Daar was almaardeur trawalle tussen hom en sy broer en suster. Hulle het vir hom gelag toe hy weggeloop het kopermyne toe, en toe hy soos die Verlore Seun terugkom sonder fortuin, het hulle hom éérs uitgelag. Hy het die gelag stopgesit: met sy pa se langsweep het hy hulle die veld ingejaag. Met klapknalle van die sweep het hy woedend na hulle geslaan. Hulle het skreeuend uitmekaargespat en nooit weer vir hom gelag nie. Maar ook nooit weer regtig met hom gepraat nie.
Die jaar was nog nie om nie, toe moet Bavaria vir Elna help om ’n baba-uitset te maak. ’n Ou laken en ’n verslete flennienaghemp moes as materiaal dien. Met flitsende naalde sit die twee susters by die kombuistafel die klein baadjietjies en naghempies en maak. Meesal in stilte.
Dan laat sak Elna haar naaldwerkie op haar skoot. “Sussie, Jakob is ’n harde man,” sê sy saggies, asof bang dat iemand kan hoor. “Nou nog, terwyl ek al so groot is, moet ek nog kos lande toe aandra, al steek die son ook hoe. Jakob wil nie hier kom eet nie. Ek moet heeldag skrop en skrop, al is alles silwerskoon. Jakob het net nooit vrede nie.”
Bavaria doen haar bes om haar suster se werklas ligter te maak in die laaste maande van haar swangerskap. Maar Jakob mag nooit uitvind dat dit sy was wat die vloer gesmeer het nie, wat die vars koeimis met klei gemeng en osbloed ingewerk het om die kleur reg te kry, wat oplaas nog die droë perskepitte ingedruk het. Ter wille van Elna het sy die perskepitte in ’n blompatroon gerangskik sodat sy op iets moois kon staan as sy uit haar bed klim.
Die laaste maand voor die geboorte beweeg Elna met moeite; sy is uitermate opgeswel. Een aand sit Bavaria langs haar en naaldwerk doen, terwyl Jakob uit is om valstrikke te stel vir die otters wat hul eende vang. Sweetdruppels glinster op Elna se voorkop. Die sproetjies op haar neus staan donker uit teen haar bleek gelaat, en Bavaria vee haar gesig met ’n klam lap af soos mens met ’n kind sal doen.
Later gaan Elna rus op die bed. Toe Bavaria dink sy slaap nou, staan sy op om te loop, maar haar suster roep: “Nee, Sussie! Sit nog ’n bietjie.”
Bekommerd neem Bavaria weer haar naaldwerkie op. Skielik sit Elna regop en skree: “Help my! Gaan roep vir Ma! Die pyn is verskriklik!”
Maar haar ma is by die deur nog voor Bavaria behoorlik uit is, want Elna se angsgille weerklink deur die nag.
“Hardloop, Bavaria! Jou pa moet tant Tollie gaan haal. Mag God ons te hulpe kom, dis nog nie haar tyd nie!”
Knud por die donkies voor die karretjie met alle mag aan. Daar is net een ding in sy kop: hy moet tant Tollie kry. Sy is die beste vroedvrou in die hele distrik, en die enigste wat sy dogter sal kan help.
Met die komstaanslag takseer tant Tollie die wasbleek jong gesig, die koue sweet. “Bloed,” sê sy nog voor sy by Elna is. Die bed is deurweek met bloed.
Tant Tollie druk papkuildons in om die bloeding te keer, maar tevergeefs. Die treksel van wortels en bitter kruie wat sy vir Elna ingee, help ook nie. Sy gil steeds van pyn. Almal op Oufontein hoor dié nag die pynkrete by die stilgeboorte.
Ook Elna sterf. Toe Jakob laatnag inkom, is alles oor.
Binne die volgende jaar trou hy met Bavaria.
My ma het baie jare later gesê sy het só daaroor gedink: dit was tyd dat sy as die oudste uit haar ouers se huis kom en ’n eie lewe begin, en Jakob wóú trou.
2. Dieprooi tjienkerientjees
2
Dieprooi tjienkerientjees
Kort ná hulle huwelik besluit Jakob hulle moet die Sandveld verlaat en na die kopermyne van Namakwaland trek.
Armoede het die Sandvelders daai tyd na die dorpe of die myne gedryf. Onopgelei vir enigiets anders as boerdery, was hulle desperaat om iewerster ’n verdienste te bekom. Baie het knegte vir die rykes geword, of bywoners op die meer vooruitstrewende plase.
