Die velsakke word vol water gemaak. Met dankbaarheid haal Bavaria die groot velsak, gemaak van ’n enkele slagding, van sy haak af. Poutjie en Nakkie het die vel sag gelooi, en daarin hou sy die meel wat die Namavrouens vir haar fyngemaal het. Vir oulaas bak sy brood in die miershoopoond vir die reis. Sy maak ook ’n klompie vetkoeke.
Terwyl Jakob vort is om die troppie skaap te gaan haal, hardloop Bavaria na Nakkie en Poutjie toe om te sê van die weggaan.
Nakkie roep haar eenkant. “Iganma, wag, ek het ietsietjie vir jou. Uit ’n stukkie olien uitgekerwe. Vat dit saam – dis ’n onthou vir jou twee kjinnertjies wat daar oorkant lê.”
Sy loop die skemer matjieshuis in en kom sit dan iets in Bavaria se hande. ’n Klein houtbeeldjie, aan die een kant ’n seuntjie, aan die ander kant ’n dogtertjie. Bavaria draai dit om en om. Nou die een, dan die ander. Vir altyd saam. Soos in die harde aarde van Droëdap.
Sy druk dit teen haar lippe. “Dankie, Nakkie, ek sal dit altyd en altyd by my hou.”
Poutjie is hartseer. Sy buk af, druk haar kop teen die grond en soen Bavaria se skaduwee. Klein Boompie. “Aai, aai, Iganma. Onse harte bloei.”
“Hoeka lankal geweet julle sal moet geepad,” sê Nakkie. “As die reën nie kom reën nie, is dit net ’n Namamens wat dit hier kan uithou. Ons weet van gorras grou en uit die veld uit leef.”
“Ek sal julle nooit vergeet nie,” groet Bavaria. Betraand hou sy al twee se klein handjies vas.
Later die aand, hul laaste aand op Droëdap, sit hulle met hul Bybels. Vra God om saam met hulle te trek. Hulle kinders se name is nie in die Bybels ingeskryf soos dit die gewoonte is nie. Kobus en Elna is ook nooit gedoop nie.
“Jakob,” sê Bavaria versigtig, “voor ons môre hier weggaan, skryf asseblief die name van ons kinders in my Bybel.”
In die benoude sinkvertrek met die kers wat al laag brand, gaan haal Jakob Brandt die veerpen en die potjie ink. Hy skryf langsaam en netjies, dun op en dik af: Kobus Brandt en Elna Brandt, met hul geboortedatums en sterfdatums daarneffens. Hy hou die Bybel oop tot die ink droog is.
Die volgende oggend is daar weinig om nog te pak. Saam tel hulle die katel aan sy houthandvatsels op en laai dit op die kar, verlig dat dit op ’n manier inpas. Die riempies van die mat het deur die jare geel geword en is op plekke gelas. Bavaria het die matrassak met vars strooi gevul en sit dit bo-op die katel.
Om die hoeke van die sinkhuis waai ’n droewige ooswind toe die donkies in die pad val, en stof warrel oor die koppie waar die twee grondgraffies lê toe sy vir oulaas omkyk. ’n Paar bolletjies van die dieprooi tjienkerientjees is al wat sy uit die Namakwalandse grond met haar saamvat.
Huil durf sy nie. Alles wat sy voel, is diep in haar hart weggebêre. Haar ma het ammelee gesê: “Jy het tien vingers, maar as jy een van hulle verloor, pyn dit en mis jy dit vir die res van jou lewe. Jou kinders is soos jou vingers.”
Met leë hande het ons hier aangekom, dink Bavaria, en met leë hande vertrek ons. Dorre mense uit ’n dor land. Het God hulle vervloek? Waaroor tog? Leeg trek sy nou na nog ’n onbekende wêreld.
Langs haar sit Jakob swygsaam soos altyd. Stomgeslaan deur sy mislukkings, maar te trots om sy gevoelens te wys. Sy koue aangesig is sy enigste verweer.
Die Namavrouens het die hoefslae van die donkies gehoor en uitgekom. Saam met die kinders staan hulle voor die matjieshuise, party nog met slaapkarosse om, en waai met hul arms in die koel oggendlug.
Bavaria leun agteroor in die kar en stut haar kop teen die verebed wat sy opgerol agter haar ingeskuif het. Haar werkverweerde hande lê stil in haar skoot. Daar is nie ’n kind om vas te hou nie. Sy hou ook nie haar man se hand in hare nie. As sy net ’n klein gebaar van toegeneentheid kon ondervind, hoeveel draagliker sou alles nie wees nie.
