Kaapstad Karma-Polisie. Louis de Villiers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louis de Villiers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800276
Скачать книгу
kuierplekke rond op soek na toeriste, mes in sy baadjiesak en heelaand nog net daarso ook.

      Dit het ’n rukkie terug genadiglik ophou sous, maar die wolke bly swart en vet hang en dit drup steeds deur die balkonne op die sypaadjie.

      Hy koes-koes tussen ’n koeloog-Kongolees met selfoonapparate en ’n middeljarige hippievrou wat beweer sy verkoop tougeknoopte droomvangers, glo iets van Amerikaanse Indiane.

      En kyk waar’t droomvangers Amerikaanse Indiane gebring, meen Dawid; g’n wonder dis ’n straatstalletjie en nie ’n winkelketting in duur sentrums nie.

      Hier en daar doef-doef-doef dit hoopvol uit ’n poeperige klubberigheid.

      Een of twee kroegies probeer, maar dis losieshuispartytjies vir ’n handvol rugsakreisigers, geeneen van hulle kom weer vanaand uit op straat nie.

      Die Kapenaars bly in hul derduisende tuis soos Kapenaars maar maak as drie druppels water iewers naby die Skiereiland val, die slapgat moere.

      Hoe moet hy wat Dawid is dan nou sy kinders kos gee? wonder hy kopskuddend en grinnik vir sy skedelgrappie.

      Die karoppassers beginne berus een-een by ’n vroeë, goedkoop afklok en koek natgereënd in hul geel reflektorbaadjies buite Tapa Me La Boca saam.

      Daar binne weier die mees ervare oorblywende kelner vir die tweede maal sy geesdriftigste tafelklante ’n laaste porsie gorgonzola-en-aspersietertjies en vra of hulle nie dalk eerder ’n koffie met skop vir die pad huis toe wil hê nie.

      Anderkant die straat groet die gekopdoekte modjie die twee dronkerige Skandinawiërs wat oor hul skouers vir haar koebaai waai met hul bekke vol boereworsrol terwyl hulle al etende wegstap in die motreën wat weer begin uitsak het. Sy sit haar geld in ’n plastiek-banksakkie en kyk Dawid so kopskuddend op en af deur.

      Die modjie weet alte goed Dawid sal dit g’n waag nie.

      Sukkel hy met haar, sukkel hy met ’n moerse deel van Moslem-Kaapstad en dis ’n bakleiery wat die meeste manne los as hulle ’n keuse het.

      Die Skandinawiërs is ook veilig solank sy hulle kan sien, beduie sy vir hom deur twee vingers voor haar oë te waai.

      Hulle is in elk geval yslik groot en al hul geld is waarskynlik teen dié tyd al iewers anders uitgesuip, doen Dawid die aftreksomme en maak hom eerder ’n ruk uit die oë.

      Hy’s goed met hierdie storie.

      Sedert hy hier rond werskaf, het die lem nog net een maal vleis geproe en selfs toe hoef dit nie eens te diep te gesteek het nie.

      Dawid verkies om niemand seer te maak nie.

      Eerlikwaar? Hy hou eintlik glad nie daarvan nie.

      Maar daar’s nie werk nie en daar’s nie kos nie, of daar’s kak werk vir kak kos, drie kinders om te voer …

      Komaan, stry – daai welgeskape kinders uit daai ordentlike sosiaal-demokratiese state uit Noord-Europa begin op die verkeerde manier aanloklik te klink, veral met ’n paar doppe in hulle.

      Nou ja, dalk nie vanaand nie.

      Dan sien hy twee uit die gangetjie langs Pedrós kom. Op hul eis en vol grappies, maar hulle kyk nogal fyntjies rond vir ouens soos hy wat Dawid is.

      Kapenaars, duidelik, maar ewe duidelik prooi.

      Sy’t ’n laptop oor een skouer en ’n kitaar oor die ander; hy strompel daar onder ’n amp iewers rond.

      Dawid voel amper sleg hieroor.

      Hy geniet self ’n stukkie musiek en die twee van hulle lyk nie juis ryk nie, maar soos hulle verdwyn in Buitenstraat op, is hy agterna en toe hy sien al om die ander straatlig is geblaas, karoppasser van diens en al, glimlag hy amper.

      Die laaitie sit die amp buite ’n paneelwaentjie neer en drawwe terug ondertoe, seker maar agter nog toerusting aan, en Dawid besluit om nie langer te wag nie. Die laptop is goed genoeg, sy’t sekerlik ’n lekker foon en dalk die stuk of honderd-en-vyftig, tweehonderd vir die aand se jôl.

