Jas, gewoond daaraan dat die ou man elke môre ’n paar eetvisse aan ’n tou kom ryg, maak ’n geïrriteerde handgebaar en skree terug: “Ja, toetog, gottog, vat tog ’n donnerse mandjie en maak vol, jou uitgevrete ou aasdier!”
Ou Japie steur hom nie aan die belediging nie. “Man, hou jou vis. Wat ek wil sê: as ek jy is, maak ek dat ek by my huis kom. Loop kyk wat gaan daar aan!”
Jas frons. So asof daar weer ’n kleintjie aangekom het, wat godsonmoontlik is. Cora sal haar van die wind moet laat bestuif, hulle slaap lankal nie meer bymekaar nie. Wat de hel is dit met ou Japie?
“Hillie,” beduie die ou man met sy hande.
“Waffer goed?”
“Hillie!” skrou ou Japie nou. “Ek sê Hillie, jou dowe gat!”
“Man, loop praat diékant toe!” Jas hap ’n vloekwoord terug. Hy het hom vannag al genoeg versondig op die see. “Ek het nie tyd vir jou nodeloosheid nie.”
Hy het vroemôre ’n skep vis gekry wat hulle nie kon behartig nie, maar ook nie kans gesien het om om te keer nie. Wat hulle toe in die net saamgesleep het, iets wat teen die regulasies is. Dit was so hittete of die skuit sink daar in die passasie. In sulke gevalle betaal Lloyds nie uit nie.
Maar voor die kop onderwater kon gaan, hang Jas oor die rondereel en sny die toue los. Hy skree agtertoe hulle moet die foksel leegpomp; hy skree hulle moet plek maak langs die muur. ’n Skuit moet haastig padgee dat hy onder die pomp kan kom.
“Wat, nodeloos? Dis wat ek met my eie twee oë gesien het! Niemand anders as Hillie van jou nie, met die bus gekom. En Cora onder snot en trane, in die middel van die pad!”
Ou Japie kry sy sin: Jas Burre se gesig word pers en sy oë soos glaskrale.
Sonder om ’n woord te sê skop hy ’n sardyn met die punt van sy stewel tot in die ruim. Hy wag tot hulle leeggepomp het en vat dan self die skuit tot op die mooring.
Voordat hulle wal toe roei, vra hy in die foksel af vir die jong seun, opgekrul onder ’n seekombers: “Boetie, kom jy nie huis toe nie?”
“Nee, Pa,” kom dit onder uit die bonks uit.
Die klein bog hou hom dreunlyf oor hy aangepraat is toe hy nie sy kant gebring het met die groot skep nie. So kragteloos, nee, eerder willoos. Wat Cora leer brood knie het toe hy moes koei gemelk en hout gekap het.
Maar skipper se kind ofte not, hy moes aangepraat word: “Hoekom is jy tog so swak? Jy moet dat die kok vir jou ekstra brood met jêm op smeer as hy weer kos gee!”
Nou het Boetie sy kop toegetrek.
Jammer om dit te sê, maar Jas Burre se seun is te saf vir die see. Van hom sal daar nog ’n seeman gemáák moet word. As hy ’n lewe wil maak, sal hy sy bas moet lig. ’n Skool vis lê nie en wag om gevang te word nie, hy trek en wil gesoek wees. Daar’s nie tyd vir slaap nie.
Watse geslaap is dit hoeka? ’n Jong mens slaap hom binne twee uur uit. Sy plek is snags langs die skipper op die kop, waar hy met die oog moet steel, die vis se maniere moet leer ken. Soos Auret Nagel gemaak het toe hy Boetie se ouderdom was. Dáár’s vir jou ’n man wie se gelyke jy nie aldag op seewater kry nie.
Jas loop en smeul die hele pad huis toe. Dié ou Japie het ’n manier om ’n ding te sê waarvan daar ’n storie kom wat netnou die hele Vollemink vol lê. Dat Jas Burre se meisiekind skierlik trug is op die dorp, tot Cora se smart en verdriet . . .
Cora het vir hom ’n tafeltjie eenkant gedek. Koffie en gebraaide harders en brood. Dis sy kos. Vissembrood is waarop hy grootgeword het. G’n fieterjasies nie, Cora weet. Sy sit vir hom bakvis in om snags haastig af te sluk tussen die gooie. Boetie eet saam met die span in die galley, kerriekos elke geslae nag, so sterk soos die hel.
Hy antwoord nie toe Cora hom groet nie. Sy ken sy buie en vra nie na Boetie nie. Ook nie hoeveel vis hulle die nag gekry het nie. Die bot antwoord is altyd dieselfde: “Genoeg, maar nie soveel dat jy gerus kan raak en begin geld mors nie.”
