Kaapstad Karma-Polisie. Louis de Villiers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louis de Villiers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800276
Скачать книгу
nogal met Boychie hierso. Die beste jong vaskopstut in die wêreld. Die beste jong binnesenter. En die beste jong losvoorspe- …” begin Flip, maar Eugène maak hom stil met ’n wysvinger teen die bors.

      “Hulle. Is. Nie. Reg. Nie,” stamp Eugène dit vyf maal liggies in Flip in, sodat dié ’n paar spatsels brandewyn-en-Coke op sy das mors, reg langs die blerts tamatiesous van die boereworsrol wat hy op pad verorber het met sy voorkennis van die verpoepte versnaperinge in Nuweland se medialosie.

      Hy beduie skuus vir Flip, kyk dan fronsend na ’n boodskap wat op sy selfoon ingekom het.

      “Euge-hene,” kom loer sy jong vrou, Maya-Marie, van buite af by die losie in. “Die skeidsregter is al op die veld.”

      “Ek beter by die medialosie kom,” sê Flip.

      “Aaag, jy skryf mos nie meer as driehonderd woorde ’n gooi van jy na Vanoggend toe is nie, Flip … jy’s mos nou geelpers!” lag Boychie uitgelate.

      “Euge-hene!” roep Maya-Marie weer, dan bulder Nuweland só dat sy uitgedoof word. Boychie skree iets op Flip, maar hy kan nie hoor nie. Die Bulls is op die veld. Dan ’n harder, langer dreun. Die Stormers duidelik ook.

      Flip beduie hy wil wegkom, maar Eugène vang hom aan die arm. “Luister vir my, ou partner. Kom ek gee vir jou ’n lekker storie: Boychie gaan ’n móérse gat van homself maak as hy daai Drie Musketiers, soos julle almal skryf …”

      “Ag, Eugène, die mense geniet dit. En hulle is wel mekaar se beste vriende sedert …”

      “Ja, jirre, sedert hulle beginne skuim pis het. Ken ek nie die hele ou storie nie. Maar kom ek sê nou vir jou …”

      “Los vir Flip,” sê Boychie. “Hy weet darem drie goed van rugby. Hy weet Van Metzinger, September en Mkhaliphi … Boeta-a-a! Flip weet hulle is dôners goed.”

      Flip begin groet, maar Eugène hou hom vas aan sy skouer: “September, neuroties. Daai ou fokken pa van hom …”

      “Ek dag dan julle is sulke gelukkige mede-ondervoorsitters van Wynland, Gene?” probeer Flip keer en beduie oor sy skouer met sy kop na Oom Knuckles.

      Eugène sien dit nie of gee nie om nie: “Póéppphol van ’n pa. En Van Metzinger, hy’s ’n lopende geelkaart. Mkhaliphi? Hy was dan vanoggend net-net orraait teen watsenaam, Lewis? Natuilagilagi sal maalvleis van hom maak. Skryf, skryf! Skryf dít nou ’n slag!”

      Van buite kom die klank van meer as veertigduisend opgewonde mense. En dit hou aan kom.

      Flip skiet vinnig deur toe om verby die losiesitplekke te sien wat die brul veroorsaak het, maar hy’s net betyds om Allan September, die Stormers se binnesenter en kaptein, die bal onder die pale te sien neersit.

      “Wat het gebeur?” vra hy vir Boychie van Heerden, wat ook nog in die deur staan.

      “Onderskep-drie! Ek sê jou mos!” skree Boychie vir hom bokant die jubelende skare.

      Flip sê haastig totsiens, fluister: “September het gedruk …” vir Eugène waar hy op sy selfoon gesels. Eugène waai met ’n strak gesig vir hom. Wat die Stormers aanvang, kan hom vir eers minder skeel.

      Eugène het erger ergernisse.

      Iemand het ’n boot gestrand.

      Iemand anders het ’n moerse klomp geld verloor en dié man gaan de bliksem in wees. Eugène bang min of meer twee of drie mense op hierdie aarde en die de-bliksem-in-man is een van hulle se seun.

      Iewers is ’n klomp ou koeie besig om hul pad uit die sloot uit te skop, as niemand hulle dan daar gaan kom uitgrawe nie.

      Eugène weet hy’s nie lus vir wat kom nie.

      Hy hou van gas gee, Eugène, maar hy’s minder gretig om gas gegee te word. En groot gas is sy kant toe op pad.

