Dis dié dat ek toe verlede jaar met die inbraakpoging soos ’n hondsdol ding aan die lag gaan toe ek nogmaals in die loop van ’n skietding moes vaskyk. Ek het die agterdeur oopgemaak vir Dingaan om te gaan pie, toe staan poephol-met-die-pistool op my stoep en sê vir my ek beter my bek hou. Daar begin ek lag, heeltemal histeries. Ek het my letterlik nat gepiepie. Warm straaltjie wat teen my binnebeen afloop. Toe vlug die ou oor Plastiektiet se betonmuur. Seker gedink dis ’n ou mal vrou wat hier bly, Gadaravark wat hom al skaterend gaan stormloop.
Maar die snaaksste was toe ou Koot een aand bo-op my aan die slaap geraak het. Die een oomblik het hy nog gretig aan my gevroetel en my in die nek gesoen. Die volgende oomblik het hy teen my bors gesnork, salig aan die slaap met ’n kwylsel op my boesem. Ek kon sommer voel hoe smile God saam met my.
Foeitog, ou Koot. Hy het die wêreld van my gedink, maar sy kinders het my verafsku. Hulle was oortuig ek het met hom oor sy geld getrou. En hulle was reg. Hy was twintig jaar ouer as ek en nou nie juis ’n oil painting nie. Kortgat en bles. Harige neusgate. Maar toe gebeur die ondenkbare, die onverklaarbare. Ek raak vir hom lief, regtig lief. Ek het nie eens geweet mens kan iemand so liefkry nie. Dat jy kan verknog raak aan elke moesie, sproet, iedere haartjie op sy lyf. Elke sêdingetjie en gewoontetjie. Die manier waarop hy na my gekyk het. Sy stemtoon wanneer hy my “goggatjie” genoem het. Sy reuk, hoesie, selfs sy gesnork. Snags het ek wakker gelê om te hoor of hy nog asemhaal en sy hart nog klop. Bedags gekyk of hy eet en darem opelyf het.
Vir sewe van die nege jaar wat ons saam was, het ek werklik liefde geken. Maar sy kinders kon dit nie raaksien nie. Tot en met sy dood het hulle my verag, selfs ná sy dood. Hulle het met slenters en later met ’n hofsaak sy testament onklaar probeer maak. Die regter deur hulle ou jakkals van ’n advokaat probeer oortuig dat Koot nie al sy varkies op hok gehad het toe hy dit laat opstel het nie. Dat hy die afgelope nege jaar al seniel was. Dat ek hom gemanipuleer het. Uiteindelik dat ek die ding vervals het. Maar ek het een van die beste prokureurs in die stad gekry om my te verdedig. Aggressiewe Jood met ’n bokbaardjie wat ’n kleinhuisie vol geld gekos het. Want al het ek lankal besef geld kan nie geluk koop nie, het ek geweet dis beter om agter in ’n limousine te sit en tjank as agter op ’n scooter. Nou nog tjank ek oor Koot. Hy was die eerste man wat my geleer het om ook vir myself lief te wees.
Eers jare daarna het sy jongste seun my een oggend uit Kanada gebel. “You really did love him, didn’t you?” het hy ná ’n ongemaklike stilte gevra. “Ja, ek het,” het ek geantwoord. Toe het die foon doodgeklik. Seker in trane, die arme man.
Ou Koot Hamman het ek deur ’n pasmaatsrubriek in ’n tydskrif ontmoet. Eers was ek skrikkerig vir die hele affêre. Sê nou maar net Pot Soek ’n Deksel van Kroonstad of Captain Sunshine van Germiston of Hartebreker van Port Elizabeth is almal gesertifiseerde psigopate? Of seksmaniakke? Maar mens kan mos psigopate en seksmaniakke in die kroeg ook optel, het ek gedink. Of in die kerk, dalk juis in die kerk. Daarom het ek deurgedruk. Boonop was ek moeg gesukkel. Moeg vir sente omdraai. Dik vir konfyt kook en lappies naai. Keelvol om soetlike stories uit te dink vir vrouetydskrifte. Sat vir die beknopte huisie in Hercules met sy lekkende dak, deurgeroeste geiser en pienk muurpapier. Ek moes ’n man met geld kry en gou.
Ek het my aansoek ingestuur: Maagd (darem net my sterreteken!) van Pretoria is ’n 56-jarige Christenvrou met rooibruin hare en groen oë. Sy is 1,68 m lank, mollig en hou van kook, naaldwerk, lees, tuinmaak, musiek en kampeer. Sy is lid van die NGK en rook nie, maar geniet ’n glasie wyn by geleentheid. Haar ideale maat is eerlik, selfonderhoudend en het ’n goeie sin vir humor. Mans van 55–75 wat die oog op ’n vaste verhouding het, is welkom om te skryf. Hy mag ’n bles, baard of snor hê.
Koot kon kies tussen Aspoestertjie van Kemptonpark, Woestynblom van Namibië en Blonde Bom van Brakpan, maar hy het mý gekies. Selfs toe hy sien ek is nie net mollig nie, maar spekvet, het hy van my gehou. En toe hy agterkom die “glasie wyn by geleentheid” is eintlik twee liter dooswyn per dag, het hy my aanvaar. Die res is geskiedenis.