Jy weet nooit waar en wanneer die volgende vaart uitslaan nie, is Jas se geloof. Dalk vang jy niks.
Die pêrels staan op die beker koffie. Cora gee vir hom ’n vadoek aan voordat hy die tafeldoek se rand gebruik om sy hande en mond aan af te vee.
“So,” sê hy en vat nog ’n vis. “En waar is die nôi? Ek moet van Japie Neus hoor Heuleuna is hier.” Dis hoe hy Helena formeel noem vandat sy begin weier het om op die Hillie-bynaam te antwoord. “Jy sê my niks?”
“Jy luister nie as ’n mens praat nie. Daar lê die telegram.”
“Waffer telegram? Wat ek wanner moet lees as ek op seewater vir ’n lewe veg? Ek vra waar sy is?”
“In haar kamer. Ek het haar gestuur om ’n bietjie te gaan lê. Treinsiek.”
“Treinsiek, seesiek; een lê in die kamer, een in die bonks. Dis net Jas wat nie moeg of naar of vuil word nie. Watter soort kinders het ek?”
Voor hy hom verder kan opwerk, het Cora die badjie ingedra. “Ek bring vir jou water en skoon klere, dan kom rus jy ook. Eet net eers klaar. Ek sal Helena roep as jy opstaan.”
Maar sy staan reeds in die oop deur, kaalvoet in een van haar ou bont huisdrarokkies, ’n uitgerekte trui oor haar skouers, die bos rooi hare pas gewas en inmekaargedraai in kurktrekkerkrulletjies.
“Toemaar, Ma, ek slaap nie. Môre, Pa.” Sy buk om hom te groet, om die growwe wang met ’n halwe week se baard wat na haar gedraai is te soen.
“Ja, dag.” Hy buig oor die blikbord, sy kop en skouers, die hele kragtige bolyf, die arms gekrom soos ’n bees wat wil storm. “En waar val jy nou skierlik uit? Waar kom jy vanaf?”
“Van Grenspan af. Ek werk al meer as ’n jaar in dokter Venter se spreekkamer. Lees Pa dan nie my briewe nie? Ek het elke week geskryf.” Sy knip die treinroet weg wat in haar oë brand.
“Grenspan? Waar op Gods akker is dit?” Hy kou die kop van ’n gebraaide harder uit en suig die oogholtes leeg. “Ons het dat Boetie in die skoolatlas opsoek, maar hy kry nie so ’n plek nie. Of hy hou hom donners onnosel.”
Jas vergeet dat hy self maar sub A agter sy naam kan skryf. Deur die skoolvenster gekyk, waag Cora dit soms speels. Maar in hierdie huis is daar vandag net een man wat praat, en dis Jasper Burger. En nou praat hy.
“Ja, vrou, miskien kan jý my sê waar was jou meisiekind wat jy so voorpraat al die tyd. Voorverlede September hier weg . . .”
Helena verbaas haar dat hy dit onthou. Die middag sou hy haar kamma by die bus kom groet het voordat sy vir die laaste kwartaal terug is kollege toe, maar hy het in die kroeg vasgeval, moes kies tussen haar en die dartbord. Kastig kort-kort kom loer, en op die ou end net betyds gewees om die bus te sien vertrek. Ongeërg sy hand gelig en gewaai. Toe terug na die lawaaierige geselskap waar almal gelyk vertel hoe skelm die masbankervis die nag was. As dit nie vir Boetie was nie, sou sy alleen moes sien regkom het.
Nou het hy ’n geheue soos ’n olifant. “Jy het by hierdie einste deur uitgestap.” Hy wys met ’n vinger byna in Helena se oog. “Volleerd. Jy het niks meer van my nodig gehad nie. Jy skaam jou vir my en my maniere. Ek is ’n skobbejak en ’n bullebak. En waar is jy nou? Wat is dan nou fout? Soek jy geld?” Gjelt, sê hy. En as nagedagte: “Of het jy kamstig verlang?”
Sy kan byna nie sluk nie. Verlang? Vanoggend toe sy so skeef dra aan haar tasse en die ruik van die see kry, die branders hoor uitspoel op die strand, die hekkie oopstoot wat oor die sementjie skuur, die werwel van die onderdeur afhaal, die geblomde oliekleedjie oor die tafel sien, het sy opnuut geweet hoeveel sy verlang het. ’n Jaar lank in die vreemde tussen mense met hul eie gewoontes en segswyses huis toe verlang het.
Net om nou gekapittel te word oor iets wat sy nié gesê het nie, nie in soveel woorde nie. Omdat sy dit nooit sou waag nie, dalk ’n