      En nou’s die tjerrie alleen, gelukkig vir hom.

      Sy begin sukkel skielik in haar jeans in, soek iets en Dawid hoor haar foon hard genoeg lui dat hy sommer van die oorkantste sypaadjie af weet dis ’n rokkel werd.

      Sy knyp die foon tussen haar skouer en haar oor in, vroetel agter ’n sleutel aan.

      Dawid beweeg uit die duisternis uit.

      Mes vorentoe, pols teen sy bors voor hy dit lekker wild in haar rigting swaai om haar te help om die ding in 3D te doen … 3D, D-eeglik, D-adelik, D-uiiidelik.

      Nou ja, nog ’n ding wat die stad en die oerwoud gemeen het, is dat jy nie sommer noodwendig weet waar jou kak volgende vandaan kom nie.

      Die tjerrie kyk Dawid so ’n oomblik aan en hy sê nie eens iets nie, beduie so flits-flits met die mes na haar, maak sy linkerhand oop en beduie sit daai goeters neer, daai laptop, daai kitaar, daai handsak, daai foon ook sommer terwyl ons dan nou besig is …

      Hy swéér hy wou haar nie seermaak nie.

      Sy sê: “Hang gou-gou aan” in die foon en kyk Dawid stip in sy oë. Hy sou dit lank onthou.

      “Ja?” vra sy hom en dis toe dat Dawid beginne skrikkerig raak.

      Maar hy was al hier en hy is al deur hierdie ding en hy beduie met die mes na die teer op die sypaadjie net hier vlak voor hom: “Alles, alles, girltjie, sit alles net hierso neer, jy hoef nie seer te kry nie … Daai handsak sommer ook, wat’s in jou sakke-e-e …

      “… e-e-e-u-u-u-U-U-U-U-rgh,” maak Dawid soos die tjerrie se tekkie sy keel tref.

      Met die tjerrie daar agter aan.

      Sy maak sulke ie-aierige karaterige geluide ook nog, hoor Dawid soos hy agtertoe val, ’n oomblik voor hy sy val met sy regterelmboog stuit en iets iewers hoor kraak, dit nou weer ’n oomblik voordat sy dwarsdeur driehonderd-en-sestig grade in die rondte swaai sonder om te trap en Dawid in die gesig skop dat sy kop ’n keer hop voor dit op die sypaadjie bly lê.

      Sy vis haar foon uit haar broeksak uit, druk ’n knoppie en sê amper vrolik: “Ja?”

      Dawid rol om, reken dis ’n goeie plek om te makeer en begin sypaadjie toe te kruip.

      “Jy weet mos ek voel nie ’n fok wat jy met hulle maak nie!” blaf sy in die foon. “Kap sy kop af, slaan ’n fokken duik daarin, klink ek of ek omgee? Verwurg hom, shit … Vergeet nou vir eers my fokken taalgebruik … Ja … ja … ja, later,” sê sy en maal ’n hak in Dawid se linkerhand in nes hy homself teen ’n winkelvenster probeer orent rem.

      Dan staan sy terug.

      Hy loer oor sy skouer vir haar, oorweeg sy opsies en sien en voel tegelyk hulle is daarmee heen met sy mes in haar hand. “Toe, toe …” beduie sy vir hom, “maak leeg daai fokken sakke …”

      Sy vat Dawid se laaste tweehonderd rand en al sy sigarette; dan slaan sy hom ewe ka-plaks! met die kop tussen die wenkbroue nes hulle albei die laaitie onder op die hoek hoor aankom.

      “Is jy OK?” hoor Dawid die laaitie ’n rukkie later vra. “Is daai ou daarso … is hy OK?”

      “Ja, ja,” antwoord die tjerrie hier reg bokant Dawid, “ek het net gou kom seker maak. Ja-nee, hy’t genoeg gehad vanaand, hierdie ou! Hy’s fokken gelukkig!”

      Onderdeur haar bene sien Dawid hoe pak die laaitie die goed in die paneelwa. Dan voel hy hoe druk sy daai lem teen sy onderste linker-ooglid vas, net mooi sodat hy verstaan net ’n kleiiin ekstra drukseltjie en hy bloei, ’n behoorlike skeppie en hy beter hoop sy regteroog hou die res van sy lewe.

      “Glo my,” sis sy dan saggies vir hom, “glo my, jou vuile stuk stront, jy weet net nie hóé gelukkig jy is nie!”

      Daar’s ’n lang sny aan haar arm, die bloed vloei stadig daaruit deur die skeur in haar hemp. Sy kyk dit so, lek dit dan asof dit lekker is en lek weer. Dan staan