Algaande kry Bavaria se lewe ’n vaster gang op De Heuwel.
Ek, Mara Brandt, word gebore toe Hugo vyf is en die Tweede Wêreldoorlog in Europa al begin het. Ek was byna ’n Nuwejaarsbaba, want ek is gebore op die tweede dag van Januarie 1940.
Al moes my ma, Bavaria Mara wat uit die see gekom het, aan my geboorte skenk in die ou kleihuisie, was dinge darem al ’n bietjie meer voorspoedig, want Moeder se boontjie-oes het elke jaar groter geword. Met outa Piet se hulp het Vader nog ’n kamer aan die huis aangebou. Ek en Hugo sou die kamer deel.
Dit was Fytjie, die dogter van ai’ Bloutjie Dirkse, wat my alles van my geboorte vertel het en hoe sy kamma gehelp het. Maar sy was maar so om en by tien daardie tyd, so hoedanig sý gehelp het, sal ek nie weet nie!
Sy onthou goed hoe outa Piet die donkiekar gevat het in die diepnag om tant Tollie te gaan haal. “Jy wou nie wag totlat die rooidag breek nie,” het sy vertel. Die wêreld was glo dig van die toemis en outa Piet kon net stadig aankruie, so ai’ Bloutjie het heeltyd by my ma gebly.
Fytjie kon haarfyn opnoem wat alles gebeur het. Tant Tollie het in ’n spierwit voorskoot en kappie aangekom, met ’n trommel uit ’n ou Laurel-paraffienblik in haar hand. “Die goeterse wat uit daai vrou se trommeltjie gekom het!” vertel Fytjie. “Skêr, dun toutjie, spirits om die nawelstring uit te droog, olyfolie, blikkietjie poeier. Ek het Mame gehelp om jou mame op te lig om die olieklot onder haar in te sit. Oumies Tollie het jou mame se rug gevrywe, want jy’t haar baie pyn gegee.”
Ai’ Wiesa wat soms op die plaas uitgehelp het, was ook by met my geboorte, volgens Fytjie. Sy en Bloutjie het saamgewerk, een aan elke kant van Moeder, en as tant Tollie “Druk!” sê, het hulle Moeder se bene opgedruk en hulle by die knie gebuig.
“Daai mame van jou was ’n sterk kooivrou,” vertel Fytjie. “Sy’t nie eigenlik geskrou nie. Toe jy uitkom, roep ons ammal eietyd: ‘Dis ’n meisiekjind!’ Oumies Tollie het gesê: ‘Sien julle, ek kan skaars lees en skryf, maar ek het ’n gawe van die Jere gekry en hier’s die lieflike ou dogtertjie nou.’ ”
Later het ek gehoor dit was einste tant Tollie wat die toorkrag van die heerboontjie ontdek het. As ’n spinnekop jou byt, druk jy ’n groen peul teen die bytplek. As dit vassit, is dit ’n giftige spinnekop. Laat dit op die bytplek sit tot dit afval. Dit trek die gif uit. As die peul sommer afval, weet jy dis ’n onskadelike spinnekop.
“Toe sy jou nawelstringetjie knip,” vertel Fytjie verder, “wou ek ’n miskoek gaan haal om ’n proppietjie op jou naweltjie te sit. Maar toe was daai oumies Tollie darem vir jou die vieste in. Sy stamp my weg en sy sê: ‘Skoert jy, voor daar vuiligheid in haar naweltjie kom.’ Maar ek is as-aan; ek staat waar ek staat, want ek wil mos sien.
“Jy’s ’n veldkjind, Maratjie. Ons weet ammal jou mame het uit die see uit gekom, maar jý was ’n annerlike enetjie! Jy’t so geskrou, jou pape het jou doer op die lande gehoor. Jy’t soos ’n weggooilam geblêr. Maande lank. Vandag se dag skrou jy nog altyd.”
“Nie as ek by julle in die matjieshuise is nie, Fytjie, jy weet dit goed,’’ sê ek gou. “Net hier in ons huis . . . Ek huil ook nie as jy my saamvat veld toe nie.”
Moeder het my Mara genoem, haar middelnaam, en my eie middelnaam was Tollie. Ek is gedoop Mara Tollie Brandt. Vader het die name nie teëgestaan nie; hy was glo vreeslik bly oor sy dogter. Hy het Moeder toegelaat om materiaal vir my klere te koop, al het hy altyd steen en been gekla as daar smouse op die plaas kom: “Kom hier aan met allerhande prulle net om die vroumense te mesmeraais.”
Toe ek drie was, is Klaas gebore. Ek onthou party dinge self; ander het Moeder my vertel. Tant Tollie het die laaste maande wat sy in die ander tyd was, af en toe kom kuier en haar gepamperlang.
“Jy’s nou veertig, Bavaria. Jy moet baie rus. Sit jou voete op. En jy moet melk drink.”
