Uiteindelik kyk Paul na Debbie. Hy is verleë, maar sy sien die verligting op sy gesig. Hy sien die vraag in haar oë. Moet hy dan besluit? Vir hom staan die deur nou wawyd oop. Maar vir haar? Wat wil sy hê? As hy tog maar net haar gedagtes kan peil.
Debbie sien hoe Paul weifel. Sy sien hy wag vir haar om te praat. En dis vir haar of daar nog ’n deur in haar gesig toegeklap word. Sy sou bereid wees om enige swaarkry saam met Paul te verduur. Maar sy sien nou dis sy wat in die pad is. Dis sy wat verleë is. Dis nie die man nie, dis altyd die vrou. Is dit wat liefde is? Liefde moet opbou, versterk en vertroos. Dit is ware liefde. Maar liefde wat verskeur en seermaak, wat verneder, verwoes en vergruis, so ’n liefde moet ’n vrou uit haar hart ruk en vernietig voor dit háár vernietig. Trou? Waarom moet sy trou? ’n Mens trou net omdat jy mekaar liefhet, omdat jy wil saam wees en saam wil swaarkry, miskien ’n kind saam wil grootmaak. Sy en Paul moet trou om hulle skande te verberg. Soos ’n misdadiger moet sy padgee onder die oë van haar medemens uit, alleen in skande en verdriet haar kind kry en dan, asof daar niks gebeur het nie, weer haar plek in die samelewing inneem. Waarom moet sy trou? As sy soos ’n misdadiger behandel word, laat haar dan ’n misdadiger wees. Sy het ’n wet van die samelewing oortree en sy sal alleen daarvoor boet. Sy wil nie nog ’n meulsteen om Paul Hugo se nek ook wees nie. Sy wil niks verder met hom te doen hê nie. Sy hoor Paul praat, maar sy stem klink veraf en dof.
“Ek weet nie hoe Debbie voel nie. Ek wil graag eers met haar praat.”
“Ek dink Deborah sal seker instem met jou pa se voorstel, Paul,” sê Tina Hugo. Haar stem is soet en strelend, maar Debbie weet dis maar net om die haat en venyn wat sy vir haar voel te verbloem. “Dis sekerlik die beste; dis nie dikwels dat ’n mens gelukkig genoeg is om ’n tweede kans te kry nie. Deborah sal tog nie in jou pad staan nie, Paul. Sy kry die beskerming van jou naam en jou pa sal vir haar sorg. En vyf jaar is nie so vreeslik lank nie.”
Paul skuif ongemaklik op sy stoel rond. Hy wens Tina wil stilbly, sy ontstel Debbie net nog meer. Maar voor hy iets kan sê, praat Debbie. “Ek wil nie meer met Paul trou nie.”
“Deborah!” sê Pieter Malan skerp, asof hy haar uit ’n droom wil wakker skud.
Debbie staan op. “Ek gaan nie met Paul Hugo trou nie.”
In die stilte wat volg, sê die dokter sag: “Waarom nie, Deborah?”
“Waarom moet ek met hom trou as ons nie gaan saamwoon nie? As ons nie die baba kan behou nie?”
“Deborah!” Dis haar pa se stem. Streng. Ontevrede. “Dis nie vir jou om te kies nie. Jy moet die dokter se aanbod met dankbaarheid aanvaar.”
Daar is haat vir haar pa in haar oë. “Dankbaarheid? Waarvoor? Omdat hulle my soos ’n misdadiger wil versteek sodat hulle seun, hulle naam, nie ’n klad op kry of besoedel word nie? Waarvoor moet ek dankbaar wees?”
“Debbie!” Paul Hugo staan voor haar. “Dis nie wat ek dink nie. Dis nie my idee nie. Ek wil met jou trou, jou oppas en beskerm. Maar ek het gedink dis ’n goeie plan. Ek het jou al soveel kwaad aangedoen. Ek wil net doen wat vir jou die beste is. Maar as jy bereid is om met my te trou en saam met my swaar te kry, sal ek alles opoffer.”
Dit is ’n swaar oomblik vir Deborah. Die versoeking is groot. ’n Vlugtige oomblik wonder sy of hul liefde nie miskien nog gered kan word nie, maar Paul se laaste woorde bring haar tot besinning. Sy wil nie hê Paul moet enige opofferings vir haar maak nie. Al het hy haar nou nog lief, sal dié liefde nie lank duur nie. Haar oë het skielik oopgegaan. Sy besef nou dat bitterheid, selfs verwyte, die onvermydelike gevolg van so ’n gedwonge huwelik sal wees, dat die dag miskien gou sal kom dat Paul met haat na haar sal kyk omdat sy hom van soveel beroof het.
Nee, daar is net een uitweg.
Sy skud haar kop.
