Kelder. Gerda Taljaard. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Gerda Taljaard
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624054320
Скачать книгу
dat hy kon universiteit toe gaan. Boonop was sy wiskunde en wetenskap goed genoeg. Maar toe vat hy wraggies sy studiegeld en gaan koop die Portugees se blommewinkel. Sal die plastiektietbuurvrou toe wragtag een middag smalend vir my sê: “O, ek sien Benjie werk in die bloemistewinkel, dis nou oulik.” Hy ís die bloeming bloemis, jou ou tert, wou ek sê. En dis sý verdomde winkel wat hy met mý bloedsweetgeld gekoop het. Terwyl jy op jou gat by die swembad gesit en naels verf het. En jou man met die tuinier verneuk het. Maar nou ja, dis nou weer ’n ander storie.

      Toe Benjamin so ’n laitietjie van sewe, agt jaar oud was, was daar ’n buitengewone band tussen my en hom. Hy het my vertroos wanneer my hart seer was en ek het sy buie verstaan. Ek het hom vasgedruk as hy liefde wou hê, hom uitgelos as hy die dag alleen wou wees. Ons kon sonder woorde met mekaar praat. Soos die keer toe hy op ’n Voortrekkerkamp ’n winkelhaak in sy maag teen ’n doringdraad geval het. Nog voor hulle my gebel het, het ek geweet. Want toe ek daardie middag ’n bietjie teen die hitte gaan lê, het ek Benjamin se stukkende lyfie voor my gesien. ’n Paar uur later het hulle gebel dat ek hom by die hospitaal moet kom haal. Ek het hom daardie aand by my in die bed laat slaap. Hy het na my gedraai en met sy swart ogies in myne gekyk. “Ek sal nooit, ooit weer van Mammie af weggaan nie,” het hy gesê.

      Arme Benjamin moes al dikwels die rol van ’n vaderfiguur in ons huis speel, selfs as klein seuntjie. Hy het my probeer beskerm teen die uitvaagsels met wie ek soms uit eensaamheid en despe­raatheid by die huis aangekom het. As tiener het hy letterlik een van die mans wat my sleggesê het, uit die huis geboender. Dit was ’n blokman by die slaghuis waar ek vir die restaurant vleis aangekoop het. Boet Craucamp. Soos vele mans voor hom, was hy aanvanklik die dierbaarheid vanself. ’n Gentle giant, het ek gedink. Maar later het ek die gevaartekens herken en dit gerieflikheidshalwe geïgnoreer. Die vinnige humeur, jaloesie en besitlikheid. Letta se onderklere wat van die draad af verdwyn het. Selfs die beenmeel in sy sideburns het ek misgekyk.

      Toe kom ek eendag laat by die huis aan en daar wag Boet my by die agterdeur in. Rooi van woede en polisiekoffie. Hy het my van ontrouheid beskuldig en goed in die kombuis begin rondgooi. My ’n slet genoem – soos mans nou maar maak as hulle te onnosel is om ander beledigings uit te dink. Benjamin het daar aangekom en hom van agter om die nek gegryp, op sy rug gespring, sy wang gebyt en aan sy bakkebaard gepluk.

      Toe Boet omdraai, het Benjamin hom tussen die bene geskop. Hy het na Benjamin geklap, maar Benjamin het weggespring en daar slaan Boet soos ’n os neer. Toe het ék Boet met ’n swaarboomkastrol oor die kop gemoker en die polisie gebel. Benjamin het Boet aan sy klere by die agterdeur uitgesleep en hom met die trap laat afrol. Dit was die laaste sien van die blokman met die mince in sy sidies.

      Maar Benjamin moes my ook al dikwels teen myself beskerm. Oor my drinkery. Hoeveel keer het hy nie al mooigepraat en gedreig en baklei nie. My duur whiskybottels stukkend gegooi, maak nie saak waar ek dit wegsteek nie. Of dit nou onder die vloerplanke of agter die stoof of onder my lykswa se enjinkap of tussen die kannas is, hy ruik dit uit. Hy is my altyd een voor. Selfs nou dat ek my drinkgewoontes min of meer onder beheer het, is hy op sy hoede. Altyd agterdogtig.

      Ek kry die idee dat hy sy respek vir my verloor het, dat hy my minag. Eintlik vir my gril. Dat hy my net verdra omdat dit gerieflik onder my dak is. Hy dink ek is kommin, dit weet ek tog. Uit die oude doos. ’n Ou doos. Ek kan mos sien. Die manier waarop hy na my klere en haarstyl en Crocs kyk. Hoe hy hom opruk oor my sêgoedjies, hoe my grappies hom irriteer en my onkunde hom laat gru. Maar bly sal hy bly. Oor sy klere gewas en gestryk kom en sy etes voorsien word. En ek fasiliteer dit natuurlik gelate, want eensaamheid is ’n vreeslike ding.

      Ek sal sorg dat hy bly. Met die toebroodjies wat ek elke weeksdag inpak en sy skoene wat ek saans poets. Die pakkie vars fudge wat ek op sy kussing sit. Al word hy volgende jaar twee en dertig en al het sy weird girlfriendjie met die neusring en poliostewels ’n woonstel in die stad waar hy in elk geval oor naweke bly.

