“Hey, man, moet daai nie steke kry nie? Kom ons gaan … Dit lyk dan soos messnye!”
“Dis niks nie, fok!” sê sy ongeduldig.
“Jy bloei dan, man?”
“Dis niks nie, sê ek jou mos. Ek sal dit by die huis skoonmaak.”
Dawid wil-wil nog so amper uit ’n bebloede mond protesteer dat hy nie aan die tjerrie geraak het nie, maar dan raak dinge donker en hy’t ook lankal so seer dat hy eintlik maar alte bly is daaroor.
6
Wat de dôner het gebeur, wonder Abraham wanneer hy amper terselfdertyd so drie of vier kilometer daarvandaan dikkop wakker word.
Hy lê op ’n donker hoekie van ’n donker Seepuntse sypaadjie en dis so tjoepstil om hom, jy sal nie glo jy’s drie skrale blokke van ’n groot gekuier af nie. Dis laat, dis nat, die verkeer is so dood jy kan skoon die branders hoor.
’n Stem klink op uit ’n skaduwee: “Wel, jy is immers my vennoot … Ai, man, móét jy so vloek? OK, OK … Okaaay, tot later.”
Op ’n trappie daar anderkant sit die vroumens wat hom vroeër vanaand daar bo in Azulgranás in Regent Road sit en tart het, tog te lekker windgat tussen al haar vriendinne, alte vol grappies met hom wat Abraham is …
Daar’s nou skielik ’n baadjie bo-oor haar, sien Abraham. Dis sý baadjie, sien hy dan, wat de hel …
Hoe de dôner het hy dan nou skielik hier beland en sy dan nou skielik daar, ewe bliksems kontant onder sy baadjie, wonder hy. Moet natuurlik iets met die baas van daai stem in die skaduwees …
Iemand staan skielik van nêrens af nader aan die vroumens, mompel iets vir haar.
“Sharon,” sê sy. “Dis Sharon. En joune?”
Die ou mompel weer iets. “O!” sê sy en klink effens teleurgesteld. “Nee, ek ken hom nie. Hy was nou-nou daar … daar bo in die klub gewees. Hy’t my en my vriendinne lastig geval. As dit nie vir jou was nie …”
“Toemaar, wat. Dit wás nou vir my,” sê die ou. “Hy gaan niks aan jou doen nie.”
Abraham wil lag kry.
Hierdie ou weet nie waarin hy nou getrap het nie! Jy kry hom wat Abraham is net op een manier plat en dis van agter en dan moet jy maar bitter seker maak hy wat Abraham is blý plat.
Of jy’t perde.
“Ai,” sê die ou vir die vroumens, “jy gaan ongelukkig ’n blou oog …”
“Pas-só-ó-ó-óp!” skree sy. “Hy …”
Abraham is nog net drie, vier treë van die ou af, reg om te spring, dan tref iets hom in die krop van sy maag en slaan hom skoon van sy voete af, iets wat hy glad nie sien nie, maar net voel, en wat voel soos agt kilogram staal seker sou voel as iemand jou van nêrens met agt kilogram staal in die krop van jou maag sou moker.
Abraham gryp na sy wind, steier nog agteroor voordat die man behoorlik omswaai en hom teen die bors skop dat hy lê. Sy asem is heeltemal skoonveld en hy dink daar’s ribbes gekraak, dalk selfs sy borsbeen …
’n Paar seemeeue vlieg skreeuend op, hoor hy iewers vandaan.
Uuu-hn … Iets swaai in sy onderkaak vas. Abraham voel hoe die meeste van sy tande met die slag breek. Hy voel hoe sny sy kieste flenters.
Die ou leun oor hom, swaai ’n ronde ding aan ’n lang opgerolde ketting rond. Dit lyk soos agt kilogram staal seker sou lyk as jy dit in ’n bal aan ’n lang, opgerolde ketting sou rondswaai. Hy’t ’n pikkerige, bylerige besigheid in sy ander hand.
“Verskoon my broek sy onbekaktheid!” grinnik die ou vir Abraham, grawe in sy sak rond en kom met ’n sigaret te voorskyn. Hy makeer twee, drie probeerslae om dit aan te steek. Sug ’n skoot, vra: “Nou ja, wat is jou naam?” asof hy ’n amptenaar iewers is.
