Bitter heuning. Hermione Suttner. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hermione Suttner
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795704055
Скачать книгу
kook hulle in brakwater – dis al wat hulle het om aan die lewe te bly.

      Op ’n namiddag twee dae later naby Bitterfontein sien hulle ’n skaapwagterkaia. Jakob laat die donkies rus en sê Bavaria moet gaan water vra.

      Daar is niemand nie, maar die geroeste sinkplaatdeur staan oop. Binne op die grondvloer staan ’n driepootpot op die vuurmaakplek. Iemand het asbrood gemaak; dit lê oop en nog effentjies lou op ’n omgekeerde paraffienkassie. ’n Emmer water en ’n selfgemaakte blikbeker staan byderhand.

      Bavaria skep en drink met dorstige teue van die soet water. Sy huiwer ’n oomblik, dan breek sy met hande wat bewe ’n stuk van die asbrood af, want dit smaak vir haar sy gaan flou val van die honger. Sy sal vir Jakob water in die velsak saamvat en vir hom ook ’n stukkie brood afbreek.

      As sy maar iets kon agterlaat vir die skaapwagter . . . Maar al wat sy in haar voorskootsak met haar saamdra, is die houtbeeldjie wat Nakkie vir haar gemaak het. Sy huiwer net ’n paar oomblikke, toe sit sy dit langs die wateremmer neer.

      By die deur kyk sy vir oulaas om na die beeldjie van haar kinders wat vir haar so baie beteken het. Toe eers sien sy die oop sak teen die agtermuur van die vensterlose kaia staan. Boontjies!

      Sy skep ’n hand vol op en laat dit deur haar vingers gly, staar verwonderd daarna. In vergelyking met hierdie gladde wit bone is die klein heerboontjies van die Sandveld soos sterretjies in die hemelruim teenoor die groot, volle maan.

      Sy skep ’n paar hande vol in haar roksak. Sy het nog nooit sulke bone gesien nie. As sy hulle in die Sandveldgrond kan plant . . .

      G’n Sandvelder kan sonder bone op die tafel klaarkom nie. Hierdie bone kan vir hulle ’n uitredding wees.

      Eindelik bereik hulle ’n fontein ’n entjie van die pad af. Hulle maak die watersakke vol en laat die donkies suip.

      Op Bitterfontein koop Jakob net die nodigste: meel en koffie. Stadig vorder hulle suid. Om hulle lê lae kliprantjies.

      “Bloukoppie,” lees Jakob en wys na ’n bordjie langs die pad.

      Bavaria staar na die eenvoudige plaashuis in die verte. Die mense wat hier woon, as húlle die bordjie sien, weet hulle hulle is byna by die huis. Hoe verlang sy om ook tuis te kom.

      Die nag val daar ’n genadige reënbui. Die volgende oggend draf die donkies met nuwe krag.

      Bavaria kyk na die wolke. Dis so anders as in Namakwaland, dink sy. Wolke vol belofte van water. In Namakwaland het hulle leeg gebly.

      Daar kom geleidelik ’n verandering in die lug, ’n bekende sagtheid, ’n amperse souterigheid. Bavaria se vel voel asof dit die klam klimaat indrink. In die verte, weet sy, lê die Atlantiese Oseaan.

      Vir die eerste keer in jare let sy behoorlik op na hoe hulle twee lyk. Jakob se hare en baard is woes en onversorg. Haar eie hare hang tot in haar middel wanneer sy dit losmaak.

      Toe die donkiekar se wiele oor wit sand begin saag, weet sy: die Sandveld! Hulle swerfjare is verby.

      Haar opgewondenheid maak haar moedig. Sy steek haar hand uit na haar man, lê dit op syne.

      “Kyk, Jakob, daar is die twee Engelse plase al. Die Jonese en die Thompsons. Hoe mooi lyk hulle tuine en die grasperke tot reg by die rivier. Daar is Fair Ways. Daar het ek mos ’n hele tyd gewerk. Strykwerk, en die kinders opgepas en so. Dis nie meer lank nie, dan’s ons by die huis.”

      Maar Jakob skud haar hand af. Sy besef hy wil nie praat nie en sy wend haar tot haar troos en toeverlaat: haar Bybel. Sy haal dit uit die bliktrommel, klem dit in haar hand vas.

      Toe kom die vlei in sig. Sy sien die rietdakke van die afgekalkte huise, die wit skulpgruiswerwe wat skitter in die son. Sy ruik al die vis op die kole. Sy merk die bokkoms wat op die droog aan die pale hang.

      Niemand in die Pedersen-huis het die kar deur die sagte sand hoor aankom nie. Toe Bavaria deur die oop voordeur stap, loop sy in haar ma vas.