      Die girlfriendjie, Martine, hou darem van my. Hoekom anders sal sy skilderye van my maak? Een waar ek soos Venus uit die see stap met net ’n strandbal onder my arm en seewier in die hare. ’n Ander waar ek kamtig soos in Ingres se Grande Odalisque op my sy lê en verleidelik met ’n waaier in die hand oor my skouer loer. Martine het waardering vir my dik lyf, dit moet ek erken. Martine sê dit verf lekker omdat dit “presence” het. Dis solied en vlesig. Gewigtig en imposant soos Rubens se vrouefigure.

      My geliefkoosde skildery is egter een waar ek ten volle geklee, regop met Dingaan op my skoot, langs ’n reuse-delicious monster sit. Die geraamteplant rank die hele vertrek vol en een van die enorme blinkgroen blare hang oor my kop. Daar is ’n hele paar mielievrugte aan die plant wat almal na my wys. En as jy fyn kyk, sal jy sien die stam is oortrek met oë wat my wellustig dophou. Die skildery se naam is Monstera deliciosa. Ek is nie aldag seker of die titel na my of die geraamteplant verwys nie. Nietemin hang dié painting nou bonkig geraam bokant my sebravelsitkamerbank.

      Dikwels wonder ek ook wat die Here dink van al die familia­riteite wat deesdae gebruik word om oor Hom te praat. Asof Hy almal se buddy en drinkebroer is. ’n Superhero. ’n Universal daddy. Jesus rocks! Jesus our hero. Jesus is die beste! Supercool Jesus. Happy birthday, Jesus. Wat het van ontsag geword? Van eerbied? Daardie vrees wat maak dat ’n mens jou skoene uittrek of jou gesig bedek. Of het God ook geëvolueer? Gatvol geraak vir al die formaliteite en airs en graces. Nes ek wat dit pes om “tannie” genoem te word. Ek sal nie weet nie.

      Wat ek wel weet, is dat die Here ’n makabere sin vir humor het. Daarom moet jy versigtig wees waarvoor jy vra en hoe jy dit vra. En wees maar spesifiek, vir wat dit werd is. Want God laat Hom nie voorskryf nie, Hy doen dinge op sy manier. Jy kan maar jou plannetjies agtermekaar hê, Hy bepaal die uitkoms daarvan. The Lord works in mysterious ways. Sy weë is duister.

      Ek het gevra dat my writer’s block die wyk moet neem, toe kom die storie van Sus Niemand na my. Sus met haar skurwe voete en uitgewaste rokke. Sus met haar krom skouertjies en bultruggie. Haar sagte manier van praat en die kop wat altyd hang. Wat jou nie in die oë kan kyk nie. Wat jou as “antie” aanspreek. ’n Karakter uit ’n Sannie Briel-liedjie, êrens onderweg op ’n trein van die platteland na Pretoria.

      Sus

      By Pretoriastasie het sy afgeklim met haar tas en ant Hildegard se adres in die hand. Iemand het haar ’n lift gegee, ’n man in ’n pienk Vauxhall. Behalwe sy roomwit linnepak kan sy nie onthou hoe hy lyk nie. Sy het nie na hom gekyk nie, nie met hom gepraat nie, net die adres aan hom gewys.

      Oom Jasper, haar ma se broer, het op die rooi stoepie van sy spoorweghuisie gesit. Hy het haar sien afklim. Sy het by die hek gaan staan, maar dit het nie gelyk asof hy haar herken nie.

      “Kan ek help, meisie?” het hy gevra en aan sy pyp gesuig.

      “Dis ek, dis Sus,” het sy hees geantwoord.

      “My wêreld, wat bring jou hier?” Hy het opgestaan en nader gekom.

      “My ma het my gestuur, oom Jasper,” het sy gejok. Sus het haar ken op haar bors laat sak; hy het sy hand op haar skouer gelê. “Ek verwag,” sê sy toe. “Oor minder as drie maande …”

      Oom Jasper het na haar gekyk. Hy had ook sulke brakkie-oë soos haar ma. Sy gesig was bruin en leeragtig en stoppelrig, sy ore bak onder sy yl hare. “Kom in,” het hy uiteindelik gesê en haar hand gevat.

      Met sy stomp hande het hy ’n melkbeker uit ’n paraffienyskas gehaal, een van haar ouma se kraletjiedoilies daaroor. Toe eers het sy van die gepekelde beestong op die trein onthou, wat seker teen dié tyd al in Johannesburg was.

      Oom Jasper het die melk warm gemaak op ’n primusstofie. Dit vir haar saam met winkelbrood gegee. Gelukkig was ant Hildegard en haar twee niggies nog êrens by ’n kruidenier in die stad.

      Hy het vir haar slaapplek gemaak op die toegeboude agterstoepie, met ’n hol klapperhaarmatras en grys kombers. ’n Ekstra kussing het hy nie gehad nie. Hy het ’n meelsakkie met oorskiet­flennie gestop en toegeryg. Sy het bibberend op die kaal matras gaan lê en haar knieë teen haar maag opgetrek. Die matras en kombers het geruik na ou piepie en hond.

      Treine het verby die huis geratel en die vloer onder haar laat bewe. Die