Nog kyk die blou oë in syne. Haar stem is helder terwyl sy vra: “Chris, jy is al een wat Paul kan help. As jy . . . die meisie help, is Paul vry . . . is daar niks wat hom bind nie.”
Hy antwoord nie dadelik nie. Sy gesig is onleesbaar. Sal hy vir haar sê dat die gedagte al heeldag by hom ook spook? Lank bly hy stil, toe sê hy: “My liefste, ek sou my lewe gee as dit Paul sou help en vir jou geluk sou bring. Maar ek kan nie doen wat jy vra nie.”
“Nie eens vir my nie?”
“Nie eens vir jou nie, my hart. Want dit sal nie vir ons geluk bring nie, nie vir jou nie, nie vir Paul nie en nie vir my nie. Maar ek belowe jou vanaand hier dat ek alles in my vermoë sal doen om Paul te help. As daar enige ander uitweg is, enige ander manier, sal ek nie aarsel nie.” Hy sit sy vinger onder haar ken en dwing haar om in sy oë te kyk. “Dit is vir ’n dokter belangriker as vir ’n gewone man om die regte lewensmaat te kies. Ek sal nie toekyk hoe Paul die verkeerde keuse maak as ek iets daaraan kan doen nie. Kom ons gaan slaap. Ek is moeg. En mag die mense vannag almal diep en rustig slaap.”
Hoofstuk 12
Hoofstuk 12
Die Hugo’s het laatmiddag op ’n skroeiwarm dag op Aandrus aangekom. Die Malans was hulle al heeldag te wagte, maar dit was met ’n gevoel van beklemming en angs dat Deborah die groot blou Hudson voor die deur sien stilhou. Sy was so diep bewus van die eenvoud van hulle huisie, van haar pa se kakiebroek en -hemp, die swart wolk wat al dae lank oor sy gesig hang, van haar eie hart wat so swaar en moeisaam klop . . . en van die groot skande en vernedering van die oomblik.
Sy was in die tuin langs die huis toe hulle daar aankom. Sy kon dit nie langer in haar kamer uithou nie en het hierheen gevlug. Sy sien haar ouers na die hek toe stap om hulle te ontmoet en sy weet sy moet ook nader stap. Maar die moed ontbreek haar. Skuldig en beskaamd staan sy hier in die tuin, siek van ontsteltenis net by die gedagte daaraan dat sy Paul se ouers moet ontmoet.
Toe sien sy Paul in die rigting van die tuin aangestap kom en sy haas haar om by hom te kom. Hy druk haar hande styf in syne en vandag is daar nie laggies in die blou oë nie.
“O Paul, ek is so bly jy het gekom. Ek was so bang . . .”
“Dat ek nie sou kom nie? Jy het mos geweet ek sou kom, Debbie,” verwyt hy sag.
“Ek was bang,” herhaal sy. “Jy het nie geskryf nie.”
“Ek is jammer. Ek moes met my pa praat. Dit het nie so maklik gegaan nie.”
“Ek weet.” Haar stem is sag, berouvol. “Ek was so jammer vir jou.” Hy sien die skaduwee op haar gesig, die kommer in die grys oë, die bleek lippe wat bewe. “Paul, ag Paul, wat nou?”
“Nou is ek hier en nou sal alles regkom. Moenie meer hartseer wees nie, Debbie. Ons gaan dadelik trou en ek sal jou hier wegneem.”
“En dan, Paul?” vra sy beangs.
“Ek weet nog nie, Debbie. My ouers is ook hier. Ons sal hoor wat hulle sê.”
Hulle stap na die huis toe. Sy is nie gelukkig nie. Sy is dankbaar, o so dankbaar, dat Paul hier is. Maar sy weet nie wat van hulle moet word nie. As sy die oorsaak moet wees dat Paul se drome en ideale vir die toekoms skipbreuk ly, as sy die res van haar lewe die verwyt moet hê dat sy die meulsteen om Paul se nek is . . . kan hulle dan ooit waarlik gelukkig wees? Sy ouers is al wat hulle kan help. Skielik is sy haastig om hulle te sien en diep in hulle oë te kyk sodat sy kan weet wat hulle dink. In die voorkamer se deur aarsel sy, bewus van die vreemde oë wat so skerp op haar rus. Dan stap sy vasberade saam met Paul vorentoe.
Paul se ma. Hoe baie lyk Paul na haar: dieselfde goue vel, die blonde hare, die mooi gevormde kop, die diepblou oë met die lang, donker wimpers – hy het dit alles by haar geërf. Kan haar oë ook vol lagliggies wees? wonder sy vlugtig. Nou is hulle koel en onvriendelik. Sy hou nie van my nie, dink Debbie verbouereerd. Sy wil nie van my hou nie. Sy verag my. Dis of daar skielik ’n koue wind deur die voorkamer waai en sy kry ’n voorgevoel dat sy dié beker nog tot die laaste bitter druppel sal moet ledig.
