Ek het die deeghartjies en -klawertjies, wat ek al op die kombuistoonbank in oondpanne uitgepak het, weer alles inmekaar gedruk, sonder dat ek geweet het wat ek doen. Die deeg het deur my vingers gepeul. Ek was kortasem. Here, hoe kan dit wees dat selfs ’n rooikat of jakkals, nie eens ’n hond, haar daar gaan uitsleep het nie?
Sus
Toe Sus in die stoepkamer kom, het ant Hildegard haar ingewag, arms gevou, mond op ’n plooi. “Jy moenie dink jy kan hier op ons nekke kom lê sonder om ’n bydrae te maak of ’n steek werk te doen nie.”
Sus het haar koffer oopgeknip en drie pond uitgehaal. Ant Hildegard het dit smalend by haar gevat, dit in haar voorskoot gesteek. “Die welfare wil vir jou Vrydag sien,” het sy gesê. “Daar’s ’n paartjie wat glo bereid is om jou hoerkind te vat.”
Die kamer het om Sus gedraai; sy het op die matras gaan sit. “Waar is my oumagrootjie se orreltjie, ant Hilde?”
“Verkoop.” Ant Hildegard het die middeldeur hard agter haar geklap.
Sus het naar gevoel. Sy het na die puttoilet agter die huis gehardloop. Sy het oor die diep gat in die houtbankie gebuk en afgekyk. Haar niggies het vertel dat hulle vorige bediende haar kleintjie hier ingegooi het; dat die polisie die baba moes uithaal. As oom Jasper nie die dingetjie hoor skree het nie, het dit nou nog daar in die donker stank gelê.
Sus se maag het geruk, haar arms was hoendervleis. Die spookasem en springmielies wat hulle by die rolprentteater geëet het, het draderig uit haar mond gekom. Sy het bleek in haar niggies se kamertjie op die mat gaan sit en haar mond aan haar hand afgevee. Oral het bondels onderklere en sykouse en plaatomslae gelê. Ruby Wright en Patti Page en die Delmore-broers.
Teen een van die mure was ’n boekrakkie, saamgeflans uit twee planke en oorgetrekte bakstene. Daar was ’n paar uitgawes Naweekpos en stokou Duitse digbundels daarop. Heine en Freytag. Langsaan, Die Meulenaar, Mikro se Koperkan en Die sprinkaanbeampte van Sluis. Op die onderste rak was The wind in the willows, The Great Gatsby en Arms and the man.
Voor die venster het geblomde gordyne gehang en op Ella se bedkassie was ’n stowwerige rubberplant, ’n wekker, die Bybel en ’n bottel hoesstroop. Van die hopie sykouse het ’n muwwe, suurderige reuk gekom, maar daar was ook die geur van gesigpoeier en laventel. Teen die mure was modeprente met kleefband vasgeplak. Mannekyne met dun middeltjies in aandtabberds, handskoene en pêrels. Party se monde rooi en pruilend, ander se wenkbroue gelig terwyl hulle koketterig oor ’n kaal skouer loer.
Agter die deur was ’n kleurprent van Paul Newman met sy blou oë en ’n kuiltjie in die ken. Sy smeulende blik het Sus skaam laat wegkyk. Op ’n lessenaar het ’n swart tikmasjien gestaan met ’n halfverkreukelde vel papier daarin. “Ek gaan nog eendag draaiboeke daarop skryf,” het Ella gesê toe sy Sus se oë daarop sien. “Give my regards to Broadway, Schatzi!”
Inge het blitsig opgespring en donderwetterdonderwetterdonderwetter op die tikmasjientjie geplets; so vinnig, die toetse het vasgehaak. Sy het hygend oor die lessenaar gelag, rondgetrippel asof sy ’n nood het. Ella het haar voor die tikmasjien weggestamp, die roller met ’n “ke-tjieng” teruggedruk en ingeborg is ’n drol getik. Hulle het mekaar gekarnuffel en hulle mae vasgehou soos hulle lag.
Al hierdie dinge in haar niggies se kamer het Sus getroos en die naarheid laat bedaar. Dis net die rubberplantjie wat haar gepla het. Dit was aan die kwyn, dit kon sy sien. Binnekort sou die blare vergeel en afval, uiteindelik sou dit wegkrimp en vrek.
“Jou plantjie moet buite kom, Ella, son kry,” het Sus angstig gesê. Sus se niggies het haar oopmond aangekyk.
Esmeralda
“Hulle doen nou navorsing oor die families wat die afgelope halfeeu op daardie plaas gebly het, natuurlik om genetiese materiaal te versamel en te vergelyk.” Benjamin het die koerant toegevou en opgestaan om sy koffiekoppie in die wasbak te sit. “Dem interessante storie.” Hy het deur sy tande gefluit. “Miskien spoor hulle die moordenaar nog op, ná al hierdie jare.”