Klaas is gebore op Boxing Day, soos ons gesê het. Klaas Krige, so het Moeder hom genoem, na haar eie pa wat sy nooit geken het nie.
En van die eerste dag af – hoekom weet niemand – wou Vader niks weet van Klaas nie. Miskien oor hy kleintyd so tingerig was vir ’n seunskind. Vader het sommer weggedraai en anderpad gekyk toe hy die dun beentjies en maer armpies sien.
Maar ek, ek het in my kinderlike eenvoud gehoop Klaas moet nooit groot en sterk word nie. Dan kon ek hom vir my pop vat, al had hy so ’n lelike rooi gesiggie en al wou ek eintlik ’n sussie hê.
“Hy lyk so misrabelik, nes ’n klein rooi Ingelsmannetjie. Ek gaat hom Klaas Ingelsman noem!” was tant Tollie se uitspraak.
Toe die bure na die tweede seun kom kyk, is dit elke keer ’n gelag, want tant Tollie se grappe is altyd die hele Sandveld oor vertel. “Geluk met Klaas Ingelsman!” sê hulle.
Vader het rooi geword tot in sy nek en sy bossierige wenkbroue het kwaai gefrons.
“Vaderweet waar hý vandaan kom!” was al wat hy vir Moeder gesê het, sy eie rooigeit vergete.
Die bynaam het bly steek: Klaas Ingelsman.
Vader kon dit nie vat dat hy so ’n tingerige kêrelkind verwek het nie. Vir Moeder het hy gesê: “Hugo is groot en sterk. En hy het kopnaat. Hy sal die boer wees. Klaas kan ons maar vir die kerk gee.”
Ek weet nou dit was een van Vader se groot foute: hy was altyd aan die planne maak om ander te regeer. Hy het planne gehad toe hy met Moeder getrou het. Hy het planne gehad vir my broers. Met my het dit nog slegter gestaan. Hy sou my hele lewe regeer.
Die dag van Klaas se doop het ouma Sannie en oupa Knud met presentjies vir die kleinkind gekom. Hulle was bly dat hy sy oorlede oupa Krige se naam gekry het. Ook my ooms en tantes aan my ma se kant het gekom. Hulle was gaaf met ons kinders en het my gesoen en Hugo se hand geskud.
Vader het darem ook met die hand gegroet en toe geloop. Hy het nie eens iets te ete of te drinke aangebied nie. Toe ai’ Bloutjie wou rooibostee maak, het Vader glo gesê: “Hulle’s vissersmense. Hulle hoort by die see; hier is niks vir hulle nie.” Hy het steeds geglo hy het benede sy stand getrou.
Ná daardie dag het Moeder se mense nooit weer by ons kom kuier nie. Ek kan onthou dat Moeder hard gesnik het toe Ouma-hulle weg is.
Ai’ Bloutjie het ’n skinkbordjie rooitee vir Moeder geneem, wat lusteloos op die katel gelê het. Ek het van angs agter die kas in die kombuis weggekruip. Bang oor Moeder so huil en bang dat Vader enige oomblik sou inkom.
Maar Hugo het na Moeder in die kamer gegaan. Sy het sy een hand in hare geneem en die Bybel in sy ander hand gesit en gevra dat hy vir haar moet lees. Moeder het later vir my vertel dat hy Psalm 23 gelees het, dit was haar geliefde Psalm.
Ná Klaas se geboorte was daar ’n koudheid tussen Moeder en Vader, ’n verwydering wat nooit oorkom is nie.
My ouma Brandt was ’n groot, sterk vrou, een van die Rooi Smitte van Dwarskersbos. Hoewel sy vroeër tog partykeer na ons huisie gekom het, het ons nooit na die kliphuis gegaan nie. Ons het glad nie met die Brandt-familie gemeng nie. Ek was te jonk om te verstaan en het gedink dis maar soos dit moet wees.
Op ’n dag het Moeder gesê ek en Hugo moet haar help om ’n sak boontjies te pluk vir ouma Brandt. Toe die sak halfvol was, het ons drie daarmee na die kliphuis geloop, ek met een punt van die goiingsak in my hand, Hugo met die ander punt. Moeder het aan die deur geklop. Toe dit eindelik oopgaan, staan tant Hendrieka, Vader se suster, daar.
Moeder het ongemaklik gelyk en die sak boontjies uitgehou. “Ons het hulle nou net gepluk; hulle’s lekker vars.”
Tant Hendrieka het ’n glimlaggie na my kant toe gegooi, maar ons innooi, dié het sy nie.
Van oupa John Foster Brandt het ek net een helder herinnering. Eendag toe ek seker so vyf was, het hy na ons kleihuis gekom en my saamgevat om een van sy bokke te gaan soek. Hy het my hoog op sy skouers gedra en so het ons die veld gefynkam. Ek moes kyk of ek die bok nie sien nie.
Ek was