Sy loer ongemerk vanuit haar kappie se tuit na Jakob. Sy digte rooi hare lyk asof hulle gloei, maar grys strepe wys daarin, al is hy maar vier en dertig.
Hulle vorder stadig deur die klipperige gebied; agter hulle slaan die bruin stof van Namakwaland op. Dis ’n lang pad voor hulle die grootpad bereik, waar hulle noord moet draai.
Op die middag span hulle uit en lê in die kar se skaduwee.
Later, toe hulle naby die kruising kom, waag Bavaria om te sê: “Pa en Ma raak oud, en jou ma en pa ook. Dink jy nie ons moet maar suid draai nie?”
“Terug Sandveld toe om daar te gaan vrek? Ek is nie ’n visserman soos jou pa nie. Ons gaan kopermyne toe.”
By die kruising staan daar, so onverwags soos ’n opgeefsel in die woestyn, ’n groengeverfde smouswaentjie. ’n Diep vrouestem roep hard, en iemand wuif. Kan dit wees . . . ? Dolly Gold en haar dogter!
Dolly kan nie ophou praat van opgewondenheid nie. Sy sien hulle kar is gepak, gaan hulle terug Sandveld toe?
“Nee, noord, kopermyne toe,” sê Jakob.
Dolly se gesig raak ernstig. Sy meet haar woorde versigtig af.
“Die myne is vol van die Englander, hulle kom van Wales en Cornwall. Hulle vat nie maklik Boere in. Hulle skiet dinamiet en hulle vertrou net hulle eie mens. Dis baie swaar om werk te kry daar bo. Die beestesiekte en die droogte het alles doodgemaak . . . Daar is niks oor.”
Die ouer vrou sien die droefheid op Bavaria se gesig. En die eensaamheid. “Hierdie nag span julle uit by ons,” sê sy. “Ons het genoeg koffie en vleis, en Gerty sal brood maak.”
Gerty het haar ma se gawe van takt geërf, en die vermoë om ander se gevoelens in hul oë te lees. Sy vat Bavaria aan die arm.
“Die myne is nie plek vir vrouens, Bavaria. Gaan suid. Jy moet na jou mense toe gaan. Die Torah sê jou eie woonplek is beter as die koringlande van vreemdes.”
Bavaria dink: Dis soos ’n bestiering van die Here. As Jakob net wil besluit om huis toe te gaan. Sy kan hom nie self weer vra nie, maar Dolly en Gerty kan reguit praat. Dalk luister hy.
Toe hulle die aand klaarmaak om te gaan slaap, praat Jakob einde ten laaste.
“Miskien is dit dan tog maar beter suidekant toe, as die mynbase dan nou net die Engelse wil vat. Oor my dooie liggaam werk ek vir ’n Rooinek.”
Bavaria hou haar stem gelyk. “Ja, Jakob.”
By die vuur gesels Dolly en Gerty nog.
Later hoor Bavaria weer die mandolien en die twee vrouens se liedere. Vreemde musiek, gelukkig en droewig tegelyk, dink sy. Lank lê en staar sy in die helder, maanverligte naghemel. Tot die moegheid haar oorval en alles uitdoof.
Vroeg die volgende môre, toe Dolly en Gerty groet, fluister Bavaria: “Jakob het gesê ons gaan suid.”
“Ei, jy glimlag!” sê Gerty.
Dolly knik tevrede. “Jy lyk beter. ’n Hele biseleh beter. En nog steeds so mooi.”
Sy kyk op in die hemel, sag verlig deur die oggendgloed. “Die hele wêreld is ons huis. Ag, dis so mooi as die dag nuut begin.”
Vir Bavaria lyk dit of dié twee vrouens altyd met alles in die lewe opgedaan is, of niks hulle sal onderkry nie.
As afskeidsgeskenk kry sy weer ’n sakkie heerboontjies. “Daar uit jou eie wêreld uit!” lag Dolly.
Toe die kar suid draai, begin Bavaria vir die eerste keer in ’n baie lang tyd ’n liedjie neurie, haar stem half ongewoon in haar ore.
Later sê Jakob: “Die Jorevrou het my ’n plan gegee. Ons moet die heerboontjies plant. Dan, as sy weer verbykom met haar smouswa, kan ek hulle aan haar verkwansel. Ek kan hulle ook in die groot winkel op Piketberg loop verkoop. Ek gaan eietyd plant as ons op Oufontein aankom.”
Asof met nuwe moed vervul por hy die donkies aan met ’n klap van die karwats.
Maar