Maar Januarie het einde toe gespoed en haar onrus het toegeneem. Dit het steeds groter inspanning van haar geverg om saam met die jolige jong klomp te kuier, om so sorgeloos en opgeruimd soos altyd rond te baljaar sodat die huismense, en veral haar ma, tog niks moet agterkom nie.
In haar hart het die doodse vrees en angs steeds groter geword. En haar verlange na Paul het ook steeds gegroei. Sy verlang so baie na hom; sy verlang gedurig na hom. In die oggend as die dou op die blomme lê, in die warmte van die dag as sy onder die peerboom in die koelte lê en droom, saans as die son ondergaan en die skemering oor die vlaktes kruip. En as die sluiers van die nag die aarde toevou en slegs die flonkerende sterre die duisternis deurdring, word haar verlange onuithoudbaar.
Dit het Februarie geword.
’n Enkele reënbui het die weer ’n dag of twee afgekoel, maar die droogte is nie gebreek nie. Oor ’n paar weke moet sy weer terug Pretoria toe.
Debbie staan teen sononder op die stoep met ’n brief wat sy daardie middag van Paul gekry het. Sy wil alleen wees. En tog is sy bang om alleen te wees, want dan oorweldig haar gedagtes en haar vrees haar weer. Die skaduwees wat rek en aankruip, maak haar neerslagtig.
Die lug, wat heeldag ’n harde, gevoellose staalblou was, word nou ligroos en die wolkvlies aan die westerhemel word ’n diep karmosyn, dan skarlakenrooi en goud en oranje en die sagste pers . . . jakarandabloeisels . . . Paul . . .
Doortjie kom by die voordeur uit.
“Stap saam met my na die koppie toe, Doortjie. Daarvandaan sal dit nog mooier wees.”
Maar Doortjie kan nie saamgaan nie.
“Jammer, Deb, maar ek het belowe om Ouma te help. Ons het vir julle ’n verrassing vir ete. Stap jy maar, die aandete sal nog lank nie klaar wees nie. En kyk sommer vir my part ook!”
Debbie stap alleen die veld in. Meteens beny sy vir Doortjie. Sy is so gelukkig, so seker van haarself, altyd so bedrywig.
Die wêreld is nou aan die brand. ’n Paar oomblikke staan die vlamme teen die hemel, dan vervaag die helder kleure tot sagte tinte. ’n Diep skemering daal oor die aarde neer. Ook die eensaamheid en verlange in haar word dieper, dringender. Sy vat aan Paul se brief in haar sak. Dis nie nodig om dit te lees nie. Sy ken die inhoud van buite. Paul se briefie is opgewek, maar tog so teleurstellend kort. Vandag sou ’n lekker lang brief haar so baie getroos het. Maar Paul is ook altyd besig, gedurig aan die gang. Eers op Hermanus, waar hulle so lekker by die see gekuier het, en nou weer tuis. En binnekort moet Paul Kaap toe gaan. Sy gun hom die lekker vakansie, maar sy verlang so baie na hom. Sy verlang na sy teenwoordigheid, na sy sterk, beskermende arms om haar.
Sy gaan sit op ’n rots en maak sy brief weer oop. “Liefste Debbie.” Liefste Debbie! Solank sy maar sy liefste Debbie bly, is alles nog reg. Maar sy kan nie die verlange in haar stil nie. Sy kan ook nie meer teen die onrus in haar hart, die gevoel van angs en beklemming, stry nie. Sy het die spookgedagtes nog telkens verdryf. Sy wil nie, sy durf nie, sy kon hulle nie hanteer nie. Dae lank, weke lank, het sy nou al teen die aaklige moontlikheid gestry. Sy wou nie, sy kon nie die werklikheid aanvaar nie. As dit moet waar wees, as dit moet waar wees dat sy Paul se kind moet kry . . . En nou kan dit nie meer anders as om waar te wees nie.
Vir die eerste maal konfronteer sy die werklikheid en dis of die wêreld om haar donkerder word. “Here, Liewe Here, dit mag tog nie waar wees nie!”
Haastig staan sy op en stap verder die veld in, gejaagd, asof sy deur vinnig deur die skemering te stap die aaklige gedagtes wat soos bye om haar swerm van haar kan afskud.
Sy het daardie aand al haar vrese, wat nou vir haar werklikheid geword het, teenoor Paul uitgestort en gevra hy moet haar help. Sy weet nie hoe nie, maar sy self is raadop. Kan hy nie kom kuier sodat hulle saam ’n plan kan maak nie? Dit was vir haar bitter swaar om hierdie brief aan Paul te skryf. Sy het gedink wat anders sy kon doen, dalk moes sy maar deurdruk en teruggaan Pretoria toe sonder om vir Paul te laat weet en hom ook nog te ontstel. Daar in die stad sal sy op die een of ander manier geholpe raak, sal niemand weet nie. Maar sy het nie die moed daarvoor nie – sy moet vir Paul laat weet. Sy sal haar ma ook moet sê. En hoe gaan sy dit regkry?
