Ná daardie dag in die veld saam met Fytjie het hy my ’n haaitand gegee wat hy teen die rivierwal opgetel het. Hy het dit uit sy broeksak gehaal en in my hand gedruk. Toe vertel hy my iets wat sy onderwyser vir hulle vertel het: dat al die plaasgrond miljoene der miljoene jare gelede een groot see was – dis hoekom daar seediere onder die sanderige grond begrawe lê.
Ek kon dit nie glo nie; tot by die huis het ek daaroor loop en wonder.
Maar toe ek die huis ingaan, bewe my hart weer nes altyd van die bang.
Is Vader al terug? Skree hy weer op Moeder? Was daar dalk iets fout met sy kos? Was sy hemp vandag nie netjies genoeg gestryk nie? Was Klaas weer in sy pad?
5. Tóé het ons geweet
5
Tóé het ons geweet
Vader het ’n bars gewerk op sy lande, en sy spaarsamigheid het gegrens aan gierigheid.
Een droogtetyd, toe sy broer Johnnie se beeste gevrek het, het Vader s´y deel van die plaas uitgekoop. Oupa Brandt het bepaal dat slegs familie dele van die plaas kon opkoop; ons het dit almal geweet. Buitestanders sou g’n kans staan nie.
Vader se deel van die plaas het beter weiding vir sy skape gehad, en Moeder se boontjies het van jaar tot jaar welig gestoel van die rivierwater. Eindelik het hulle ’n goeie bietjie geld bymekaar gehad.
Oom Johnnie was nie so gelukkig nie. Toe daar boonop ’n siekte onder die beeste uitbreek, was hy verplig om aan sy broer te verkoop. Hy het besluit om Transvaal toe te trek, myne toe. Vader het ’n winskoop gekry, met ’n wa op die koop toe.
Die dag het aangebreek dat oom Johnnie die plaas moes verlaat om in Vredenburg, so twintig myl van ons af, te gaan trein kry. Ouma Brandt, wat baie ontsteld en bekommerd was oor haar seun se onsekere lot, en tant Hendrieka het saamgegaan om hom op die stasie te groet. Vader het sy broer nie gaan groet nie, en hy het Moeder verbied om dit te doen. Oom Johnnie het ook nie sy voete by ons gesit nie.
Nou was die hele De Heuwel Vader s’n, behalwe die kliphuis waarin Ouma en tant Hendrieka gewoon het. Tant Hendrieka se man was ’n kort rukkie ’n bywoner by Vader, maar toe kry Vader ’n uitval met sy suster, omdat hy gesê het haar man weet blou niks van boerdery af nie.
Dit was nie ’n gelukkige plaas nie, maar Vader en Moeder het darem nou baie water gehad. Op oom Johnnie se deel van die plaas was ’n sandloop met water wat uit fonteintjies gevoed is. Die graan- en aartappellande daar het goed gevaar.
Aan die voet van ’n lae koppie was daar ook ’n groen strook wildepiesangs en dadelpalms wat na Misverstand se kant toe gestrek het. Die dadelpalms het glo opgekom nadat Britse soldate met die deurtrek tydens die Boereoorlog dadelpitte daar uitgespoeg het. Of dit waar is, weet ek nie.
Moeder wou haar boontjieakkers graag langs die fonteine hê, maar Vader was obstinaat: hy wou lusern daar plant en die vee daar aanhou waar hulle vet sou word. Die lusern was ’n misoes, en hy het belangstelling verloor in die fonteine. Toe het Moeder die grond oorgeneem vir haar boontjies. Dit was perfek vir heerboontjies wat, net soos palms, die voete in die water wil hê en die koppe in die son.
Vader het sy veetrop uitgebrei. Hy het goeie wolskape gekoop om weer te verkoop. Kwaliteitwol het daardie tyd hoë pryse gekry. Geleidelik, deur sy uiterste spaarsamigheid – eintlik suinigheid teenoor homself en sy familie – het Vader meer voorspoedig geword.
Een Sondag ná kerk toe ons aansit om die tafel, was hy uitsonderlik praatsaam en welgemoed. “Ek het die kliphuis van my ma en my suster gekoop,” kondig hy hoogs ingenome aan toe hy sy bord nader trek. “Ons trek end van die maand uit hierdie kleihuis. Dan is ek baas van die hele De Heuwel.”
Moeder sug. “Waar moet jou ma en Hendrieka-hulle dan heen, Jakob?”