Ek het siek gevoel. Maar ek kon dit nie vir Benjamin wys of sê nie. Want dan sou ek weer moes aanhoor ek is nes my breindood “leseresse” wat net mooi goedjies wil lees. My lesers vir wie ek mooi storietjies moet opmaak. Kluitjies moet bak. Fraai verhaaltjies met mooi mense, mooi plekke en nog mooier eindes. En natuurlik toegestrik met pragtige stofomslae van beeldskone meisies en smeulende helde. My lesers wat nie die werklikheid kan face nie. Wat anderpad kyk vir armoede en wreedheid en aardverwarming. Wat hulle eie mooiweerswêreldjies in hulle koppe wil skep omdat die lewe hard genoeg is. Nou wil hulle net spookasem lees.
Ek weet ook maar te goed wat Benjamin van my hygromans dink. Dis ’n klomp tos, het hy al eenkeer sommer prontuit vir my gesê. En ek is ’n ou hoer van ’n skrywer omdat ek enigiets sal skryf vir geld. Myself sal verloën net om iets gepubliseer te kry, al is dit flouer as akkedispis. Maar Benjamin het natuurlik nie ’n benul waar geld vandaan kom nie. Hy hoef nooit winteroggende met donker op te gestaan het om koerante af te lewer of om die kasregister by Checkers te gaan slaan nie, dis dié.
“Maar, Benjie,” het ek baie keer al teruggekap, “Ma gee mense plesier. Ek gee hulle bietjie opwinding en ontvlugting van hulle saai lewe.” Maar hy het voet by stuk gehou dat ek my skryftalent misbruik. Ten minste dink hy ek hét talent. Oor die jare het ek geleer hoe om ’n kompliment tussen sy spul beledigings uit te sif.
My hande het daardie Saterdagmiddag vanself kinderlyfies uit die olierige broskoekdeeg begin vorm. Koppe op dun nekkies en lomp ledemate. Ek het dit op die bakplaat neergelê en in die oond gedruk. Die oondliggie aangesit en vir twintig minute gesit en kyk hoe die kinderlyfies uitsit en skeeftrek, hoe hulle mae opswel. Soos liggame op ’n rivierbodem, het ek gedink. Met konfytflesse om die tenger nekke gebind, het ek my verbeel.
Ek het twee van die louwarm koekmannetjies geëet. Eers die koppe afgebyt, toe die arms. Gekou en gesluk. Gekou en gesluk. Die bevredigende gekaramelliseerde smaak van suiker en botter geproe. As Martine dié toneel sou skilder, sou dit soos ’n Goya-skildery gelyk het: Saturnus verslind een van sy kinders. So iets.
Hoe skryf ’n mens oor iets so gruwelik, het ek gewonder. Hoe klim jy in die lyf van ’n vrou wat ’n verroeste spyker deur haar pasgebore kind se kop druk? Hoe kom jy in die kop van ’n persoon wat haar kind verwurg en dan gaan aandete maak? Hoe verstaan jy die psige van ’n kindvrou wat haar baba verdrink terwyl sy wasgoed met blouseep was? Keer op keer op keer.
En tog is skrywers en reeksmoordenaars in baie opsigte dieselfde, het ek gedink. Albei het ’n vrugbare verbeelding. Albei kan soms nie tussen verbeeldingsvlug en werklikheid onderskei nie. Beide is alleendiere wat die trop vermy. Al twee was waarskynlik bleeksiele op skool. Wat in die biblioteek weggekruip het en deur ander kinders afgeknou is. Albei wreek hulle op ’n wêreld wat hulle verstoot het. En beide wil God speel, wil mag oor lewe en dood hê. Want het skrywers nie al meer karakters afgemaai as Jeffrey Dahmer, John Wayne Gacy, Rosemary West, Daisy de Melker en Moses Sithole nie?
Ek het een van die koekmannetjies in ’n beker warm tee gedoop. Die nekkie het slap geraak en geknak, die kop het vooroor in my tee geval en opgelos.
So min as sewentig jaar gelede was mense nie so van die dood vervreem soos vandag nie. Veral nie op plase nie. Hulle het daagliks met die dood saamgeleef. Hulle het dikwels hulle laaste asem uitgeblaas op dieselfde bed as waarop hulle kinders verwek is. Hulle het siekes tot die dood versorg. Die oë van dooies toegedruk en by lyke gewaak. Self hulle dooies gewas, uitgelê en begrawe. Lank voor hulle sterfdag het hulle doodskiste al op die solder gelê en wag.
Vrouens is dikwels aan kraamkoors dood. Kinders het gereeld van masels en kinkhoes en skarlakenkoors en pokke en witseerkeel omgekom. Mans het op slagvelde gesneuwel. Net die sterkstes het oorleef. Mense het die dood aanvaar as deel van die lewe. Self het ek as kind ’n tant Lalie Brits geken wat nie haar kinders teen Duitse masels wou laat inent nie, want