      “Bavaria! My kind!”

      Toe kom die trane.

      Knud Pedersen kom uit die kombuis. “Jy’s terug! Ai, ai, my meisiekind.”

      Een na die ander kom haar broers en susters te voorskyn om hulle te verwelkom. Dit lag en praat deurmekaar en Bavaria vind dat haar tong loskom en die jare tussenin verdwyn.

      Jakob hou hom eenkant. Hy weet hy het die Pedersens nooit regtig aangestaan nie. Waar sal hy en Bavaria buitendien bly? Hy kom agter die buitekamer op Oufontein is nou haar halfbroers se blyplek.

      Hy wink Bavaria eenkant toe. “Ek gaan nou eers my mense groet. Dan kom ek oor ’n paar dae terug om jou te kom haal. Ek reken om ’n stukkie grond op De Heuwel op te vat.”

      Bavaria hoor hom skaars. Sy gee oor niks om nie, sy is terug in die Sandveld. Terug in die gesellige murmeling van stemme wat uitvra en vertel.

      Die nuus van haar koms versprei vinnig. Almal op Oufontein weet: vanaand word daar gebraai en feesgevier by die Pedersens. Knud pak vroeg al die vuur aan.

      Die geur van vis op die kole – hoe het Bavaria nie daarna verlang nie! Die kosbare bottels witblits, weggebêre in kaste, word uitgehaal. Almal klink ’n glasie op haar tuiskoms. Op die kombuistafel staan appelkooskonfyt, brood vars uit die oond, bekers koffie. Die jammerlappies lê gereed vir die hande.

      Ná die ete speel haar ma op haar geliefde klavier.

      Bavaria verwonder haar net soos vroeër oor haar ma wat sommer uit die kop uit speel. En hulle sing, al die ou liedere. Van “Way down upon the Swanee River” tot “Prijs den Heer met blijde galmen”. Dis vir Bavaria of haar keel weer oopgaan ná al die jare.

      Dis ounag voor die mense begin huis kry. Al is sy tot die dood toe moeg, kan Bavaria nie aan die slaap raak nie. In die groot dubbelbed saam met haar susters lê sy en luister na hul asemhaling.

      Haar ma kom in om haar ’n nagsoen te gee, en Bavaria druk haar gesig teen haar bors, vir ’n paar oomblikke weer kind. ’n Kind wat by die huis kom skuiling soek.

      ’n Rustigheid kom oor haar. Reeds half ingesluimer fluister sy: “Mammie, sal die rooi tjienkerientjees ooit blom . . . ?”

      Maar haar ma sug en druk die laken om haar in en loop saggies uit sonder om te verstaan.

      Dis maar goed dat Bavaria nie geweet het hoe geskok haar familie was om haar so maer en verwaarloos te sien nie, met Jakob soos ’n woesteling aan haar sy.

      Kersfees word ’n tyd van samekoms en van blydskap. Die klokke lui, Bavaria gaan saam met haar mense na die witgekalkte kerkie. Geskenke word uitgedeel – ’n flessie suurvytjiekonfyt, sokkies wat in die geheim gebrei is, ’n visstok van spaansriet gemaak.

      Soos elke jaar wat Bavaria kan onthou, het haar stiefpa weer vir haar ma ’n spesiale present gemaak. Dis gewoonlik iets soos ’n stoel of tafel of meelkis, dikwels van hout wat hy in die vlei kry dryf het, of op die strand opgetel het. Vanjaar is dit ’n wiegstoel met ’n laaitjie onder die sitplek waarin Sannie haar naaigoed kan hou. Elke stoel aan hulle etenstafel is anders, handgemaak soos die gesin groter geword het. Van uitgespoelde akkerhout uit ’n onbekende ver land, van perskehout, peerhout, karee- of olien- of lemoenhout.

      Bavaria kuier by haar mense tot ná Nuwejaar. Op Oujaarsaand gaan sy saam met haar familie na die tienuurkerkdiens. Die koor van die Goedverwacht-sendingstasie sing aandoenlik:

      “Ure, dae, maande, jare

      vlieg net soos ’n skadu heen.

      Alles wissel hier op aarde:

      kom en gaan, en lag en ween . . .”

      Dit gryp haar aan die hart, die “kom en gaan, en lag en ween”, en sy moet veg teen die herinneringe aan die graffies in die Kamiesberg.

      Die tien visserfamilies langs die vlei hou ’n Nuwejaarspiekniek op die strand. ’n Paar uur lank voel Bavaria weer jonk en hardloop sy spelerig in die water rond saam met haar broers en susters. Haar man is ver van haar gedagtes. Sy is tuis.