Hoogty. E. Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: E. Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703669
Скачать книгу
vertroulike inligting omtrent pasiënte geliasseer word. “En die drug-kas.” Waarvan net Felix die sleutels het.

      “Dis nie ’n kwessie van vertrou nie, dis ’n beginsel, ’n verhouding tussen ons en ons werkers. As ek laat slap lê, maak hulle ook soos hulle wil, en dan loop dinge verkeerd.”

      Toe hy die sleutels aan die lussie van sy gordel haak, voel sy op haar plek gesit. Op Harmstat word dinge volgens ’n vaste stelsel bedryf, hier is nie plek vir losklosse nie.

      Bowendien verskil dit nie juis van die tros skuitsleutels in Jas Burre se broeksak nie. Sy sien haar ma by die kombuistafel sit met ’n dik ferweelbroek van haar pa waarvan die sakke aljimmers vervang moet word, deurgeslyt van sleutel dra.

      ’n Meisie trou nie voor sy nie ’n broeksak en ’n gulp kan insit nie, hoor sy ant Berta Nagel, Vollemink se kleremaakster, en ant Tiek gesels.

      Die naweek het soos ’n gedagte verbygevlieg.

      Chris kan met reg trots wees op sy gesaaides en vee. En daar heers ’n goeie verhouding tussen die Retiefs en hul werkers. Vyf bediendes het Helena in en om die huis getel, van Fransiena in die kombuis tot by die was-en-strykvrou, wat van geslag tot geslag op dieselfde plaas aanbly.

      Dis nie soos op die see waar die man een nag aanstoot kry en môre sy mandjie en slaapgoed vat en afklim nie. En die skipper moet maar rondval om vanaand ’n man in sy plek te kry.

      Helena word hand en voet bedien, ’n gas wie se bed opgemaak en handdoeke in die son uitgehang word. Selfs die rok wat sy die vorige aand oor die stoelleuning gehang het, is weggeneem om gestryk te word as sy van die brekfistafel af opstaan.

      Dit het die Saterdagnag gereën, en Sondagoggend is alles fris en skoon gewas. Tant Nelie het darem opgestaan. Sy kom saam met hulle na die kerkdiens oor die radio luister, oom Stoffel met ’n das en baadjie aan en Chris ook. Helena het die seersakker-pakkie aan wat ant Berta Nagel in matriek vir haar gemaak het. Effens te kort, die skirt se soom op haar knie, sodat ’n stuk been wys.

      Toe tant Nelie die gesang insit, eers te hoog en toe weer te laag, sodat die lied byna verby is voor hulle die noot het, moet Helena ’n lag onderdruk. Amper soos die gemeente op Vollemink wat vooruit hardloop terwyl arme ant Tiek agterna kom met die orrel. Dan wou sy en Vilna hulle doodlag. Twee spektakels voor in die kerk, te dom om te weet die mense kyk vir hulle, en dat hulle later raas gaan kry.

      Fransiena het lekker pampoenkoekies vir middagete gemaak. En Helena het vir die poeding gesorg: jellie met gebreekte Mariebeskuitjies en ingemaakte perskes wat die nag in die koelkamer styf geword het, met vla daarby.

      Vyfuur trek Chris die Chrysler uit en sê sy nog ’n keer vir die oom en tannie met ’n soengroet dankie. Vir haar gevoel is dit reg.

      “En wat van my?” wil Chris bekaf weet.

      Ewe koel haal sy die koevert met die veertjie uit haar handsak. “Dis vir jou.”

      “Vollemink!”

      Dit gee ’n gelag af toe hy haar met die veertjie kielie en dit toe in sy hoed se band steek.

      Hoofstuk 5

      Dis te gou om op Chris de Wet verlief te wees, weet helena, maar hulle is goeie vriende. Hy kom haal haar plaas toe en neem aan sy bly vir die naweek. Soms bring hy haar eers Maandagoggend terug.

      “Jy word maer,” merk Anneke op.

      Dis waar. Helena het ’n pond verloor in een naweek en moes haar gordel verstel.

      “Dit lyk nie of jy by die fris jong boer kan byhou nie. Ek sal met Chris moet gesels,” dreig Felix.

      Helena lag net. Dis te wyte aan die dieet van vleis soggens, middae en saans. Dit gee al ’n gespot af dat Chris amper alles uit haar bord oorskep in syne.

      Waarop sy versot is, en wat haar naweke feitlik aan die lewe hou, is die krummelpap wat Fransiena soggens maak. Heerlik met melk en botter vir ontbyt, en met tamatiesmoor by ’n stukkie wors vir middagete. Saans niks meer as ’n beker kookmelk nie.