“Nee, Paul. Ek wil nie jou opofferings hê nie. Gaan maar jou gang. Ek sal nie in die pad staan van jou geluk en sukses in die toekoms nie.”
Paul kyk haar verslae aan. Moet hy haar glo? “Debbie,” sê hy sag, ongelowig. “Het jy my nie lief nie?”
Daar is pyn in sy oë. Vir ’n minuut sluit sy haar eie oë. Sy kan nie meer nie. Hulle moet nou gou maak. Moeg sê sy: “Nee, Paul, ek het jou nie lief nie. Op die oomblik is ek gevoelloos, dood. Later, as ek weer eendag begin voel, sal ek jou seker haat en verag – soos ek myself haat en verag. Nou wens ek net jy wil weggaan, ver weg, sodat ek jou nooit weer sien nie.”
Daar heers stilte, ’n doodse stilte. Paul se gesig is strak en sonder kleur. “Debbie,” sê hy ongelowig.
Maar sy antwoord hom nie.
“As ek dan mag vra, wat is jy van plan om te doen, Deborah? Verwag jy dat ek jou in dié toestand hier by my in die huis moet hou?” Haar pa is woedend. Maar dit raak haar nie.
“Nee, ek verwag dit nie.”
“Waarnatoe sal jy gaan?”
“Ek sal wel ’n plek kry. Daar is tog inrigtings wat meisies soos ek inneem.”
“Deborah!”
Dis ’n uitroep van pyn van haar ma. Die dokter sien dat die jong meisie breekpunt bereik het. Hulle het wreed opgetree, besef hy. Hulle het haar onderskat. Hy moes versigtiger gewees het. Eers met die meisie alleen gepraat het. Hulle het haar beledig en verneder. Tina moes nooit saamgekom het nie. Dis hy wat na haar toe gaan en sy arm om haar sit. Sy mooi, diep stem is kalm en gerusstellend. “Moenie so praat nie, Deborah. Jy weet ons sal na jou kyk. Ons sal nie vandag verder daaroor praat nie, maar ons sal na jou kyk en by jou staan.”
Hy beduie vir Deborah se moeder om haar kamer toe te neem en gaan saam met hulle. In die kamer het hulle haar probeer troos.
Hulle het haar uiteindelik daar in die skemerdonker alleen gelaat en weer binnetoe gegaan.
Dit was donker om haar. Nie net die skemerdonker van die komende nag nie, maar die stikdonker van diepe verlatenheid en sy het gebid dat sy moet doodgaan.
Hoofstuk 13
Hoofstuk 13
Met dokter Hugo se brief in haar hand sit suster Schoombie in die skaduwee van die soetdorings wat so ’n entjie van haar rondawels af staan en waarna die stukkie grond, haar heiligdom, vernoem is.
Dis nog vroeg in die oggend, skaars tienuur, maar sy het alreeds ’n harde dag se werk agter die rug. Van vieruur af was sy al besig met die twee huishulpe en die tuinman wat haar help om die blomme te pluk en te sorteer sodat sy hulle vroeg, wanneer die blomwinkels oopgaan, in die stad kan aflewer. Dankbaar sit sy nou terug in die gemaklike houtstoel wat altyd hier onder die soetdorings wag vir die halfuurtjies tussenin wanneer sy kan ontspan, en wag dat Anna vir haar tee bring.
Haar blik gaan met waardering oor die somerlandskap wat hier voor haar uitgesprei lê. Dit is ’n pragtige gesig wat strek tot daar waar die Magaliesberg blou afgeëts teen die horison lê – ’n panorama wat gedurig wissel soos die son sy goue pad van die ooste na die weste baan. Al is sy hoe moeg, hier kry sy altyd weer krag.
Sy sal nooit vergeet dat sy dit alles aan Chris Hugo te danke het nie.
Sy ken Chris al baie jare lank. Byna dertig jaar. Sy was ’n verpleegster by die hospitaal in Kaapstad waar hy ná sy terugkeer uit Holland ’n jaar lank gewerk het. Hy was arm en het ’n groot studieskuld gehad, maar sy sou haar toekoms met die grootste bereidwilligheid aan hom toevertrou het. Maar Chris het haar nooit gevra om dit te doen nie. Hulle vriendskap was diep en heg, maar hy het nooit met haar oor liefde gepraat nie. Sy het gedink sy verstaan. As hy eendag gevestig is en sy studieskuld afbetaal het, sal hy weer na haar toe kom. Nou is hy te eergevoelig om haar te vra.
Toe hy ’n jaar of twee nadat hy uit die Kaap weg is vir haar van sy huwelik met Tina van Graan skryf, was sy verstom en verslae. En toe sy hoor dat hy met ’n ryk man se dogter getroud is, het haar hartseer en verslaentheid plek gemaak vir bitterheid. Sy was diep teleurgesteld in Chris. Die man wat sy aanbid het, het ook maar voete van klei gehad soos ander mense. En die skok