen jou bes.”

      Sy pa se stem is sag maar onpersoonlik, en Paul weet sy eie probleme is maar net tydelik op die agtergrond geskuif. Hy bepaal sy aandag by die pad, maar daar is stampe en knikke wat hy nie kan vermy nie en as hy Kobus so hoor kreun, is dit vir hom of dit hy self is wat seerkry. Dit het donker geword en dit gaan moeiliker om die pad te sien. Die rit is ’n nagmerrie . . . en hoeveel sulke ritte lê sy pa nie af nie? Soms moet hy myle ver alleen ry met ’n pasiënt wat te siek is om agter te bly, wat dringend hulp nodig het, en altyd is hy koel en kalm. As hy sy pa so met sy pasiënte sien werk, hul afhanklikheid van die dokter sien, die diep vertroue wat hulle in hom het, swel sy hart van trots. Hy wil ook eendag so ’n dokter wees. Maar hy kan nie nou daaraan dink nie. Nou moet hy al sy aandag by die pad bepaal.

      Die motor stamp weer deur ’n knik en dis Paul wat hardop kreun. “Ek is jammer. Die pad is so sleg en ek kan byna nie sien nie.”

      “Ry maar, ons is nou in die grootpad. Hy slaap nou.”

      Die uitwerking van die inspuiting, dink Paul. Dubbele longontsteking, en dit in die hartjie van die somer. Maar hy weet dit kom nogal dikwels voor. Kobus is gelukkig jonk en sterk. Met goeie behandeling en verpleging sal hy gou weer op die been wees.

      Hulle laai die pasiënt by die hospitaal af. Paul wag in die motor terwyl sy pa binne besig is. Hy het nie vanaand lus vir die vriendelike jong verpleegstertjie wat aan diens is nie, hoewel hulle nogal goeie maats was en hy haar dikwels uitgeneem het as hy by die huis was. Toe die dokter terugkom, neem hy self die stuurwiel en ry na sy spreekkamer toe.

      “Kom in, Paul,” sê hy en daar is ’n moeë, moedelose klank in die mooi, diep stem wat soos ’n dolk in Paul se hart is. Dat hy die oorsaak moet wees van sy pa se pyn en teleurstelling!

      In die helder lig van die spreekkamer kyk pa en seun ’n lang oomblik stilswyend na mekaar.

      Die dokter gaan in sy stoel agter die lessenaar sit. “Sit, Paul. Ons moet die saak uitpraat voor ons na Tina toe gaan.”

      Natuurlik. Tina moet ook weet. Vir haar was hy altyd die beste en oulikste en slimste seun in die hele wêreld. Wat sal Tina sê? Hy krimp ineen net by die gedagte daaraan. Dis al vir hom foltering genoeg om in sy pa se oë te kyk en die pyn daarin te sien, die moegheid in sy hele houding, die bitterheid en teleurstelling.

      Hy gaan sit regoor sy pa – dokter en pasiënt. En soos honderde pasiënte al in spanning gewag het, wag hy ook. Sy toekoms, sy lewe, is in die dokter se hande. Maar het ’n pasiënt al ooit in sulke kil, genadelose oë gekyk? Die dokter se gesig is strak en grys asof dit uit klip gebeitel is.

      “Die Here weet, Paul,” sê hy, en sy stem is koud en toonloos, “ek het jou liewer in jou graf gesien as om hierdie aand te moet belewe. Wat gaan jy nou doen?”

      Paul is doodsbleek. Die dokter sien hoe ’n spiertjie langs sy mond trek. Maar hy kyk vas in sy pa se oë. “Ek gaan met haar trou so gou as wat ek dit kan regkry.”

      “So praat ’n man!”

      Spot sy pa met hom?

      “En dan, my liewe seun? As jy met haar getroud is, wie gaan jou en jou vrou en jou kind onderhou?”

      Die dokter sien hoe die bloed in ’n donker gloed na sy seun se gesig styg. Hy sien die pyn in sy seun se oë. Maar die pyn in sy eie hart is so groot.

      “Ek sal hulle onderhou,” sê Paul stil.

      Sy pa lag bitter. “Jy hulle onderhou? Jy hulle onderhou? Hoe dink jy gaan jy dit doen? Jy wat in weelde grootgeword het? Jy kan jouself nie eens onderhou nie. Het jy al ooit een kwartaal uitgekom of probeer om uit te kom met jou geld? Die sakgeld wat elke maand deur jou vingers geglip het, kon maklik nog twee seuns op universiteit gehou het, seuns wat seker beter gebruik van die voorreg sou gemaak het. En die skande en smart wat jy oor jou ouers bring en oor die meisie en haar ouers!” Dan is dit of sy woede skielik bedaar. Hy maak ’n moeë gebaar. Hy lyk moeg en oud.