Abraham kan amper niks van sy gesig uitmaak nie, daarvoor sorg ’n yslike sonbril, ’n breërandhoed, ’n jas en ’n serp om sy nek en ken.
“H-huh?” wonder Abraham hardop, sukkel om die bloed en gebreekte tande uit sy mond gespoeg te kry, want sy tong is te dik. “N-naam?”
“Ja, p-pêl, jou n-naam,” koggel die ou. “Het jy so iets? Of het P-pappa en Mamma daarvan ook vergeet saam met jou o-opvoeding?”
“A-a-abraham …” prewel hy, spoeg dan eers ’n paar tandsplinters en ’n bietjie bloed uit en probeer weer. “A-abraham.”
“Nou toe, A-a-abraham A-abraham, ons sake hierso gaan sommer gou-gou afgehandel wees. Ek hoor net gou een of twee dinge by Sharon, dan’s ek weer by jou. Afgespreek?”
“A-as-seblief,” vra Abraham, “ek …”
“Netnou, A-a-abraham A-abraham, netnou.”
Die ou roep: “Sharon? Wil jy die polisie laat kom?”
“Asseblief,” sê sy.
“Regtig?”
“Ja. Asseblief.”
“Die polisie is al klaar oorwerk en dan moet ons drie nou hier sit en wag tot hulle eendag vir ons kans het, hopelik voor dagbreek … Het hy jou, jy weet …?”
“Wat?”
“Jy weet?”
“Verkrag? Nee, maar,” die vroumens begin huil, “maar hy wóú … ek kan nie …” Dan kry sy beheer oor haarself. “Ek kan nie dat hy ander vroue so … hy’t my geslaan, hy’t my rok geskeur …”
“Ontspan, Sharon, ontspan,” sê die ou en lag so oopbek vir haar. “Wegkom hiermee gaan hy nie wegkom nie! Ons het net opsies oor hóé presies hy nie hiermee gaan wegkom nie.”
“Opsies oor hóé presies hy nie hiermee gaan wegkom nie?”
“Jip. Jy kan kies, dis immers vir jou dat A-a-abraham A-abraham …” die ou draai om en kyk kopskuddend na hom, “dis vir jou wat hy aangerand en moontlik probeer verkrag het …”
“Moontlik! Hy het my rok …!”
“Dis nie eens sy prokureur wat so sal sê nie, Sharon, dis sy aanklaer. Hy hét jou net probéér verkrag. Jy’t ’n blou oog en ’n geskeurde rok, dis al …”
“Wat probeer jy vir my sê?” vra sy, nou al amper kwater as wat sy ontsteld is.
“Ontspan, ontspan,” sê die ou. “Ons is nog net halfpad klaar met Opsie Een. In dié opsie gaan sy prokureur jou ook natuurlik as ’n los vrou uitmaak en vir hom as ’n slagoffer en Sharon, omdat ek ongelukkig g’n plan op aarde het om as getuie op te tree nie, gaan hy waarskynlik daarmee wegkom ook.
“En ás jou getuienis aanvaar en syne verwerp word, is hy oor ses, sewe maande weer uit op straat. En aan wie probeer doen hy dit nou weer volgende?
“Ek is, soos jy seker kan aflei, nou nie alte lief vir die eerste opsie nie,” sê die ou en trek sy skouers met gemaakte weemoed op. “Dis te maklik vir hom en te moeilik vir jou, dis wat ek reken.
“Nou, in Opsie Twee …” praat die man so glad hy laat dit klink na iets wat hy reeds jare lank verkoop.
Dalk ís dit iets wat hy reeds jare lank verkoop, besef Abraham deur die pyn en skrik skielik baie groot.
Het hy nie hoeka al iewers gehoor van so ’n ou … Was daar nie in die koerant …
“Asseblief … a-asseblief,” probeer hy hulle aandag trek. Die ou en die vroumens kyk ’n oomblik amper ongeërg na hom, dan ook nie eens meer nie.
“Watse goed is dit daardie?” vra sy. Sy beduie na die voorwerpe wat hy in albei sy hande vashou. Die staalbal aan die ketting. Die pikkerige, bylerige ding.