Sy sien dis ’n piksteel en ’n skerpgeslypte sekellem en ’n ketting en ’n staalbal, in daai volgorde. Een ding.
“Koesa-wat?”
“Koesarigama. Mý koesarigama,” sê die ou so half trots, “is gemaak op bestelling. Die ketting is ’n bietjie langer en die staal-, mmm, -bal ’n bietjie swaarder as die gewone, maar hy werk lekker so vir my …”
Die vrou snap langsamerhand op hoeveel maniere jy iemand met ’n koesarigama kan seermaak en sy ril sowel gewalg as tevrede.
“Is dit Opsie Twee? Hierdie ding … is dit die ander keuse?” vra sy dan.
“Jip, Sharon, dit lyk my jy’t nogal ’n slim kop op daai skouers van jou. Dis ons tweede opsie … my koesarigama. Ek maak gou-gou seker hy maak nie sommer gou weer ’n vrou seer nie. Opsie nommer twee, einste. Nie dood nie, net lekker eina.”
“Ek weet nie of ek van jou hou en of jy my bang maak nie.”
“Baie mense sê my daai ding, Sharon.”
“Albei, dink ek. Ek hou van jou én jy maak my bang.”
“Dit maak my bly én dit maak my seer, Sharon. Nou hoe nou?”
“Opsie Twee.”
“Wat van Opsie Twee?”
“Ek stem,” sê sy, “vir Opsie Twee.”
“Nou ja, Sharon, ek stel voor jy maak solank spore, anders is jy medepligtig aan ou A-a-abraham A-abraham se vonnis, jy weet, in hierdie tye … pffftt.” Die ou skud sy kop meewarig, blaas dan lank uit van iewers diep af.
Sy kyk Abraham ’n slag, trek haar mond op so ’n suur tuit, maar kry dan ’n sweem simpatie in haar oë.
“Ek sal ’n entjie wegstaan,” sê sy.
“Goeie idee, Sharon, knyp sommer jou oë ook toe.”
“Ek sal my oë toeknyp,” roep sy oor haar skouer vir hom.
“Meneer … meneer-meneer meneer-meneer … meneer-meneer-menéér,” prewel Abraham, half biddend.
“Hou jou ore ook maar toe,” roep die ou agter die vrou aan.
“OK, alles toe,” sê sy.
Abraham besef dis tyd om op sy knieë te gaan en ’n guns te versoek.
“Asseblief, meneer, dit was nie … Dit was nie so …”
“Alles toe?” roep die ou regs oor sy skouer. “Oë, ore?”
Daar’s ’n rukkie stilte.
“Asseblief-meneer-seblief-meneer-seblief-meneer,” vra Abraham, hande voor sy gesig gevou, maar nes hy tot op sy knieë vorder, skop die ou hom met ’n hakskeen teen die kaak dat hy plat agteroor val.
“A-a-abraham A-abraham, ek is ’n kaptein in Kaapstad se Karma-polisie. Nie reg nie, maar geregtigheid!” lag die ou.
Abraham hoor iets soos ’n bries fluit, kyk op en sien die ketting aan die piksteel deur die lig flits, gans te vinnig vir hom om uit die pad te beweeg voordat die staalbal netjies tussen sy dye ontplof en bloed en botter maak van wat flussies nog die oorgrote meerderheid van sy geslagsdele was.
Hy kruip vorentoe, mal van pyn, blind van die bloed en kreupel gekneus.
Sy bene kan nie … kán nie … hy sleep sy onderstel noodgedwonge deur die plas vetterige gemors op die sypaadjie wat vaneffe ’n gewaardeerde deel van sy liggaam was.
“Anderkant toe, A-a-abraham A-abraham, die hoofweg is anderkant toe. Ek is seker daar’s taxi’s hospitaal toe,” spot die man in sy oor.
Toe Sharon terselfdertyd haar ore oopmaak en omdraai, hoor sy ’n dierlike gebulk wat die dooies sou kon wek; sien sy iets wat netnou iemand was deur stukke van ditself beur. Sy knyp onmiddellik weer haar oë toe, druk haar wysvingers in haar ore.
“God!” skree sy. “God, jy’s dan net so erg soos hy!”
“God?” brom hy ergerlik vir haar. “Wat het God hiermee uit te waai? Is ek so erg soos God? Is God so erg soos daai ou? Of soos ek? Wie? Wat?”
