Jakob aanvaar die aanbod met ’n knik. Dis ’n uitkomste. Van Niekerk stuur ’n drywer met ’n span donkies om die wa te kom haal.
Droëdap lê weggesteek in ’n vallei bo in die Kamiesberge. ’n Aanmekaargelapte skuiling van ’n huis word aan hulle toegesê. Dit lê ’n entjie van die plaashuis af, met ’n kookskerm van t’nouroebosse gepak. Die huisie van sinkplaat is vensterloos – ’n ware hel in die Namakwalandse middagson. Daar is ’n boorgat met brakwater ’n halfmyl verder en ’n sinkbad om hulle in te was. Vir water gaan haal gebruik hulle ’n donkie.
Drinkwater kom uit die watertenk van die plaashuis en Bavaria dra dit aan in ’n klein erdekruik. Daagliks word sy gewaarsku: “Water is skaars. Wees spaarsamig daarmee.” Soms staar sy na die koppie water in haar hand voor sy dit drink, asof dit enige oomblik voor haar oë kan verdwyn.
Saterdagaande bad hulle. Eers Jakob, dan Bavaria. ’n Duim of twee water in die badjie, ’n waslap en ’n steentjie boerseep. Met ’n ligter gemoed oor die weelde van skoon voel, sê sy teenoor Jakob: “Nou is ek gereed vir die Here se dag.”
Sy neem haar Bybel met sy lapoortreksel, ’n geskenk van haar ma toe sy aangeneem is, en vra Jakob om ’n stukkie te lees in die skemer. Terwyl hy lees, dink sy daaraan dat ’n vrou aan haar man gehoorsaam moet wees. Die Bybel sê so. Haar ma sê so. Maar . . . haar ma het vir Knud Pedersen.
Ná Jakob die Bybel toegemaak het, sit hulle nog ’n lang ruk buitekant. Vir Bavaria is dit mooi om te kyk na die motte wat rondvlieg, heeltemal ander motte as dié wat sy in die Sandveld geken het. Hierdie motte is uitsonderlik groot en pragtig, ’n sagte perlemoenkleur, met ’n kring op elke vlerk. Amper soos ’n oog van helder glas wat daar ingelê is. Hulle lyk soos borsspelde, dink sy.
Elke aand wag sy op hulle, soos ’n vrou wat uitsien na mooi juwele. Soms kom sit ’n mot op haar hand, of draai om haar as sy stil bly sit. My glasmotte, noem sy hulle in haar enigheid.
Dis ’n wêreld van stilte wat hulle nou bewoon. Alles is stil. Hier hoog op in die berge is die sterre so helder en so laag dat dit voel of sy daaraan kan vat. Op Oufontein in die Sandveld skyn dieselfde sterre nou op haar ma en pa en broers en susters, waar hulle ook al is. Op see of op die rivier, of by die vlei waar hulle vis braai. In haar gedagtes sien sy die vure vlam voor elke huis met sy jettie, elke gesin bymekaar. Haar mond water vir ’n lekker vet vismootjie.
Bedags pas Jakob die skape en bokke in die koppies op. Bavaria vee die misvloer van hulle sinkplaathuis, en sy vryf Piet van Niekerk se klere uit op die wasplaat. Dis ’n ewige stryd met die brakwater wat nie wil skuim nie.
Dis vir haar kompleet of die insekte en kleiner diere by haar onderdak soek. Miere kruip oornag in enigiets met water in, skerpioene kruip onder die biesiematte weg en slange soek skuiling van die lug buite wat soos ’n vuuroond is. Soms glip hulle onder die bed in.
Sy moes leer om nie te skree of vrees te wys nie en Jakob bedaard te vra om die slang uit te kry. Want hy is gou om te kla as sy skree. Dis nie goed vir sy hart nie, sê hy, sy rooi wenkbroue vererg saamgetrek.
Op ’n dag rys ’n groot koperkapel regop toe Bavaria die onderdeur oopmaak. Sy spring agteruit en slaan die deur toe, haar hele lyf bewe van skrik. Toe hol sy gillend na die Namas toe wat hoër op teen die hang van die koppie bly.
“Kom maak dood die slang!”
“Nee, nee, tog, nôientjie, ons moet hom nie doodmaak nie. Die slang-goed is ’n annerlike goete, hy bring groot ongeluk. Hy’t altoos ’n maat, en die maat gaat hom kom soek. Snags kom hy bo-oor die onderdeur en innie huis in. Ons sal onse mans-goed laat roep. Hulle pelielie hom so, pelielie hom so met ’n stok en werk hom suutjies uit.”
Maar Jakob, wat nie ver was nie, het die geskreeu gehoor. Hy staan reeds gereed met ’n graaf in sy hande.
“Moenie hom doodmaak nie!” roep Bavaria.
“Vir wat nie?”
“Hulle sê dit bring ongeluk oor ’n mens. Sy maat gaan hom kom soek.”