Die dokter se hand is warm en sterk, sy oë simpatiek en begrypend. Maar Debbie se mond voel droog en naar en die dokter sien hoe die gevoelige mondjie bewe. Wat ’n kind is sy nog, dink hy vol deernis.
Hulle het koffie gedrink en van Doortjie se lekker beskuit geeet. Hulle het oor die weer gepraat, oor die vaal, verskroeide landerye waarlangs hulle gery het. Die mielies lyk droog, die beeste is maer, alles wag op reën. Maar die gesels wou nie vlot nie, hulle was styf en gespanne, elkeen besig met sy eie ongelukkige gedagtes, elkeen diep onder die besef van die onwerklikheid van die oomblik. Dit is soos ’n toneelstuk waaraan hulle deelneem, ’n goedkoop stukkie melodrama wat hom hier afspeel. Hulle speel almal toneel en hulle is nog nie vertroud met hulle rolle nie. Paul se pa sit op die rusbank, ’n stil, waardige figuur. Hy het ’n sterk, mooi gesig en begrypende oë. Miem Malan is dankbaar vir sy teenwoordigheid. Hy is ’n vriend, voel sy. Hy veroordeel nie. Hy ken die lewe, hy weet wat smart en verdriet is. Sy werk het hom nie hard gemaak nie. Hy sou doen wat hy kon om sowel sy seun as haar dogter te help. Langs hom sit sy vrou. Sy lyk nog so jonk, asof die lewe haar sag en vriendelik behandel het. Sy is ’n baie mooi vrou en is deftig aangetrek. Maar sy lyk nie sag of vriendelik nie. Sy het gekom om vir haar kind te veg. Miem Malan kan goed verstaan hoe sy voel. Haar kind moet ten alle koste gered word. Sy sien neer op ons, verag ons. Dit maak nie saak as die jong meisie meer as haar deel van die skuld moet dra nie, dit maak nie saak as die kind se gevoelige gees fyngemaal word tussen die harde stene van hulle bitterheid en ontevredenheid nie. Dit is haar eie skuld, sal die vrou dink. ’n Meisie moet van beter weet. As sy so min van haarself dink . . . Ek en sy moet omtrent ewe oud wees, dink Miem. Maar ek lyk seker ten minste tien jaar ouer as sy. My hande is grof en vol eelte en ek is al grys.
Maar ’n halwe leeftyd van onselfsugtige, opofferende liefde laat sy spore nie net op hande en in hare nie en dit is na die vrou se edel, sterk gesig wat die dokter kyk. Sy is bang ons sal haar kind seermaak, dink hy. En sy weet sy is magteloos om haar te help. En hy, hy moet eerste aan Paul dink en dan eers aan die meisie. Hy het Tina belowe hy sal alles in sy vermoë doen om Paul te help.
Pieter Malan sit in ’n stoel naby die venster. Hy het nie die moeite gedoen om sy beste klere aan te trek soos hy geweet het sy vrou en dogters wou hê nie. Hy wil nie hê hulle moet dink hy is iets anders as wat hy is nie. Maar sy kakieklere is skoon. Sy gesig is hard en daar lê ’n bitter trek om sy mond. Hy voel vandag arm, en nie net aan wêreldsgoed nie. Hy was altyd in die verlede trots op sy goeie naam.
En dan is daar Debbie en Paul. Debbie, bleek dog skynbaar kalm. Paul, diep ongemaklik maar vasberade. Albei van hulle jonk, onvolwasse en onseker.
Dit is Paul se pa wat eerste die saak wat so na aan almal se hart lê, aanroer.
“Paul,” sê die dokter nou, “wil jy en Deborah nie ’n entjie gaan stap nie? Gaan gesels julle, ons wil sake ook ’n bietjie bespreek.”
Maar Paul weier. Hy lyk ongelukkig en verleë, maar hy bly sit. “Ek sal liewer hier bly, Vader.”
’n Oomblik kyk die dokter en sy seun na mekaar, dan kyk die dokter na Debbie. “Deborah?”
Maar sy skud ook haar kop en fluister: “As Paul bly, bly ek.”
Weer is daar stilte, dan sê Pieter Malan: “Ja, terwyl dit aan hulle te wyte is, is dit beter dat hulle bly. Ons kan maar almal saam die saak bespreek. Dis vir ons ’n bitter dag. Dit help nou nie om doekies om te draai nie – ons dogter het groot skande en verdriet in ons huis gebring. Ek en Deborah se moeder is diep gegrief en bitter teleurgesteld. Ons het nooit vantevore iets gehad om ons oor te skaam nie. Ek hoop julle het gekom om ons te help.”
’n Dowwe rooi gloed styg in Debbie se nek en wange op en verdwyn dan weer stadig om haar nog bleker as voorheen te laat. Paul sit met sy oë op die punte van sy skoene gevestig, sy vingers so styf inmekaargesluit dat die kneukels wit lyk.
Pieter! Pieter! ween dit in Miem Malan se hart. Dis jou dogter, werk saggies met haar.
Vir