Jakob het hul karige besittings gelaai op die wa wat hy vir hul mielie-oes geruil het. Boontjies en uie het betaal vir die vier muile. Dit was al groente wat hy ooit op die sanderige strook grond agter die huis aan die groei kon kry. En hy het verseg om vis te vang.
Die katel wat Knud Pedersen gemaak het, het ingepas onder die seilkap van die wa. Bavaria het self die bulsak en die lappieskombers, die potte en panne wat aan Elna behoort het, gelaai. Haar ma het behalwe bokkoms ook blikke beskuit en gedroogde bokvleis saamgegee, en velsakke met water. Sy het die Pedersens se laaste vark geslag, die vleis goed gebraai, in repe gesny en in lae in ’n ou paraffienblik gepak. Die vet is daaroor uitgegiet tot die blik vol was. Met dié rantsoen sou Jakob en Bavaria die kopermyne kon haal, het sy gehoop.
“Vat die babakleertjies saam,” vermaan sy. “Jy kan hulle nodig kry, al het arme Elna nooit daarvan gebruik gehad nie. Ag, hoe onklaar was ek tog nie toe jy gebore is nie. Maar almal op die skip was so goed vir my. Hulle het stroke ou lakens vir my gebring en ek het jou daarin toegedraai.”
Donkermôre die volgende dag is die twee gereed om Oufontein te verlaat.
“Ek het my woltjalie ook ingepak vir jou, die nagte kan so koud word,” fluister Sannie toe sy haar dogter vir oulaas groet. “Bavaria, my kind, wanneer sal ek jou ooit weer sien?” En sy vee die trane af met die rand van haar kappie.
“Ma, ek is bang,” fluister Bavaria terug terwyl Jakob die muile nagaan. “Hierdie man met wie ek saamgaan, is my man, maar ek ken hom skaars.”
“Dis maar soos dit is, my kind. Ons moet ons mans volg. Dis God se wil, ons moet daarmee saamgaan sonder om te vra.”
Knud hang bossies bokkoms in ’n hoek van die wa op. Bavaria se gemoed lig effens – die bekende bokkomreuk beteken huis vir haar.
Die hele Pedersen-familie kom staan buite om te groet. Lank kyk hulle die wa agterna, tot dit feitlik buite sig is.
Net voor die wa die opdraand vat, hoor Bavaria die klanke van “Ruwe stormen mogen woeden”. Haar ma se afskeidsgeskenk aan haar. En al kan sy dit later nie meer hoor nie, weet sy dat “The old rugged cross” sal volg. Dis óú gewoonte van haar ma.
Stadigaan wyk die reuk van die vlei en die sout seereuk voor die bittersoet kruiebossiegeur van die veld. Die pad lei na die ver berge.
Bavaria en Jakob het die kopermyne van Namakwaland nooit gehaal nie. Toe hulle teen die bar Kamiesberg uitworstel, vloek Jakob hard en wanhopig. Die laaste muil is aan ’t vrek.
Bavaria is nie verbaas dat die muile almal dood is nie. Jakob het hulle gemoor, hulle geslaan en heeltyd aangepor en heeltemal te min rus gegee. Daar was ook nie genoeg water vir hulle nie.
Die diep stilte van die veld is vir haar vreemd, sy wat gewoond is aan die ewige branderslag. Die wye veld sonder ’n mens in sig is so anders as Oufontein. Daar sien jy altyd ’n visserman iewers, waar jy ook al kyk, of ’n skaapwagter, of ’n meeu wat aas.
Die wit sand en die soutlug van haar wêreld het soos sleepmis agter haar weggesyg in die maand wat verby is. Die verlange na Oufontein is ’n pyn in haar. Die harde feite van ’n huwelik met Jakob Brandt is ver verwyder van haar jongmeisiedrome.
Sy sou hom graag nou wou aanraak, graag die troos van ’n man se arms om haar wou hê, maar sy is beangs om hom te nader. Sy dik rooibruin wenkbroue is saamgetrek in ’n frons. Sy woedende bui verskrik haar en sy is doodbang dat hy haar sal slaan.
“Opstaan, julle vloekstene! Staan op en trek!” Hy klap sy sweep wanhopig oor die dooie muile. Net swerms vlieë waai op.
Bavaria bly sit in die skuilte van die wa. Hoe lank hulle gewag het, weet sy nie, hoe lank voor ’n boer daar verbygekom het, want vir haar het die tyd gaan stilstaan.
Vir die boer – “Piet van Niekerk van Droëdap,” groet hy – is sulke tonele nie vreemd nie. Hy is met sy kar en perde op pad van Kamieskroon