Sy timmer met haar vuiste teen sy skouers, gil ’n oomblik en is dan verbyster hoe saggies hy die houe kan stop en ’n hand oor haar mond hou, wil-wil daarna hap, maar bedink haar dan.
“Toemaar wat,” sê die ou. “To-o-oemaar wat. Jy is reg. Ek ís net so gemeen soos hierdie arme vent, ek korrel net baie beter.”
Hy stop haar verskonings en bedankings, jaag haar dan aan terug Regent Road toe en kyk hoe sy drafstap na die klub, verby die kruipende Abraham sonder om vir dié te kyk.
Soos hy wegstap, hoor hy ’n geskreeu uit die restaurant.
Seker die mense wat sien watter pak slae die arme vrou … Hy loop ’n bietjie vinniger, nooit lus om te help verduidelik nie, want as hy die dag sou moes beginne help verduidelik, sal hy moet help verduidelik tot die Oordeelsdag toe.
7
Die atmosfeer in die huurkar raak des te meer somber toe Mike Bonavita weier om stil te hou sodat Joey Bonavita gou-gou ’n dronk tiener in Cavill Avenue kan gaan pakgee. Die kind se sonde was om ’n oomblik effentjies in die pad te kom voor sy maters hom kon help terugsteier op die sypaadjie.
Mike is kalm, maar erg de vieste in vir sy tweelingbroer wat ’n uur tevore hul week in Surfers Paradise aan die Gold Coast van Queensland met drie dae kortgeknip het toe Joey ’n lekker sjampanje-kokaïen-skemer gekroon het deur ’n man by ’n vyfdeverdieping-balkon af te smyt.
Gelukkig was die swembad reg onder die balkon, maar dis deel van die rede hoekom Joey nou so omgekrap is.
Mike weet dat die moeilike klein rooikop langs hom, wat ’n hele twee uur ná hom uit hul oorlede moeder gebore is, dié bui heelpad langs die M1 Pacific na die lughawe buite Brizza sal volhou; te oordeel na ervaring … watwo Brisbane-lughawe, Joey kan de moer in bly al die pad tot in Pappa se Melbourne-kantoor …
Om die waarheid te sê, dink Mike, Joey is amper altyd de moer in, buiten daai tye soos pas nadat hy iemand iewers lelik gedôner het.
’n Oomblik lank oorweeg Mike om om te draai sodat Joey tog maar wel die dronk tiener kan loop uitsorteer, kraak dan hul ou familiegrappie as hulle by die Queenslandse strandoord uitry grootpad toe verby die velkankerkliniek: “Jy seker jy was nie te lank in die son nie?”
Joey vloek binnensmonds, bly stil terwyl Mike met die verkeer terug stad toe worstel deur die voorstede wat als oerwoud was toe hulle as kinders hierheen begin kom het toe hul pa ’n paar eiendomme langs al hierdie myle en myle leë goue strand kom koop het.
Hy praat eers weer ’n halfuur later, toe hy die Hungry Jackteken van ’n vulstasie in die verte sien skyn. “Stop hier,” sê Joey.
“Luister, Boetie,” sê Mike en vat die afdraai. Dalk makeer Joey iets in sy maag. “Jy’t g’n rede om so suur te wees nie. As daar môre weer in een of ander koerant oor al jou ewige kak geskrywe word, praat hulle weer van die ‘berugte Bonavita-broers’. Nie oor Joey Bonavita, immerse aartskont, nie.”
“Fuh juh,” brom Joey.
Mike gaan saam met sy broer die padwinkel binne voordat dié weer amok maak as iemand hom dalk per ongeluk skielik skeef aankyk, of as Joey dalk die idéé kry dat iemand hom dalk per ongeluk skeef aangekyk het.
Terug in die kar hou die hamburger Joey so ’n stuk of vyf minute besig, maar as hy die sportblaaie van die Sunday Courier-Mail oopmaak, spoeg hy só dat Mike ’n klam stukkie kropslaai uit sy oor en krummels vleis en tamatie van die voorruit se binnekant moet vee voor hy weer behoorlik op die M1 Pacific kan konsentreer.
“Die f … die f … die f-f …” Joey is so kwaad dat sy seldsame