Dit was soos ’n matinee, elke naweek ’n afsonderlike aflewering waarna almal uitgesien het, met ongereelde onderbrekings wanneer Vilna nie opdaag nie. Eers hoërskool en toe universiteit toe gestuur, en vakansies oor die water. Dan het almal die asem opgehou. Later gelate aanvaar dat Frost se dogter en Auret nooit tot trou sou kom nie. Dit het die meisies hoop gegee, opnuut hul flikkers laat gooi.
Op Auret, die agtermekaar jongkêrel agter Friedmans se toonbank, was die dogters destyds almal ’n bietjie verlief. En hy, nie mak nie, het saamgespeel en rondgeflankeer tussen hulle. Net nie met haar nie, Helena Burger, omdat sy Vilna te goed geken het.
Auret Nagel is die laaste man na wie Helena sal kyk, al bied hulle hom op ’n goue skinkbord aan: ’n Volleminkbaaier, en ’n visserman, en tweedehands daarby. Haar visier het sy toe al ’n bietjie hoër gestel.
Cora skuif die mandjie stopgoed eenkant toe waarmee sy onder die boom sit. Sy het maar alleen geëet toe Helena nie uitkom nie. “Voel jy nou beter? Kom sit aan.” Sy skep op, smoorvis en witrys en koue karringmelk.
“Slaap Pa nog?”
“Nee, hy is af skuit toe. Die kok sal hom seker iets te ete gee. Die vraag is of hy dit sal eet. Ek pak maar sy mandjie.”
“Ek is jammer, Ma. Ek weet nie hoekom ek en Pa mekaar altyd so verkeerd verstaan nie. Maar hy is so opsetlik dwars. Ek het nie kom moeilikheid soek nie, ek wil net regverdigheid hê. Ons kan nie vir Boetie net so los nie. Hy is nog pure kind, Pa sal hom breek.”
“Met jou pa moet jy jou tyd reg kies. Moenie aan hom torring as hy moeg van die see af kom nie. Ek het gemeen om weer met meneer Frost te gaan praat. Of met Auret.”
“Auret Nagel? Van wanneer af?” rek Helena haar oë.
“Dis die mense vir wie hy nog luister. Op sy manier.”
“Maar nie vir ons nie! Ma bly glad te veel stil, en bekommer Ma dan siek.”
“My kind, hoe moet dit lyk as ons al twee raas?”
“Maar dis so onredelik. Pa het Ma van alles ontneem en . . .”
“Ek het genoeg, ek kom niks kort nie.”
Helena maak haar oë toe. Een donkerblou pakkie en hoed, bypassende skoene. Vir Nagmaal en begrafnisse. Fatsoenlik, soos dit ’n arm mens betaam.
“Maar die topskipper kan tog seker beter bekostig?” Helena se stem klim ’n oktaaf te hoog.
“Seker, maar hy dink aan die skraps tye,” antwoord Cora gedwee. “Jy weet nie hoe swaar jou pa as kind gekry het nie. Hulle was arm; daar was nie ’n vader in die huis nie, hulle het gebrek gely. Nou maak hy voorsiening. Dat ek nie soos sy oorlede ma . . .”
Sy vou die stukkie gebakte vis in botterpapier toe en sit dit bo-op die brood in die mandjie. “Kom, Hillie,” gebruik sy die troetelnaam, “vat gou en gaan bring sy seekos weg. En sommer droë sokkies vir hom en Boetie.”
Boetie is haar lieflingkind, haar enigste aanspraak vandat Helena uit die huis is. Wie se voete sy snags gaan toemaak as hy hom oopskop. Oor wie sy wonder óf en wat hy eet, sodat diep kommerstrepe in haar gesig keep.
II
Die vissermanne staan in groepies bymekaar, party gretig om uit te gaan, ander half onwillig. Die skippers hou raad. Waar loop soek hulle vanaand die vis? Hoe lyk die weer?
Een van die oudstes het sy mond tuit gemaak soos ’n tregter en blaas ’n slag ghoe-ghoe voor hom uit. Toe daar ’n wasemrigheid voor hom bly hang, voorspel hy: daar kom ’n bank toemis aan. Dis wat die manne wil hoor. Daar is altyd ’n paar wat rede soek om terug te draai. As die wind effens te hard waai, kom maak hulle vas.
Party was vanoggend teen die witstrand op met die jeep, maar het nie juis tekens gewaar nie. Nêrens ’n voël teen die wal nie.
“Hoe lyk dit, Auret, daar sit nou al snags ’n stukkie maan,” waag een. Met volmaan wanneer die water nie vuur nie, lê die skuite ’n paar dae op.
