Hy druk haar hand styf in syne vas.
“Ek hoop jy is reg, Debbie. En as jy my nodig het . . .”
“Dit sal goed gaan, ek is seker dit sal goed gaan.”
“Die Vader gee dat jy reg is.” Hy kyk in haar oë, diep en innig. “Ek het jou lief, Debbie, liewer as ooit vantevore. Ek sal gou maak, so gou ek kan, en jou dan kom haal.”
Die kelnerin bring hulle tee en dankbaar drink hulle dit. Debbie kom agter dat Paul ook kalmer word. Maar sy weet dis ’n ondervinding wat nie een van hulle ooit sal vergeet nie.
Toe hulle uitstap, koop hy vir haar ’n tamaai doos sjokolade en ’n entjie verder by ’n juwelier ’n stringetjie fyn, pragtige pêrels. Daarna het hy haar na ’n groot, deftige plek toe geneem waar hulle geëet het en nou kon sy sien dat Paul hom daarop toespits om die oggend se teleurstelling en vernedering te probeer vergeet en vir haar ook daarvan te laat vergeet sodat hulle laaste paar uurtjies saam gelukkig sal wees.
Die middag het hulle uitgery na die Boksburg-meer, maar die weer het vroeg opgesteek en dit het sommer gou begin reën. Hulle is na ’n teekamer toe waar hulle gesit het totdat dit tyd was om weer te gaan eet. Hulle was alleen en tog ook nie alleen nie. Paul het die meeste van die tyd net haar hand vasgehou en hulle kon nie eens veel gesels nie. ’n Rukkie ná hulle klaar geëet het, moes Paul haar trein toe neem. In die motor het hy haar nog vir oulaas teen hom vasgehou, bang om haar te laat gaan. Sy hart was vol liefde en teerheid vir die jong meisie in sy arms en daar was ’n dringende gebed in sy hart dat niks moet gebeur om Debbie te gou te laat grootword nie, dat sy nie te gou moet agterkom dat daar ook pyn en smart, teleurstelling en bitterheid in die wêreld is nie.
Toe hy haar trein toe neem, het dit nog saggies gereën. Hy het vir haar vrugte en boeke gekoop en haar tasse vir haar weggepak, en nog steeds het hy gevoel hy moet iets doen voor sy vertrek. Maar daar was niks meer wat hy kon doen nie. Hulle was ’n klein rukkie alleen in die kompartement en hy het daar vir haar tot siens gesê. Saggies het hy die ooglede, wat swaar was van die trane, gesoen en toe die warm, lieflike mond.
“Ek kom jou haal,” het hy gesê.
“Ek sal wag,” het sy gefluister.
Hulle kyk ’n lang oomblik in mekaar se oë, toe glimlag Paul effens.
“Jy moet grootword. As ek weer met jou trou, sit jy wragtie nie ’n swart hoed op nie.”
Deur haar trane het sy geglimlag . . . en toe het die eerste van haar reisgenote gekom. Saam het sy en Paul op en af op die perron gestap totdat dit tyd geword het vir die trein om te vertrek.
’n Laaste vinnige omhelsing en die trein is die swart reënnag in terwyl Paul alleen op die perron bly staan.
Hoofstuk 8
Hoofstuk 8
Aandrus, Debbie se pa se plasie, grens aan die dorpie Sandspruit en beslaan nagenoeg dertig morg goeie riviergrond. Pieter Malan was jare lank boekhouer by een van Sandspruit se prokureursfirmas, maar die kantoorwerk was vir hom ’n marteling omdat sy hart maar altyd by boerdery gelê het. Om eendag ’n plaas te besit, al was dit ook hoe klein, en sy eie baas te wees, was die groot strewe van sy lewe. Dis om dié rede dat hy dit nooit so ver gebring het om hom by een van sy base te laat inskryf om self prokureur te word nie. Klein soos sy salaris was, het hy en Miem, sy vrou, hier afgeknyp en daar geplooi om gereeld elke maand ’n bedraggie by die “plaasgeld” te voeg. Toe Aandrus op die mark kom, het hy al sy spaargeld getrek, wat hy kortgekom het by sy werkgewers op verband geleen, en sy boerderytjie aan die gang gesit met ’n paar melkkoeie en varke en hoenders. Die eerste jaar het hy op die dorp bly woon en middae, ná sy kantoorwerk klaar was, op die plaas gewerk tot donker toe. Maar dit het selfs vir hom te veel geword. Toe het hy sy dorpshuis verkoop en met sy familie plaas toe getrek en elke dag sy werk in die dorp gaan doen, want hulle kon nie sonder die bykomende inkomste uitkom nie. Selfs so het dit maar swaar gegaan, want daar was geen einde aan die uitgawes op die plaas nie. Maar dinge was darem beter. Miem kon nou bedags ’n oog oor die boerdery hou en weldra, toe die inkomste uit die plaas bestendig geword het, het hy sy werk op die dorp gelos en al sy aandag aan sy boerdery gewy. Hy het hard gewerk, van smôrens vroeg tot saans laat, somer en winter, maar hy was gelukkig en tevrede.