’n Snork van Jakob was al antwoord. Binne oomblikke was die slang dood. Jakob het hom oor die kookskerm gehang sodat almal kon kom kyk hoe groot die koperkapel was.
Toe het hy hom afgeslag, die vel laat droog en dit oor die rug van die ou lemoenhoutriempiestoel in hulle sinkkaia gehang. Daar het dit Bavaria elke dag herinner aan die ongeluk wat hulle sou agtervolg, nes die dooie slang se maat hom sou kom soek.
Jakob en Bavaria het nooit kerk toe gegaan van Droëdap af nie. Piet van Niekerk het alleen ingery Kamieskroon toe. Die Brandts moes plaas oppas.
Kort ná hulle aankoms op Droëdap het Bavaria ’n brief vir haar ma geskryf en gevra dat Piet dit op die dorp pos. Haar ma het gou geantwoord, en sy skryf elke paar maande ’n slag, maar Bavaria skryf min terug. Sy voel te sleg om elke keer by Piet ’n seël en koevert te vra.
Dis ’n afgesonderde lewe in die sinkhuisie op die plaas. Aan die einde van elke hittige dag soek hulle lafenis in die skaduwee van ’n allenige olienhout tot die koeler naglug kom. Die bokke en soms ook wildsbokke wat aan die boom kom vreet, hou dit onderlangs netjies gesnoei. Bolangs het dit uitgesprei sodat dit ’n ruim skaduwee gooi, al is die kroon maar taamlik kort bo die klipperige grond.
Een Sondag kom ’n vreemde groengeverfde waentjie op die werf aan. Onder dieselfde olien word daar oordag tuie afgegooi. Bavaria het hulle van ver af gehoor: twee vrouens wat lag en gesels terwyl hulle uitspan en die muile kniehalter. Maar sy is te beskroomd om uit te gaan; sy is skaars meer mense gewoond. Jakob se gesig bly sonder uitdrukking. Hy kyk kwalik in die rigting van die vreemdelinge.
Laatmiddag, toe Piet Droëdap terugkom, hoor sy hom met die vrouens gesels. Hartlik, asof hulle mekaar ken.
Toe Bavaria die volgende môre die plaashuis gaan skoonmaak, hoor sy ’n vrolike gelag. Piet is op die stoep saam met die twee vrouens. Hul lang hare is dig en swart, hul gelaatskleur soel. Donker oë al twee, die mond en neus sterk gevorm. En hoewel hulle lywig is, beweeg hulle gemaklik.
“Bavaria,” sê Piet, “dis Dolly Gold en haar dogter Gerty. Hulle is smouse en ou kennisse van my. Jy moet kom kyk na hulle negosiegoed. Maar sit eers vir ons ’n trekseltjie koffie op.”
Die twee vrouens sou in Bavaria se herinnering vassteek soos ’n vreemde droom. Hulle was vir haar byna soos mans, ten spyte van die helderkleurige tjalies wat hulle oor donker bogoed en skirts gedra het. Sy het hulle nooit sonder ’n sigaret in die mond gesien nie, of sonder dat een ’n sigaret aan ’t rol was nie.
“Ons waentjie is vol, hoor, jy moet kom kyk,” sê Dolly. “Ons is nou op pad noorde toe, myne toe. As ons nie terug is, nog in dié maand, dan los my man vir my.”
Maar sy lag kliphard en gee vir Piet ’n hou op die rug. Haar gesig straal van lewenslus. Sy is kort, maar haar ronde boesem en haar lewendige geaardheid laat haar groot lyk.
Daar word nuus uitgeruil en gelag. Bavaria kyk verstom hoe Dolly ’n hand uitsteek om Piet Droëdap se hare deurmekaar te woel asof sy met ’n kind te doen het. Hy toring oor die twee vrouens. Sy twee groot hande vat byna rondom Gerty se middel toe hy haar optel en speels rondswaai.
Dié vriendskap, so ongekend vir Bavaria, laat haar ongemaklik voel. Terselfdertyd roer dit aan die pynlike verlange in haar.
Piet gaan haal ’n stuk wildsbiltong en sny dit met sy knipmes in plakkies voor hy dit vir die vrouens gee. Binne-in is dit nog klam, maar dis soos hulle van hul biltong hou, stem almal saam.
Toe hulle klaar is met die koffie, gaan haal Gerty die toegewoelde negosie van die wa af. Sy maak dit oop op ’n bank. Daar is ’n kissie met vakkies vir Hollandse medisyne vir enige krankement – vir die lewer, die maag, die niere, vir omtrent elke kwint en kwaal, en almal met wonderlike name. Party daarvan ken Bavaria: duiwelsdrek, wonderkroon, witdulsies, haarlemensis, staaldruppels, versterkdruppels, rooilaventel. En jamaikagemmer – wat haar ma altyd vir hulle gegee het vir maagpyn. Borsdruppels op ’n teelepeltjie suiker vir ’n knaende hoes . . . Bavaria se oë brand, sy voel haar ma se warm hande op haar voorkop.