      Op ’n ander toon gaan hy voort: “Ek is jammer, Paul, verwyte sal nie nou help nie. Maar dit breek my hart dat my enigste seun, van wie ek soveel verwag het, die kanse wat hy gehad het so in die grond vertrap het, so ’n volslae mislukking, so ’n gemors, daarvan gemaak het.”

      “Papsie,” sê Paul sag, en dis of ’n sagte hand op die dokter se seer hart gelê word toe hy die geliefde kindernaampie hoor. “Papsie,” Paul se stem is jonk en vasberade, “ek sal nie ’n mislukking, ’n gemors, van die lewe maak nie. Ek weet ek het gruwelik verbrou. Maar ek sal vergoed daarvoor. Ek sal nie ’n mislukking van die lewe maak nie.”

      “Ja, Paul. Jy praat maklik. Jy moet met die meisie trou. Maar het jy al daaraan gedink dat jou verantwoordelikhede en jou moeilikhede dan maar net begin! Besef jy wat dit beteken?”

      “Ek weet, Vader. Ek weet dit sal swaar gaan. Ek het gehoop Vader sal my help tot ek net eers ’n begin kan maak. Ek sal wel êrens aan die Rand werk kry. Ek is baie bly dat ek my graad in Fisika en Skeikunde het. Ons professors het vir ons gesê daar is altyd openings in daardie rigting. Ek sal regkom, al moet ek heel onder begin. Maar ek moet nou eers na Debbie toe gaan.”

      Die dokter staan op en sit sy hand op sy seun se skouer.

      “Kom, Paul. Dit het baie laat geword. Ons moet huis toe gaan.”

      Hoofstuk 11

      Hoofstuk 11

      Hulle het ’n swaar nag met Tina gehad. Eers wou sy glad nie glo dat so iets moontlik kon wees nie, dat Paul, haar Paul, skuld aan so iets kon hê nie. Sy wou eenvoudig nie sy erkenning en verduidelikings as die waarheid aanvaar nie. Dit was die meisie wat hom verlei het, dit was maar net ’n slinkse set van haar kant om Paul in haar strikke te vang. Dis nie elke dag dat ’n meisie die kans kry om so maklik ’n seun soos Paul in die hande te kry nie. Die dokter moet alleen gaan, seker maak dat haar storie waar is, haar omkoop.

      Paul sal dié nag nooit vergeet nie: sy ma se ontsteltenis, haar histeriese gehuil, sy pa se strak wit gesig terwyl hy haar probeer kalmeer en troos, die veragting en afsku wat hy in sy hart vir homself gevoel het. Die nag se gebeure is diep op hom ingebrand. Arme Debbie, het hy gedink toe sy ma uiteindelik aan die slaap raak van die slaapdrankie wat sy pa vir haar gegee het en hy verlig na buite gevlug het om die vars naglug diep in sy longe in te trek. Hy is totaal uitgeput. Arme Debbie. As dit hier in ons huis so gaan, hoe moet dit nie met haar gegaan het nie. Vir ’n meisie is dit altyd soveel swaarder, die prys wat sy moet betaal, is so verskriklik hoog. Maar as hy by Debbie staan, soos hy vas van plan is om te doen, sal hy ook swaar moet boet. Dit sal nie net Debbie wees nie. Hy sal sy mooi toekoms moet prysgee. En nog nooit was die toekoms mooier en aanlokliker as op hierdie oomblik dat hy dit moet opoffer nie. Met die verantwoordelikheid van ’n vrou en kind . . . ’n kind . . . hy, Paul Hugo, met ’n kind . . . Here, is dit waar of is die hele nag maar net ’n verskriklike nagmerrie waaruit hy netnou, nat van die sweet, sal wakker word? Is dit moontlik dat hy hom moet bekommer oor die toekoms saam met ’n vrou en kind?

      Dit moet waar wees, want hier staan hy in sy ma se roostuin, die nagwind koel teen sy koorsige wange. Om hom is die stilte van die sterrenag en in sy hart is daar diepe vertwyfeling en selfveragting.

      Die dokter het ook buitentoe gekom en sy seun in die tuin onder die sterre sien staan. Die trotse blonde kop is vooroor gebuig, sy hande is diep in sy sakke gesteek. ’n Oomblik kyk hy na hom, dan sit hy sy arm om Paul se skouers. Dit is sy seun, hy het hom lief. Hy is maar ook net vlees