Bitter heuning. Hermione Suttner. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hermione Suttner
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795704055
Скачать книгу
verveeld geraak met dié knegsdiens, soos hy dit beskou het. Op ’n dag toe die rivier sterker vloei as gevolg van reën hoër op, het hy die omstandighede verkeerd ingeskat, en toe ’n wa met ’n groot vrag produkte en mense die rivier wou oorsteek, het die pont getip.

      Vader kon sterk swem en hy het homself gered daardie dag. Maar net homself. Daar was ’n vrou wat hy nog kon gered het, het die mense gesê. Maar hy het hom uit die voete gemaak en in ’n skuur op die plaas loop skuil en sy klere by ’n vuurtjie drooggemaak. ’n Boomtak in die rivier het gekeer dat hy enigiets of enigiemand anders kon red, het hy later vertel.

      Daardie tyd het hy opgehou om met sy mense te praat, en as iemand die woord “pont” oor hulle lippe sou laat kom, het hy sy pa se langsweep afgehaal.

      Kort daarna is hy weg myne toe.

      Ek was amper sewe toe ons moes trek na De Heuwel se kliphuis. Tant Hendrieka en haar gesin het soos spoke verdwyn. Net ouma Brandt het agtergebly in die groot huis.

      Ek onthou so goed hoe Moeder gehuil het terwyl sy ons goed inpak. Dit was kompleet of haar hande afgekap was, en sy het swyend toegekyk hoe die werksmense ons goed oordra na die groot huis toe.

      Ek het gekyk hoe outa Boesman en outa Piet die houtkatel oplig en op die wa laai. Die riempiesmat het so kaal gelyk sonder iets daarop. Dit was altyd toe onder die lappieskombers met die rooi diamantjie in die middel, en in die somer onder ’n wit katoenbedsprei.

      Die kliphuis had agter én voor ’n lang stoep. Die agterste een het op die veld uitgekyk, die voorste op die rivier. In die middel van die voorstoep was die voordeur wat in die voorkamer oopgemaak het. Tant Hendrieka-hulle het die meeste van die meubels laat agterbly. Daar was ’n lang geelhouttafel en stywerugstoele in die middel van die vertrek. Eenkant het ’n riempiesmatbank gestaan, en daar was ’n groot server van donker hout langs een muur van die voorkamer. Die meubels en vloerplanke was blink van die olie en politoer en die hele vertrek het skoon geruik. Dit was alles net te vernaam vir my.

      Ouma Brandt het uit ons pad gebly, niks help uitpak nie, byna asof sy nie daar was nie. Maar dit was asof haar oë orals was.

      My kamer – ’n hele kamer net vir myself – het uit die voorkamer geloop. Moeder en Vader se slaapkamer was aan die ander sy van die voorkamer. Klaas het nog altyd by Moeder-hulle geslaap. Hugo se kamer had ’n buitedeur links op die stoep uit. En ouma Brandt het in die smal kamertjie op die agterstoep geslaap – asof sy nie meer in die huis hoort nie. Haar meubels was klaar daarin toe ons daar kom.

      Ek het my bietjie klere half skaam in my nuwe kamer ingedra. Ek was veronderstel om bly te wees, maar ek het klaar verlang na die warmte van ’n gedeelde kamer in die kleihuis. Net oor die spieëltafel was ek baie bly.

      “Dié moet eendag joune wees, Mara, onthou,” het ouma Brandt gesê toe sy sien ek kyk daarna. Dit had laaitjies en spieëls wat kon oopswaai, en twee groot laaie onder. Die kleur van die geelhout was vir my baie mooi.

      My skatte het ek in die onderste laai gepak. Mistroostig, en bang dat ouma Brandt sal hoor, het ek vir Hugo gefluister: “Ek het so gehou van die misvloere in ons ou huis. Ek’s bang hier in die groot huis, dis so stil.”

      “Toemaar wat, Mara. Jy sal sien, dis lekker om jou eie kamer te hê. Kom, ons gaan buite rondkyk.”

      Daar was ’n muur om ouma Brandt se pragtige tuin voor die huis. Sy was lief om tuin te maak. Ek het geweet dat sy en oupa Brandt die huis saam gebou het, van klippe uit die veld en klei uit die rivierwalle. Met die tyd het hulle vertrek na vertrek aangebou soos dit nodig was.

      Klaas het aangehardloop gekom en babbelend vertel van ouma Brandt se kanarie wat in sy hokkie op die stoep sit. Van binne af het Moeder angstig geroep na Klaas, bang dat hy rivier toe kon wegdwaal of met die lang solderleer sou probeer opklim.

      “Mara, kom help gou die messegoed uitpak. Vader sal aanstons wil eet!”

      Toe ek omdraai om in te gaan, het ek ouma Brandt in die voordeur sien staan. Sy het uitgekyk oor die voorstoep na die rivier met sy rietbosse, haar hande agter haar rug gevou nes ’n mens in ’n vreemde huis wat nie weet wat om te doen nie.