      Hy skud sy kop, stoot sy hare deur sy kuif, vind sy pad terug na die sitplekke buite.

      Oom Knuckles het in sy stoel aan die slaap geraak.

      “Gee gas, Oom Knuckles,” sê Eugène. Ek kan nou nie juis nie, dink hy.

      3

      Weet jy as die voorspelers grond toe gaan in ’n eersterangse rugbywedstryd en jy hulle nie meer van die kant af behoorlik van mekaar kan onderskei nie, bliksem hulle amper altyd daar iéwers onder vir mekaar, of probeer ten minste bliksem?

      Waarskynlik nie.

      Jy dink waarskynlik dis iets soos jou weeklikse gholfwedstryd met kontak en ’n moerse hoop geld, mededingendheid, lekker yskoue bier agterna …

      Jy’t nie die vaagste benul nie.

      Hulle moer mekaar daar onder in die duisternis, móér mekaar; verdien natúúrlik meer, op ’n slegter manier, as jou basies gemiddelde kinderdokter hiervoor ook, maar dan weer: Hulle verdien dit darem veel eerbaarder as jou basies gemiddelde aandelemakelaar of bankier, en hulle verdien nou weer veel minder as dié ook.

      Kakker en ryker mense as kinderartse, beter en armer mense as aandelemakelaars of bankiers, dis beroepsrugbyspelers gemiddeld vir jou.

      Ewenwel, hulle moer mekaar aanmekaar. Moet maar.

      Hoe harder en fyner hulle mekaar moer, hoe sagter en groter die teddiebere wat hulle vir hul kinders kan bekostig.

      As jy egter daai manne vra wát daar is van hul gemiddelde werk-Saterdag wat niemand anderkant die kantlyn ooit rêrig sal verstaan nie, grinnik die meeste van hulle en gee dieselfde antwoord.

      Die moegheid.

      Dis die eerste ding wat jy langs die kantlyn nie sommer kop of ooit sal kán kop nie.

      Dôner, jy raak móég daar binne.

      Verskriklik moeg.

      Jy kan bulte uitdraf en jy kan roeimasjiene breek, maar jy’s nóóit rêrig heeltemal fiks genoeg vir tagtig minute se rugby saam met die groothonde nie, selfs al ís jy self ’n superfikse rugby-groothond.

      Allan September is einste een van dié – ’n superfikse rugby-groothond – en hy staan, ná ’n uur teen die Bulls, op Nuweland se suidpawiljoen-kwartlyn, hande op sy knieë.

      Allan probeer sy asem herwin.

      Dis min of meer maak of breek hierso vandag, dis die gatkant van die Super14 en die Stormers loop op een of ander manier voor teen die Bulls op Nuweland. Maar daar is nog twintig minute speeltyd oor en die reën het weer opgehou.

      Een of ander manier voor?

      Dis grotendeels danksy Allan se skopskoen en een van sy kenmerkende onderskep-drieë, maar ’n belowende twaalfpunt-voorsprong met rustyd het intussen tot vier gekrimp en die Pretorianers het hul vertroue herwin, met ’n noordwester nou boonop ook nog in hul blaaie.

      Aan die moegheid is Allan al op ’n manier gewoond, maar hy verwonder hom steeds dikwels aan hoe eensaam hy kan raak saam met veertien ouens wat sy vriende is en boonop min of meer luister na wat hy sê. Hoe eensaam hy kan raak tussen iets oor die veertigduisend mense wat almal duim vashou sy span …

      Of dan, ook nie heeltemal veertigduisend nie, want jare lange gesukkel op die veld en middelmatige bemarking in die Kaap het reeds vir ’n stywe kwota manteldraaiers gesorg. Daar is deesdae ’n klomp Kapenaars wat vir die Bulls skree.

      Staatsdienspakkette het boonop ’n hele tros Pretorianers hier laat beland waar hulle die plaaslike rugbyspan kan kom sit en uitjou en daar is, derhalwe, ’n goeie stuk of tienduisend hier wat ’n ander antwoord het op die grootste vraag in Suid-Afrikaanse provinsiale rugby: kies jy Allan-hulle of kies jy die Bulls?

      Die kwessie kook weer ’n skoot op die pawiljoene oor wanneer die nuwe Stormers-losskakel die bal aanslaan weens een of twee blakend onkant losvoorspelers van die Pretorianers.

      Die skeidsregter gee ’n skrum vir die besoekers.

      Nuweland boe.

      Ekskuus.