Kaapstad Karma-Polisie. Louis de Villiers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louis de Villiers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800276
Скачать книгу
Binne!”

      En dan dieselfde stem: “Whoo-blêrrie-hoo!”

      Daar is deesdae baie mense in Kaapstad wat vir die Bulls skree, tot Allan se konsternasie, en wanneer hy dié mense hoor juig, en ’n klomp WP-oudstryders hoor jou, weet hy Chippa het weer dáái haas kotsenswaardige drie-dansie van hom uitgevoer, daai ene wat hy al doen sedert hulle graadagts was.

      Daai einste besonder on-Bullerige flambojansie het waarskynlik daarvoor gesorg dat Chippa sy Springbokkleure ’n jaar later verwerf het as Allan en Thando, sy twee beste tjommies al sedert destyds.

      “Én julle was natuurlik die regte kleur,” het Chippa laas November geskerts toe hy eindelik ook sy kans gekry het, net voor die drie van hulle ’n skrikbewind in Londen en Parys gelooi het, soos hulle ook al in graad agt begin dink het hulle dalk eendag sou. “Ons wit mense …”

      “Nee, Chippa, jy’t net ’n bietjie stadiger as ons twee ontwikkel. Daai ’n wit ding?” het Thando nog geglimlag.

      Die einste Chippa draf nader na Allan toe, gooi die bal oënskynlik ongeërg vir die doelskop na sy stelskopper, hou sy handpalm boontoe oop in ’n verspotte basketbalstyl en sê in die verbyhardloop vir Allan: “Praat agterna! Ons twee moet darem nou wragtig weer ’n skoot saam kuier, my broer!”

      Allan kan net “Ja-ja-ja, sal” brom en by sy gebomskokte spanmaats gaan staan. “Toe nou,” sê hy. “Ruk julle reg! Daar’s net een punt in dit …”

      ’n Brul oordonder hom.

      “Drie punte,” sug Luandré van den Heever.

      Die dreigende reën bars skielik weer met geweld los.

      “Drie blêrrie punte, allamagtig, man! Luister nou hier …”

      ’n Laaste vlammetjie vuur maak dat die Stormers hul afskop terugwen.

      Die flank Mervyn Rees skéúr in die middelveld op voordat hy, in lyn met die pale, op die kwartlyn gestop word.

      Nog ’n Stormer of drie vat beurte om die bal op te tel en vorentoe te beur en ná die derde ene dit doen, skuif Eddie Windvogel die bal verby Jasper na Allan reg aan sy losskakel se buitekant toe.

      Allan knyp sy oë skrefies teen die reën, maak-maak net of hy effens buitentoe beweeg en sien hoe hul senters hom volg.

      Dertig sekondes voor die eindfluitjie verbyster Allan weer eens die Bulls-driekwarte, trek die aanval reguit, trap nog ’n skoot buitentoe en wip ’n haas perfekte aangee binnetoe vir Mervyn Rees, met ’n yslike gaping voor hom en tien skoon treë doellyn toe.

      Nuweland brom by voorbaat behaaglik.

      4

      Hy’s al twee jaar gelede vort uit die Kaap, effens teësinnig, bygesê, en Chippa van Metzinger se binneste bons behoorlik soos Allan die draai vat bo-om die hartoorplantingshospitaal, onder Duiwelspiek verby, en De Waal Drive op die onderhange daarvan kies.

      “Aaag nou ja,” sê Chippa van Metzinger, “jy speel maar vir ’n ou kak span, maar jy woon darem nog altyd hierso …”

      In ’n poging om sy vriend op te beur, beduie hy met gemaakte drama na die ingedrukte middestad in die kom en na die hawe se honderde liggies in die reën.

      “Is seker so,” beaam Allan September stillerig van agter die stuur.

      “Hoewel, Pretoria is ook nogal mooi. Al daai lang strate. In Oktober. As die jakarandas blom en ons die Curriebeker nogmaals gewen het.”

      Die Stormers-kaptein trek sy skouers op, krul sy mondhoeke af. Swyg. Sien uit die hoek van sy oog ’n gebou met sy eie bakkies en dié van Chippa en Thando wat hul gunsteling-wegneemhoender adverteer. Chippa maak ’n paar vrolike geluide by die aansig, wat Allan net dieper laat frons.

      “Ai tog, Allan, ek trek net jou been. Moet nou nie dat ons ’n kak ou aand hê omdat julle verloor het nie. Was nie jou skuld nie. Weer fokken eens.”

      “Chippa, óns gaan nie ’n kak aand hê nie, ék gaan. En dit wás ook nie mý skuld nie, dit was óns skuld.”