      Vader had ’n skilpad wat hy kleintyd opgetel het. ’n Bergskilpad wat iemand seker desjare klein-klein van iewers af daar aangebring en in die veld gelos het. Ou Vegter was tamaai groot. Hy het sy eie blyplek gehad – ’n soort grotjie wat Vader jare gelede vir hom naby die kliphuis se voorstoep gebou het. Vader was vreeslik erg oor hom.

      Ek was ontsettend bang vir ou Vegter. Hy sou sommer skielik agter ’n bos uitkom en mens teen jou enkel stamp. Hy sou selfs na jou tone hap as jy nie oppas nie. Die ergste was dat jy nooit geweet het waar hy was nie. Hy was nes Vader, altyd op die uitkyk, kwaai, en iets om voor bang te wees.

      In die groot huis moes ek leer om saam met ou Vegter te leef – ek had geen keuse nie.

      Vir ouma Brandt was dit seker dieselfde toe sy saam met ons moes woon. Maklik kon dit nie gewees het nie, want sy was gewoond om self in haar eie kombuis te werk. Nou het Vader daarop aangedring dat Moeder moes oorvat. Sy moes ook die brood knie en die bakkery behartig.

      Ek sien Ouma nog, hoe sy bystaan met ’n klamgemaakte meelsakkie en die sweet van Moeder se voorkop afvee om te keer dat dit in die deeg drup as sy in die warm kombuis staan en knie. Ouma het niks gesê nie, maar haar oë het op Moeder gebrand en die deeg het slap geword onder Moeder se beswete hande.

      “Jakob, jou ma het ’n leeftyd in hierdie kombuis omgestaan. Dis swaar vir haar om boedel oor te gee aan ’n skoondogter. Ek gaan eerder terug kleihuis toe,” het ek Moeder op ’n dag vir Vader hoor sê.

      Kort daarna is Ouma weg van De Heuwel. Toe sy die dag Vredenburg-stasie toe vertrek, het sy vir Moeder gesê: “Ek los die naaimasjien hier. Jy sal dit goed kan gebruik soos die kinders groter word. Veral met ’n meisiekind in die huis.”

      Sy het my gesig met al twee hande opgelig. “Mara het jou kleur, maar daar’s iets van Jakob ook in haar.”

      Ouma se gesig was styf, sonder enige uitdrukking, en haar rug regop. ’n Rooigrys haarstringetjie het onder haar kappie uitgesteek.

      Toe sy wegstap, sug Moeder: “Ja, jou pa en Klaas het die Rooi Smitte se hare geërf. Mag Klaas maar van jou oupa Brandt se goeie aard ook hê.”

      Daarna het ek altyd aan ouma Brandt gedink wanneer Moeder die slingertjie van die naaimasjien sit en draai en draai, en gewonder waar sy nou woon.

      Moeder het ouma Brandt se ommuurde tuin voor die huis mooi onderhou en self ook blomme geplant, heel eerste van die tjienkerientjeebolletjies wat sy uit die Kamiesberg saamgebring het en jare gelede agter die kleihuis geplant het. Van die lang stoep af kon ons uitkyk op die rivier en die rietbosse digby die vlei wat in die ligste briesie hul pluime gewieg het. Ek het altyd gespeel hulle is meisies wat dans.

      In die aande het ek graag op die stoep gestaan en kyk na die swerms voëls wat met ’n gekwetter wat al harder word, in die riete kom oornag. Soggens vroeg met sonuit was dit dieselfde ding: hulle het met ’n groot geraas en gefladder weggevlieg, hoog teen die ligrooi wolke in.

      Op De Heuwel het die boerdery voorspoedig verloop. Al oupa John se werksmense het op die plaas agtergebly in hul matjieshuise en het nou vir Vader gewerk. Selfs hulle jong kinders het hier en daar gehelp. Ai’ Bloutjie het in die huis kom werk vir Moeder. Vader het meer koring, gars en mielies geplant. Sy veetrop het aangegroei. Moeder se boontjieakkers het oor die hele sanderige deel van die plaas gestrek, tot bo teen die wildepiesangs en dadelpalms.

      Vader het baie verbeterings aangebring, en ek moet sê hy het self hard gewerk en baie idees gehad. Naby die kliphuis is ’n dorsvloer vir koring aangelê op ’n skoongemaakte stuk grond.

      Ek kon ure staan en kyk as daar gedors word. Eers het outa Piet en outa Boesman die koringgerwe losgemaak en uitgesprei en hulle mooi met die gaffels omgekeer en losgeskud. Dan begin die donkies al in die rondte, al in die rondte loop terwyl die korrels uit die are losgetrap word.

      Die gedorste koring word met houtskoppe teen die wind opgegooi om die ergste kaf uit te wan. Ek sien outa Piet en outa Boesman nog, hoe hulle beurte