      Waarna sy en Chris nog laat opbly, na musiek luister, tuisgemaak op die chaise longue, wat nie baie gemaklik is nie, maar waarop hulle nader aan mekaar kan sit. ’n Bietjie vry, namate hy meer stoutmoedig word. Min eet en gebrek aan slaap, omdat geeneen daaraan dink dat hulle die volgende oggend vroeg moet opstaan nie, laat haar skraler word.

      Sy raak een van die familie toe sy van die vrykamer af verskuif word na “die dogters se kamer” (oom Stoffel se meisiekinders), langsaan die oom en tannie, en regoor Chris. Oor die dubbelbed is ’n blou-en-goue donskombers gevou. Want ongemerk het die herfs ingetree en die nagte begin koud word, hoewel die dae nog warm is.

      Sy raak saans aan die slaap met ’n afwisseling van geluide: oom Stoffel se sagte gepaf tussen tandelose lippe, tant Nelie se ligte snorkies . . . Chris? Hy vroetel nog voordat sy sy bed hoor kraak.

      Waar, o, waar is die seegeluide waarna sy saans op Vollemink luister? Waarvan sy nooit seker is of dit branders is wat oor die strand spoel en tot in die rand van die hondepisbossies kom draai nie, of die koue suidewind wat deur die rietdak suis. Die geritsel van blare in die evergreenboom, en die gekraak van die bodeur waarvan die werwel afgeglip het. Jas Burre wat hard keel skoonmaak en spoeg, en water afslaan.

      Sy is versigtig vir nie te eie word nie. Sy trap nie oor Chris se kamerdrumpel nie, maar bly staan in die deur toe hy haar nooi om na iets te kom kyk. Baie bewus daarvan dat tant Nelie, wat ’n bietjie lê, se deur oopstaan.

      Op die gordynkap en kaggelrak staan die handgemaakte modelvliegtuigies ingeryg. Soortgelyk aan dié wat Vilna Frost se broer, Fletcher, gebou het in sy laerskooldae.

      “Dis eintlik Pa se liefhebbery, wat later ook myne geword het,” vertel Chris trots.

      Aanvanklik was dit vir Helena verwarrend as hy van sy oorlede pa praat en ook Stoffel Retief sy pa noem, maar sy leer gou onderskei. “Pa” is Stoffel. “My pa” is sy biologiese pa.

      “Pa was vroeër ’n vliegtuigwerktuigkundige. Kleurblind, anders sou hy seker ’n vlieënier geword het. Deesdae hou hy die plaasgereedskap in stand. Nie juis ’n boer nie,” erken Chris, “eerder ’n instrukteur wat my baie geleer het van masjinerie en metaalwerk. Ongelukkig het hy nou ’n bietjie swaar geword.”

      Sy word saamgeneem na die skuur waar die werktuie ingeryg staan: trekkers, ploeë, snymasjien, dorsmasjien, lorrie, bakkie, alles onberispelik en agtermekaar.

      Presies soos die masjienkamer van Jas Burre se trolskuit. God bewaar die drywer as dit die slag nodig is dat hy daar moet af en dit stink na olie. Want Jas kry seesiek.

      Hoe langer, hoe meer het sy begin wonder hoe dit vir Chris moet wees om week-in en week-uit hier op die plaas slegs in sy ouers se geselskap deur te bring. Radio te luister, ’n draai met die hond oor die werf te stap, te kom slaap, om môre vroeg by die melkery te wees. Verveeld, het sy hom Tweede Kersdag hoor sê toe hy op Grenspan aangekom het.

      “Maklik,” antwoord hy ligtelik, “ek het ’n meisie wat my besig hou. En heelwat vriende, sal jy nog agterkom. Jy sal hulle nog ontmoet. Ek speel rugby. Ons het reeds begin oefen,” noem hy op. Hy is lid van die skietvereniging op Hobhuis; hy maak hom klaar om aan die bisley-kompetisie in Bloemfontein deel te neem.

      Sy aktiwiteite waarby sy nie betrokke is nie gee Helena tyd vir haarself: om saam met Anneke Ladybrand toe te gaan vir ’n tandartsafspraak en noodsaaklike inkope te doen. Sy kort warm pajamas en ’n paar gemaklike winterskoene wat ook geskik is vir die plaas, ’n roompie vir haar gesig en hande wat erg deurloop in die koue weer.

      Sy koop lyfpoeier vir tant Nelie en suiglekkers vir oom Stoffel, wie se swakheid sy ook al agtergekom het. Op die ingewing ’n mooi bont kopdoek vir elkeen van die huiswerkers en vir Boetie wol vir ’n trui: blou om by sy donker vel te pas.

      Vir Chris het sy oor die hoof gesien, iets wat hy haar laat ontgeld.

      “Jy kan vir my ook ’n trui brei.” Uit die rak van die plaaswinkel kies hy ’n pak goudgeel wol, nader aan borrie as goud.