      “Wharra-wharra-wharra. Die hartseerste ding is dat jy daai stront glo wat jy praat. Kom speel vir ons, man. Loftus makeer ’n nuwe Liefling,” lag die groot flank.

      “Ons kom by deesdae, hierso, dankie. Een aanslaan, vandag, dis al.”

      “Ja, maar daai aanslaan gaan altyd van julle Stormers af kom as julle ouens soos arme ou Carlo de Wet op slot aanhou kies. Maar, fokken, áltyd.”

      “Carlo is orraait, man.”

      “Ai, Allan, as mens, já,” trek Chippa sy skouers op. “Carlo is ’n prins. As ’n mens … As ’n slot, egter … soos my oorle pa altyd gesê het: Jy kan versiersuiker en ’n kersie op ’n hondedrol druk en uit volle bors ‘Veels geluk liewe maatjie’ langs dit loop sing, maar daai kak gaan nie sommer maklik sjokoladekoek word in die proses nie.”

      “Hy’s ten minste ’n ordentlike mens. Daai kollega Mauritz van jou …”

      “Ja,” sug Chippa, “toegegee. Ek gaan eerder visvang met Carlo as met Mauritz, maar dan – ek sal waarskynlik nooit met enige van die twee gaan visvang nie. Om saam mee rugby te speel? Mauritz. Met myle. Hy is nou nie van die slimste nie, maar ek het Mauritz se pa al ontmoet en dié is ook nie te waffers nie. Mauritz se vrou is nog blêrrie dommer as wat Mauritz is; ek verbeel my daai kind van hulle het nie ’n kans nie.”

      Soos altyd, grinnik Allan uiteindelik teen sy eie beterwete vir Chippa se brutale humor. “Sjoe,” moedig hy hom aan, “wat is die teenoorgestelde van ewolusie?”

      “Ontwolusie? Jinne, ja, nog so sewe geslagte en die Mauritz-familie begin terug in die bome te klim. Dit tersyde …”

      “Noel was ook nie vandag daar nie,” begin Allan so effens ontdooi en sy verskonings poleer. “Anders het ons julle hierdie keer gehad.”

      “Noel Barends? Ja-a-a, hy’s nie te sleg nie,” erken Chippa na ’n seldsame paar sekondes stilte. Dan: “Maar jy poep dan net op hom, dan trek hy ’n dyspier. Elk geval, genoeg geblêrrie rugby. Waar kuier ons? Waar klub jy deesdae?”

      “Ag, ek gaan loop maar in Langstraat rond. So dan en wan. Ás ek die dag stad toe gaan. Selde. Langstraat is nie rugbywêreld nie. Amper niemand in Langstraat weet wie ek is nie,” sê Allan en begin fokus op een van sy geboorteregte as kind van die Kaap, daai rits regs-links regs-links S-draaie, net voor jy die middestad van De Waal Drive af tref.

      Die aand is goor genoeg en die stad leeg genoeg dat hy maklik in Breestraat geparkeer kry en ’n stemmige duim in die lug druk vir die karoppasser in sy geel reënjas. Chippa, wat drie jaar gelede tydens ’n voorseisoen ’n maand of twee vir ’n Franse tweedeligaklub gaan vuisslaan het, probeer ’n geradbraakte weergawe van dié taal en die Sentraal-Afrikaan glimlag breed.

      Almal hou van Chippa en Chippa hou van almal; hy wat Allan is, wil net ’n slag met blêrrie rus gelaat word. Asseblief en amen.

      Sy moed sak verder in sy skoene toe sy vriend uit Pretoria uitbundig roep: “Kyk, daar sit Wayne!” Hy beduie ’n kort halfblok straataf, na ’n enkeling wat onder ’n sambreel onder ’n balkon probeer om ongeag die weer sy drankie te geniet.

      “Wayne?”

      “Wayne, man! Wayne Duraan. Wayne die karate-attie.”

      “Die Bokke se fiksheid-ou?” sê-vra Allan en sien dan, tot sy verbasing, dat een van Langstraat se uitgedunde clientele op hierdie goor en reënerige aand inderdaad die Springbokke se fiksheidsafrigter is.

      Voor hy Chippa kan vermaan, draf dié koes-koes tussen die stadig bewegende karre in Langstraat deur, sit ’n vinger op sy mond vir die kelnerin en maak dan dat Wayne die helfte van sy bier op die sypaadjietafel mors wanneer hy sy hande oor die man se oë hou en hom vra om te raai wie dit is.

      Wayne spring orent, swaai in die rondte en punt skoon sy vingers, Bruce Lee-styl,