“Dis hulle saak,” sê Vader. “My suster het ’n man, hulle kan waffer plek ook al loop uitkyk vir werk. Die grond kan ons nie almal dra nie. Ma kan vir eers by ons bly tot Hendrieka-goed ’n plek gekry het, dan kan sy by hulle loop bly.”
“Hendrieka se kinders gaan nog in die weeshuis beland. En jou ma sal ten gronde gaan van verlange na hulle.”
“Ek het my hande vol met die plaas, ek kan my nie nog oor hulle môre-oormôres ook bekommer nie,” het Vader geantwoord, reeds weer in sy gewone slegte bui.
Eietyd die volgende môre stap tant Hendrieka by ons huis in. Moeder is by die rivier besig om haar boontjies nat te lei, maar ek staan daar tussen ons bokse en kiste wat alreeds gepak is. Toe moet ek die geskel aanhoor teenoor Vader, wat by die kombuistafel bly sit, besig om koffie te drink. Dis asof tant Hendrieka die hele kleihuis volmaak met haar groot lyf en haar harde stem.
“Ek vervloek jou, Jakob Brandt!” skree sy verbitterd. “Vat De Heuwel onder ons voete uit, maar jy sal wéér weghol. Dis in jou bloed om vir niemand anders om te gee nie. Jaag ons maar weg, maar dié sê ek jou: genot sal jy van hierdie plaas nie kry nie. Ek vervloek jou met droogtes, met dierevrektes, met verliese op die mark. Jy het in jou jong dae misluk, jy sal hier ook misluk! Bedrieër! Vrede sal jy nie smaak nie!” snik sy die woorde woedend uit.
Vader probeer ’n woord inkry, maar sy skree hom dood.
“Jy was jou gehele lewe nog wreed, ’n boelie! Altyd gereed met die sweep of karwats om ons of die volk by te kom. Moeder en Vader wou doodgaan van skaamte dourie tyd met die pont, daai dag toe jy jou ware kleure gewys het. Almal in die Sandveld het daaroor geskinder. En toe hol jy weg myne toe. Tot ons plaas het sy bynaam gekry oor jóú dinge. Weglopersheuwel, ja!”
Ek sien hoe rooi raak Vader se gesig toe hy begin terugskree.
“Wat het ek miskien gehad toe ek ’n kind was? Daar was nooit genoeg kos of klere nie. Ek was ’n jongetjie van sewentien, maar ek het weggeloop om te gaan geld verdien! By Pa het ek nooit ’n pennie gekry vir my werk nie.”
Tant Hendrieka se gesig vertrek. “As die oes misluk het, het al ons kinders saam swaargekry, maar ons het alles gedeel. Nie jy nie! Jy’t jou pakkie Krismislekkers vir jouself gehou, dit weggesteek, ek onthou dit nog so goed ná al die jare. Kyk waffer ellende doen jy jou eie ma en suster aan om ons soos sleg goed uit die huis te gooi!”
Toe Vader nader staan aan tant Hendrieka, dag ek hy gaan haar slaan. Maar hy bly staan asof hy gewortel is, sy gesig bloedrooi soos hy homself probeer inhou.
“Jy dink niemand weet hoe jy geknoei het by die myne nie, Jakob! Wat het jy éintlik daar bo gedoen? Jou ekskuse is nie wat óns gehoor het nie. Ons weet jy’t na die sendingstasie op Kookfontein gegaan en daar het jy ’n meisiekind onder hande gehad. Die stories lê uit Namakwaland tot in Velddrif oor waffer sleg mens jy is!”
Vader se groot hande maak oop en toe.
“Asseblief, Vader, moenie baklei nie,” pleit ek, en ek byt my naels tot in die vleis in.
Maar nie een van die twee hoor my nie, so kwaad is hulle.
“Uit! Weg hier uit my huis uit!” skree Vader.
Hy vat-vat na sy karwats wat agter die kombuisdeur hang, maar tant Hendrieka is al buite. Sy slaan die deur toe dat dit bewe in die kosyn.
Ek het hoeka die storie geken van hoe De Heuwel die naam Weglopersheuwel gekry het. Ek het dit by die matjieshuise gehoor, waar dit met baie tjk-tjks en ai-jees vertel is. Suutjies, asof die verkeerde mens dit dalk kon hoor.
Van hy veertien was, het Vader vir sy pa op die plaas gewerk. Maar omdat weiding skaars was ná twee jaar van min reën, het dit al moeiliker geraak om die groot trop skaap aan te hou. In daardie tyd hoor oupa John toe dat hulle ’n nuwe pontman soek. Jakob, groot en sterk, sal net die regte man wees, het Oupa gedink. Hy het voorspraak vir sy seun gaan doen en Vader