Ek het geril. Ek het die koekroller en eierklitser en maatbeker in die wasbak gepak. Geruik hoe die laaste twee koekkindertjies in die oond verbrand. Rook het soos ’n donker teenwoordigheid in die kombuis gehang.
Nee, Here, ek kán nie, het ek gepleit. Ek is oud en verdomp moeg. Ek kan nie in my laaste jare ’n gesant van die dood word nie. Ek is ’n gesellin van Eros. Ek voel my nie tuis by die dood nie, wil nie daaroor skryf nie. Ek skryf oor die kléin dood, Here. Nie oor die dood wat jou wange laat insak, jou oë laat verdof en jou mond gruwelik laat oopval nie. Wat jou geliefdes ontydig van jou wegvat nie.
Maar die dood is ook genadig, Esmeralda, het ek in my kop gehoor. Geduldig. Tref nie onderskeid nie. Diskrimineer nie. Dis net die moderne mens wat die dood nie meer ken nie, daarom vrees hy dit.
Maar kindermoord? Vergeet dit. In die daaropvolgende maande sou ek my gedurig teësit. Verniet. Want die saadjie was geplant. Bowendien het ek nie meer beheer oor my gedagtes gehad nie, nie eens oor my tikmasjien nie. Wanneer ek saans voor my Olivetti gaan sit het, was dit asof iemand anders se hande bo-oor myne vat. Het die swart toetse vanself op en neer beweeg en het die woorde van Sus se storie op papier verskyn.
Benjamin
Ek het ’n U-turn gegooi en agter my ma aangery. Stadig langs haar gery waar sy op die sypaadjie gestap het.
“Ma, klim in!” het ek gesoebat. “Asseblief, Ma!” Sy het gemaak asof ek nie bestaan nie. Sy het oor ’n leë Cokeblik gestruikel, amper gat-oor-kop neergeslet, maar haar balans wonderbaarlik behou. “Sorrie, Ma!” Verbygangers het ons aangestaar. ’n Kar het agter my getoet. “Ek’s jammer ek’t gesê Ma’s kommin, dis net ...”
“Ag, gaan spring in die dam!” het sy gesnou.
“Whatever,” het ek toe my moer vir haar gestrip en begin wegry.
In my truspieëltjie kon ek sien hoe sy ’n kluit optel en dit in my rigting gooi, hoe haar boarms dril en die klonte grond oor die pad spat. Sy het haar skoene uitgepluk en iets onhoorbaars agterna gegil.
Ek het soos ’n hond gevoel en weer omgedraai, maar by die parkie het sy teen ’n wal afgeneuk en tussen ’n klomp struike verdwyn. Daar het sy seker bly sit tot ek weer my ry gekry het.
Ek het huis toe gery en twee uur lank op haar gesit en wag. Wat vreet haar tog so, het ek op die stoeptrappie gesit en wonder. Fókweet. Dis sweerlik vandat ons op die nuus gesien het dat vier van die geraamtes wat hulle op daai plaas in Magoebaskloof gekry het, dogtertjies is. Forensiese toetse wat op vyf skelette gedoen is wat in Februarie op ’n plaas in Magoebaskloof in Limpopo gevind is, het bewys dat vier van die kinders wat waarskynlik in die 1950’s dood is, vroulik was. Riaan Cruywagen se buikspraakpopgesig was uitdrukkingloos, selfs opgewek, asof hy ’n vrolike mededeling maak. Die vyfde geraamte, oor die afgelope paar maande in die media bekend as “die emmerkind”, se geslag kon nog nie bepaal word nie. Professor Willem Zeeman, forensiese patoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het gister op ’n mediakonferensie gesê dié skelet is aansienlik ouer as die ander, wat die onttrekking en toetsing van genetiese materiaal bemoeilik ...
My ma het langs my op die bank gesit en haar kop geskud en geskud, asof daar ’n mot in haar oor vasgesit het. “Meisietjies,” het sy gesê. Toe het sy opgespring en ’n klomp goed in die kombuis gaan eet. Ham en roomys en klappertertjies en biltong, alles deurmekaar. Vroegoggend kon ek hoor hoe sy in die badkamer katte skiet.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.