Die tekens van die stryd wat sy nag ná nag alleen moes stry, die angs en onrus wat haar so verteer, het hul spore op haar gelaat. Sy het moeg en lusteloos geword en daar was donker skaduwees onder die grys oë. Baie oggende het dit swaar gegaan om ’n stukkie ontbyt saam met die gesin te eet sodat hulle niks moes agterkom nie. Sy het nie gelukkig of gesond gelyk nie.
Miem Malan het opgemerk dat daar iets is wat haar dogter hinder. Dis maar die ondraaglike hitte, het sy gedink. Dan weer: Debbie is verlief, sy verlang na Paul. Sy onthou self nog die onsekerheid van daardie eerste jong liefde. Sy wens Paul kan ’n bietjie kom kuier. Sy sou graag met hom wil kennis maak. Maar Pieter sal nie daarvan hou nie. Hy dink Deborah is nog ’n kind. Tog, Debbie is byna negentien jaar oud. Byna so oud soos sy was toe sy met Pieter getroud is.
Dis ’n paar dae later en Miem Malan is besig om ’n nuwe rok vir Debbie aan te pas.
“Jy word so maer, Debbie,” sê sy bekommerd terwyl sy na die rok kyk. Sy kan byna haar twee hande om Debbie se middeltjie span. Debbie was altyd fyn en skraal, maar dis of sy nou besig is om weg te kwyn. “Wat is dit, my kind? Voel jy nie lekker nie?”
Debbie het yskoud geword. Toe sy in die spieël kyk, was haar gesig doodsbleek. Maar haar ma het op haar knieë voor haar gestaan, besig met die rok se soom, en het nie gesien hoe ontsteld sy is nie. Ná ’n rukkie kon sy darem kalm antwoord: “Dis seker maar die hitte, Moeder. Daar is niks verkeerd nie.”
“Verlang my dogter terug universiteit toe of is dit maar net die jong dokter na wie sy verlang?” vra sy sag. “Is hy baie gaaf, Debbie? Kan hy nie vir ons kom kuier nie?”
Daar is ’n knop in Debbie se keel. Haar mond voel droog en sy voel tot die dood toe naar. Haar liewe, dierbare, selfopofferende ma. Hoe moet sy vir haar die vreeslike nuus vertel? Is dit hoe sy beloon word vir haar toewyding aan haar gesin? Haar pa, so streng, self so sterk, wat sal hy sê? Hoe sal sy hom ooit weer in die oë kan kyk? Doortjie, wat haar so bewonder, liewe klein Popsie, Ouma . . . Klein en beskaamd sal sy voor hulle staan. Is dit wat die liefde aan ’n mens doen? Jou krag en jou trots vernietig, jou tot in die afgrond verneder?
Sy kyk af in haar ma se vraende oë en weet dat die uur uiteindelik aangebreek het. Die uur waarin sy voor ander sal moet boet vir wat sy gedoen het. En saam met die skande voel sy tegelykertyd ook ’n groot verligting omdat sy die ondraaglike las wat sy alleen moes dra nou met iemand anders kan deel. ’n Oomblik lank sluit sy haar oë. “Here, help my, gee my krag . . .” Dan kyk sy bang maar vasberade in haar ma se onrustige oë en kniel skielik langs haar.
“Moeder,” fluister sy met bewende lippe, smekende oë op haar moeder gerig. “Moeder, ek is in vreeslike groot moeilikheid.”
Mevrou Malan kyk haar dogter verskrik aan. Haar gesig is wit. “Deborah!”
Sy hoor Doortjie in die kamer langsaan beweeg, ’n opgewekte liedjie op haar lippe. Stram, moeisaam, asof alle krag en soepelheid uit haar liggaam verdwyn het, staan sy van haar knieë af op en druk die deur toe. Dan sluit sy dit en gaan stadig terug na haar kind, wat met haar kop teen die kas aangeleun staan asof sy lewensmoeg is.
Debbie, haar dogtertjie, haar groen koring op die land.
In Miem Malan se hart was daar geen twyfel nie. Nie nadat Debbie haar van daardie aand by die Fonteine vertel het nie. Dat dit met Debbie, haar trotse, kieskeurige Debbie, kon gebeur het, was ongelooflik. Maar die bekentenis van Deborah se bleek lippe, die vrees en die angs en skaamte in haar oë, het geen twyfel gelaat nie.
En die swaarste ding wat sy nog ooit moes doen, was om haar man te vertel. Sy sou haar lewe gee om hom die smart en bittere teleurstelling te spaar. Sy weet hoe trots Pieter is. Vir hom sal dit ’n ontsettende skande en vernedering wees, die grootste ramp wat hom kon tref. Die dood sou verkiesliker wees. Maar daar is geen uitweg