Miem het in haar man se keuse berus en saam met hom hard gewerk, die pligte van ’n boervrou op haar geneem. Die kinders het van die vryheid en buitelewe gehou en buitendien was hulle so naby die dorp dat hulle niks daarvan gemaak het om heen en weer te stap nie – al het hulle soms in die koue wintermaande baiemaal gemurmureer.
Debbie, byna negentien jaar oud, was die oudste van drie dogters. Dora was sestien en Popsie elf jaar oud. Ouma Coetzee woon ook al tien jaar of meer by hulle in die huis. Byna vandat Debbie kan onthou, was haar ouma daar, een van die huisgesin, en het sy al die lief en leed saam met hulle deurgemaak. Dankbaar en gelukkig om een van hulle familiekringetjie te wees, was sy stil en op haar plek en nooit in iemand se pad nie. Vir haar was die jare van storm en drang verby. Haar kinders was groot, oor die hele land versprei, en sy was die gelukkigste wanneer sy hier by Miem en Pieter se huis was. Miem was haar lieflingsdogter, sy was baie lief vir haar kleindogters en hulle vir haar, en sy het goed oor die weg gekom met haar skoonseun. By haar eie seuns was sy in die pad en haar tweede dogter, Maria, is met ’n Engelsman getroud en in hul Engelsgeoriënteerde huishouding het Ouma heeltemal ontuis gevoel. Maria was nou Mary, en Billy en Carol, haar twee kinders, wesentjies uit ’n ander wêreld. Soos sy ouer geword het, het Ouma maar haar gesondheid voorgehou as die rede waarom sy nie meer so ver kon reis nie en hier gebly het waar sy welkom en tuis gevoel het.
Dis ’n dag of twee voor Kersfees. Op die oostestoepie is Debbie en Ouma besig om die week se wasgoed na te sien en te herstel. Ouma was nooit ledig nie. Die bleek, maer hande met die swaar blou are het altyd beweeg, was altyd besig.
Dis drukkend warm. Die somerhitte hang swaar oor die Wes-Transvaalse dorpie, oor die vlakte en die spruit en die koppies en rantjies. Almal voel lomerig en lui. Ouma lyk ’n bietjie moeg, daar is pêreltjies sweet op haar voorkop, maar kersregop sit sy in haar stoel en vinnig vleg die blink naald in en uit deur die sokkie wat sy stop.
“Ouma kan regtig maar laat staan,” sê Debbie sag. “Daar is nie veel om te doen nie. Ek sal alles gou klaarmaak.”
Maar ’n mens praat verniet. Ouma luister tog nie. Die ou mense kan so onnodig koppig wees. Dis glad nie vir haar nodig om so hard te werk nie. Hulle is almal lief vir haar en wil haar almal help, maar nee, Ouma wil haar plek vol staan en laat niemand toe om werk uit haar hand te neem nie.
Binne slaan die horlosie vieruur. Debbie se ma en Dora is in die kombuis besig om tert en koek vir Kersfees te bak. Doortjie is in haar element. Sy is nooit so gelukkig as wanneer sy in die kombuis besig is om koek te bak en te kook nie. Doortjie wil so dolgraag huishoudkundige word. Maar dis ’n vierjaarkursus. Waar moet die geld vandaan kom? Dis Doortjie se laaste jaar op skool. Sy is nou in matriek, maar waar moet hulle die geld kry om twee dogters tegelyk op universiteit te hou? Dit gaan alreeds so moeilik met die een. Hulle maak heeldag planne – sy en haar ma en Dora – maar die toekoms bly op die oomblik duister. Miskien moet Dora maar eers vir twee jaar gaan werk. As sy, Debbie, eers klaar is en sy het ’n aanstelling gekry, sal sy elke pennie bysit om te help. Sy is so diep dankbaar vir die geleentheid wat sy gekry het om verder te studeer. Sy is nie prakties aangelê soos Dora nie. Haar studie is vir haar alles. In haar geval het dit ook ’n tyd lank gelyk asof sy haar toekomsdrome sou moes laat vaar en maar in die prokureurskantoor sou moes gaan werk nadat sy matriek gemaak het. Debbie weet dis net aan haar ma te danke dat sy haar kans gekry het. Haar pa was baie onwillig om haar weg te stuur. Waarvoor wil sy verder leer? Tye is swaar en sy verband is groot. Hy kan dit nie bekostig nie en buitendien, een van die dae trou sy en dan is al die vreeslike geleerdheid tog onnodig. Maar Debbie het ’n getroue en vasberade kampvegter in haar ma gehad en toe Ouma ook nog bykom en aanbied om al haar universiteitsgeld vir die eerste jaar te betaal, het