Ja, die Here het maar ’n sinistere sin vir humor. Daarom kan ek ook wraggies nie help om te wonder of Hy nie dalk in sy mou lag vir party gospelsangers se geteem nie. Want party goed wat ek oor die radio hoor, laat my hare behoorlik rys. Laat my cringe, soos Benjamin sal sê. Dan wonder ek, vind Hy dit komies of bekotsenswaardig? Verkies Hy Arvo Pärt bo Jan de Wet? Of is alle pogings tot lofprysing, hoe power dit ook al in sekere mensore mag klink, vir Hom aanneemlik?
Ek onthou nog hoe Benjamin as klein seuntjie met oorgawe in die kerk gesing het, ontsettend vals. Maar daar was lig in sy lewerikogies wanneer hy “Stille nag” of “Kom herwaarts, getroues” gesing het. Nou glo hy in niks. Op ’n dag sommer ophou kerk toe gaan en geweier om die seën aan tafel te vra. Uit die bloute een oggend aangekondig hy is nou ’n ateïs en ek moet hom fokkenwil uitlos.
Maar ek dink die ding het gekom omdat hy as kind elke aand vir ’n pa gebid het. Jare lank. Ek het hom dikwels gehoor. Wanneer ek saans sy bedliggie afsit, die laken onder sy ken indruk en hom soen, het ek nog ’n rukkie in die donker gang bly staan. Dan het ek gehoor hoe hy vra en vra. Tevergeefs, want die talle mans wat ek oor die jare huis toe gebring het, het hy nooit as pa aanvaar nie. Nie eens vir ou Koot wou hy “pa” noem nie. En Koot was goed vir Benjamin, het hom soos sy eie kind behandel.
My dierbare, sensitiewe Benjamin. Wat ook maar ’n bliksem kan wees as hy die dag wil. Toe ek hom een en dertig jaar gelede vir die eerste keer in my arms vasgehou het, kon ek nie glo hy is myne nie. Iets so heel, so perfek. En stewig, asof sy handjies en voetjies aangeskroef was. So klein as wat hy was, het hy daardie lenteoggend opgekyk na my. Met soveel vertroue en onskuld dat die wêreld skielik sin gemaak het. Ek het hom dadelik liefgehad. Al was my omstandighede allesbehalwe ideaal, het ek my voorgeneem om hom die beste te gee. Maak nie saak wat ek moes prysgee of hoe hard ek moes werk of watse slenter ek moes gebruik om my doel te bereik nie. Ek sou hom met my lewe beskerm. En ek het hom goed versorg, dit kan ek onomwonde sê.
Ek het hom oral in sy drastoeltjie saam met my geneem, selfs na die haarkappersalon en restaurant waar ek in daardie stadium gewerk het. Ek het met hom gesels, hom vir uitstappies gevat, met hom gedans, musiek gespeel, vir hom gesing, hom na simfoniekonserte geneem, Bybelstories voorgelees. Saam met hom saadjies geplant, geteken, insekte versamel, voëltjies gedokter en koek gebak. Hy het die verskriklike leegheid in my vol gemaak.
Aanvanklik was hy ’n knieserige baba, huilerig en ontevrede. Hy het verseg om te slaap, sy ruggie styf gemaak en soos ’n ruspe gewriemel wanneer ek hom in sy wiegie wou neerlê. Hy het my gedaan gemaak, my lyf uitgemergel en my leeg gedrink. Maar later was hy die skattigste ou ding, lief vir drukkies en soentjies. Sagaardig en skrander op skool. Ook so verskriklik lief vir diere. Hy kon nog nie eens behoorlik praat nie, dan kerm hy as die munisipaal se trekker die veldjie oorkant die straat kom sny. Want wat van die kiewietneste? wou hy weet. Die kiewieteiertjies. Die krimpvarkies en skilpaaie. Ook gedurig by die huis aangekom met ’n weggooikatjie of rondloperhond of kuikentjie, dan kry hy omlope en haakwurm.
En daardie keer, hoe kan ek vergeet, toe ek hom vol bloed in die badkamer gekry het. Selfs die mure en vloer was die ene bloedspatsels. Ek het my stom geskrik, maar nêrens was daar ’n snytjie, nie eens ’n skrapie aan hom nie. Hy was so verskriklik ontsteld, hy kon skaars praat. Net die rou snikke wat uit hom kom.
Die bloed het uit die dak gedrup, het hy eindelik met ’n bewende lyfie gesê, uit die mure gekom. “Dis die diere se bloed,” het hy gehuil, “die diere wat seerkry.” Watter diere? wou ek weet. Toe kom dit uit dat hy DBV-foto’s van mishandelde diere by ’n maatjie gesien en huis toe gehardloop het. Toe kom die vreemde ding oor hom in die badkamer toe hy naar word. Nou nog weet ek nie wat regtig daardie dag gebeur het nie, maar ek het besef dat daar ’n spesiale