Auret Nagel het ’n ongelukkige week gehad. Eers probleme met die masjien, en Vrydagnag was die vis in die klip en het hy sy net fyngeskeur. Hulle moes net daar optel en huis toe kom, en het die hele naweek sit en lap en skeure toeryg.
Hy hou hom doof vir sy crew wat onderlangs murmureer. Hy is ewe moeg as hulle, maar as hy kan uithou, kan hulle ook. Hy het klaar besluit. “Die maan kom eers vieruur uit, daar is oorgenoeg donkerte. As dit lyk na hoe, kan ’n mens altyd Bobaai toe loop.” Daar het die manne die vorige week bietjies-bietjies sardyn gevang.
Hy kan nie bekostig om die weer te lê en kyk nie. End van die week staan al wat crewman is bakhand, dan moet hy uitbetaal. “Ek dink ek sal maar so ’n draai loop, wat. Dalk steek iemand êrens ’n vaart uit.”
In die Bobaai loop rondfletter? So praat ’n man wat niks het om hom by die huis te hou nie. Wat nie ’n nooi het nie, en as hy een het, nie weet waar sy rondloop nie.
Auret haak sy stewels oor sy skouer. Van die meisie in die kort katoenrokkie en sandale, hoed vasgedruk met die een hand, kosmandjie in die ander, sou hy nie notisie geneem het as ’n crewman nie op daardie oomblik opmerk nie: “Hillie van ou Jas. Vanmôre voor die hotel afgeklim net toe Jas die buik vol vis insleep. Jy moes hom vanmiddag op die muur gehoor het; hy het glad op die skuit kom slaap. As ek hom ken, sal daar nie juis ’n kalf geslag word nie.”
Auret blaas sy asem uit. Dan is dít hoe sy nou lyk: ligrooi hare, lang bene. Hy weet maar alte goed van die struweling tussen Jas en sy dogter. Moeilike ou man, en die meisiekind glo ’n kruis.
Hy onthou haar uit die dae toe sy kaalvoet saam met Vilna Frost rondgehang het in die winkel en op die strand. Maar sy is toe hoërskool en kollege toe, agter die Frost-kinders aan geleerd loop word, om vol aanstellings terug te kom. Vaagweg onthou hy hoe sy Boetie skoolvakansies halfpad deur ’n skiet-skop-en-donnerprent aan sy arm gevat en feitlik weggesleep het huis toe.
Ou Jas se voorsate stam uit die Dene, sterk mense, en so taai dat hulle bars. Sy ma was ’n Nimb met so ’n kop hare. Deurmekaargemaak met die Burres is hulle ’n nasie op hul eie. Helena is ’n nooi wat hy hom voorgeneem het om nog eendag te vry, maar hy het nooit die kans gekry nie.
Die net is gelaai. “Jis, kêrels,” sê Auret toe hy sy voet oor die rondereel sit en aan boord kom, “gaan na dat alles reg is. Water en olie? Is die toue gekuil?”
Hy gaan tik die barometer. Dit het ’n nommer geval, maar die middag is mooi. ’n Pienk dag, sê die vissers. Die moontlikheid van mis is daar, maar dis nie meer die dae toe hulle met lanterntjies aan maspale gesukkel het nie. Jy het jou radio en DF, en deesdae die eggolood. En almal ken die kus.
Jas is reeds by die passasie uit toe Auret die stuur vat. Arme ou man, dink hy vlugtig. Hy het nou eenmaal ’n swak plek vir die ou bokker, al is hy ook so dwars soos ’n deur. Die ou sal wel later gal braak oor die dogter se dinge.
Die bakkie sleep ’n skuimstreep aan ’n kort tou agter die skuit aan. Agter by die kombuis koek die manne saam om koffie te drink. Hulle gee vir die skipper deur die luik aan. Hy vat ’n sluk. “Ek gaan nou kop toe. Sê as jy iets op die echo merk.”
Hy gee die stuur vir die wielman en klouter oor die toue tot voor op die punt, vat met sy een hand die geroeste takelwerk vas en kyk wyd uit oor die see. Hy fynkam die kus met sy oë, soek of daar nie iewers ’n malgas val, ’n withalsduiker duik of robbe in die wal werk nie. Of hy nie ’n swart kol gewaar wanneer ’n stuk vis rys nie.
Die skemerte verdiep. Die donker rol oor die oop see aan, en een ná die ander verskyn die sterre. Toe hy nog niks gewaar nie, gaan hy terug na die stuurkajuit en skakel op ’n ander band in, probeer die skuite verder teen die kus op roep, vroetel met die knoppe. Hy verander ’n slag van koers, sy oog heeltyd op die eggolood. Sien g’n teken van vis nie.
Dit word laat. Die manne het een vir een